Skriflesing: 1
Thess. 11-10
Tema: Ware
bekering word sigbaar in geloof, liefde en hoop.
INLEIDING
Dwars deur die Bybel vind ons van plek
tot plek hoe die Here aan enkelinge, gemeentes en volke getuigskrifte gee: Soms is hierdie getuigskrifte goed,
byvoorbeeld die getuigskrif aan die gemeente in Filadelfia: “… Ek weet dat jy min krag het, en tog het
julle aan My boodskap vasgehou en My nie verloën nie.” (Open. 38). Soms is die getuigskrif baie negatief,
byvoorbeeld die getuigskrif aan die gemeente in Laodisea: “Ek weet alles wat julle doen … omdat julle lou is, nie warm nie en nie
koud nie, gaan Ek julle uit My mond uitspoeg.” (Open. 315-16)
Ook hier, in 1 Thess. 1 lees ons 'n
getuigskrif – die getuigskrif van die Here aan Sy gemeente in die stad
Thessalonika. Hierdie getuigskrif kan ons met drie woorde saamvat: geloof,
liefde en hoop. In hierdie drie woorde word die wese van 'n ware bekering
saamgevat:
·
Die werke van die geloof
·
Inspanning van geloof
·
Volharding van hoop in Christus
WERKENDE GELOOF
Ons lees in vers 2: “Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle
dink …” Waaraan dink Paulus hulle?
In die eerste plek dink hulle aan hoe die
gelowiges in Thessalonika die Evangelie ontvang en geglo het, toe Paulus hulle
dit aan hulle verkondig het! Hulle geloof was die werk van die Gees, want ons
lees in vers 5: “deur die Heilige Gees”.
Ja, Paulus hulle het die Evangelie aan hierdie mense verkondig: “want die Evangelie wat ons aan julle
verkondig het, het nie bloot met woorde gekom nie…” (v. 5)
Hulle het ook hierdie Evangelie met krag
verkondig: “… maar ook met krag …”
d.w.s. hulle houding was nie een van jammer-dat-ek-leef nie, maar met erns het
hulle die Evangelie verkondig. Hulle het dit ook “met volle oortuiging” gedoen. Dit beteken dat hulle die boodskap
wat hulle verkondig het, self geglo het en gestaan of geval het by die waarheid
van hierdie Evangelie.
Dit het hulle alles gedoen “deur die Heilige Gees”. Want, as dit nie
vir die werk van die Heilige Gees nie kan ons as gelowiges dag in en dag uit
die Evangelie met ywer verkondig, vas oortuig van die waarheid en
betroubaarheid van die boodskap, en niks sal gebeur nie. Ons prediking, ons
verkondiging van die Evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus moet
geseën word deur die Heilige Gees. Slegs as Hy dit seën sal die saad wat ons
saai, ontkiem, groei en vrug dra. Maar as Hy dit nie doen nie, sal die saad wat
ons saai in die harte van mense leweloos bly en daar geen ware bekering wees
nie.
Maar die apostel gaan verder in vers 6 en
wys op die omstandighede waaronder hierdie mense hulle vertroue in God gestel
het. Hy sê: “… In baie moeilike
omstandighede het julle die Woord aangeneem met blydskap wat van die Heilige
Gees kom.”
Weereens sien ons die werk van die Gees
in die bekering van mense – en dit in baie moeilike omstandighede. Daar het 'n
dodelike gedagte in die kerke van vandag posgevat – die gedagte dat mense net
tot bekering kan kom onder “ideale” toestande. Daarom moet die mense vertel word watter
voordele Christenskap inhou. Moet mense vertel word van hoe oulik hulle is en
belangrik is vir die Here. Moet hulle stroop om die mond gesmeer word en hulle
met soetsappige woorde gevlei word om tog maar net Jesus aan te neem.
Maar waar die Gees van God werk kom mense
tot bekering ongeag die omstandighede! Lees ons Hand. 171-9 sien ons
dat deur die toedoen van die Jode die stad Thessalonika opgestook is teen
Paulus hulle en die Evangelie van verlossing in Christus! En tog, te midde van
hierdie opstand en gevaar sorg die Here dat Sy kerk gebou word deur die werk
van die Gees wat lewe in die harte van mense wek deur die verkondiging van die
Evangelie. Sodoende het hulle voorbeelde
geword van getrouheid aan die Evangelie te midde van vervolging (v. 7).
Paulus hulle dank dus die Here in die
eerste plek vir die feit dat hulle kan sien hoe die gelowiges se geloof werk
toe hulle die Evangelie wat aan hulle verkondig is, met blydskap aangeneem en
geglo het! Maar tweedens dank hulle ook God dat hulle kan sien hoe liefde deel
van hierdie gelowiges se lewe is – 'n liefde wat opoffer en homself inspan vir
God en die bevordering van die Evangelie.
