Skriflesing: 1
Thess. 5:12-28
Tema: Mag God julle in ooreenstemming met Sy Woord heilig
en beskerm.
INLEIDING
Twee dinge is seker in hierdie lewe:
- Een: God is getrou.
- En twee: God se Woord is die waarheid, die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie.
Die getroue God het vir ons Sy Woord gegee as kompas vir
ons lewe hier op aarde. Dit is deur Sy Woord en Gees wat God ons lei, ons
heilig maak en ons geloof suiwer. Maar in Sy groot genade het God ons nie net
gered en vir ons die kompas van Sy Woord gegee en toe alleen die wêreld in
gestuur nie. Hy stap elke dag saam met ons. Hy hou oor ons die wag. Hy beskerm
ons en lei ons. Daarom kan ons seker wees dat ons by die wederkoms van Christus
in heerlikheid voor die Regter van hemel en aarde sal kan staan.
In 1 Thess. 5:19-24 wys dit Here vir ons deur Sy apostel
Paulus dat Hy:
- Ons deur Sy Woord lei,
- Van ons onderskeidingsvermoë verwag,
- En ons ook heilig maak en beskerm.
DIE HERE LEI DEUR
SY WOORD
Vers 19-22 is sekerlik een van die Skrifgedeeltes in die
Nuwe Testament, naas ander gedeeltes soos “ek
is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Fil. 4:13), wat die
meeste misbruik word. Mense is vinnig om te sê: “Maar daar staan mos geskryf: ‘Toets alles, behou die goeie’. Dus hoe
kan ek die goeie behou as ek nie ook eers die sonde ‘toets’ nie?”
Deur so te redeneer, haal mense natuurlik v. 21 heeltemal
buite verband aan. In die Grieks is vers 19-22 een sin en daarom moet ons dit
verstaan as 'n eenheid. Ons mag nie die verskillende dele van hierdie verse los
van mekaar sien nie, omdat die een voortbou op die ander.
In vers 19-21 handel dit in die besonder oor die gawe van
profesie. Waar die gemeente in Korinthe oorgehel het na die gawes meer eer toe
te ken as wat hulle gehad het, het die gemeente in Thessalonika na die
teenoorgestelde rigting oorgehel en die gawes nie hulle plek gegun nie. Ons
moet onthou dat in die tyd die Nuwe Testament nog nie volledig op skrif gestel
is nie, en God nog deur die gawe van profesie Sy wil bekend gemaak het. Maar
omdat dit gevaar bestaan het dat 'n valse gawe van profesie die gemeente kom
binnedring – net soos daar in Korinthe 'n valse gawe van tongespraak was – het
hulle besluit om eerder glad nie hierdie gawe te beoefen nie.
Maar die Here wys die gemeente deur Sy apostel daarop dat
dit nie die manier is waarop hulle te werk behoort te gaan nie. Inteendeel,
wanneer die gawe van profesie gering geskat of self verwerp word, staan die
gelowiges die werk van die Heilige Gees teë (v. 19). Hy is immers die Gewer van
die gawes!
DIE HERE VERWAG
ONDERSKEIDINGSVERMOË
In vers 21-22 wys die Here egter die gemeente op manier
waarop hulle te werk behoort te gaan. Om die baba saam met die water by die
deur uit te gooi, is nie die oplossing nie. Christus verwag van Sy kinders om
onderskeidingsvermoë te hê, sodat hulle kan onderskei tussen reg en verkeerd,
waar en vals, goed en sleg – ook wanneer dit by die profesie kom. Daarom skryf
Hy in vers 21-22: “maar toets dit alles,
behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.”
Hou vas aan dit
wat goed is
Die gelowiges moes na die profesie geluister het, en dit
beoordeel het in die lig van die Skrif wat hulle reeds gehad het. As hulle
bevind het dat hierdie profesie in ooreenstemming met die res van die Skrif
was, was hulle nie net verplig om dit te aanvaar nie, maar om daaraan vas te
hou. Die Griekse woordjie wat ons hier met “behou” vertaal, beteken om vas te
klem aan iets. Om dit met 'n beeld te verduidelik, dit is nie iets wat jy so in
die verbygaan optel en in jou rugsak bêre nie. Dis soos goud wat jy vind en
styf in jou hande vashou, sodat dit nie verlore kan raak nie.
