INLEIDING
As jy sou probeer om die volle raadsplan van God saam te
vat in 'n paar sinne, sou Ps. 110 beslis daardie opsomming wees. Soos wat die
10 Gebooie die wil van God vir die lewe van 'n gelowige opsom, so som Ps. 110
die boodskap van die ganse Skrif op. Dit is die mees kernagtige samevatting van
die geloof, want daarin hoor ons van Christus se vernedering, verhoging, en
koningskap; ons vind verwysings na die gemeenskap van die gelowiges en die
geestelike stryd; ons hoor die aankondigings van die finale oordeel en die
oorwinning oor die Satan.
So wesentlik is die inhoud van hierdie psalm vir die
Christelike geloof, dat dit meer as enige ander psalm deur die skrywers van die
Nuwe Testament aangehaal word. Daar is nie minder as 25 direkte aanhalings van
en verwysings na Ps. 110 in die Nuwe Testament nie. Dit word aangehaal deur:
- Christus in sy gesprekke met die fariseërs (Matt. 22:44 en ooreenkomstige plekke) en tydens Sy verhoor voor Kajafas (Matt. 26:64 en ooreenkomstige plekke),
- Petrus op Pinksterdag (Hand. 2:34-35),
- Paulus in vier van sy briewe (Rom. 8:34; 1 Kor. 15:25; Ef. 1:20 en Kol. 3:1)
- En uiteindelik ook deur die skrywer van die Hebreërbrief wat nie minder as 10 keer hier psalm aanhaal en/of daarna verwys nie (Hebr. 1:3; 5:6, 10; 6:20; 7:3, 17, 21; 8:1; 10:12-13; 12:2).
In die psalmboek neem Ps. 110 ook 'n unieke plek in. Dit
is die enigste psalm van al die psalms wat uitsluitlik na die Christus verwys.
Hierdie is dus 'n profetiese psalm wat die koms van die Messias aankondig en
Hom aan ons voorhou as die Koning, Priester en Oorwinnaar. Vanoggend staan ons
by vers 1-3 stil. In hierdie eerste drie verse van die psalm word:
- Die goddelike en menslike natuur van die Messias beklemtoon,
- As ook Sy koningskap
- En die feit dat die nasies voor Hom sal buig.
DIE GODDELIKE EN
MENSLIKE NATUUR VAN CHRISTUS
Ps. 110 is 'n psalm van koning Dawid. Tog skryf Dawid in
vers 1, onder die inspirasie van die Heilige Gees: “Die Here het vir my Heer die Koning gesê: ‘Kom sit aan My regterhand,
en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp’.”
In Christus se gesprekke met die fariseërs haal Hy hierdie
psalm aan. In Matt. 22:42 vra Christus vir die fariseërs wie se seun die
Christus is. Die antwoord wat hulle gee is: “Dawid s'n”. Met ander woorde, die Christus kom uit die nageslag van
Dawid. Hierin is hulle reg. In Jes. 9:6 word gesê dat die Messias op die “troon van Dawid” sal sit volgens die
belofte van die Here aan Dawid in 2 Sam. 7:16: “Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon
sal altyd voortbestaan.”
Maar dis Christus se tweede vraag wat die fariseërs laat
steier, want Christus vra in Matt. 22:43 en 45: “Waarom noem Dawid Hom dan ‘Here’?” Hier verwys Christus na Ps. 110:1.
Wat Christus vir ons hier uitwys is dat Dawid, as koning van Israel, was die
hoogste menslike gesag was. Nog meer, as koning van 'n Teokrasie – d.w.s. van
'n regering waar God deur die koning regeer – was daar geen groter gesag bo die
koning, behalwe God self nie. Dus, as Dawid in Ps. 110:1 sê: “Die Here het vir my Heer die Koning gesê…”,
verwys hy na iemand wat groter gesag het as hyself. Maar daar is niemand anders
wat groter gesag as hy het nie, behalwe God. Dus, hy praat nie van homself of
enige ander aardse koning nie. Hy praat van die Messias, die Christus, wat bo
hom as aardse koning verhewe is en gelyk is aan God.
So kondig Dawid onder die inspirasie van die Heilige Gees
aan dat die Messias uit die nageslag van Dawid sou kom, maar terselfdertyd ook
gelyk aan God wees. Of anders gestel, die Messias sal waarlik mens wees én
waarlik God. Daar is net Een wat aan hierdie vereistes kon voldoen, nl. Jesus.
Want so staan daar in Rom. 1:3-4 geskrywe: “…
As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van Sy opstanding uit
die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag
beklee is, Jesus Christus ons Here.”
Dit is dan ook na Sy verheerliking en troonsbestyging
waarna Ps. 110:1 verwys wanneer Dawid profeteer: “Kom sit aan My regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.”
CHRISTUS SE
KONINGSKAP
Om aan iemand se regterhand te wees, is 'n posisie van eer
te hê. In 'n koninkryk is daar geen hoër posisie van eer as aan die regterhand
van die koning nie. Dit is 'n posisie wat getuig dat die persoon die vertroue
van die koning het – soveel so dat as iets met die koning sou gebeur, die een
aan die regterhand van die koning die verantwoordelikhede van die koning sou
oorneem.
