INLEIDING
Vandag vier ons Goeie Vrydag – ‘n dag waarop ons terug kyk na die
volmaakte offer van Christus wat die volmaakte verlossing volbring het. Maar om
hierdie volmaakte offer van Christus te verstaan, moet ons terug gaan in die
geskiedenis – verby die kruis, verby die lewe van Christus, verby die profesieë
van die profete oor Christus, verby die offers wat wys na Christus ... Ons moet
al die pad terug gaan tot in die tuin van Eden ... want dit is in Gen. 3 waar
ons die sleutel tot die verstaan van die kruisiging ontdek.
In die begin het God die hemel en die aarde geskape. Op die aarde het
Hy ‘n tuin gemaak waarvan Hy kon sê: “Dit
is baie goed!” (Gen. 1:31) In hierdie tuin het Hy die mens – Adam en Eva –
geplaas om daar te woon, dit te bewerk en dit te beskerm (Gen. 1:28, 2:15). Daar
het God ook ‘n boom geplant: die boom van kennis van goed en kwaad (Gen. 2:9).
Van al die bome in die tuin kon die mens eet, behalwe van hierdie boom, want
die dag as hulle daarvan sou eet, sou
hulle sterf (Gen. 2:16-17, 3:2-3). Die mens was egter ongehoorsaam en hulle het
van die boom geëet en so in sonde geval.
Die volmaakte verhouding wat daar tussen hulle en God was, was
verbreek en die oordeel van die heilige God het op hulle en ook hulle nageslag
gerus. Hierdie gebroke verhouding het sigbaar geword in die feit dat hulle hul
naaktheid probeer bedek het deur “klere” van vyeblare en in hulle poging om vir
God weg te kruip. Wat sou nou van hulle word?
- Vir hul daad van opstand kon hulle net die dood verwag!
- Vir hul daad van ongehoorsaamheid kon hulle net ‘n gebroke verhouding wys!
- Vir hulle daad van sonde kon hulle net ‘n patetiese poging vir klere van vyeblare wys!
So word die boom in die tuin, ‘n boom van oordeel, van verlatenheid,
van totale onmag.
Maar in die Bybel lees ons ook van ‘n ander boom – die boom van
Golgota. Daar verander Christus:
- Die boom van oordeel in die boom van lewe,
- Die boom van verlatenheid in die boom van versoening, en
- Die boom van onmag in die boom van volkome verlossing.
Dit is aan die boom van Golgota waar Christus die volmaakte offer vir
volmaakte verlossing bring.
In Joh. 19:30 hoor ons Christus uitroep: “Dit is volbring!” Hierdie is nie maar net die laaste woorde van ‘n
sterwende man nie. Ook nie die finale woorde van ‘n veroordeelde nie. Nee,
hierdie is ‘n duidelike, hoorbare verklaring. ‘n Verklaring dat die volmaakte
offer gebring is en deur die bring van die volmaakte offer, die volmaakte
verlossing ook volbring is. Dit beteken dat die offer van Christus:
- Eerstens volkome plaasvervangend van aard was.
- Tweedens volkome herstel versekering het.
- Derdens volkome in krag tot redding was.
DIE VOLMAAKTE
PLAASVERVANGENDE OFFER
Die gedagte van ‘n plaasvervangende offer is nie in die eerste plek in
die wetboeke van die Ou Testament te vinde nie. Nee, die eerste plek waar ons
van ‘n plaasvervangende offer lees, is in Gen. 3:21. Adam en Eva het gesondig
en die loon van die sonde is die dood. Tog val Adam en Eva nie onmiddelik dood
neer wanneer God hulle konfronteer nie. Ja, hulle het sterflik geword in daardie
oomblik. Ja, hulle het ook geestelik gesterf in die sin dat die verhouding
tussen hulle en God verbreek was.
Maar waarom het Adam en Eva nie onmiddelik dood neergeval nie. Die
antwoord is: God se genade. In plaas daarvan dat God hulle lewe op die plek
neem, neem Hy eerder die lewe van diere, want ons lees in Gen. 3:21: “Daarna het die Here God vir die mens en sy
vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek.” Vir klere van vel was dit
nodig dat diere sou sterf. So tree God as die eerste Hoëpriester op wat die
eerste offer vir die sonde van die mens bring, sodat die mens mag lewe.