Vermy alles wat
sleg is
Maar die teendeel is ook waar. Soms sou die gelowiges ook
profesieë vind wat nie met die Skrif ooreenstem nie. Wat staan hulle dan te
doen? Dit is eintlik die gelowiges in Thessanolika se groot probleem gewees.
Hierop gee die Here vir hulle die antwoord: “Bly weg van alles wat sleg is”. Letterlik “vermy alles wat sleg is”. Hier is twee sake van belang:
- Eerstens die opdrag om alles wat sleg is te “vermy”. Ons mense is geneig om in die moerasse van die leuen en op die afgronde van die sonde te loop. Die probleem is dat hulle onwetend die gif van die valse leer en sonde dag na dag in asem soos 'n stille dood. Die newe effekte daarvan is nie dadelik sigbaar nie, maar met die verloop van tyd kom dit na vore. Dit kan gebeur dat wanneer iemand dag na dag met die leuen besig is, sy eie geloof skade kan optel, dat sy stiltetyd van die vreugde beroof kan word, of soos dit al gebeur het die persoon self die pad byster kan raak. Christus het Sy kerk lief – Hy het hulle gekoop met Sy eie bloed. En daarom wil Hy ook nie hê dat hulle moet seerkry nie. Daarom gee Hy aan ons die opdrag: “vermy alles wat sleg is”. Ja, ons moet die profesieë toets, maar daar kom 'n punt waar ons nie meer hoef te luister na wat die valse leraars sê nie en nie meer hulle boeke hoef te lees nie. Daar is immers niks nuuts onder die son nie en die Woord gee vir ons genoegsame wapens om die leuen te weerlê en die sonde te ontmasker.
- Maar tweedens moet ons ook die strekking van hierdie opdrag raak sien. Dis asof Paulus hulle 'n sprong maak van die profesieë na die alledaagse lewe wanneer hy skryf: “vermy alles wat sleg is.” In leer en lewe het ons die verantwoordelikheid om die sonde en die leuen te vermy. Ongelukkig is daar baie gelowiges wat dink dat “toets alle dinge” beteken dat hulle maar in die pretpark van die duiwel kan gaan speel en die ritte kan geniet, en as hulle nie van een van die ritte hou nie, dan gaan hulle net nie weer daarop nie. Maar dis nie wat vers 22 beteken nie. Vers 22 beveel ons om uit die pretpark van die duiwel te bly.
Wat ons moet raaksien is dat die Here deur Sy Woord ons
lei om in ons alledaagse lewe, sowel as in dit wat ons glo volgens Sy wil te
lewe. Daarom kan ons nie maar net glo wat ons wil of lewe soos ons goed dink
nie. Ons moet alles aan die Woord van die Here toets. Ons het 'n veel groter
voorreg as die gelowiges in Thessalonika. Ons het die volle Profesie op skrif.
Ons het 66 boeke waarin God Sy wil vir ons lewe uiteengesit het. Daarom moet
ons alles wat mense sê en doen – ongeag wie hulle is – in die lig van die Skrif
toets, aan die goeie vashou en alles wat sleg is vermy.
DIE HERE HEILIG
EN BESKERM
Paulus besef egter dat hierdie nie altyd so maklik is nie,
en as die gelowiges aan hulle eie kragte oorgelaat word, hulle sal misluk.
Daarom bid hy in vers 23-24 dat die Here hulle sal laat groei op in
heiligmaking en hulle sal beskerm.
Mag Hy julle heilig
Paulus begin sy gebed deur te bid dat die Here – die God
van vrede – die gelowiges volkome aan Hom toegewyd, lett. “heilig”, sal maak. Waar vers 19-22 die verantwoordelikheid van die
mens beklemtoon het, beklemtoon vers 23-24 die werk van God in ons lewe.
As dit van ons afhang, sou ons nooit op die weg van
heiligmaking gevorder het nie. In eie krag sou ons keer op keer ingegee het en
na die begeertes van ons sondige natuur geluister het. Ons sou gedoen het wat
ons sondige natuur wou, en nie wat Christus wil nie.
