Sunday 28 September 2014

Christus, ons Plaasvervanger, reinig ons en neem ons sondes weg (Mark. 1:1-13; Lev. 13:7-10, 20-22)

Skriflesing: Mark. 1:1-13; Lev. 16:7-10, 20-22
Tema:  Christus ons Plaasvervanger reinig ons en neem ons sonde weg.

INLEIDING
Die eerste dag van die Joodse jaar is deur Groot Versoendag gekenmerk. Hierdie dag was die enigste dag waarop die hoëpriester die Allerheiligste van die tabernakel, en later die tempel, kon binne gaan om versoening tussen God en die volk te bewerk.

Op hierdie dag is daar o.a. twee bokke voor die Here gebring. Die lot is gewerp. Een van die bokke is aangewys as “vir die Here” en die ander as “vir Asasel” (Lev. 16:8). Elk van hierdie bokke het 'n rol op die Groot Versoendag vervul:
  • Die bok wat “vir die Here” aangewys is, was as sondeoffer geoffer. Deur hierdie offer is die volk voor God van hul sondes gerein.
  • Die bok wat “vir Asasel” aangewys is, was voor die hoëpriester gebring. Nadat die hoëpriester beide hande op die voorkop van die bok gelê het as teken dat die sondes van die volk op die bok oorgedra is, is die bok die woestyn ingejaag (Lev. 16:21). So is daar dan deur hierdie bok op 'n sigbare wyse vir die volk gewys dat hulle sondes van hulle af weggevat word.

Twee bokke: een as teken dat hulle van hul sondes gereinig is en een as teken dat sondes weggeneem is.

Eeue na hierdie gebruik ingestel is, sou daar egter Een kom wat ook hierdie seremonie sou vervul. So begin dan die geskiedenis van die Een wat gekom het as vervulling van die seremonie: “Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God begin só…”. Die evangelie, d.w.s. die blye boodskap; en hierdie blye boodskap het 'n persoon as middelpunt, nl. Jesus. Hy is die Christus, die Messias wat deur die profete van die Ou Testament aangekondig is. Maar Hy is ook die Seun van God.

Hoe begin die Evangelie, die Blye Boodskap, dan? Dit begin by Jesus wat aan die begin van Sy aardse bediening die handelinge van die Groot Versoendag vervul. Daardeur bevestig Hy dat Hy ons Plaasvervanger is wat gekom het om ons te reinig en ons sonde weg te neem.

CHRISTUS REINIG VAN SONDES
In Mark. 1:2-8 lees ons hoe Ou Testamentiese profesië van die “voorloper” – die een wat die pad sou gereed maak vir die koms van die Messias – deur Johannes die Doper vervul is. Ons lees dat Johannes in die woestyn naby die Jordaan rivier gepreek. Hy het gesê: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe” (Mark. 1:4). Die doop van Johannes die Doper was simbolies daarvan dat mense die ou sondige lewe afsterf en met 'n nuwe God-erende lewe begin. In hierdie sin het die doophandeling in die Jordaan baie dieselfde betekenis gehad as die bloed waardeur die volk op die Groot Versoendag gereinig is.

Uit vers 5 is dit duidelik dat baie mense gehoor aan die prediking van Johannes gegee het. Vanuit die ander Evangeliebeskrywings sien ons dat daar selfs van die Fariseërs en Saduseërs gekom het om hulle te laat doop, onder die valse voorwendsel dat hul lewe verander het (Matt. 3:7-9).

Dit is egter op hierdie punt wat Christus op die toneel verskyn. En wat 'n skrille kontras is dit nie:
  • 'n Inwoner van Galilea in die Noorde (v. 9) tussen inwoners van Judea in die Suide (v. 5).
  • Een afkomstig van Nasaret (v. 9), 'n plek wat deur baie verag is, laat Hom tel tussen dié afkomstig van Jerusalem (v. 5).
  • Maar die mees verstommende: Die Sondelose kom staan tussen sondaars wat skuld bely.

Hy is daar met een doel: Ook Hy moet deur Johannes gedoop word (Matt. 3:15). Maar hoe kan dit gebeur? Hoe kan die Sondelose die pad stap van sondaars? Hy het tog geen sonde of skuld te bely nie? Hy het tog gee rede om Hom te bekeer nie? Daar is tog niks waarvoor Hy vergewe moet word nie? Waarom dan Hom laat doop?

Die rede vind ons in die Ou Testamentiese handeling van die Groot Versoendag. Die bok wat “vir die Here” aangewys is, was daar om as sondeoffer geoffer te word sodat die volk deur hierdie offer weer voor God rein kon word. Nou kom staan Christus, soos die bokke van ouds voor God, en God self wys Hom aan as die Een wat deur Hom uitverkies om reiniging te bewerk. Dit sien ons in dit wat na die doop van Christus gebeur, want die hemel skeur oop, die Gees daal soos 'n duif op Christus neer en die stem weerklink: “Jy is My geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My” (Mark. 1:11). So wys die Vader self die Seun as Offerlam aan.

