Skriflesing:
Eks. 30:17-21
"Die Here het vir Moses gesê: 'Jy moet 'n bronswaskom met 'n bronsvoetstuk maak om in te was. Sit dit tussen die tent van ontmoeting en die altaar neer en gooi water daarin. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was. Voordat hulle in die tent van ontmoeting ingaan, moet hulle hulle met die water was sodat hulle nie sterf nie. Voordat hulle na die altaar toe kom vir hulle diens om 'n vuuroffer vir My, die Here, aan die brand te steek, moet hulle hulle hande en voete was sodat hulle nie sterf nie. Dit is 'n blywende voorskrif vir hulle en vir hulle nageslagte.'"
(Eks. 30:17-21)
INLEIDING
Ons
het gisteraand begin met ons reis deur die Tabernakel en gevra: Hoe kan die
voorwerpe van die Tabernakel ons help om te bid, en dan ook, hoe om doelgerig
te bid. Die eerste voorwerp wat ons in die Tabernakel teëgekom het, was die
brons brandofferaltaar waarop die offers van Israel gebring het. Dag en nag is
daar op hierdie altaar offers gebring sodat die Here tussen die Israeliete kon
woon. ‘n Mens kan jou amper nie indink dat met die verloop van ‘n jaar hierdie
2,5 m x 2,5 m x 1,5 m brons brandofferaltaar die bloed sou sien van:
- 834 jaaroue lammers
- 24 bulle
- 12 skaapramme
- 12 bokramme
En
daarmee saam:
- 1,533 ton meel
- 981 liter wyn
- 834 liter olie
Dit
is net die daaglikse offers, saam met die addisionele sabbatsoffers en
maandelikse offers ingereken. Dit sluit nie die offers in van die groot feeste
of persoonlike offers wat gebring sou word nie. Dit is geen wonder dat die
Hebr. 10:3-4 sê: “Maar nou herinner die
offers juis jaar na jaar aan die sondes, omdat die bloed van bulle en bokke
onmoontlik die sondes kan wegneem.”
Hierdie
altaar, so het ons gesien, het ons gewys op die offer wat Jesus Christus
gebring het aan die kruis, en dit by die kruis wat ons dan ook ons gebede
begin: gebede van dank vir hierdie offer.
Vandaan
stap ons verder die Tabernakel in. In die voorhof, tussen die ingang na die
Heilige van die Tabernakel en die brons brandofferaltaar, vind ons dan ‘n
tweede voorwerp: die bronswaskom.
Hierdie
waskom herinner ons aan die feit dat die Heilige God slegs genader kan word as
ons rein staan voor Hom.
DIE BRONSWASKOM
Die
beskrywing van die bronswaskom vind ons in Eks. 30:17-21 en 38:8. Die
beskrywing daarvan is redelik eenvoudig: dit was ‘n brons bak met ‘n
bronsvoetstuk. Oor presies hoe breed en hoog hierdie waskom was, word nie vir
ons gesê nie. Ons kan egter aflei uit die res van Eks. 30:17-21 dat hierdie
waskom nie maar net ‘n emmertjie water was nie, want die Here beveel Moses dat
elke keer wat Aäron en sy seuns die tent van die Tabernakel wou ingaan, hulle
eers hulle hande en voete moes was (Eks. 30:20). So ook, elke keer as hulle tot
die altaar nader om ‘n offer te bring, moes hulle weer hulle hande en voete was
(Eks. 30:20-21). Die rede wat die Here hiervoor gee, is: “... sodat hulle nie sterf nie.” (Eks.
30:20-21)
Dit
laat ons die vraag vra: Waarom al hierdie gewassery? Die doel van die waskom en
die was van Aäron en sy seuns, was om te beklemtoon dat hulle net voor die Here
kan verskyn, vir solank hulle skoon (of rein) voor hom staan. Byvoorbeeld,
wanneer hulle ‘n offer gebring het, moes hulle rein wees sodat hulle daardie
offer kon bring. As hulle onrein was, sou die offer onrein gemaak word, seremonieel
gesproke. Maar deur die bring van die offer het die priester ook onrein geword
deurdat daar bloed op hulle gekom het. Daarom, voordat hulle in die Heilige
weer kon ingaan, moes hulle eers weer seremonieel rein word deur hulle hande en
voete te was.
Dit
het dus gegaan om seremonieel rein te staan voor God, gereinig vir sy diens.
Maar,
soos die altaar, wys die waskom ook na Christus.
