INLEIDING
Dit is die jaar 2090 v.C. Die oggendson hang laag oor die
vlaktes van Kanaän, maar die nag wat verby is, is met bloed geskryf. Oor die
Koningsvlakte naby Salem kom 'n figuur op die horison aangestap. Dit is Abram
en saam met hom is 318 van sy slawe. Hulle het die vorige nag vir Lot en sy
mense uit die mag van Kanaänitiese konings bevry.
Maar die oggendson begroet ook 'n tweede figuur – 'n
koning: Melgisedek. Hy is koning van Salem en “priester van God die Allerhoogste” (Gen. 14:18). Hy bring vir Abram
en sy mense brood en wyn.
Wanneer Melgisedek en Abram voor mekaar te stane kom, is
dit Melgisedek wat eerste praat, en met sy woorde seën hy Abram: “Mag Abram geseën word deur God die
Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. Geloof sy God die Allerhoogste! Hy
het jou vyand in jou mag oorgegee.” (Gen. 14:19-20). Van wat Abram gesê
het, weet ons niks, maar sy dade spreek hier boekdele: Abram het vir Melgisedek
'n “tiende van alles gegee” (Gen.
14:20).
Dit is dit somtotaal van wat die geskiedenis ons oor
Melgisedek leer. En tog speel hierdie man 'n besondere rol in die Woord van die
Here. So groot is die rol en betekenis van hierdie man, dat die persoon en werk
van die Messias met verwysing na Melgisedek vir ons voorgehou en verduidelik
word. Want daar staan in Ps. 110:4 geskrywe: “Die Here het 'n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy sal altyd
priester wees in die priesterorde van Melgisedek’”. Wat beteken dit dat die
Messias, Jesus Christus, Priester is “in
die priesterorde van Melgisedek”?
Voor ons hierdie vraag kan antwoord, moet ons eers na die
persoon en werk van Melgisedek kyk. Eers dan sal ons kan sien hoe hierdie man –
en die psalm – heenwys na Christus.
MELGISEDEK –
PRIESTER VAN SALEM
Kom ons begin deur na Melgisedek self te kyk. Die naam “Melgisedek” beteken “koning van geregtigheid”. Van hom word
twee dinge gesê:
- In die eerste plek, hy was koning van die stad “Salem”. “Salem” is die stad wat later “Jerusalem” sou word. Vanuit hierdie stad het Melgisedek as koning regeer.
- In die tweede plek was hy ook 'n priester. In Gen. 14:18 lees ons dat hy “priester van God die Allerhoogste” genoem word. Dit beteken dat hy die ware God geken en aanbid het en ook gesorg dat die oor wie hy regeer ook die ware God ken en aanbid.
Van Melgisedek skryf die Hebreërskrywer in Hebr. 7:4 dat
hy 'n man van groot aansien was. Hy gaan dan gaan verder en verduidelik aan die
hand van verskillende sake Melgisedek se grootheid. Om twee van hierdie sake
uit te lig: Melgisedek was groot t.o.v. sy ampte en in besonder sy amp as priester.
Melgisedek
se ampte
In die eerste plek het Melgisedek 'n
belangrike posisie ingeneem t.o.v. sy ampte. Ons lees dat Melgisedek beide 'n
koning én 'n priester was. Kyk ons na die konings wat later in Israel regeer
het, sien ons dat geen koning beide die ampte van koning en priester beoefen
het nie. Om die waarheid te sê, waar 'n koning die regte en pligte van 'n
priester wou oorneem, het die Here daardie koning gestraf.
Dink bv. aan koning Saul wat, toe Samuel
te lank na sy sin gedraai het, self die offer gebring het (1 Sam. 13:8-10). As
gevolg hiervan moes Saul hoor: “Jy het
dwaas gehandel. As jy mar die bevel van die Here jou God wat Hy jou gegee het,
nagekom het! Waarlik, dan sou die Here nou jou koningskap oor Israel vir altyd
bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal
vir Hom 'n man na Sy hart soek. Die Here sal hom aanstel as regeerder oor Sy
volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie.” (1 Sam.
13:13-14).
In hierdie opsig was Melgisedek anders.
Hy was beide koning én priester. In die woorde van Spurgeon: “hy was die volk se verteenwoordiger by God
en God se verteenwoordiger by die volk.”
Melgisedek
as priester
Nie net het Melgisedek 'n belangrike
posisie ingeneem t.o.v. sy ampte nie, maar in die besonder ook in sy amp as
priester.
Melgisedek is die eerste priester waarvan
ons in die Bybel lees. Voor Gen. 14:18 is daar geen enkele verwysing na enige
iemand wat die titel van priester dra nie. Dit laat ons die logiese vraag vra:
Waar kom sy priesterskap vandaan? Hoe is dit dat hy 'n priester geword het? Oor
die antwoorde van hierdie vrae swyg die Skrif. En juis dit maak hom so
besonder. Die Hebreërskrywer skryf in Hebr. 7:3 dat niks omtrent sy vader of
moeder of afstamming bekend is nie en ook niks oor die res van sy lewe of sy
dood nie.
Sy priesterskap is dus uniek in die sin
dat hy dit nie deur die geboortereg ontvang het nie. Hierin het die latere
Levitiese priesters van Israel van Melgisedek verskil. Alle priesters van
Israel het uit die nageslag van Levi, die seun van Jakob, gekom. Maar in die
geval van Melgisedek lees ons nerens dat hy lid was van 'n priesterlike lyn nie.
