Skriflesing: Jer.
1:1-8
Tema: Die
Here kies, stuur en beskerm dié wat Hom dien
INLEIDING
Dit is die jaar 627 v.C. Die plek: Jerusalem. Die koning:
koning Josia, die laaste godvresende koning wat in Juda sou regeer voor
Jerusalem en die tempel deur Nebukadnesar, koning van Babilonië, vernietig sou
word. Dit is 'n tyd van herlewing, van hervorming op sosiale, ekonomiese en
godsdienstige gebied.
Koning Josia is besig om Suidelike Ryk skoon te maak van
al die afgodsbeelde, heilige pale en altare ter ere van die afgode op die
hoogtes wat deur sy voorvaders opgerig is. Dit is in hierdie tyd wat die Here
'n man, 'n profeet, na die koning, die amptenare, die priesters en die volk
stuur. Hierdie man is Jeremia.
Jeremia was 'n priester, 'n nakomeling uit die geslag van
Levi. Hy het Anatot gewoon, ongeveer 5 km Noord-Oos van Jerusalem (Jer. 1:1).
Vanuit Anatot was die mure van Jerusalem in die Weste sigbaar, asook die
woestynland in die Ooste.
Jeremia se bediening sou oor 'n tydperk van 40 jaar of
meer strek. Hy sou konings sien kom en konings sien gaan. Hy sou die regerings
van Josia, Jojakim en Sedekia deurleef (Jer. 1:2-3) en uiteindelik ook sien hoe
Jerusalem deur vlamme verteer word. Hy sou die hoogtepunt van herlewing in sy
leeftyd ervaar, maar ook die laagtepunt van Jerusalem en die volk se
afvalligheid van die Here.
In die 13de regeringsjaar van koning Josia, 'n
jaar nadat Josia met die hervorminge begin het, het die Here aan Jeremia
verskyn. Op hierdie geleentheid hoor ons hoe die Here Jeremia:
- Gekies het as Sy profeet,
- Hom stuur na die Suidelike Ryk, en
- Beloof om hom te beskerm.
DIE HERE KIES
Oor presies hoe die Here aan Jeremia verskyn het, word nie
vir ons gesê nie, net dat “die woord van
die Here het tot my (Jeremia) gekom” (Jer. 1:4).
Hierdie “woord van
die Here” was duidelik en reguit. Die Here sê in vers 5: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm
het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as
profeet vir die nasies aangestel.”
Voordat Jeremia die sonlig by geboorte gesien het, het die
Here in Sy ewige raadsbesluit reeds drie dinge gedoen:
Ek het jou
uitgekies
In die eerste plek, Hy het Jeremia uitgekies en besluit om
in 'n verhouding met hom te staan. Hy sê: “Voordat
Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken…”. Die woord wat ons
met “geken” vertaal, is 'n woord wat
gebruik word vir 'n intieme verhouding. Met ander woorde, Jeremia, voordat jy
in die moederskoot ingekom het, het Ek besluit om in 'n verhouding met jou te
staan. Ek het jou van voor jou geboorte, ja, nog voor jy gevorm was in jou
moederskoot, vir My uitgekies om Myne te wees.
Maar wat waar is van Jeremia, is ook waar van elke
gelowige. Ons hoor dieselfde taal in Ef. 1:4-5 waar die apostel Paulus onder
die inspirasie van die Heilige Gees skryf: “So
het Hy (die Vader), nog voor die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies
om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In Sy liefde het Hy ons, volgens Sy
genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus Sy
kinders te wees.”
Die Goddelike uitverkiesing is vir die gelowige 'n
wonderlike troos, omdat ons redding nie van onsself afhang nie, maar in die
hande van die Onveranderlike God is wat ons deur die verlossingwerk van Jesus
Christus gered het.
Ek het jou aan My
gewy
Nie net het die Here Jeremia uitgekies nie, Hy het hom ook
aan hom as profeet gewy, want Hy sê: “…
voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy …”. Wanneer die Here iemand
aan Hom wy, sonder Hy daardie persoon vir Sy diens alleen af. In Deut. 14:2
word daar aan die volk gesê: “Julle is 'n
volk wat aan die Here julle God gewy is …” en dan gaan Moses onmiddelik
verder en verduidelik wat dit beteken “Hy
het julle uit al die volke op aarde uitgekies om Sy eiendomsvolk te wees.”