Maar Gen. 3:21 wys uiteindelik heen nie na die offers van die Ou
Testament nie, maar na die volmaakte offer van die volmaakte Offerlam wat deur
die volmaakte Hoëpriester gebring sou word, nl. Christus se offer aan die kruis
op Golgota.
Wanneer Christus aan die kruis uitroep: “Dit is volbring!” verklaar Hy daarmee dat die volmaakte,
plaasvervangende offer vir die lewe van mense gebring is. Hierdie offer was
nodig omdat die bloed van diere nooit verlossing vir die mens kon bring nie
(Hebr. 10:1-4). Maar al die offers het heen gewys na dié Lam wat sou kom om as
die volmaakte Plaasvervanger in ons plek te kom staan en ons straf te dra – net
soos die diere in die tuin van Eden die straf van die mens moes dra.
Maar om die volmaakte Plaasvervanger te wees sou beteken dat Christus
ons lewe volmaak sou moes oorleef – van die wieg tot in die graf. En dit is wat
Hy met die uitroep van hierdie kruiswoord verklaar: Alles wat vir Hom nodig was
om te doen om die volmaakte Plaasvervanger te wees, dit het Hy gedoen en
voltooi!
As volmaakte Plaasvervanger was Hy ook in staat om volkome herstel
tussen God en die mens te bewerkstellig; en dit is die tweede element van
Christus se verklaring dat alles volbring is.
DIE OFFER WAT
VOLKOME HERSTEL VERSEKER
Dink vir ‘n oomblik terug aan wat na die sondeval daar in die tuin van
Eden gebeur het. Die verhouding tussen God en die mens was verbreek en ‘n nuwe
verhouding tussen die mens en die duiwel het ontstaan. Maar in God se genade
kom Hy en verbreek Hy hierdie noodlottige verbond deur die oordeel oor die
slang (en die duiwel) uit te spreek (Gen. 3:14-15). Daarna maak God vir die
mens klere van vel as ‘n teken dat daar ‘n mate van herstel in die verhouding
tussen hulle en God is. Deurdat God na die klere van vel kyk, sien Hy eerstens
die bloed wat moes vloei.
Hierdie gedagte word ook later in die geskiedenis van Israel op ‘n
ander manier uitbeeld, nl. deur die verbondsark. Die verbondsark was ongeveer
125 cm lank, 75 cm hoog en 75 breed (Eks. 25:10). Dit was oorgetrek met suiwer
goud. Bo op die ark van die verbond was daar twee beelde van gerubs (engele met
vlerke) wat met hulle gesigte na mekaar gedraai was en afgekyk het (Eks. 25:20).
Die vlerke van die gerubs moes uitgesprei wees en na mekaar toe wys, sodat dit
die deksel kon bedek, omdat God bo die verbondsark tussen die vlerke van die
gerubs verskyn het (Eks. 25:20-22). In die verbondsark moes die 10 gebooie wees
(Eks. 25:16).
Kyk ons na hierdie prentjie dan sien ons die Heilige God wat mense
ontmoet op grond van die verbond wat Hy met hulle gesluit het. Die probleem was
dat wanneer God bo die deksel verskyn het, Hy na die mens sou kyk deur die wet
wat in die verbondsark geberg was. Dit beteken dat Hy die mens sou sien wat die
oordeel verdien, omdat hulle die verbond keer op keer verbreek het.
Maar dan sien ons ook die genade, nl. dat God bepaal het dat een maal
per jaar op die groot versoendag die bloed van ‘n dier sonder liggaamgebrek op
die deksel en voor die verbondsark gesprinkel moet word (Lev. 16:14-15).
Wanneer God dan na die mens sou kyk, sou Hy hulle sien nie deur die wet en as
verbrekers van die wet nie; maar deur die bloed van die offerlam en mense wat
in ‘n herstelde verhouding met Hom lewe.
Wanneer Christus dan aan die kruis uitroep: “Dit is volbring!” verklaar Hy daarmee dat Hy daardie volmaakte
Offerlam was wie se bloed gevloei het, deur wie se bloed ons losgekoop word van
die oordeel, in wie se bloed God ons nou sien – mense gereinig deur die bloed
van die Lam en nie langer as sondaars wat die oordeel verdien nie. Deur die
offer van Christus, Sy uitroep van verlatenheid aan die kruis en Sy verklaring
dat alles volbring is, is die verhouding tussen ons en God herstel.
