Saturday, 1 February 2014

Die opstanding by die wederkoms van Christus


Skriflesing: 1 Thess. 4:12-18
Tema: Die opstanding by die wederkoms van Christus

INLEIDING
Die dood was, en sal seker nooit, 'n gewilde onderwerp wees nie. En tog, moet ons erken, sal ons almal eendag ons kop neerlê. Ons is immers almal sterflike mense, mense gemaak uit die stof van die aarde.

Ook in die gemeente in Thessalonika is die gelowiges met die sterflikheid van die mens gekonfronteer. Dit duidelik uit Paulus se skrywe aan hulle dat daar van die gelowiges was wat 'n baie spoedige wederkoms van Christus verwag het. Die probleem was egter dat daar van die gelowiges in die gemeente begin sterf het. Dit het die gelowiges allerhande vra oor die opstanding en die wederkoms laat vra. Een van die vrae wat gevra is, was: Sal die gelowiges wat reeds gesterf het, ook die wederkoms van Christus ervaar?

Dit is om hierdie vraag te beantwoord wat Paulus aan die gemeente die deel skryf wat ons gelees het.

In hierdie verse meld Paulus:
  • in die eerste plek, die doel waarom hy hierdie onderwerp aanraak,
  • tweedens gee hy die versekering van die opstanding van die wat gesterf het,
  • en derdens wys hy op die orde wat by die wederkoms gaan wees.

Die doel, die versekering en die orde.

DIE DOEL
Die apostel begin hierdie gedeelte deur sy doel te meld. Hy skryf in vers 13: “Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur soos die ander mense wat geen hoop het nie.

Die doel wat Paulus hulle vermeld is tweeledig.

In die eerste plek wil hy hulle onderrig oor wat met die ontslapenes gaan gebeur. Die woord “ontslapenes” is 'n eufinisme – 'n manier om iets sagter te stel – om na die wat gesterf het, te verwys.

Ons almal ken die spreekwoord: “'n Klein bietjie kennis is gevaarlik”. En hiervan is die Here ook bewys. Daar het al menigte dwalinge die lig gesien, omdat mense 'n klein bietjie van iets geweet het, en gedink het dat hulle die alfa en omega van die onderwerp deurdink het. Daarom onderrig die Here die gelowiges in Thessalonika en ook ons oor wat met die ontslapenes gaan gebeur by die wederkoms van Christus.

In die tweede plek gaan daar saam met kennis ook 'n wonderlike troos. Dit is wanneer mense in onkunde uitsprake maak oor die lewe na die dood, dat hulle trooswoorde dikwels leeg en hol is. Trooswoorde wat mooi en soetsappig klink, maar nie werklike troos in hulle het nie. Om maar een voorbeeld te noem: Ons hoor dikwels op begrafnisse dat die “Here die persoon kom pluk het uit Sy hele blombedding, want hy was die mooiste blom”, of “die Here het hom daar nodig gehad”. Met alle respekte gesê, al hierdie dinge mag goed bedoel word, maar dit totaal leeg van enige Bybelse waarhede en daarom ook leeg van troos.

God wil nie hê dat Sy kinders mekaar met leë woorde moet troos nie. Dis iets wat die wêreld doen, daarom dat hulle as “mense sonder hoop” beskryf word. Nee, as gelowiges moet ons mekaar met die waarhede van die Skrif troos. Want dis net deur die woord waar ons ware troos sal vind.

Wat moet ons dan weet oor die opstanding van hulle wat ons vooruit gegaan het?

DIE VERSEKERING
In die eerste plek moet ons weet dat die opstanding vas en seker staan. Dit sal plaasvind! Hoe kan ons dit sê? Omdat God vir ons daarvan verseker het deur die opstanding van Sy Seun uit die dood. Daarom staan daar in vers 14 geskrywe: “Ons glo immers dat Jesus gesterwe het maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.