Maar wanneer ons ons lewe in die hande van Christus plaas
en Sy koningskap oor ons hele lewe aanvaar, dan begin Hy ons deur Sy Gees te
heilig. Dag na dag wys Hy vir ons deur die werk van die Gees en deur Sy Woord
die sonde wat nog in ons lewe oorgebly het, uit. Maar nie net wys Hy dit uit
nie, Hy stel ons ook in staat om daarteen te veg en daaroor die oorwinning te
behaal. Daagliks laat Hy ook die lig van Sy Woord op dit wat ons glo val en wys
Hy vir ons waar ons geloof nog gesuiwer moet word. Hierdie proses van
heiligmaking in leer en lewe is 'n lewenslange proses – 'n proses wat eers tot
'n einde sal kom wanneer ons ons kop aan die kant van die graf neerlê.
Mag Hy julle
beskerm
Paulus gaan verder en bid ook dat die Here hulle sal
beskerm, sodat hulle sonder blaam voor Christus kan verskyn op die dag van Sy
wederkoms.
Daar is sommige mense wat van mening is dat 'n gelowige
weer verlore kan gaan. Gewoonlik sal hierdie mense sê dat jy “uit die genade van God kan uitval”.
Sommige gaan so ver as om te sê: “Ja,
niks kan ons uit God se hand uitruk nie, maar ek kan uit God se hand spring.”
Wat hierdie mense nie verstaan nie, is dat God nie sal
toelaat dat enige van Sy kinders verlore sal raak nie. God wat ons geroep het
om Sy kinders te wees, sal ons ook getrou beskerm sodat ons die volle
verlossing by die wederkoms van Christus sal ontvang. Om hierdie waarheid te
beklemtoon skryf Paulus dat God ons “na
gee, siel en liggaam, so sal bewaar” dat ons onberispelik sal wees wanneer
Christus weer kom (v. 23).
Baie mense gebruik hierdie verse om te bewys dat die mens
uit drie dele bestaan: 'n gees, 'n siel en 'n liggaam[1].
Maar Paulus is nie hier besig om die dele van 'n mens te bespreek nie. Hy
gebruik hierdie uitdrukking as 'n soort toutologie of hiperbool om te
beklemtoon dat God ons innerlike en uiterlike mense sal bewaar – d.w.s. Hy sal
ons beskerm in ons geloof, maar ook in ons daaglikse lewe.
Laat ons een saak goed verstaan: 'n gelowige kan nie weer
verlore gaan nie. As sy geloofsekerheid op homself berus het, dan het hy 'n
probleem gehad. Maar sy geloofsekerheid berus op die Getroue God – die Een wat
ons geroep het, die Een wat ons heilig maak en die Een wat ons bewaar vir die
dag van die wederkoms van Christus.
SLOT
God het vir ons in Sy genade Sy Woord gegee. In hierdie 66
boeke van die Bybel het Hy alles wat ons nodig het om Hom te ken, om Hom reg te
dien en om te weet hoe om verlos te word, laat opteken.
Dit is ook deur hierdie Woord en die werk van die Heilige
Gees wat Hy ons geloof suiwer en ons lewe heilig. Hy doen dit uit liefde, sodat
ons daagliks al hoe meer die beeld van Christus, ons Verlosser, in ons lewe kan
uitstraal.
Maar God gaan nog verder, Hy red ons nie net en
laat ons dan soos hulpelose babatjies spartel nie. Hy hou Sy hand van
beskerming oor ons. Hy waak oor ons dag en nag sodat niks met ons kan gebeur
buite Sy raadsbesluit om nie. Daarom kan ons seker weet dat ons ook by die
wederkoms van Christus die volle verlossing sal ontvang, want Hy wat ons geroep
het, is ook getrou en Hy sal ons ook bewaar. Amen.
[1] Daar is ander plekke in die Skrif waar
daar ander onderskeidings gemaak word:
· In Mark. 12:30 maak Christus 'n vierledige
onderskeid tussen hart, siel, kragte en verstand.
· In 1 Kor. 7:34 maak Paulus 'n tweeledige
onderskeid tussen liggaam en gees.
· In Hebr. 4:12 word 'n onderskeid tussen
siel en gees gemaak.
No comments:
Post a Comment