Ja, die Sondelose kom staan by sondaars deur Hom in Sy doop met hulle te verbind. Dit doen Hy sodat sondaars deur Hóm gereinig kan word. Want net so min soos die bloed van bulle en bokke die mens van sy sonde kan reinig (Hebr. 10:4), net so min kan water die reiniging van sonde bewerk. Maar nou, hier staan die Vlekkelose Lam, die Sondelose Israeliet, die Uitverkore Messias wat gekom het om mense met God te versoen deur hulle van sonde te reinig.

Maar versoening gaan oor meer as net reiniging. Wanneer iemand gereinig is, moet hy sorg dat hy nie weer onrein word nie. Daarom moet dit wat onrein maak eers weggevat word. Daarom gaan versoening nie net oor reiniging nie, maar ook oor die verwydering van sonde. Deur Sy doop neem Christus as’t ware simbolies die sondes van die volk daar in die Jordaan bely het, op Hom sodat hulle rein mag weg gaan. Maar nou kom die volgende stap: Die sonde wat Hy simbolies op Hom geneem het, moet ook nou simbolies weg geneem word. Dit is hier waar Christus dan die tweede handeling van die bok “vir Asasel” ook vervul.

CHRISTUS VERWYDER OOK DIE SONDE
Op die Groot Versoendag is die sonde simbolies verwyder deur die bok wat “vir Asasel” aangewys is, die woestyn in te jaag (Lev. 16:21). So neem Christus ook hierdie rol op Hom, want ons lees in vers 12: “Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in …”. Letterlik staan hier: “Hierna het die Gees Hom uitgedryf die woestyn in.” Ons sien hier dieselfde gedagte as op die Groot Versoendag waar die bok die woestyn ingedryf word.

Die sondes van die volk rus simbolies op Hom en nou gaan Hy vir 40 dae na die woestyn; 'n droë, warm en verlate plek. Dit is hier waar die Satan, die Versoeker, na Christus kom om Hom te versoek (Mark. 1:13). Ja, die Sondelose het die sondes van die volk deur Sy doop op Hom geneem en met hierdie las gaan Hy die Versoeker tegemoet. Maar waar die sondebelaaide mens voor die Versoeker se aanvalle sou swig, sien ons dat die Sondelose wat in die plek van die sondaar kom staan het, die Versoeker se aanvalle teëstaan. Nog meer, nie net teëstaan nie – Hy tree as die Oorwinnaar uit die stryd. Nooit struikel Hy nie. Nooit gee Hy in voor die Satan se versoekings nie. Nooit begaan Hy 'n sonde nie.

Markus wy nie uit oor die besonderhede van die versoeking nie. Vanuit die ander beskrywings van hierdie geskiedenis in Mattheus 4 en Lukas 4 word dit meer in diepte beskryf. Maar die spiespunt van hierdie geskiedenis bly altyd om te wys dat Christus die Versoeker teëstaan en oorwin.

Hierdie geskiedenis van Christus se doop en versoeking dien as 'n voorskou vir wat aan die kruis sou gebeur. Want dis aan die kruis waar Christus as die Sondelose Lam Sy lewe sou offer as sondeoffer, sodat elkeen wat in Hom glo van hulle sonde gereinig kon word. Dit is aan die kruis waar Christus die sonde van die kinders van God op Hom neem, daarvoor ly en ons sondes van ons verwyder. Deur Sy kruisdood en opstanding staan ons voor die Hemelse Vader rein en sonder sonde. Ja, ons is met God versoen. Hy is ons Vader en ons is Sy kinders.

SLOT
Ons vier vanoggend die Nagmaal. In hierdie sakrament sien ons Christus se verlossingswerk. Want dit is deur Sy bloed dat ons van ons sondes gereinig word en dit is in Sy liggaam wat Hy ons sondes op Hom geneem het en dit van ons verwyder het. Die begin van Sy aardse bediening het reeds na hierdie versoening gewys en aan die kruis het dit 'n werklikheid geword toe Hy dit uitgeroep het: “Dit is volbring” (Joh. 19:30). Ja, die offer wat ons reinig en ons sondes van ons verwyder is gebring. Die voorhangsel van die tempel is middeldeur geskeur (Matt. 27:51) en die weg na die Vader is nou oop.


Laat ons dan die Nagmaal met hierdie vreugde in ons harte vier: Ook my sonde is weggeneem. Ook ek staan voor die Heilige as 'n sondaar wat deur die bloed van Christus rein gewas is. Daarom mag ek ook in 'n verhouding met God, my Hemelse Vader staan. Amen.

No comments:

Post a Comment