In vers 14 vind ons 'n dubbele troos:
  • In die eerste plek die feit dat omdat Christus uit die dood opgestaan het, ons seker kan wees dat almal wat in Hom geglo het ook uit die dood opgewek sal word. In 1 Kor. 15 spandeer die apostel Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees 'n hele hoofstuk aan hierdie een waarheid!
  • Maar in die tweede plek word ons ook getroos met die wete dat wanneer ons sterf ons by Christus is. Die frase “na Hom toe sal neem” kan meer letter vertaal word soos in die ’53 Vertaling met “sal saam met Hom bring”. Maar hoe kan die ontslapenes saam met Christus kom by Sy wederkoms, as hulle nie al reeds in Sy heerlike teenwoordigheid is nie. Dus, ja, daar sal 'n dag kom wanneer die grafte sal oopbreek en die dooies opgewek sal word; maar in die tussen tyd is die wat gesterf het, se gees reeds by die Here in Sy teenwoordigheid.

Wat 'n wonderlike troos om mekaar mee te troos by 'n oop graf: Ja, die liggaam word neergelê, maar ons weet sy gees is by die Here! Ja, die liggaam word neergelê, maar ons weet by Christus se wederkoms sal die liggaam in onsterflikheid opgewek word.

Is hierdie nie 'n veel beter en groter troos as “dit was sy tyd om gepluk te word” nie?!

DIE ORDE BY DIE WEDERKOMS
In vers 15-17 verduidelik die apostel onder die inspirasie van die Heilige Gees wat by die wederkoms sal plaasvind. Aangesien hierdie een die gedeeltes is wat dikwels misverstaan word en misbruik word om leerstelling soos die wegraping te regverdig is die nodig dat ons, voor ons aan beweeg, net weer aan die verband herinner:
  • In die eerste plek is Paulus hulle besig om hierdie te bespreek wat met die gelowiges gaan gebeur – nie alle mense nie. Daar is ander gedeeltes wat handel oor die opstanding van die ongelowiges, maar dit is nie die fokus in hierdie gedeelte nie.
  • In die tweede plek is hier slegs sprake van een wederkoms wat die ewigheid inlei (v. 17). Die idee van 'n wegraping en 'n tweede wederkoms is vreemd aan die verband van 1 Thess. 4:13-18.
  • Derdens, die woord wat sommige misbruik om “wegraping” te regverdig is die Griekse woord wat beteken om “iets vas te gryp” / “te vat” en dra gewoonlik die idee van iets wat skielik gebeur en nie gekeer kan word nie. Ons sou dus kon vertaal vertaal: “dat ons skielik saam met hulle wat opgewek is in die wolke geneem sal word, Jesus tegemoet.”

Met hierdie verband in ons gedagtes, kom ons kyk nou na die volgorde wat sal plaasvind:
  • In vers 15 lees ons dat daar by die wederkoms van Christus steeds gelowiges op aarde sal wees.
  • Wanneer Christus verskyn, sal daar 'n paar dinge gebeur: daar sal die geklink van die aartsengel se stem en 'n trompet wees wat soos aankondigers die einde sal aankondig, asook die koms van Christus (v. 16).
  • Daarna sal Christus sigbaar neerdaal en al die gelowiges wat gesterf het, eerste opwek (v. 16). Uit vers 17 wil dit voorkom of Christus nie tot op die aarde sal neerdaal nie, maar slegs in die wolke bo die aarde waar almal Hom kan sien.
  • Nadat al die gelowiges opgewek is, sal alle gelowiges opgeneem word – 'n soort hemelvaart – op die wolk tot waar Christus vir hulle in die lug wag (v. 17).
  • Hierdie gebeurtenis sal die einde van die wêreld aankondig en die ewigheid inlei, want daar staan geskrywe in vers 17 se einde: “… En so sal ons altyd by die Here wees.

Dus, kortliks saamgevat: By Christus se wederkoms, sal Hy in die wolke verskyn, die gelowiges wat gesterf het opwek, al die gelowiges sal na Hom in die wolke opgeneem word en dan begin die ewigheid.