Verder is sy priesterskap uniek in die
sin dat dit nie aan iemand anders oorgedra was nie. Ons lees nerens dat
Melgisedek kinders gehad het wat die priesterskap by hom kon oorneem nie.
Anders gestel: Melgisedek se priesterskap
is uniek aan die Skrif deurdat hy geen voorgangers gehad het by wie hy sy amp
kon erf nie en ook geen opvolgers aan wie hy sy amp kon oordra nie.
Dus, as priester-koning het Melgisedek 'n
besondere posisie ingeneem. Juis hierin het hy in sy persoon en ampswerk
vooruit gewys na die Een wat as die volmaakte Priester-Koning, die volmaakte
Koning van geregtigheid wat vrede sou bring.
Dit bring ons by Ps. 110:4 en Christus.
CHRISTUS
– ONS VOLMAAKTE HOËPRIESTER
Nadat Dawid onder die inspirasie van die
Heilige Gees na die Messias verwys het as die volmaakte Koning wat sou kom
regeer (Ps. 110:1-3), gaan hy verder in vers 4 en wys ook na Christus as die
volmaakte Hoëpriester wat sou kom.
Die Messias word aangewys as die Een wat
vir “altyd priester [sal] wees in die
priesterorde van Melgisedek” (Ps. 110:4). In die lig van die persoon en
werk van Melgisedek beteken dit die volgende:
- In die eerste plek, Christus sal soos Melgisedek beide Koning wees wat regeer én Hoëpriester wees wat Middelaar tussen God en mens is (1 Tim. 2:5). As ons volmaakte en ewige Hoëpriester het Christus die volmaakte offers – sy eie bloed – vir ons sonde gebring en ons los gekoop van die oordeel wat ons verdien het. Aan die kruis op Golgota het Christus tussen God en die mens kom staan: van die mens se kant het Hy die sonde op Hom geneem en van God se kant af die heilige toorn op daardie sonde gedra. So het Hy as Hoëpriester selfs Melgisedek oortref, want Melgisedek het wel offers namens die volk gebring, maar hy kon nooit homself as daardie offer aanbied nie. Maar Christus is beide die Hoëpriester wat vir ons intree en die Offerlam deur wie se bloed ons verlos word en kinders van God word.
- In die tweede plek het Christus soos Melgisedek nie Sy priesterskap ontvang d.m.v. geboorte nie, maar deur aanstelling. Christus is as mens op aarde nie uit die stam van Levi nie, maar uit die stam van Juda, gebore. Daarom kon Hy slegs op een manier Priester word en dit is deurdat God self Hom aanstel. Dit is van hierdie aanstelling wat ons lees in Ps. 110:4!
Maar dit bring ons by 'n element waarin Christus se
Hoëpriesterskap selfs bo dié van Melgisedek uitstyg. In die eerste deel van
vers 4 lees ons: “Die Here het 'n eed
afgelê en Hy sal dit nie herroep nie …”. Nerens lees ons dat enige priester
ooit die amp van priester ontvang het deurdat dit aan hom deur God met 'n eed
beloof is nie. Die naaste wat ons hieraan kom is die teken van toewyding aan
die Here waar daar olie oor die priester se kop uitgegiet word as teken dat hy
aan die Here behoort (Lev. 21:12) – maar daar is geen sprake van 'n eed nie.
Dis anders by die aanstelling van Christus as Hoëpriester.
Hier lê die Vader 'n onherroeplike eed af waarin die Seun as die Hoëpriester
van die kinders van God aangestel word (vgl. Hebr. 5:5-10).
Hier moet ons let op die finaliteit en afgeslotenheid van
hierdie aanstelling, want vers 4 staan nie los van vers 1-3 of 5-7 nie. Net die
Seun kan as Hoëpriester aangestel word, omdat net die Seun waarlik God en
waarlik mens is wat deur die Vader as Koning en Regter aangewys is. Omdat daar
niemand anders is wat aan die vereistes beantwoord nie, kan niemand anders as
Hoëpriester Christus se plek in neem nie. En sonder Christus as Hoëpriester en
Middelaar is daar geen toegang tot die Vader nie.
SLOT
Broers en susters in Christus, die Messias waarvan Ps. 110
getuig is die Koning van hemel en aarde, ons Verlosser en Hoëpriester. Maar Hy
is nie soos 'n menslike priester wat beperk is in mag of meelewing nie. Nee,
ons Hoëpriester is Een wat waarlik medelye met ons kan hê, omdat Hy in Sy
menslike natuur ook aan swakheid en versoekings onderwerp is (Hebr. 4:14-15).
Hy ken jou pyn. Hy ken jou worsteling. Hy ken jou hartseer. En as jou
Hoëpriester nooi Hy jou uit in Sy woord: Kom met vrymoedigheid na die
genadetroon (Hebr. 4:16). Voel jy of jy vergaan onder jou sonde – by Christus
is verlossing. Voel jy of jou kragte ingee en te min is – by Christus vind jy
versterking. Voel dit ons die magte van die Bose en versoekings te sterk is –
by Christus is oorwinning.
Luister dan na die Woord van die Here:
“Terwyl
ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het,
Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die
Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê
nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy
het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon,
sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan
word.” (Hebr. 4:14-16)
No comments:
Post a Comment