Monday 17 February 2014

Laat ons gesindhede God verheerlik


Skriflesing: 1 Thess. 5:12-28
Tema: Laat ons gesindhede God verheerlik

INLEIDING
Dikwels is die dade van mense soos maskers wat hulle dra. Op die oog af lyk dit baie mooi, baie vroom en baie godsdienstig. Die werklikheid is egter dat agter baie maskers 'n gesindheid skuil wat nie die Here verheerlik nie.

Die probleem is dat maskers nie altyd op bly nie. Daar kom altyd 'n tyd waar die maskers afval of afgehaal word om die gesindheid te ontbloot! Dan is voorgee verby en mense sien die persoon vir wie hy / sy werklik is.

In vers 12-18 spreek die Here deur Sy apostel die kern van baie probleme aan, nl. die gesindheid. In hierdie gedeelte kom druk die Here Sy vinger op drie areas van die lewe waar ons gesindheid dikwels na vore kom:
  • Die eerste is ons gesindheid teenoor die voorgangers van die gemeente.
  • Die twee is ons gesindheid teenoor ons medegelowiges.
  • Die derde is ons gesindheid in moeilike tye. 

ONS GESINDHEID TEENOOR DIE VOORGANGERS
'n Paar dekades gelede was die uitdrukking “die predikant is die gesalfde van die Here” 'n algemene tendens. Predikante is as belangrike mense in die samelewing beskou, en was deel van die min “geleerde” mense in die vorige eeu. Maar soos wat die jare aangestap het, het daar in 'n verandering begin intree. Al hoe meer lidmate het nie meer die predikant as die “gesalfde van die Here” beskou nie, maar eerder as die “vloerlap van die gemeente”. Selfs in ons tyd vandag hoor mens die gerugte van gemeentes wat predikante uiters sleg behandel.

Dit mag egter nie so wees nie. In vers 12-13 gee die Here deur Sy apostel die opdrag om die “mense wat so hard onder julle werk” – wat natuurlik nie net die predikant insluit nie – te erken en in liefde te respekteer.

Die vraag is: Waarom moet ons dit doen? Waarom moet ons mense wat in die gemeente werk verrig, erken en hulle in liefde respekteer? Die rede word vir ons in vers 12 gegee: “Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys.”

Let op die frase: “wat in opdrag van die Here”. Hierdie frase sny diep na twee kante toe: 
  • Eerstens sny dit diep na die kant van hulle wat diens in die gemeente verrig – hetsy dit die predikant, ouderling, diaken of enige lidmaat is. As bedienaars in die gemeente, staan ons onder die gesag van die Here en mag ons niks meer, niks minder en niks anders doen as wat God van ons verwag nie. As mense in diens van God, is ons geroep om die gemeente te bedien soos God dit van ons verwag. As dit beteken dat ons mekaar sal lei vanuit die Woord, dan moet ons mekaar lei. As dit beteken dat ons mekaar vanuit die Woord moet teregwys oor sonde in ons lewe, moet ons mekaar teregwys. Al hierdie dinge moet ons in 'n gesindheid van nederigheid en gehoorsaamheid doen. Nooit mag ons die posisie waarin God ons gestel het, misbruik vir persoonlike gewin nie, hetsy dit is om onsself te verryk of vir onsself eer in te palm wat ons nie toekom nie. Nee, ons staan in diens van die Here Jesus Christus, die Hoof van Sy kerk, en ons moet doen wat Hy ons beveel om te doen deur Sy Woord.
  • Maar tweedens sny dit ook diep na die kant van hulle wat bedien word. Dit is baie maklik om wanneer ons tereggewys word, ons onsself vererg en soos 'n stout kind onsself wip. In sulke gevalle wel ons sondige natuur op soos die skuim van die see en bring dit 'n gesindheid van doelbewuste ongehoorsaamheid na vore. En hoeveel keer het mens dit nie al gesien nie – dat wanneer mense in liefde 'n lidmaat wil reg help en leiding vanuit die Woord wil gee, die persoon in sy hardkoppige ongehoorsaamheid net bly voortleef in sy sonde. Dikwels word gelowiges wat wil help die woorde “moenie vir my preek nie” of “wat maak jou beter as wat ek is” of “hou op om so skynheilig te wees” toegesnou. 

Al hierdie dinge lê natuurlik op die oppervlakte – so erg soos dit mag wees. Maar onder die oppervlakte skuil daar 'n gesindheid wat al hierdie sake na vore bring. Wanneer mense nie meer die mense wat hard werk erken en in liefde respekteer nie, getuig dit van 'n gesindheid wat nie meer die Hoofskap van God erken en van liefde teenoor Hom getuig nie.