Die gelowiges in Thessalonika en ook ons vandag hoef nie te vrees dat diegene wat gesterf het, die wederkoms sal mis nie. Alle gelowiges – kop vir kop, groot en klein – wat geleef het vanaf die skepping tot by die wederkoms sal opgewek word en die ewige heerlikheid saam met Christus binnegaan!

Wat 'n wonderlike trooswoord! Laat ons dan gehoor gee aan die opdrag van vers 18: “Troos mekaar dan met hierdie woorde.”

SLOT
Kyk ons vandag rondom ons, dan sien ons baie mense wat treur sonder hoop by 'n oop graf. Mense wat soms heeltemal beheer verloor en selfs agter die kis die graf wil inklim. Mense wat sonder God en daarom sonder hoop is in hierdie wêreld. Dit is ons roeping om ook aan hierdie mense die Evangelie van verlossing in Christus te verkondig. Ja, ons kan niks doen vir die ongelowige wat reeds gesterf het nie, maar vir hulle wat nog lewe kan ons oproep om hul hoop en vertrou in Jesus Christus, die Opstanding en die Lewe, te stel.

En vir ons wat by 'n oop graf gestaan het, of in die toekoms sal moet staan, laat ons die Woord van die Here in ons harte bewaar. Laat ons onthou dat die dood nie die einde is nie, maar slegs die begin. Laat ons uitsien na die dag wanneer ons Verlosser en Here op die wolke sal verskyn, die grafte sal oopbreek en ons in heerlikheid saam met Hom die ewigheid sal ingaan. Laat ons mekaar met hierdie trooswoord van die Here troos en bemoedig. 

Thursday, 30 January 2014

Vorder op die pad van heiligmaking en broederliefde


Skriflesing: 1 Thess. 4:1-12
Tema: Vorder op die pad van heiligmaking en broederliefde

INLEIDING
As mense word ons baie gou gemaklik. Gemaklik met ons lewe, gemaklik met ons prestasies en veral gemaklik met waar ons staan in ons geestelike lewe. Die begin van ons geestelike lewe is dikwels soos 'n klip wat afdraende rol en vinnige vordering maak, maar wanneer dit op die gelyktes van die lewe kon, begin die klip stadiger rol en kom dit uiteindelik tot stilstand. So gebeur dit dikwels dat iemand wat nog jonk in die geloof is, vinnig vorder in die proses van heiligmaking en dan momentum begin verloor. Kyk jy na so 'n persoon se lewe 'n paar jaar nadat hy tot geloof gekom het, sien jy dat hy begin het om in die geloof te stagneer. Die groei van vroeër en die ywer waarmee hy die Here gedien het, is nie meer daar nie.

Die apostel Paulus, onder die inspirasie van die Heilige Gees, het geweet hoe gevaarlik dit is vir gelowiges om momentum in hul geloofslewe te verloor. Hy het gesien dat die gelowiges in Thessalonika die Here met ywer dien en die Evangelie van harte aangeneem nie. Tog besef hy dat dit nie altyd die geval sal wees nie. Die Satan sal hulle nie alleen los nie, maar alles in sy vermoë doen om hulle geloofsgroei te hinder.

Daarom roep die apostel die gelowiges op om hulle met volle ywer toe te lê op die Christelike lewe. In 1 Thess. 4:1-12 roep hy op gesag van Christus hulle op om hulle toe te lê op twee sake:
  • Om heilig te lewe
  •  En om mekaar lief te hê. 

OP BEVEL VAN CHRISTUS
Voor Paulus met sy oproep begin, herinner hy egter eers die gelowiges dat wat volg nie sy woorde of menings is nie. Dit is nie maar Paulus wat vir hulle werk uit dink nie. Nee, wat hy aan hulle skryf is die wil van God. Hierdie waarheid beklemtoon hy twee keer:
  • In vers 1 skryf hy: “… Julle het van ons geleer hoe God wil hê julle moet lewe. Julle doen dit ook, maar in die Naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: Lê julle nog meer daarop toe.
  • En vir 'n tweede keer in vers 2: “Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het. 

