INLEIDING
Dink vir jouself die volgende toneel in. Jy is in die
bosveld. Die takkies van die bome en die grasse van die veld ritsel saggies in
die middagwindjie. Skielik word die stilte van die bosveld gebreek deur die
gebrul van leeus. Daar, in die grasveld, staan twee leeu mannetjies gereed vir
die geveg. Hul gegrom en gebrul laat die aarde onder jou voete bewe en die stof
dans om hulle in die middagson wanneer hul mekaar die geveg aansê. Hul geveg is
nie 'n spelletjie nie – dis 'n kragmeting. 'n Kragmeting waarvan slegs een as
die oorwinnaar sal wegstap.
Dit Bybel vertel ons ook van twee leeus wat in 'n
kragmeting is:
- Aan die een kant is daar die Leeu uit die stam van Juda, Christus die Oorwinnaar (Op. 5:5).
- Aan die ander kant is daar die leeu van die aarde, die Satan, wat brullend soek na iemand om te verslind (1 Pet. 5:8).
Met die verloop van die eeue hoor ons keer op keer die
gebrul van hierdie leeus. Die eerste gebrul het ons al in die Tuin van Eden
gehoor waar die geveg om die lewe van die mens begin is. En telkens sien ons
hoe die brullende en verskeurende leeu die onderspit delf in sy geveg met die
Leeu uit die stam van Juda.
In Gen. 49:8-12 lees ons die laaste van drie beloftes wat
oor die koms van die Verlosser handel.
- In Gen. 3:15 het ons die eerste belofte gehoor: Die Verlosser sal kom om verlossing te bring.
- In Gen. 12:3 hoor ons die tweede belofte: Hierdie verlossing sal uitkring na al die nasies.
- En hier in Gen. 49:10 lees ons die derde belofte: Die Verlosser wat kom sal heers oor die volke van die aarde.
Hierdie Verlosser sou egter nie net uit die bloute verskyn
nie. Nee, Hy sou gebore word uit die nageslag van 'n spesifieke man, nl. Juda,
die seun van Jakob, die seun van Isak, die seun van Abraham. Voor hierdie Verlosser,
hierdie Leeu uit die stam van Juda, sal die volke kniel. Dit is die seën wat
Juda hoor.
Die seën wat oor Juda uitgespreek word, kan ons in drie
dele indeel:
- Deel 1: Die koningshuis van Juda.
- Deel 2: Die koms van Silo, dié Leeu uit die stam van Juda.
- Deel 3: Die heerskappy van Silo.
DIE KONINGSHUIS
VAN JUDA
Jakob lê op sterwe. Vir 'n laaste keer roep hy sy seuns
bymekaar. Die seuns verwag dat hul vader hulle gaan seën. Maar wat gebeur. Die
oudste, Ruben, hoor hoe hy nie meer die vernaamste sal wees nie, omdat hy met
een van sy pa se vroue gemeenskap gehad het (Gen. 49:3-4). Simeon en Levi, die
tweede en derde oudste seuns, hoor soortgelyk hoe hulle die straf van God sal
ervaar oor hul geweld (Gen. 49:5-7).
Volgende op die lys is Juda. Wat sal hy van sy pa hoor? Sy
lewe was self vol sonde. Dit was Juda wat voorgestel het dat Josef as slaaf
verkoop moet word (Gen. 37:26). Dit was Juda wat met Tamar, sy skoondogter,
gemeenskap gehad het (Gen. 38:15-18). Watter vervloekinge sal hy nie moet hoor
nie?!
Maar in die plek van vervloeking, hoor Juda seëning. Dit
is uit die nageslag van Juda wat die leiers van die Israeliete sou kom: “Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer:
jy sal jou vyande onderwerp en jou broers sal voor jou buig” (Gen. 49:8).
Om hierdie belofte te bevestig vergelyk Jakob sy seun met 'n leeu wat jag en sy
prooi vang en niemand durf om dit by hom weg te vat nie (Gen. 49:9).
