Thursday 30 January 2014

Vorder op die pad van heiligmaking en broederliefde


Skriflesing: 1 Thess. 4:1-12
Tema: Vorder op die pad van heiligmaking en broederliefde

INLEIDING
As mense word ons baie gou gemaklik. Gemaklik met ons lewe, gemaklik met ons prestasies en veral gemaklik met waar ons staan in ons geestelike lewe. Die begin van ons geestelike lewe is dikwels soos 'n klip wat afdraende rol en vinnige vordering maak, maar wanneer dit op die gelyktes van die lewe kon, begin die klip stadiger rol en kom dit uiteindelik tot stilstand. So gebeur dit dikwels dat iemand wat nog jonk in die geloof is, vinnig vorder in die proses van heiligmaking en dan momentum begin verloor. Kyk jy na so 'n persoon se lewe 'n paar jaar nadat hy tot geloof gekom het, sien jy dat hy begin het om in die geloof te stagneer. Die groei van vroeër en die ywer waarmee hy die Here gedien het, is nie meer daar nie.

Die apostel Paulus, onder die inspirasie van die Heilige Gees, het geweet hoe gevaarlik dit is vir gelowiges om momentum in hul geloofslewe te verloor. Hy het gesien dat die gelowiges in Thessalonika die Here met ywer dien en die Evangelie van harte aangeneem nie. Tog besef hy dat dit nie altyd die geval sal wees nie. Die Satan sal hulle nie alleen los nie, maar alles in sy vermoë doen om hulle geloofsgroei te hinder.

Daarom roep die apostel die gelowiges op om hulle met volle ywer toe te lê op die Christelike lewe. In 1 Thess. 4:1-12 roep hy op gesag van Christus hulle op om hulle toe te lê op twee sake:
  • Om heilig te lewe
  •  En om mekaar lief te hê. 

OP BEVEL VAN CHRISTUS
Voor Paulus met sy oproep begin, herinner hy egter eers die gelowiges dat wat volg nie sy woorde of menings is nie. Dit is nie maar Paulus wat vir hulle werk uit dink nie. Nee, wat hy aan hulle skryf is die wil van God. Hierdie waarheid beklemtoon hy twee keer:
  • In vers 1 skryf hy: “… Julle het van ons geleer hoe God wil hê julle moet lewe. Julle doen dit ook, maar in die Naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: Lê julle nog meer daarop toe.
  • En vir 'n tweede keer in vers 2: “Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het. 

Hierdie verse moet ons tot groot versigtigheid maan! Wat hier geleer word in 1 Thess. 4:1-12 is nie maar die woorde van mense nie en dit is ook nie maar om met 'n mens te verskil nie. Wie nie die woorde van hierdie gedeelte ter harte neem nie en hulle daarteen verset, verset hulle teen God self! Dit skryf die apostel in soveel woorde in vers 8: “Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net 'n mens nie, hy verwerp God wat ook Sy Heilige Gees aan julle gegee het.”

Laat ons dan met groot eerbied en versigtigheid voortgaan.

VORDER OP DIE WEG VAN HEILIGMAKING
Die eerste saak waartoe die apostel Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees die gelowige oproep is om hulle nog meer toe te lê op hulle vordering op die weg van heiligmaking. Daarom skryf hy in vers 3: “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe.”

'n Lewe van heiligheid en heiligmaking is nie groot prioriteit onder baie mense wat hulself “Christene” noem nie. Sodra jy met mense begin praat oor 'n lewe wat God verheerlik, 'n lewe waarin die beeld van Christus uitgestraal word en in ooreenstemming met Sy wil en wet gebring word, is hulle vinnig om die rug te draai en 'n dowe oor te hou. Sommige sal jou beskuldig van “wettisisme”, ander sal jou toesnou dat jy dink dat jy beter is as hulle en nog ander sal iets sê soos “ons is onder die genade en nie die wet nie”.

Daar is geen begrip by hierdie mense dat jy nie kan sê dat jy 'n Christen is en steeds in die sonde lewe nie. Of anders gestel: Jy kan nie sê dat jy 'n verloste is en dan nog as 'n slaaf van jou sondige begeertes lewe nie! Watter krag sal jou getuienis hê?! Ongeveer soveel krag soos 'n man van jou vertel van 'n wonderlike pilletjie wat al die pyne weg vat, terwyl hyself gebuk gaan onder die pyn in sy eie liggaam!

Nee, dit is die wil van God dat ons heilig moet lewe. Hy is immers die Heilige God en as Sy kinders beveel Hy ons om ook heilig te lewe (Lev. 19:2; 1 Pet. 1:16). Maar hoe lyk 'n “heilig lewe”?

In vers 4-7 word die antwoorde gegee. 'n Heilige lewe is 'n lewe wat in die eerste plek nie deur onsedelikheid gekenmerk word nie. Die apostel skryf in vers 3: “… Weerhou julle van onsedelikheid.

Ons moet onthou dat die gelowiges tot bekering gekom het, te midde van 'n goddelose en onsedelike samelewing. Egbreuk was aan die orde van die dag. Baie van die godsdienstige praktyke van die destydse samelewing was seksueel van aard en tempelprostitusie was niks vreemd nie. Maar as verloste mense mag die gelowiges nie meer aan hierdie praktyke meedoen nie. Die ou, sondige en onsedelike lewe moet hulle afsterf. Elkeen moet in rein verhouding met sy eie man en vrou lewe (v. 4) en nie toelaat dat hulle begeertes hulle dring om egbreuk te pleeg nie (v. 5-6).