Hierdie verse moet ons tot groot versigtigheid maan! Wat hier geleer word in 1 Thess. 4:1-12 is nie maar die woorde van mense nie en dit is ook nie maar om met 'n mens te verskil nie. Wie nie die woorde van hierdie gedeelte ter harte neem nie en hulle daarteen verset, verset hulle teen God self! Dit skryf die apostel in soveel woorde in vers 8: “Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net 'n mens nie, hy verwerp God wat ook Sy Heilige Gees aan julle gegee het.”

Laat ons dan met groot eerbied en versigtigheid voortgaan.

VORDER OP DIE WEG VAN HEILIGMAKING
Die eerste saak waartoe die apostel Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees die gelowige oproep is om hulle nog meer toe te lê op hulle vordering op die weg van heiligmaking. Daarom skryf hy in vers 3: “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe.”

'n Lewe van heiligheid en heiligmaking is nie groot prioriteit onder baie mense wat hulself “Christene” noem nie. Sodra jy met mense begin praat oor 'n lewe wat God verheerlik, 'n lewe waarin die beeld van Christus uitgestraal word en in ooreenstemming met Sy wil en wet gebring word, is hulle vinnig om die rug te draai en 'n dowe oor te hou. Sommige sal jou beskuldig van “wettisisme”, ander sal jou toesnou dat jy dink dat jy beter is as hulle en nog ander sal iets sê soos “ons is onder die genade en nie die wet nie”.

Daar is geen begrip by hierdie mense dat jy nie kan sê dat jy 'n Christen is en steeds in die sonde lewe nie. Of anders gestel: Jy kan nie sê dat jy 'n verloste is en dan nog as 'n slaaf van jou sondige begeertes lewe nie! Watter krag sal jou getuienis hê?! Ongeveer soveel krag soos 'n man van jou vertel van 'n wonderlike pilletjie wat al die pyne weg vat, terwyl hyself gebuk gaan onder die pyn in sy eie liggaam!

Nee, dit is die wil van God dat ons heilig moet lewe. Hy is immers die Heilige God en as Sy kinders beveel Hy ons om ook heilig te lewe (Lev. 19:2; 1 Pet. 1:16). Maar hoe lyk 'n “heilig lewe”?

In vers 4-7 word die antwoorde gegee. 'n Heilige lewe is 'n lewe wat in die eerste plek nie deur onsedelikheid gekenmerk word nie. Die apostel skryf in vers 3: “… Weerhou julle van onsedelikheid.

Ons moet onthou dat die gelowiges tot bekering gekom het, te midde van 'n goddelose en onsedelike samelewing. Egbreuk was aan die orde van die dag. Baie van die godsdienstige praktyke van die destydse samelewing was seksueel van aard en tempelprostitusie was niks vreemd nie. Maar as verloste mense mag die gelowiges nie meer aan hierdie praktyke meedoen nie. Die ou, sondige en onsedelike lewe moet hulle afsterf. Elkeen moet in rein verhouding met sy eie man en vrou lewe (v. 4) en nie toelaat dat hulle begeertes hulle dring om egbreuk te pleeg nie (v. 5-6).

Maar die daad is nie die begin nie, dit is slegs die vrug. Daarom gaan 'n heilige lewe om meer as net die uiterlike daad. Dit begin by die innerlike mens. Daarom die oproep in vers 5: “julle moenie deur hartstog en begeertes gedrywe word soos die heidene wat God nie ken nie.” 'n Onsedelike lewe begin nooit by die sondige daad nie, maar by die sondige gedagte. In die woorde van Jakobus in Jak. 1:14-15: “Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.”

Dit oproep om ons dus toe te lê op 'n heilige lewe, begin nie by my uiterlike dade nie, maar in die gedagtes van my innerlike mens.