Daarom beklemtoon die opdrag “Kom sit aan My regterhand” Christus se reg en volmag om as mede-Koning
saam met die Vader te regeer en te heers. Wanneer sou dit gebeur? Kyk ons na
hierdie opdrag van uit die hoekpunt van die Nuwe Testament, sien ons dat die
Vader die koningskap en die regering oor die skepping aan die Seun oordra na Sy
kruisdood, opstanding en hemelvaart.
Juis hierdie feit verduidelik Christus aan die reisigers
na Emmaus na Sy opstanding in Luk. 24:25-26 wanneer Hy vir hulle sê: “Wat 'n gebrek aan begrip en 'n traagheid van
gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die
Christus nie hierdie dinge ly om in Sy heerlikheid in te gaan nie?” En voor
Sy hemelvaart verklaar Christus: “… Aan
My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt. 28:18).
Christus se koningskap en regering verskil radikaal van
dié van aardse konings. In 'n aardse koninkryk is die volgorde: 'n gebied word
verower deur 'n persoon – nadat die gebied verower is gaan sit hy om te regeer.
Maar by Christus is dit andersom: aan Hom word gesê om te sit en te regeer
terwyl sy vyande nog oorwin word, want vers 1 sê: “… sit … en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp” en weer in vers 2:
“… heers dan oor U vyande” –
letterlik “heers te midde van U vyande”.
Dus, Christus is gekroon met mag en heerlikheid. Dit het
gebeur by Sy opstanding uit die dood en hemelvaart. Maar Sy koninkryk brei
daagliks uit. Dag na dag word Sy vyande deur die Vader aan Hom onderwerp. Soos
daar in 1 Kor. 15:25 geskrywe staan: “Hy
moet as Koning heers totdat die Vader al Sy vyande aan Hom onderwerp het.”
Voor ons verder gaan, kom ons dink net vir 'n oomblik na
oor wat ons hier hoor en wat hier in vers 1 besig is om te gebeur. Deur 'n
openbaring van die Gees word Dawid – en ons wat hierdie psalm lees – 'n oomblik
gegee waarin ons toegelaat word om die raadsbesluit tussen die Vader en die
Seun voor die skepping van die wêreld te hoor. Sondaars word toegelaat om die
heilige grond van die hemelse troonsaal te betree en te hoor hoe die Vader en
Seun ooreenkom oor hoe mense verlos sal word en burgers van die hemelse
koninkryk sal word. Wat 'n voorreg!
DIE NASIES SAL
BUIG
Maar laat ons verder gaan en die vraag vra: Hoe onderwerp
die Vader die vyande van Christus? Hy doen dit op een van twee maniere.
In die eerste plek doen Hy dit deur die vyande van
Christus, volgelinge van Christus te maak. In vers 3 word daar na 'n volk wat
gereed staan voor Christus verwys. Wie is hulle en waar kom hulle vandaan? Dit
is die gelowiges – hulle wat uit die koninkryk van die duisternis bevry is en
burgers geword het van die koninkryk van die lig. In die woorde van die apostel
Paulus in Rom. 5:10: “Aangesien ons, toe
ons nog vyande was, deur die dood van die Seun met God versoen is, staan dit
soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van Sy Seun gered
sal word.” Wanneer iemand tot geloof kom, buig hy die knie onder die
heerskappy van Christus. Hy onderwerp hom aan Christus se gesag oor sy lewe en
hy stel hom bereid tot dienswerk in die koninkryk van God. Dit is immers wat
dit beteken om te bid: “laat U koninkryk
kom…” (Matt. 6:10). So word vyande dan burgers, rebelle dan onderdane,
opstandiges dan onderwerptes.
Maar in die twee plek onderwerp die Vader die vyande van
Christus ook deur dwang. Aan die einde van vers 3 en ook in vers 5-6 lees ons
van oorlog. Hierdie oorlog het slegs een uiteinde, nl. dat elke knie buig en
elke tong bely dat Jesus Christus die Here is tot eer van God die Vader (Fil.
2:13). Vandag is daar baie wat nie die Naam van Christus bely nie, baie wat Sy
koningskap verwerp en onder die heerskappy van die Bose lewe. So was dit en so
sal dit wees tot by die wederkoms van Christus. Dan sal almal voor die troon
van Christus moet verskyn. Op daardie dag sal die vyande van Christus die knie
moet buig en hoor: “Gaan weg van My af,
julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele
voorberei is” (Matt. 25:41).
SLOT
In Ps. 2:1-3 hoor ons die aankondiging: Die Messias kom en
voor Hom sal die nasies buig! Die vraag is: Het jy al die knie voor Christus
gebuig en Hom as jou enigste Verlosser en Koning bely?
Voor die bestaan
van ruimte en tyd,
het God Drie-Enig
reeds besluit
om die Seun na
ons te stuur.
Hy gebore in die
volheid van die tyd,
Hy – Seun van
Dawid – sal na stryd
as Koning langs
die Vader heers.
Hy sal Sy septer
uitstrek,
só Sy volk na Hom
toe trek
en voor Hom sal
hul buig.
O, Seun van Dawid
en van God,
U kom deel hier
in ons lot
en versoen ons
met die Vader.
Laat kom dan U
koninkryk met mag,
laat elke mens
onder U gesag
die knie buig
voor U as Koning.
No comments:
Post a Comment