INLEIDING
Die opstanding van Christus vorm 'n
uiters belangrike deel van die kern van die Evangelie wat deur die apostels
verkondig is:
- Op Pinksterdag preek Petrus. Hy verkondig dat Christus lewe – dat Hy uit die dood opgewek is (Hand. 2:24, 32).
- 'n Paar dae later, nadat Petrus 'n verlamde man genees het, beklemtoon hy weer die opstanding van Christus (Hand. 3:15).
- Wanneer Petrus en Johannes voor die Joodse Raad gedaag word en verbied word om verder die Evangelie te verkondig, wys Petrus hulle weer daarop dat God Christus uit die dood opgewek het (Hand. 4:10).
- Ook Paulus verkondig die opstanding van Christus. In Hand. 13 lees ons hoe Paulus tydens sy sendingreis in die sinagoge in Antiochië gepreek het. Tydens sy preek gee hy 'n geruime tyd aandag aan die feit dat Christus uit die dood opgewek is en dat mense Hom na Sy opstanding gesien het (Hand. 13:30-37).
- In Atene verkondig Paulus die Evangelie op die Areopagus, waar hy weereens verkondig dat God Christus uit die dood opgewek het (Hand. 17:31).
Ook wanneer ons die briewe van die
apostels bestudeer, is dit duidelik dat daar geen sprake van 'n Evangelie
sonder die liggaamlike opstanding van Christus is nie. Dit is juis hierdie
waarheid wat die apostel Paulus in die eerste vier verse van 1 Kor. 15
beklemtoon. Daarom is die liggaamlike opstanding van Christus 'n kernwaarheid
van die Christelike geloof. As Christus nie uit die dood opgestaan het nie,
tuimel ons geloof onmiddellik soos 'n kaartehuis inmekaar!
Onder die invloed van die Griekse
filosowe, was daar gelowiges in Korinthe wat gesê het dat daar nie 'n opstanding
van die dode is nie. Die gevaar van hierdie siening – soos Paulus dit ook
uitwys in 1 Kor. 15:11-19 – is dat, as daar nie 'n opstanding van die dode is
nie, dit beteken dat Christus ook nie opgewek is nie. Die gevolg hiervan is drieledig:
As Christus nie uit die dood opgewek is nie, is:
- Die Evangelie sonder inhoud.
- Die geloof van die gelowiges tevergeefs.
- Ons steeds verlore in ons sonde.
DIE
EVANGELIE SONDER INHOUD
In die eerste plek beklemtoon die apostel
Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees dat as Christus nie uit die
dood opgestaan het nie, daar geen Evangelie is nie. Hy skryf in 1 Kor. 15:14: “En as Christus nie opgewek is nie, is ons
prediking sonder inhoud …” Die Griekse woord wat ons met “sonder inhoud” vertaal, beklemtoon die
gedagte van totale leegheid. As Christus nie opgewek is nie, is die Evangelie
leë woorde, totaal nutteloos en betekenisloos. Die opstanding van Christus vorm
die hart van die Evangelie boodskap. Neem die hart van die Evangelie weg, en
die hele Evangelie sterf. Daarom kan met reg gesê word: “Neem die opstanding weg, dan bly daar niks
oor nie”.
As Christus nie liggaamlik uit die dood
opgestaan het nie, kan ons die Bybel maar toemaak. Ons hoef nie meer dit te
lees nie. Ons hoef nie meer daaruit Bybelstudie te doen nie. Ons hoef nie meer
daarna te luister nie. Want as Christus nie uit die dood opgewek is nie, is dit
'n boek vol leë stories, mites en legendes. Dan is dit soos 'n lugspieëling in
die woestyn – dit skep die illusie dat daar strome van lewende water is. Tog is
dit niks ander as sand soos die res van die woestyn nie.
Soos in die verlede hoor ons steeds
vandag die stemme wat dit uitbasuin dat Christus nie uit die dood opgestaan het
nie. Sommige van hierdie dwaalleraars beweer dat jy steeds 'n “Christen” kan
wees, en tog nie in die liggaamlike opstanding hoef te glo nie. Maar Paulus
stel dit duidelik in die gedeelte wat ons gelees het: Sonder die opstanding is
daar géén Evangelie nie, daar is dus niks om te glo nie!
Dit bring ons by die tweede punt wat
Paulus hier maak: As die Evangelie leeg en nutteloos is, beteken dit ook dat
die geloof van hulle wat die Evangelie glo, leeg en nutteloos is!
ONS
GELOOF IS DAN TEVERGEEFS
Hy skryf in vers 14: “En as Christus nie opgewek is nie, is ons
prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud”. Hy herhaal weer
hierdie waarheid in vers 17: “En as Christus nie opgewek is nie, is julle
geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sonde”.
Een ding moet
ons goed verstaan: Jy kan nie iets volmaak met iets wat leeg is nie. Jy kan nie
'n leë glas met water volmaak, as daar nie water in die kraan of bottel is nie.
So ook kan jou geloof nie inhoud hê as jy iets glo wat inhoudloos is nie. Om
dus te sê: “Ek is 'n Christen, al het Christus nie uit die dood opgestaan
het,” beteken net soveel as om te sê: “Ek drink water uit 'n glas sonder
water”.