Hoe lyk jou lewe? Nie die maskers wat jy voorhou nie, maar daardie deel van jou lewe wat jy vir almal weg steek, waarvan niemand weet nie, behalwe jy en God? Hoor vandag die oproep van die Heilige God: “God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe.” Hoe ver het jy al gevorder op die pad van heiligmaking? Hoeveel van Christus se beeld kan ander al in jou lewe sien?

WEES OORVLOEDIG IN LIEFDE
Nie net besef die apostel dat gelowiges die gevaar loop om lam in die knieë te raak en stadiger te vorder op die weg van heiligmaking nie, hy besef ook dat die liefde vir ons medegelowiges so maklik kan verkoel. Daarom roep hy hulle onder die inspirasie van die Gees op om hulle nog meer toe te lê om in liefde met mekaar te lewe (v. 9-10).

In die lewe van hierdie gemeente was liefde sigbaar. Paulus gee ook hieraan erkenning in vers 9-10 wanneer hy skryf: “Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skryf nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En dit doen julle dan ook teenoor die broers in die hele Masedonië…” Maar liefde kan verkoel, soos ons lees van die gemeente in Efese in Open. 2:4 waar Christus vir die gemeente kom sê: “Maar Ek het dit teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.”

Daarom kom die dringende oproep – en ons kan sommer die erns in die stem van die apostel hoor – wanneer hy skryf aan die einde van vers 10: “… Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe.” Ja, sorg dat die vlam van liefde vir Christus en vir mekaar nie verflou en uitgeblus word nie. Gooi eerder nog so paar kole op die vuur en blaas die as weg, eerder as wat julle net toekyk hoe die vlammetjie laer en laer brand totdat dit uiteindelik heeltemal verdwyn en nie die gloei van die kole oor is …

Natuurlik is hierdie nie 'n maklike saak nie. Jy kry mense vir wie dit maklik is om lief te wees, met wie jy in rus en vrede kan saamleef. Maar jy kry ook mense wat dit moeilik maak – ja, selfs gelowiges wat jou geduld en liefde tot die uiterste toe kan toets. Maar die Here sê vir ons deur Sy apostel dat ons ook hulle moet liefhê. Nog meer! Ons moet groei in ons liefde vir hulle.

Wie in liefde groei, sal die genade ontvang om in rustigheid met ander te kan saamleef en hulle te beperk tot hul eie sake (v. 11). Maar hulle wat nie in liefde lewe nie, is geneig om hulle neus in ander se sake in te druk. Beteken dit dat ons nie moet vra wat in die lewe van ons broers en susters in die geloof aangaan nie? Nee, beslis nie! Wat dit beteken is dat ons ook die privaatheid van ons medegelowiges sal respekteer – en waar hulle hulp nodig het, dit sal vrylik aanbied.

SLOT
Dit kan maklik nou gevra word: Waarom op hierdie manier lewe? Waarom ons toespits op 'n heilige lewe en broederliefde? Die antwoorde is tweeledig:
  • In die eerste plek: Dit is 'n bevel van God! Dit is die wil van God dat Sy kinders anders as die wêreld sal lewe. Hy het ons losgekoop met die bloed van Sy Seun op Golgota. Die prys vir ons verlossing was onberekenbaar hoog en daarom behoort ons uit dankbaarheid vir die verlossing in liefde gehoor te gee aan die wil van ons Vader.
  • Maar in die tweede plek: Ons lewe dra ook 'n getuienis. Ons dra in ons naam die Naam van Christus. 'n Christen is 'n navolger van Christus. Wat ons doen, gee aanleiding tot óf lofprysing óf lastering. Wie heilig lewe en die broederliefde uitleef, getuig voor die wêreld  van die heiligheid en liefde van God! (v. 12). Maar wie onsedelik lewe en liefdeloos, bring die Naam van Christus in die skande. 