Dus wanneer God vir Jeremia sê dat Hy hom aan Hom gewy het, sê Hy daarmee dat
Jeremia aan Hom behoort en alleen in Sy diens staan.
Ons sal egter 'n fout maak as ons dink dat net Jeremia aan
die Here gewy was. Elke gelowige word aan God gewy deur die bloed van Jesus
Christus wat Hy op Golgota aan die kruis gestort het. Die Hebreërskrywer, onder
die inspirasie van die Heilige Gees, sê dit in soveel woorde in Hebr. 10:10: “Omdat God dit so wou, is ons vir Hom
afgesonder deurdat Jesus Christus Sy liggaam as offer gebring het, eens en vir
altyd.”
Ek het jou as
profeet aangestel
Maar wat behels hierdie diens, waarom het God Jeremia
uitgekies en hom aan Hom gewy? Einde vers 5: “Ek het … jou as profeet vir die nasies aangestel.”
God het Jeremia uitgekies en vir sy diens afgesonder, om
as 'n profeet op te tree. 'n Profeet nie net vir die Israeliete nie, maar vir
die nasies. Maar nou kan ons vra: Hoe werk dit? Jeremia het nooit reise
onderneem na ander lande soos Jona nie. Dit mag so wees, maar Jeremia het teen
die nasies geprofeteer. In Jer. 46-51 lees ons sy profesieë teen Egipte (Jer.
46), die Filistyne (Jer. 47), Moab (Jer. 48), die Ammoniete (Jer. 49:1-6), Edom
(Jer. 49:7-27), Kedar en Gasor (Jer. 49:28-33), Elam (Jer. 49:34-39) en
uiteindelik ook teen Babel (Jer. 50-51). Aan die einde van die boek lees ons
ook hoe Jeremia aan Seraja opdrag gee om die boek saam te neem Babel toe en dit
daar hardop voor te lees (Jer. 51:59-64).
So het die Here dan Jeremia, die profeet vir die nasies
gemaak. En hierin sien ons ook 'n voorskou van die roeping van die kerk. Want
ook ons, gelowiges in die Nuwe Testamentiese bedeling, het die roeping ontvang
van Christus om die Evangelie aan al die nasies te verkondig. 'n Boodskap van
hoop vir elkeen wat in Christus glo, maar ook 'n boodskap van oordeel vir
elkeen wat Hom verwerp.
Die profeet Jeremia se uitverkiesing, wyding en
aanstelling is 'n voorbeeld van wat die kerk van Christus later sou wees. Ons
hoor dieselfde taal van Jer. 1:5 in 1 Pet. 2:9:
“Julle (die gelowiges),
daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir
God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade
moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na Sy wonderbare
lig.” Het ons dit gehoor? Julle is “uitverkore”.
Julle is “afgesonder”. Julle moet “verkondig”.
DIE HERE STUUR
Wat sou ons reaksie gewees het as die Here aan ons verskyn
het soos Hy aan Jeremia verskyn het? Persoonlik is ek daarvan oortuig dat ons
onsself dikwels veel vromer wil voorhou as die profete van ouds. Dikwels
wanneer ons die vraag hoor, is ons geneig om te sê: “Ons sou dadelik opgewonde gewees het!” Maar voor ons antwoord, laat
ons eers toelaat dat die Here ons nederig maak deur na 'n paar voorbeelde te
kyk van mense se reaksies voor die lewende God:
- Wanneer die Here Moses roep, wat is Moses se reaksie? Het hy gesê: “Uiteindelik! Ek het so lank hiervoor gewag?” Nee, hy antwoord in Eks. 3:11: “Wie is ék dat ek dit by die farao te waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”. En 'n bietjie verder in Eks. 4:10: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; …”.
