Friday 26 January 2018

Om tot die aangesig van die Heilige te nader ... Met aanbidding (Week van Gebed 2018, deel 5)

Skriflesing: Eks. 25:10-22

"Julle moet ’n ark van doringhout maak: een en ’n kwart meter lank, ’n driekwart meter breed en net so hoog. Jy moet dit binne en buite met suiwer goud oortrek en ’n goue lys rondom vassit. Verder moet jy vier goue ringe giet wat aan die onderste vier hoeke vasgesit moet word, sodat daar twee ringe aan elke kant is. Jy moet draaghoute van doringhout maak en dit met goud oortrek. Dan moet jy die draaghoute deur die ringe aan weerskante van die ark steek om die ark daarmee te dra. Die draaghoute moet in die ringe van die ark bly en mag nooit uitgehaal word nie. In die ark moet jy die getuienis van die verbond sit wat Ek jou sal gee. Dan moet jy ’n deksel van suiwer goud maak, een en ’n kwart meter lank en ’n driekwart meter breed. Maak twee gerubs van geslae goud op die kante van die deksel, een links en een regs. Die gerubs aan weerskante van die deksel moet so gemaak word dat hulle ’n eenheid met die deksel vorm. Hulle vlerke moet uitgesprei wees oor die deksel, sodat hulle dit bedek. Die gerubs se gesigte moet na mekaar toe wees, en hulle moet afkyk op die deksel. Jy moet die deksel bo-op die ark sit en daarbinne die getuienis wat Ek jou sal gee. Dáár sal Ek jou ontmoet. Ek sal met jou praat van die deksel af tussen die twee gerubs uit wat op die ark met die getuienis is. Al my bevele vir die Israeliete sal Ek jou van daar af gee."

(Eks. 25:10-22)

INLEIDING
Ons kom vanaand aan die einde van ons reis deur die Tabernakel. Neem vir ‘n oomblik die tyd om na te dink oor waar ons ons vanaand bevind: in die Allerheiligste van die Tabernakel. Die plek waar slegs die hoëpriester, een maal per jaar toegelaat was om in te gaan op die Groot Versoendag. Die plek waar die Here in sy heerlikheid verskyn het om met Moses te praat. Die plek waar hemel die naaste gekom het om op aarde te wees. Dit is die vertrek wat ons vanaand betree: Die Allerheiligste om stil te kom staan by die ark van die verbond.

Dit is hier in die Allerheiligste by die verbondsark waar ons in die teenwoordigheid van God kom om Hom te aanbid.

DIE VERBONDSARK
Van al die voorwerpe van die Tabernakel (en later die tempel) was daar ‘n besondere band tussen die ark van die verbond en die Here se teenwoordigheid. Ons sien dit in die geskiedenis van Israel, hoe die Here by tye die volk beveel om met die ark van die verbond die oorlogsveld te betree as teken daarvan dat Hy vir hulle veg. Ongelukkig het die volk later meer op die voorwerp begin vertrou eerder as op die Here, soos ons in die geskiedenis van Eli en sy seuns in 1 Sam. 4.

Die ark van die verbond was die voorwerp wat ook die meeste detail gehad het van al die voorwerpe. Dit was gemaak uit twee dele: die ark of boks gedeelte en die deksel wat daarop geplaas was.

Die ark was 1,25 m in lengte, 75 cm in breedte en 75 cm in hoogte. Dit was gemaak van doringhout en oorgetrek met suiwer goud. Rondom die rand van die ark was daar ‘n lys aangebring as versiering. Aan weerskante van die ark was daar twee ringe aangebring, vier ringe in totaal. Dit was vir die draaghoute wat ook van doringhout gemaak moes word en met goud oorgetrek moes word. Hierdie draaghoute mag nooit uit die ark gehaal word nie.

Die deksel van die verbondsark was 1,25 m in lengte en 75 cm in breedte. Bo-op die deksel was daar die figure van twee gerubs met oopgespreide vlerke wat na mekaar gekyk het. Hul vlerke het ook na mekaar gewys en die deksel sodoende bedek. Dit is tussen hierdie gerubs se oopgespreide vlerke waar die heerlikheid van die Here sou sigbaar word wanneer Hy met Moses sou praat.

Binne in die ark van die verbond het Moses drie dinge ingesit, volgens Hebr. 9:4: die goue kruik met manna wat die Here beveel het om bymekaar te maak in Eks. 16:32-34; die kierie van Aäron wat gebot het (Num. 17:1-11) en die twee tafels van die wet. Die kruik met manna en die kierie moes met die verloop van tyd verlore geraak het, want in die tyd van Salomo was slegs die twee tafels van die wet in die verbondsark gewees wat hy in die Tempel geplaas het (1 Kon. 8:9).

DIE VERBONDSARK EN CHRISTUS
Die verbondsark wys op verskeie maniere na Christus.

In die eerste plek, as die plek waar Christus sy bloed voor God kom uitstort het. Ons lees in Hebr. 9:11-12: “Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy een maal die heiligdom (met ander woorde, tot in die Allerheiligste) binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring.” Dus, die verbondsark herinner ons ook aan die bronsaltaar en die waskom; aan Christus se offer wat ons verlos het en waardeur ons gereinig word voor God sodat ons sy teenwoordigheid kan betree.