Mag God ons die genade gee om daagliks al hoe meer onder die leiding en in die krag van die Heilige Gees te vorder op die weg van heiligmaking. Mag Hy deur Sy Gees die vlam van liefde in ons harte brandend hou – en daar waar die vlam laag brand, of dalk selfs dood gegaan het, weer opnuut laat ontvlam. Mag ons ook op hierdie manier ons Here en Verlosser wie se Naam ons dra, verheerlik. 

Tuesday, 28 January 2014

Die Evangelie van Christus sal verkondig, geglo en teëgestaan word!


Skriflesing: 1 Thess. 21-16
Tema: Die Evangelie van Christus sal verkondig, geglo en teëgestaan word!

INLEIDING
In 1 Thess. 1 skryf die apostel Paulus aan die gemeente dat wanneer hy en sy medewerkers aan die gelowiges in Thessalonika dink, hulle God altyd oor hulle dank. Waarom? Hulle dank God om drie redes:
  • Eerstens omdat hierdie gelowiges die Evangelie van verlossing in en deur Christus geglo en aangeneem het.
  • Tweedens omdat hulle hierdie Evangelie nie vir hulself gehou het nie, maar ook na buite verkondig het.
  • En derdens omdat hulle God van harte dien en die wederkoms van Christus verwag. 

Tog was daar mense wat die gemeente binnegedring het, en begin het om Paulus hulle se gesag en die boodskap wat hulle verkondig het, te bevraagteken. Hierdie stemme wat die gesag van Paulus – en trouens die gesag van die res van die Skrif – bevraagteken hoor ons steeds vandag. Daarom moet ons ag gee op wat die Here deur Sy apostel in 1 Thess. 2:1-16 skryf.

In hierdie gedeelte beklemtoon Christus deur Sy apostel Paulus die waarheid dat die Evangelie van verlossing verkondig sal word, dat hierdie Evangelie ook geglo sal word, maar dat daar ook altyd mense sal wees wat dit teëstaan! Dit was waar in die tyd toe hierdie brief op skrif gestel is, en so is dit ook vandag steeds waar en sal dit waar wees in die toekoms tot by die wederkoms van Christus!

Die Evangelie van verlossing sal verkondig, geglo en teëgestaan word.

DIE VERKONDIGERS VAN DIE EVANGELIE
In verse 1-12 word die waarheid gestel dat daar altyd mense sal wees wat die ware Evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus sal verkondig. Dit is juis hierdie Evangelie wat Paulus hulle aan die gemeente daar in Thessalonika verkondig het.

Maar omdat Paulus bewus is van sommige wat die betroubaarheid van die Evangelie en die gesag van hulle wat die Evangelie verkondig, bevraagteken; stel hy dit baie duidelik dat hulle:
  • Eerstens die betroubare Evangelie verkondig het.
  • En tweedens dit gedoen het sonder enige bybedoelings. 

Die betroubare Evangelie
In die eerste plek wys die apostel op die feit dat die Evangelie wat hulle verkondig het, sy oorsprong nie by hulle as mense gehad het nie, maar by God. Anders gestel: Die Evangelie is deur God aan hulle toevertrou en is nie maar stories wat vertel is om 'n kampvuur nie.

Om hierdie waarheid te beklemtoon verwys die apostel na die boodskap wat hulle verkondig het deur gebruik te maak van uitdrukkings soos: “die evangelie van God” (v. 8-9), “die boodskap van God” (v. 13) en “die woord van God” (v. 13). Uit hierdie uitdrukkings blyk dit duidelik dat die boodskap, die Evangelie van verlossing in Christus, nie die uitvindsel van 'n mens is nie, maar dat dit van God self kom. Hy is die Outeur. Hy is die Een wat Sy knegte roep en stuur om hierdie boodskap te gaan verkondig.