Kyk ons na die geskiedenis dan sien ons ook hierdie
belofte in vervulling gaan. Dink vir 'n oomblik aan die konings van Israel. Uit
wie se nageslag was koning Dawid? Dawid was uit die nageslag van Juda (1 Kron.
2:15). En na Dawid was daar tot en met die ballingskap konings uit die nageslag
van Juda op die troon in Jerusalem.
So hoor ons dan die eerste belofte aan Juda: Uit jou sal
konings kom!
DIE KOMS VAN
SILO, DIE LEEU UIT DIE STAM VAN JUDA
Hierdie konings sou egter net voorlopers wees van 'n
finale Koning wat sou kom: “Jy sal altyd
heers, jy sal aanhou regeer totdat Silo kom, die Heerser aan wie die volke
hulle sal onderwerp” (Gen. 49:10).
Die geskiedenis was besig om na 'n hoogtepunt te beweeg.
In hierdie geskiedenis sou daar konings wees wat soos die golwe van die see die
een op die ander sou volg. Sommige sou groot golwe wees – manne wat God gedien
en geëer het. Ander sou kleiner golfies wees – manne wat dinge gedoen het wat verkeerd
is in die oë van die Here. Maar al hierdie golwe – groot en klein – sou
verdwerg word met die koms van Silo – die groot Koning wie se heerskappy die
strand van hierdie wêreld geskiedenis soos 'n tsunami sou tref.
Géén koning van Israel kon ooit sê dat al die volke van
die aarde hul aan hom onderwerp het nie. Selfs nie eers in die tyd van die
groot konings van Israel soos Dawid en Salomo nie. Ja, die breek van hierdie
koninklike branders op die strand van die wêreld geskiedenis sou indrukwekkend
wees, maar dit sou grense hê. Maar die heerskappy van Silo sou anders wees.
Wanneer die tsunami van Sy heerskappy sou tref, sou daar geen keer daaraan wees
nie. Niks sou dit kon terughou nie. Niks sou daarvoor kon vlug nie. Niks sou
daarvoor staande kon bly nie.
Wie is hierdie Silo waarvan Jakob praat? Silo is niemand
anders as die Messias nie – Jesus Christus. Christus is die hoogtepunt van Juda
se nageslag. In Christus het die koningshuis van Juda sy volkome mag bereik,
want Christus se mag is nie net tot die land Israel beperk nie, maar die ganse
aarde is onder Sy heerskappy. Nog meer, nie net die aarde nie, maar ook die hemele
is aan Hom onderwerp. Hy het immers verklaar: “… Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt.
28:18).
Wanneer hierdie Leeu uit Juda sy magtige, koninklik stem
laat hoor, sal ons nie bewe en voor Hom kniel nie? Sal ons nie dan ook soos die
profeet Amos uitroep: “Die Leeu het
gebrul, wie sal nie bang wees nie? Die Here het gepraat, wie sal nie as profeet
optree nie?” (Am. 3:8)
Hierdie Koning van die konings, die Heerser van die
heersers, die finale Leeu uit die stam van Juda is die Een wat nie net die
verlossing bring nie, maar Hy is ook die Een voor wie elke knieg sal buig. Deur
die eeue heen sien ons die koningskap van Christus deurbreek – soms soos 'n
deurdringende reën en soms soos 'n magtige wolkbreuk. Maar dag by dag groei Sy
koninkryk hier op aarde. Maar die groei van die koninkryk op aarde is nog niks
in vergelyking met die dag wat die ganse aarde – hulle wat in Hom glo en hulle
wat Hom verwerp het – voor Hom die knieg sal buig nie. Ja, in hierdie
geskiedenis is die water besig om terug te trek – die teken van 'n golf wat kom
– en in die verte sien ons die kruin van Christus se koningsheerskappy.
So hoor ons dan die tweede belofte aan Juda: Nie net
konings nie, maar dié Messias-Koning sal uit jou kom.