Soos Adam en Eva met die velle van diere geklee was, so word ons met
die geregtigheid van Christus geklee. Daarom kan ons verseker wees dat die
verhouding herstel is.
Laastens, as volmaakte Plaasvervanger deur wie ons verhouding met God
herstel word, is Christus se offer ook volkome in sy krag om ons te verlos.
DIE OFFER WAT
VOLKOME VERLOS
Wanneer die mens probeer ons sy eie sonde te bedek, of probeer om
homself te verlos, maak hy net ‘n gemors daarvan. Kyk net na Adam en Eva se
patetiese poging om vir hulle klere van vyeblare te maak! Hoe dikwels gebeur
dit nie dat ons ons sondes probeer wegsteek deur verskonings van vyeblare nie.
Daar is baie maniere waarop mense probeer om vyeblare by mekaar te
werk, sodat hulle hul sonde voor God kan wegsteek:
- Die Rooms Katolieke doen dit deur goeie werke, belydenisse van sonde en as dit nie genoeg op aarde is nie, die vagevuur.
- Ander volg in die voetspore van Rome en dink dat as hulle goed genoeg lewe, dit genoeg sal wees om die oordeel vry te spring, of om in die hemel te kom.
- Dan is daar natuurlik ook digene wat so blind is vir hulle sonde dat die Here vir hulle dieselfde moet sê as vir die gemeente in Laodisea in Op. 3:17: “Julle sê: ‘Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,’ en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.”
Hou tog op om klere van vye blare te maak. Hou tog op om jouself te probeer
verlos. Hou tog op om jou verlossing te probeer verdien. Dit gaan nie werk nie.
Hy het ‘n groter kans om die winde uit die vierwindrigtings in jou hande vas te
vang en dit daar te hou!
Ek pleit vanoggend by jou – as jy nog nie dit gedoen het nie – vlug na
die kruis van Christus, laat jou was in die bloed van Christus, trek die klere
van Sy geregtigheid aan! Hy het verklaar: “Dit
is volbring!”
Ja, die offer wat nodig was om mense te verlos, is gebring en dit is
afgehandel. Niks kan of mag daarby gevoeg word nie en niks kan en mag daarvan
weg geneem word nie. In die woorde van die Hebreërskrywer in Hebr. 9:25-26: “Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik
te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met
bloed wat nie sy eie is nie. Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely
het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in
die voleiding van die tye verskyn om deur Sy offer die sonde weg te neem.”
En weer in Hebr. 10:10: “Omdat
God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus Sy liggaam as
offer gebring het, eens en vir altyd.”
Het ons dit gehoor? “... net een
keer ...”, “... eens en vir altyd”.
Christus se offer vir die verlossing van mense kan nie weer gebring word nie.
Daar kan geen byvoegings wees nie. Dit is Christus en Christus alleen – sonder
my werk, sonder my pogings, sonder my kragte. Christus! Nét Christus! Hoor u
dit: “Dit is volbring!” Dit is
afgehandel. Die prys is ten volle betaal!
Hierin lê die troos: Ek is losgekoop deur Christus – die Een wat in my
plek voor God kom staan het om my te reinig deur Sy bloed, los te koop deur Sy
offer en my verlossing te beseël deur Sy dood. In Sy hande is ek veilig – nou
en vir altyd! Aan God die eer!
SLOT
Waar laat dit ons? Hoe kan ons ons dank vir so ‘n Verlosser uitleef? Spurgeon
se woorde tref die teiken van hierdie vraag in die kol wanneer hy sê: “Vir solank as wat daar asem in ons liggame
is, laat ons Christus dien; vir solank as wat ons kan dink, vir solank ons kan
praat, vir solank ons kan werk, laat ons Hom dien, laat ons Hom dien met ons
laaste asem; en, indien dit moontlik sou wees, laat ons probeer om werk aan die
gang te sit wat Hom sal verheerlik wanneer ons sterf en nie meer daar is nie.”
Christus het Sy lewe vir jou en my afgelê, sodat ons kan lewe. Sal ons
dan nie ook ons lewe aflê om in lewe en in sterf ons Verlosser en Here te
verheerlik nie? Amen.
No comments:
Post a Comment