So 'n
inhoudlose geloof kan nie aanspoor tot 'n lewende geloofslewe nie. Het julle al
ooit gewonder hoe dit kon gebeur dat gelowiges terwyl hulle dood gemartel en op
brandstapels vermoor is, tot eer van God kon sing? Een van die redes was die
feit dat hulle die verwagting gehad het dat hulle uit die dood opgewek sal
word, omdat Christus die dood oorwin het. Een van die vroeë martelare van die
vroeg-Christelike kerk, Polikarpus, het byvoorbeeld op die brandstapel gebid
dat hy God loof, omdat hy weet dat hy na liggaam en siel deel aan die
opstanding tot die ewige lewe sal kry (Pol. 14:2). As Christus dan nie uit die
dood opgestaan het nie, sou dit beteken dat die martelare vir 'n nuttelose
geloof gesterf het!
Geen wonder
dat die apostel in vers 19 skryf: “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus
vestig, is ons die bejammerendwaardigste van alle mense”. Dink daaraan. Hier is ’n mens wat aan ’n
leë boodskap vashou. Sy eie geloof is leeg. Hy is vas daarvan oortuig dat jy
gered is en dat hy ook uit die dood opgewek sal word, maar dit is ’n
noodlottige vergissing. Nog meer! Hy verkondig hierdie inhoudlose boodskap vol
ywer. Ja, hy is selfs bereid om daarvoor te sterf en dit gebeur ook. En
waarvoor was dit alles gewees? Vir ’n lugkasteel?! Wat ’n tragiese figuur!
As Christus nie uit die dood opgewek is
nie, is ons geloof inhoudloos – dit is tervergeefs.
In die derde
plek spreek die apostel Paulus die noodwendige gevolg van 'n inhoudlose
Evangelie en geloof aan, nl. dat die mag van die sonde nie gebreek is nie.
ONS IS STEEDS VERLORE
In 1 Kor.
15:17-18: “En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en
is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf
het, verlore.”
Wat beteken dit dat Christus uit die dood
opgewek is? Waarom was dit nodig? Deur Christus uit die dood uit op te wek, het
God die Vader getuig dat Hy die offer wat Christus vir ons sondes gebring het,
aanvaar het. Soos daar ook in Rom. 4:25 geskrywe staan: “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons
vrygespreek kan word.” Met ander woorde, Christus is oorgelewer om aan die
kruis vir ons sondes te sterwe, maar is ook opgewek uit die dood as 'n
bevestiging daarvan dat God ons op grond van Christus se offer vryspreek.
Wat sou dit dan beteken as Christus nie
liggaamlik uit die dood opgewek is nie? Die antwoord is eenvoudig: As Christus
nie opgewek is nie, beteken dit dat God die Vader nie Sy offer vir ons sondes aangeneem
het nie. En as God nie Sy offer aangeneem het nie, beteken dit dat ons steeds
verlore is en die oordeel tegemoet gaan.
Wie van mening is dat die liggaamlike
opstanding van Christus vir die Christelike geloof nie belangrik is nie, weet
nie waarvan hulle praat nie. Sonder die liggaamlike opstanding van Christus is
daar geen Evangelie nie, is daar geen geloof nie en is daar geen verlossing
nie. Ja, neem die opstanding van Christus weg, en daar bly letterlik niks van
die Blye Boodskap oor nie.
MAAR NOU, CHRISTUS IS OPGEWEK!
Maar dank God – daar is hoop! Toe ons
Israel in 2012 besoek het, het ons onder andere die Tuingraf
besoek. Op die deur wat voor die opening van die graf is, was daar 'n bordjie
met die woorde van die engel: “Hy is nie
hier nie – want Hy het opgestaan!”
Hoe waar is hierdie woorde nie en omdat
dit waar is, is daar vaste hoop. Ons geloof is nie betekenisloos nie, die
Evangelie is nie nutteloos nie! In vers 20 jubel die apostel Paulus dit uit: “Maar
nou, Christus is opgewek uit die dode, as eersteling uit dié wat gesterf het”.
Ons Here leef! Die graf is leeg! Hy het opgestaan! En Sy opstanding waarborg
ons verlossing.
SLOT
Vandag vier
ons Paasfees – ons herdenk die dag waarop God Sy Seun uit die dood opgewek het.
Mag ons dan vandag terugkyk – terugkyk na die graf en deur die oë van die
geloof sien dat die klip weg gerol is. Mag ons met die ore van die geloof
opnuut die stem van die engel hoor wat sê: “Hy is nie hier nie, want Hy het
opgestaan!” Mag ons vandag opnuut die vrede in ons harte ervaar wanneer ons
saam met Paulus dit uitroep: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode!”
Ja, die Evangelie wat ons glo is nie inhoudloos
nie! Die Evangelie wat ons verkondig is nie tevergeefs nie - hierdie Evangelie
van die kruis en leë graf is die krag van God tot redding van elkeen wat glo
(Rom. 1:16). Laat ons dan hierdie Evangelie tydig en ontydig verkondig, verkondig
of mense luister of nie, en so ons roeping nakom om dissipels van al die nasies
te maak.
No comments:
Post a Comment