Maar net vir ingeval iemand hierdie uitdrukkings mis lees – soos dit dikwels gebeur – stel die apostel die baie duidelik dat hierdie boodskap nie op menslike uitdenksels berus nie. Hy skryf in vers 3-4: “Ons prediking berus immer nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings. Nee, God het ons gekeur en die Evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit…

Dus, wie ook al die Evangelie van verlossing in Christus verwerp as maar net stories om die kampvuur, of mense se slim redenasies; verwerp die gesag van die apostel, verwerp die gesag van die Skrif en uiteindelik verwerp hulle die gesag van God self!

Sonder bybedoelings
Nie net is die Evangelie betroubaar omdat dit van God kom nie, ook hulle wat die ware Evangelie verkondig is betroubaar omdat hulle die eer van God soek.

Ons lewe vandag in 'n samelewing waar baie van die “groot predikers” van ons dag nie die eer van God soek nie, maar eerder die eer van mense! Hulle hou daarvan om in die komplimente van mense te bad soos 'n vark in modder. Hulle hou daarvan om mense heuning om die mond te smeer, sodat hulle kan voel hoe hul eie ego gestreel word. Hulle preek emosioneel-opswepende preke en beloof wonderlike dinge, sodat die mense hulle beursies sal leegmaak in die asblikke wat by die deure van die kerkgeboue staan.

Maar die apostel Paulus wys die gemeente daarop dat hierdie nooit die werkswyse van diegene is wat die ware Evangelie verkondig nie:
  • In vers 3 skryf hy dat hulle nie aan die mense kom stories vertel het nie en hulle probeer oortuig het om die boodskap te glo deur hulle te mislei nie. 
  • In vers 5 sê hy dat hulle hul nie met vleitaal besig gehou het nie, en dat die motief waarom hulle die Evangelie verkondig het nie was om daardeur vir hulself rykdom te bekom nie.
  • In vers 4 en 6 sê hy dat hulle motief ook nie was om deur mense geëer te word nie. 

Nee, as verkondigers van die Evangelie het hulle die Evangelie aan die mense verkondig soos God dit aan hulle toevertrou het. Hulle motief was om God te eer en om Sy goedkeuring te ontvang. Daarom het hulle hul juis so gedra sodat niemand die egtheid en betroubaarheid van die Evangelie sou bevraagteken nie:
  • Hulle was altyd liefdevol en sag teenoor die gelowiges (v. 8)
  • Hulle het nie van hulself 'n las gemaak nie, maar self gewerk om so aan die lewe te bly (v. 9)
  • Hulle lewenswyse was onberispelik – d.w.s. niemand kon met reg na hulle die vinger wys oor iets wat hulle verkeerd gedoen het nie (v. 10).
  • Hulle het die gelowiges bemoedig en aangespoor waar dit nodig was en hulle opgeroep om soos verloste mense te lewe (v. 11-12). 

Hulle het dus gedoen wat God van hulle verwag het: Hulle het die Evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus aan hulle verkondig sonder om self eer te verwag, maar om deur hulle dienswerk juis God te verheerlik.

DIÉ WAT DIE EVANGELIE GLO
Deur die genade van die Here sal daar ook vrug wees om die arbeid van dié wat Hom dien. God is getrou aan Sy beloftes en Hy het beloof dat Sy Woord nooit leeg na Hom toe terugkeer nie (Jes. 55:11). Daarom sal daar altyd mense wees wat die Evangelie wat verkondig is, sal glo.

Dit is ook wat gebeur het in die gemeente in Thessalonika! Paulus skryf in vers 13: “Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat hulle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die Woord van God. En dit is ook inderdaad die Woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys.”

In hierdie vers wys Paulus op twee kern waarhede: 
  • In die eerste plek dat die feit dat hulle die Evangelie geglo en aangeneem het, die werk van God was. Daarom dank hulle God daarvoor! Want dit was God wat deur Sy Gees hulle oortuig het van die waarheid en die betroubaarheid van die Evangelie wat aan hulle verkondig is.
  • Tweedens, en hierby het ons reeds stilgestaan, maar dis nodig dat ons dit weer hoor: die Evangelie van verlossing is nie mensewoorde nie, maar dit is die Woord van God! 