Maar die daad is nie die begin nie, dit is slegs die vrug. Daarom gaan 'n heilige lewe om meer as net die uiterlike daad. Dit begin by die innerlike mens. Daarom die oproep in vers 5: “julle moenie deur hartstog en begeertes gedrywe word soos die heidene wat God nie ken nie.” 'n Onsedelike lewe begin nooit by die sondige daad nie, maar by die sondige gedagte. In die woorde van Jakobus in Jak. 1:14-15: “Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.”

Dit oproep om ons dus toe te lê op 'n heilige lewe, begin nie by my uiterlike dade nie, maar in die gedagtes van my innerlike mens.

Hoe lyk jou lewe? Nie die maskers wat jy voorhou nie, maar daardie deel van jou lewe wat jy vir almal weg steek, waarvan niemand weet nie, behalwe jy en God? Hoor vandag die oproep van die Heilige God: “God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe.” Hoe ver het jy al gevorder op die pad van heiligmaking? Hoeveel van Christus se beeld kan ander al in jou lewe sien?

WEES OORVLOEDIG IN LIEFDE
Nie net besef die apostel dat gelowiges die gevaar loop om lam in die knieë te raak en stadiger te vorder op die weg van heiligmaking nie, hy besef ook dat die liefde vir ons medegelowiges so maklik kan verkoel. Daarom roep hy hulle onder die inspirasie van die Gees op om hulle nog meer toe te lê om in liefde met mekaar te lewe (v. 9-10).

In die lewe van hierdie gemeente was liefde sigbaar. Paulus gee ook hieraan erkenning in vers 9-10 wanneer hy skryf: “Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skryf nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En dit doen julle dan ook teenoor die broers in die hele Masedonië…” Maar liefde kan verkoel, soos ons lees van die gemeente in Efese in Open. 2:4 waar Christus vir die gemeente kom sê: “Maar Ek het dit teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.”

Daarom kom die dringende oproep – en ons kan sommer die erns in die stem van die apostel hoor – wanneer hy skryf aan die einde van vers 10: “… Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe.” Ja, sorg dat die vlam van liefde vir Christus en vir mekaar nie verflou en uitgeblus word nie. Gooi eerder nog so paar kole op die vuur en blaas die as weg, eerder as wat julle net toekyk hoe die vlammetjie laer en laer brand totdat dit uiteindelik heeltemal verdwyn en nie die gloei van die kole oor is …

Natuurlik is hierdie nie 'n maklike saak nie. Jy kry mense vir wie dit maklik is om lief te wees, met wie jy in rus en vrede kan saamleef. Maar jy kry ook mense wat dit moeilik maak – ja, selfs gelowiges wat jou geduld en liefde tot die uiterste toe kan toets. Maar die Here sê vir ons deur Sy apostel dat ons ook hulle moet liefhê. Nog meer! Ons moet groei in ons liefde vir hulle.

Wie in liefde groei, sal die genade ontvang om in rustigheid met ander te kan saamleef en hulle te beperk tot hul eie sake (v. 11). Maar hulle wat nie in liefde lewe nie, is geneig om hulle neus in ander se sake in te druk. Beteken dit dat ons nie moet vra wat in die lewe van ons broers en susters in die geloof aangaan nie? Nee, beslis nie! Wat dit beteken is dat ons ook die privaatheid van ons medegelowiges sal respekteer – en waar hulle hulp nodig het, dit sal vrylik aanbied.

SLOT
Dit kan maklik nou gevra word: Waarom op hierdie manier lewe? Waarom ons toespits op 'n heilige lewe en broederliefde? Die antwoorde is tweeledig:
  • In die eerste plek: Dit is 'n bevel van God! Dit is die wil van God dat Sy kinders anders as die wêreld sal lewe. Hy het ons losgekoop met die bloed van Sy Seun op Golgota. Die prys vir ons verlossing was onberekenbaar hoog en daarom behoort ons uit dankbaarheid vir die verlossing in liefde gehoor te gee aan die wil van ons Vader.
  • Maar in die tweede plek: Ons lewe dra ook 'n getuienis. Ons dra in ons naam die Naam van Christus. 'n Christen is 'n navolger van Christus. Wat ons doen, gee aanleiding tot óf lofprysing óf lastering. Wie heilig lewe en die broederliefde uitleef, getuig voor die wêreld  van die heiligheid en liefde van God! (v. 12). Maar wie onsedelik lewe en liefdeloos, bring die Naam van Christus in die skande. 

Mag God ons die genade gee om daagliks al hoe meer onder die leiding en in die krag van die Heilige Gees te vorder op die weg van heiligmaking. Mag Hy deur Sy Gees die vlam van liefde in ons harte brandend hou – en daar waar die vlam laag brand, of dalk selfs dood gegaan het, weer opnuut laat ontvlam. Mag ons ook op hierdie manier ons Here en Verlosser wie se Naam ons dra, verheerlik. 

No comments:

Post a Comment