Wat ons terugbring by ons voorbeeld uit die verlede. Waarom het die gesindheid teenoor predikante oor die afgelope paar dekades gedraai? Die rede is: hulle gesindheid teenoor die Here het gedraai. Ons moet goed verstaan dat die manier waarop predikante hanteer word, getuig van hoe mense oor God nadink en Sy Woord hanteer. Waar daar geen respek en eerbied vir God en Sy Woord is nie, sal daar ook nie meer respek en eerbied wees vir Sy diensknegte wat die Woord bedien nie.

Ons moet onsself dus die vraag afvra: Wat is my gesindheid teenoor God en Sy Woord? Maar ook: Word my gesindheid teenoor God en Sy Woord in my optrede sigbaar teenoor hulle wat in diens van daardie Woord staan?

Paulus hulle gaan verder en wys ook op ons gesindheid teenoor ons medegelowiges in vers 14-15.

ONS GESINDHEID TEENOOR ONS MEDEGELOWIGES
Ook hier word twee sondes aan die kaak gestel:
  • Aan die een kant die sonde van Kaïn wat in baie oorgebly het, nl. die vraag: “Is ek my broer se oppasser?
  • En aan die ander kant die sonde van rebellie wat sê: “Wie is jy om vir my te preek? 

In vers 14-15 wys die Here vir ons dat ons mekaar se oppassers is. In vers 14 gee Hy vir ons vier riglyne oor hoe ons na mekaar omsien:
  • In die eerste plek deur die leegleêrs tereg te wys. Daar was onder andere in Thessalonika gelowiges wat die leer oor die wederkoms van Christus verkeerd verstaan het. Hierdie mense het onder andere ophou werk en op die res van die gelowiges in die gemeente begin teer. Die Here kom dus na die gemeente toe en roep hulle op om hierdie gelowiges nie in die sonde van hul onkunde te laat begaan nie, maar hulle tereg te wys en op te roep om hul pligte na te kom. Hulle moet ophou om leeg te lê by hulle huise en begin werk.
  • Tweedens moet ons ook die kleinmoediges moed in praat. Elkeen van ons gaan deur 'n tyd in ons lewe waar ons voel dat alles net te veel word. Ons sien die donker wolke, sonder 'n silwer randjie. Ons sien die hoë berge wat ons moet klim, maar geen paadjies na die bopunt lei nie. Ons sien die storms van die lewe, maar geen reddingsboei wat ons kan gryp nie. Dit is in hierdie tye wat ons ons medegelowiges nodig het om ons vanuit die Woord moed in te praat en ons deur die moeilike tye te help. Dit is onder andere wat Paulus hulle in hoofstuk 4:13-5:11 gedoen het.
  • Derdens moet ons die swakkes help. In die gemeente sal daar altyd mense wees wat sterker is. En hier gaan dit nie noodwendig net oor die geestelik nie, maar ook oor die liggaamlike. Dit is ons plig om mekaar te help ook wat ons daaglikse lewe betref. Dus, as ons weet dat 'n tannie of oom in die gemeente hulp nodig het, moet ons bereid wees om dit te gee. Ons mag nie daarvoor terugdeins nie.
  • Vierdens moet ons geduld aan die dag lê. Baie gemeentes het al geskeur en is uit mekaar geruk, omdat mense nie geduldig was met mekaar nie. Hulle was vinnig om te praat en stadig om te luister. Maar so mag dit nie wees nie. Ons moet vinnig wees om te luister, stadiger om te praat en nog stadiger om te reageer. 

In vers 15 word daar 'n verdere opdrag gegee, 'n opdrag wat seker die moeilikste is van al die opdragte ten opsigte van oor ons gesindheid teenoor ons medegelowiges, nl. dat ons mekaar sal vergewe en mekaar se belange sal najaag.

Hierdie is waarskynlik die moeilikste opdrag, omdat as ons te na gekom is, ons eerste reaksie is om wraak te neem. En dikwels neem hierdie wraak die vorm aan van: “Laat die man maar so aanhou in sy sonde, erns sal die Here hom straf.” Wraak neem hoef nie iets te wees wat ons fisies aan iemand doen nie. Dit is dikwels niks anders as om stil te bly wanneer ons sien dat ons medegelowiges op 'n pad is wat hulle gaan seer maak nie.

Maar dikwels neem “kwaad met kwaad vergeld” ook die vorm van beskuldigings aan: “Wie is jy om vir my te preek?!” In plaas daarvan dat ons luister na wat die Woord van die Here vir ons sê deur ons medegelowiges, is ons aanvallend en probeer ons ons sonde as “kleiner” voorstel in vergelyking met die “groot” sondes van medegelowige wat ons kom tereg wys.