Maar verder, in die tweede plek, wys die verbondsark ook na Christus as die Immanuel, God wat onder ons kom woon het. Die verbondsark was die simbool van God se teenwoordigheid onder sy volk. En dit het gewys daarop dat daar ‘n dag sal kom waar God fisies ook onder sy volk sal wandel. Daardie dag het aangebreek toe die Seun van God mens geword en onder ons kom woon het. Die apostel Johannes skryf in Joh. 1:14: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon ...”, letterlik vertaal: onder ons kom tabernakel opslaan, “Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

Die verbondsark wys egter ook op ‘n derde manier na Christus in die sin dat Hy nie net Immanuel, God met ons, is nie; maar ook as mens aan die eise van die wil van God voldoen het. Die wet van die Here was in die verbondsark geplaas as die standaard waardeur God genader kon word: volmaakte gehoorsaamheid aan daardie wet. Jesus Christus het aan die eise van daardie standaard voldoen. Daarom dat ons in Hebr. 4:15 sê: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.” Hy kon vir ons die volmaakte offer bring (die bronsaltaar); Hy kons ons met sy bloed reinig (die bronswaskom); Hy kan ons die ewige lewe gee (die toonbrode en kandelaar); Hy kan ook vir ons by die Vader intree as Voorspraak en Middelaar (die goue wierookaltaar), want Hy het aan die eise van God se volmaakte standaard, sy wet, voldoen.

DIE VERBONDSARK EN ONS GEBEDE
Terwyl ons nadink oor die betekenis van die verbondsark gaan ons ook op ons knieë om te bid. Hier in die Allerheiligste staan ons letterlik op heilige grond, omdat ons nou in die teenwoordigheid van die Heilige is tot wie ons nader. Nou is dit die tyd om God te aanbid!

Begin hierdie aanbidding van die Here deur na te dink oor wie Hy is. Dink vir ‘n oomblik aan ‘n paar eienskappe van die Here. Hy is almagtig, alwetend, alwys, alomteenwoordig, vrymagtig, ewig, heilig, genadig, regverdig, barmhartig, liefdevol, ens. Om al die eienskappe van God te noem sou ons baie lank kan besig hou en om daaroor te bid, nog langer. Dus, om dit prakties te maak, gaan sit en maak ‘n lys van die eienskappe van die Here, of nog beter doen Bybelstudie oor die verskillende eienskappe. Gaan dan elke dag by die lys af en kies net een of hoogstens twee eienskappe en dink biddend daaroor na. Dink aan wat hierdie eienskappe oor Hom sê; maar dink ook wat daardie eienskappe vir jou persoonlik betref. Wat is die troos of waarskuwings wat hierdie eienskappe vir jou gee. Bv. as jy na dink oor God as die Onderhouer, kan jy Hom aanbid aan die Een wat die skepping deur sy magswoord in stand hou, maar jy kan ook na jou eie lewe kyk en Hom aanbid vir die wete dat ook jou lewe in sy hande is. Hy is jou goeie Vader wat vir jou sorg. Dink daaroor na en praat met God daaroor in gebed.

Gaan egter ook verder. Dink na oor die werk van God en aanbid Hom daarvoor. Wat het Hy alles vir jou gedoen? Om maar ‘n paar te noem: Hy het jou geskep, Hy onderhou jou, Hy het jou uitverkies en verlos deur sy Seun Jesus Christus, Hy het aan jou die Heilige Gees gegee as teken daarvan dat jy aan Hom behoort, Hy beskerm jou teen die aanslae van die Bose, Hy lei jou deur Sy Woord en sy Gees, Hy verseker jou ewigheid, Hy maak jou deel van ‘n gemeenskap van gelowiges, ens. Neem nou weer een of twee van hierdie dinge wat die Here vir jou gedoen het, tydelik of geestelik, en aanbid Hom daarvoor.

Om hier by die verbondsark stil te word in die teenwoordigheid van die Here, is om alleen op God te fokus: op Wie Hy is en op wat Hy vir jou gedoen het. Dit is ‘n oomblik om saam met die engele en al die medegelowiges wat ons voorafgegaan het en rondom sy troon versamel is, te verenig deur die Here te loof en te aanbid. Dit is in ‘n sekere sin ‘n plek waar die aardse en tydelike lewe vir ‘n oomblik stilstaan en ons ‘n stukkie van die ewigheid in die teenwoordigheid van die Here kan smaak, sodat ons weer met die regte perspektief na die aardse en tydelike lewe kan kyk.

SLOT
Ons reis is voltooi. Ons staan voor die aangesig van die Heilige, die Een wat ons:
  • Verlos het deur die offer van sy Seun aan die kruis;
  • Skoon gewas het met die bloed van sy offer;
  • Versorg na liggaam en gees, in die tydelike en ewige lewe;
  • Lei deur sy Woord en Gees om ligdraers tot sy eer te wees;
  • Gebede aanhoor omdat die Seun vir ons by Hom intree; en
  • Toelaat om in sy teenwoordigheid te kom – nie meer as sondaars nie, maar nou as kinders van God die Allerhoogste.


Laat ons Hom aanbid vir hierdie groot genade en liefde wat Hy aan ons bewys het. Amen!  

No comments:

Post a Comment