DIE WASKOM EN CHRISTUS
Die
waskom het gewys op die reiniging wat deur die Offer van Christus bewerkstellig
sou word. Soos water die priesters seremonieel gereinig het voor die Here,
reinig die bloed van Christus ons voor God. En hierin vind daar iets besonders
ook plaas: In oud Israel het die priesters deur die bring van offers onrein
geword en moes hulle eers weer gereinig word deur in die water van die waskom
te was. Maar die offer wat Christus bring maak nie onrein nie, maar juis rein.
Sy bloed word die water van die waskom waardeur ons gereinig word van ons
sondes en ons ongeregtighede. So kan ons, gewas in die bloed van die Lam, van die
altaar af die teenwoordigheid van die Heilige God betree.
Maar
nou moet ons vra: Hoe help die waskom ons om te bid?
DIE WASKOM EN ONS GEBEDE
Waar
die altaar ons herinner het aan die verlossing (die offer) wat Christus gebring
het, herinner die waskom ons dat niemand voor God kan verskyn vir solank hy
onrein is nie. Daarom bring die waskom ons tot skuldbelydenis op grond van die
offer wat vir ons reeds gebring is.
Kom
staan vir ‘n oomblik stil by die waskom en kyk na die bloed van Christus wat
vir jou gestort is om jou van jou sonde te reinig. Dink aan die belofte van die
Here in 1 Joh. 1:9: “... as ons ons
sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig
ons van alle ongeregtigheid.”
Dit waskom
is die plek van selfondersoek en skuldbelydenis. Dit is die plek waar jy stil
word om na te dink oor dit wat in jou lewe verkeerd is. Begin deur voor God te
erken dat jy ‘n sondaar is wat voor Hom verskyn omdat Christus vir jou gesterf
het, en nie omdat jy dit verdien nie. Erken dat jy skuldig staan voor Hom ...
Na
skulderkentenis, gaan dan oor tot skuldbelydenis. Dink na oor die sonde wat jy
in die afgelope week gedoen het. Gebruik die 10 Gebooie om jou te help. Vra vir
jouself vrae af soos:
- Wat is vir my so belangrik in my lewe dat ek God se opdragte ongehoorsaam sal wees? (Hierin sal jy sien waar jou afgode is en hoe jy die eerste twee gebooie oortree het).
- Dink na oor hoe jy gereageer het toe iemand die Naam van die Here as vloek of skelwoord gebruik het? Het jy vir die eer van die Here opgestaan?
- Dink na oor hoe jy die rusdag deurbring. Vra vir jouself of daar nie dalk dinge is wat eerder jou verhinder om op die rusdag jou in God te verlustig nie, en verwyder daardie dinge.
- Dink na oor hoe jy reageer teenoor die gesag wat oor jou gestel is: jou ouers, onderwysers, werkgewers, of watter ander gesag ook al.
- Dink na oor dit wat jy in die week gesê het en hoe jy dit gesê het. En daarmee saam, wat in jou gedagtes omgegaan het. Ook ons monde en harte is dikwels ‘n moordkuil.
- Dink na oor hoe jy kuisheid hanteer. Laat jy toe dat jou kleredrag dalk begeertes uitlok? Of laat jy jou gedagte toe om te dwaal na plekke waar dit nie behoort te wees nie?
- Hoe lewe die slagspreuk van “optel goed is vat goed” dalk op ander maniere steeds in jou lewe voort? Is jou woorde opbouend, stigtend, waar en betroubaar? Jy is immers ‘n kind van die God van die waarheid.
- Beoordeel jou begeertes. Is jy vergenoeg met wat jy het, of jaloers op ander.
Noudat
jy jou lewe onder die vergrootglas van God se heiligheid gestel het, bely
hierdie sondes by die naam. Wees spesifiek in jou belydenis. Om bewus te wees
van onkruid is een ding; maar om bewus te wees van spesifieke onkruid in jou
lewenstuin is iets totaal anders.
Terwyl
jy opstaan by die waskom, vra ook vir krag om teen hierdie sondes wat daar nog
is, te stry en daaroor oorwinning te kry.
SLOT
Die
altaar is die plek van danksegging vir die Offer van Christus, maar hierdie
offer dring ons ook dieper die heiligdom in en bring ons op ons knieë voor God
in selfondersoek en skuldbelydenis. Dit is net wanneer ons die grote van die
Offer van Christus besef, dat ons ook die diepte van ons sonde sal raaksien.
Daarom laat ons dankgebede ook smeekgebede word van verootmoediging en
skuldbelydenis. Amen.
No comments:
Post a Comment