DIE HEERSKAPPY
VAN SILO
In vers 11-12 word ons 'n voorskou gegee van hoe die
koninkryk van Silo sal lyk. Dit word vir ons uitgebeeld in 'n paar beelde /
metafore: “Hy maak Sy rydier vas aan 'n
wingerdstok, Sy donkie aan die beste wingerdstok. Sy klere is so rooi soos wyn,
Sy koningskleed so rooi soos druiwesap. Sy oë is donkerder as wyn, Sy tande
witter as melk.”
Oor die betekenis van hierdie laaste twee verse is daar
verskil. Sommige is van mening dat dit drie vergelykings is wat saam een saak
beklemtoon, nl. die oorvloed wat daar in die koninkryk van die Messias sal
wees. Alhoewel dit as die oorkoepelende beklemtoning gesien kan word, is ek
persoonlik daarvan oortuig dat daar ook meer spesifieke toepassings van hierdie
laaste drie beeld is:
- In die eerste plek beklemtoon die eerste beeld in vers 11 die oorvloed wat daar in die koninkryk sal wees. Dit sal van so aard wees, dat Christus nie bekommerd sal wees dat dit in waarde sal verminder nie. Ons lees dat Hy Sy donkie aan die beste wingerdstok sal vasmaak. Vra enige boer en hy sal waarskynlik vir jou sê dat daar baie beter plekke is om jou donkie vas te maak. Om die waarheid te sê die laaste plek waar jy 'n donkie wil vasmaak is by die beste van oes, want die donkie sal dit begin vreet. Maar in die ryk van die Messias sal daar soveel in oorvloed wees, dat dit nie sal saak maak as die donkie aan een van die beste wingerdstokke kou nie.
- In die tweede plek word die Messias uitgebeeld as Een wie se klere rooi is soos wyn en druiwesap. Meer letterlik vertaal, lees ons: “Hy was Sy klere in die bloed van druiwe”. Dit kan nie toevallig wees dat daar in vers 10 gesê word dat Hy die volke sal onderwerp en direk daarna na “bloed” verwys nie. Die tweede deel van vers 11 is 'n beeld waardeur Christus uitgebeeld word as die Een wat Sy vyande vertrap. Die beeld van die parskuip en die oordeel word op ander plekke ook gebruik. Byvoorbeeld, in Klaag. 1:15 word gesê dat die Here Juda fyngetrap het in die parskuip en in Joël 3:13 sê die Here: “Hulle sondes is baie: steek die sekel in, want die oes is ryp, kom trap, die parskuip is vol, die wynkuipe loop oor.” Dit is dan ook nie vreemd dat wanneer Christus as Oorwinnaar in Op. 19 uitgebeeld word, dit in soortgelyke taal is nie. Ons lees in Op. 19:13: “Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was …” en wie se bloed is dit? Vers 15 gee die antwoord: “Uit Sy mond het daar 'n skerp swaard uitgekom om die nasies te tref, en Hy sal met 'n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en oordeel van God, die Allerhoogste.”
- In die derde plek word die prag van hierdie Messias-Koning ook uitgebeeld in vers 12. Sy oë is donker en sy tande is wit. Hierdie is beelde wat op prag en krag wys. Die verheerlikte Christus sal die toonbeeld van prag wees, want uit Hom sal die heerlikheid van God straal. So ook sal Hy die vertoning van krag wees, want Hy besit alle mag in die hemel en op die aarde.
Hierdie is dan die Koning van die konings, die Heerser van
die heersers en die finale Leeu uit die stam van Juda aan wie se koningsheerskappy
geen einde sal wees nie. Hy is die enigste Verlosser, die almagtige Koning en
die regverdige Regter.
SLOT
Kersfees is om die draai. Wanneer mense oor Kersfees na
dink, dan sien baie 'n weerlose babatjie in 'n krip. Maar hoeveel besef dat
hierdie Kindjie, die vervulling van eeue se beloftes is, dat hierdie Kindjie
die magtige Leeu uit die stam van Juda is wat gekom het om mense te verlos en
die koninkryk van God te vestig.
No comments:
Post a Comment