Ons moet egter onthou dat ons kinders van die Allerhoogste is – die Een wat nie kwaad met kwaad vergeld het nie; maar eerder kwaad met genade beantwoord het. Laat ons dan in die voetspore van ons Here wandel wat nie terug beledig het nie, maar vir hulle wat Hom gekruis het, gebid het.

ONS GESINDHEID IN MOEILIKE TYE
Waar vers 12-15 die gesindheid wat uiterlik na vore kom, aanspreek; spreek hy in vers 16-18 die innerlike gesindheid aan. In die Grieks is vers 16-18 een sin en moet ons dit as 'n eenheid verstaan.

Vanuit 1 Thess. 3 is dit duidelik dat die gelowiges in Thessalonika 'n moeilike tyd gehad het. Verdrukking en vervolging was deel van hulle lewe en dit kom baie maklik gebeur het dat hulle in hierdie omstandighede mismoedig en selfs opstandig kon raak. Daarom skryf Paulus hull: “Wees altyd bly.” Let wel, “wees altyd bly,” nie net “soms” of “wanneer dinge goed gaan” nie, nee, “altyd”. Ja, selfs wanneer die omstandighede moeilik is en dinge donker is rondom hou, wees bly!

Maar nou kan ons maklik sê: “Paulus, gaan jy nie 'n bietjie ver nie. Hoe kan 'n mens bly wees wanneer dit moeilik gaan? Is dit nie skynheilig nie?

Hierop gee die Here vir ons die antwoord. In vers 17 en 18 wys die Here vir ons die bron en inhoud van ons blydskap.

In vers 17 word vir ons op die bron van ons blydskap gewys wanneer daar geskrywe staan: “Bid gedurig” of soos die ’53-Vertaling dit stel: “Bid sonder ophou.” Gebed is die bron van ons blydskap, nie omdat gebede in sig self krag het nie, maar omdat ons deur gebed tot die Bron van alle lewe, tot God self, nader. Dit is in gebed by ons Hemelse Vader waar ons kragte hernu word, sodat ons die moeilike tye van die lewe kan deurstaan sonder om moedeloos te word. Dit is in gebed wat, soos Spurgeon dit so mooi stel, ons “hawe teen die storms van die lewe” binnevaar. Dit is in gebed waar ons rustig word by die troon van ons Here en opnuut besef dat ons lewe in Sy hande is. En die wete gee groot vreugde!

Waar vers 17 na die bron van ons blydskap wys, wys vers 18 op die inhoud van ons blydskap. Hierdie inhou kan in een woord saamgevat word: “dankbaarheid”. Wanneer begin ons moedeloos word en opstandig? Dis wanneer ons begin vaskyk teen die dinge wat nou in ons lewe gebeur en vergeet van al die groot seëninge wat ons uit die hand van ons Hemelse Vader ervaar het en steeds ervaar. Daar is geen beter manier om vreugde in jou lewe te ervaar te midde van moeilike omstandighede anders as om terug te dink aan God se goedheid in jou lewe nie:
  • Dink aan God se genade wat Hy aan jou bewys het in Jesus Christus. Hy het Sy Seun gegee sodat jy verlos kon word.
  • Dink aan die seëninge wat jy so vanselfsprekend aanvaar in jou daaglikse lewe: kos op die tafel, dak oor jou kop, klere aan jou lyf, ens.
  • Dink aan die beloftes van God wat Hy nog in die toekoms sal vervul – beloftes van die ewige heerlikheid wat vir jou wag!


O, sal ons nie saam met die psalmdigter uit jubel: “Prys die Here met blye galme, o my siel, daar is ryke stof!” (Ps. 146:1)

SLOT
Deur die verlossingswerk van Christus het God ons deel van Sy huisgesin gemaak. Hy het na ons kom omsien en ons belange op die hart gedra. Hy het en hou steeds oor ons die wag. As ons dan al hierdie seëninge deur die verlossingswerk van Christus ontvang het, sal ons nie dan ook soortgelyk lewe teenoor ons medegelowiges nie? Sal ons nie omgee oor wat in die gemeente en in die lewe van ons medegelowiges aangaan nie?

En as God dan al hierdie wonderlike seëninge aan ons geskenk het, en ons daagliks steeds ryklik seën, sal ons nie stof tot lofprysings hê nie? Sal ons nie rede hê om bly te wees en Hom te verheerlik in ons woorde en dade nie?

Mag die Here ons oë op Hom gerig hou – ons Hoof en ons Leidsman. Mag Hy ons gereed hou in Sy diens in Sy kerk en koninkryk. Mag Hy ons lippe en harte aanraak om Hom te loof en te prys vir die gawes wat ons uit Sy hand ontvang. Amen.

No comments:

Post a Comment