INSPANNENDE
LIEFDE
In vers 8-9 getuig Paulus dat die tweede
rede waarom hulle God dank, die feit is dat die gelowiges in Thessalonika nie
net die Evangelie ontvang en geglo het nie, maar ook uitgedra het! Hy skryf in
vers 8: “Van julle af is die Woord van die
Here in Masedonië en in Ahaje verkondig…”
Hierdie gelowiges het besef dat die
geloof wat daar in hulle harte was nie iets was wat hulle vir hulself kon hou
nie. Inteendeel, hulle het die liefde van God gesmaak – die liefde van God se
verlossingswerk in hulle lewe op grond van die verlossingswerk van Jesus
Christus en deur die krag van die Heilige Gees. En as hulle dan God se liefde
in Christus ervaar het, hoe kan hul dan anders as om ook in liefde vir hulle
naaste hierdie selfde boodskap van verlossing aan die mense rondom hulle te
verkondig!
Die vraag wat ons vir onsself moet vra is
dit: Dring die liefde van Christus my om in
liefde die Evangelie van verlossing in Christus aan ander te verkondig? Of anders gestel: Het ek my naaste so
lief dat ek met dieselfde ywer en oortuiging waarmee Paulus hulle die gelowiges
in Thessalonika tot bekering geroep het, ander mense rondom my daagliks tot
bekering roep? Of moet ons vandag dalk erken dat ons
eindelik liefdeloos optree, omdat ons hierdie wonderlike boodskap van
verlossing in Christus vir onsself hou?
Die uitdra van die Evangelie het egter
meer as net hulle woorde ingesluit – dit het ook die manier waarop die
gelowiges geleef het, ingesluit. Daarom skryf die apostel: “… oral het die mense gehoor van julle geloof
in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. Die mense
vertel self van hoe julle ons ontvang het en hoe julle jul van die afgode tot
God bekeer het en nou die lewende en ware God dien.” (v.8-9)
Die lewe van die gelowiges was deur twee
belangrike sake gekenmerk.
Eerstens word daar 'n negatief gestel:
Julle het jul van die afgode bekeer. M.a.w. daar het 'n ingrypende verandering
in julle lewe plaasgevind. Julle het jul rug gedraai op die ou, sondige lewe.
En dit is wat ware bekering behels – dit beteken dat ek die lewe wat ek vroeër geleef
het toe ek nog onder die beheer van my sondige begeertes was, afgesterf het. In
die woorde van Paulus aan die Galasiërs: “Die
wat aan Christus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en
begeertes gekruisig” (Gal. 524)
Maar positief gestel, is bekering nie net
'n wegdraai van die ou, sondige lewe nie – dit is ook 'n omdraai na 'n lewe wat
God verheerlik. Vers 9 lees: “… en hoe
julle jul van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien”
Daar is gans te veel gelowiges vandag wat
wil breek met die sonde in hul lewe, sonder om te wil lewe tot eer van God. Hulle
wil vry wees van die bande van die sonde, hulle wil vry wees van die komende
oordeel, hulle wil vry wees van alles wat hulle lewe kan vernietig; maar hulle
is nie bereid om hulle te laat verbind tot 'n lewe wat God verheerlik nie.
'n Ware bekering beteken meer as om net die Evangelie te
glo en met die sonde in jou lewe te wil breek – dit beteken ook om vir God, Sy
eer en die uitbreiding van Sy koninkryk te lewe!
VOLHARDENDE HOOP
Laastens dank Paulus hulle die Here ook
vir die volhardende hoop wat hulle in die lewe van die gelowiges raaksien.
Hierdie lewende hoop word verder verduidelik in vers 10: “… en dat julle Sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel
verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.”
Die hoop van die gelowiges was drieledig: In die eerste plek was hulle hoop
gevestig op die lewende en opgestane Christus! Hulle het geglo dat Jesus
Christus vir hulle gesterf het, maar dat God Hom ook liggaamlik uit die dood
opgewek het. Hulle (en ook ons vandag) glo in en stel ons vertroue op die
Lewende Here! Tweedens het hulle ook die wederkoms van
Christus verwag. Alles wat hulle gedoen het, was gedryf deur die wete dat
Christus enige oomblik van die dag kan kom en dan mag hulle nie ledig gevind
word nie. En derdens het hulle ook vertrou dat
hulle by Christus se wederkoms die volle verlossing deelagtig sal word – dat
hulle voor die regterstoel van Christus sal verskyn en sal hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor min
was jy getrou en oor veel sal jy aangestel word. Gaan in die vreugde van jou
Here in.”
Hul geloof was dus gevul met 'n toekomsverwagting – die verwagting dat
Christus enige oomblik kan verskyn. Hoe lyk ons verwagting? Sien ons uit na die
wederkoms van Christus?
SLOT
Saamgevat, 'n ware bekering word sigbaar
in geloof, liefde en hoop:
Geloof: Dit
wil sê dat God deur Sy Gees die geloof in ons harte wek, sodat ons die
Evangelie van verlossing in Jesus Christus met blyskap kan aanneem en glo.
Liefde: 'n
Liefde vir God en ons naaste wat sigbaar word in die feit dat ons die Evangelie
van verlossing met ons mond verkondig, maar ook deur ons lewe volgens hierdie
Evangelie inrig deur met die sonde in ons lewe te breek en tot eer van ons
Verlosser te lewe.
Hoop: Dit is die
lewende verwagting na die wederkoms van Jesus Christus, die Seun van God en ons
Verlosser.
No comments:
Post a Comment