Maar Paulus gaan ook verder en wys daarop dat diegene wat die Evangelie glo, lyding moet verwag en sal verduur (v. 14). Waarom, omdat die wêreld Christus haat, die boodskap van Sy verlossingswerk haat, die verkondigers van hierdie boodskap haat en daarom ook almal haat wat na hierdie boodskap luister en dit glo.

DIE TEËSTANDERS VAN DIE EVANGELIE
Daarom, laastens: Nie net sal die Evangelie van verlossing in en deur Christus altyd verkondig word en deur mense aangeneem en geglo word nie; daar sal ook altyd teenstand teen die Evangelie wees.

Hiervan was – en is steeds – die Jode 'n goeie voorbeeld. Daarom skryf Paulus onder die inspirasie van die Gees in vers 15: “Dit is die Jode deur wie die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg is…

Christus het immers self gesê: “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is …” (Matt. 23:37)

Dink maar net aan die Jode se optrede in die Ou Testament:
  • Dink aan hoeveel keer Moses se lewe in gevaar was omdat hy gedoen het wat God verwag en die volk in opstand gekom het (vgl. bv. Num. 14:36-45).
  • Dink aan Elia wat moes vlug vir die goddelose koning Agas en sy vrou Esebel (1 Kon. 19).
  • Dink maar aan Jeremia wat selfs in 'n put gegooi is omdat die koning en sy amptenare nie gehou het van die boodskap wat Jeremia verkondig het nie (Jer. 38:1-13). 

Dink aan die Jode in die Nuwe Testament:
  • Die Jode wat voor Pilatus uitgeroep het dat Christus gekruisig moes word en dat Sy bloed op hulle en hul kinders moet wees (Matt. 27:22-25).
  • Die Jode wat Stefanus buite die stadsmure van Jerusalem gesleep het en gestenig het (Hand. 7:57-59).
  • Die Jode wat selfs die oorsaak was dat Paulus dikwels vir sy lewe moes vlug – soos in die geval van die gebeure in Thessalonika (Hand. 17:1-10) en dat hulle selfs per geleentheid die oorsaak was dat hy gestenig en vir dood gelaat is (Hand. 14:19-20). 

In die optrede van die Jode sien ons die haat van die wêreld teenoor die Evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus. Die wêreld sal alles in hulle vermoë doen om die verkondiging en bevordering van die Evangelie teë te staan. Hulle sal alles doen wat hulle kan om te verhinder dat die Evangelie verkondig word aan dié wat dit nog nie gehoor het nie (v. 16). En daar waar hulle nie die Evangelie kan keer nie, maar hulle probeer om die groei van die kerk van Christus in die kiem te smoor deur vervolging.

Al hulle pogings is egter tevergeefs! Al wat hulle reg kry is om, soos vers 16 dit stel, “hulle sonde vol te maak”. Ja, die Here laat toe dat die wêreld die beker van hul sonde vol maak, so vol te maak dat dit oorloop! En wanneer die beker oorloop sal God in Sy heilige geregtigheid en vreeslike toorn die wêreld die volle maat van die oordeelsbeker laat drink!

SLOT
Ons lewe in 'n tyd waar die Evangelie teëgestaan word. Daagliks hoor ons die aanslae teen die betroubaarheid van die Woord van God in die media. Maar moenie bekommerd wees nie!

Ja, die wêreld sal gal braak in 'n poging om die betroubaarheid van die Evangelie wat ons glo in diskrediet te bring. Die wêreld sal dit selfs reg kry om sommige te laat twyfel in die betroubaarheid van die Woord. Maar die wêreld en die Bose sal nooit daarin slaag om die vloedgolf van die Evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus alleen te keer of terug te hou nie. Christus is in beheer. Hy waak oor Sy Woord en eer.