- Of dink aan die roeping van Jesaja. Het Jesaja uit sy vel gespring toe die Here hom geroep het? Beslis nie! Inteendeel, hy moes uitroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder 'n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige!” (Jes. 6:5). Dit is eers nadat 'n seraf sy lippe met 'n kool van die altaar af aanraak, dat hy kan instem op God se vraag: “Wie kan Ek stuur?” en antwoord “Hier is ek! Stuur my!” (Jes. 6:8)
- Of kyk na Jeremia se reaksie hier. Hy hoor hoe die Here hom as profeet aanstel, maar soos Moses en Jesaja besef hy sy eie onwaardigheid. Hy antwoord: “… ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.” Heel waarskynlik was Jeremia reg in sy stelling. Hy was nog 'n jong man en waarskynlik nog nie goed onderlê in spraakkuns nie. Maar dit is geen verskoning nie. Net so min as wat God Moses se spraakgebrek aanvaar het of Jesaja se onheiligheid, net so min aanvaar Hy Jeremia se verskoning van moeilik praat en onervare jonkheid.
Die Here is nie afhanklik van ons vaardighede nie. Hy is
nie afhanklik van ons volmaaktheid nie. Hy is nie afhanklik van ons
lewenservaring nie. Nee, die Almagtige God is in staat die een wat stotter en
stuier oor sy woorde in diens te neem en Sy boodskap te laat verkondig met die
vaardigheid van die mees ervare redenaar. Hy is in staat om die onvolmaakte en
gebarste kruik te neem en dit te vul met die lieflike boodskap van die
volmaakte verlossing in Christus. Hy is in staat om die jongste seuntjie of
dogtertjie in Sy diens te neem en waarhede te verkondig wat ou mense met al hul
lewenservaring nog nooit ontdek het nie.
Laat ons gewaarsku wees! God se almag mag ons nie misbruik
om ons verantwoordelikhede te ontduik nie. Nooit mag 'n gelowige sê: “God sal my die woorde gee, dus kan ek maar
agteroorsit en wag”. Nee, ons moet getrou wees in ons bestudering van die
Woord en ons moet daarin toegerus word.
Of anders gestel: Die Almagtige is in staat om die wat Hy
uitverkies, vir Hom afgesonder het en aan aangestel in Sy diens ook te vorm en
toe te rus vir hulle dienswerk, sodat Hy hulle ook kan stuur waarheen Hy wil.
Daarom sê die Here aan Jeremia in vers 7-8: “Jy moenie sê: ‘Ek is te jonk’ nie. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook
al stuur, en alles wat Ek jou beveel moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees
nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. Dit is wat die Here gesê het.”
DIE HERE BESKERM
Wat 'n ramp sou dit nie wees vir Jeremia as die Here by vers
7 gestop het nie. As die Here net vir Hom gesê het: “Jeremia, Ek het jou gekies, afgesonder en as profeet aangestel. Gaan en
verkondig alles wat Ek jou sal gee om te verkondig.” Jeremia sou sonder
twyfel kon redeneer: “Here, U wil my na
hier spul Jode stuur – mense wat profete vroeër dood gemaak het omdat hulle U
boodskap verkondig het. U wil hê dat ek my lewe moet waag vir iets waarna mense
nie sal wil luister nie!? Is U seker dat daar nie iemand anders is wat U kan
stuur nie?”
Maar genadiglik stop die Here nie by vers 7 nie. Hy gaan
verder en belowe ook aan Jeremia beskerming in vers 8. Jeremia sou op die kruin
van herlewing sy bediening begin en onder koning Josia sou mense hom geduld
het, maar dit sou nie vir altyd so wees nie. Die laaste vier konings van Juda,
konings Joahas, Jojakim, Jojagin en Sedekia, was almal konings wat goddeloos
was en gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here. Tydens hul regering
was Jeremia vervolg en bespot (Jer. 15:15-18), sy lewe was in gevaar (Jer.
18:23), valse profete het sy woorde belaglik probeer maak (Jer. 28), hy was in
die tronk gegooi (Jer. 37:11-21) en later in 'n modderige put (Jer. 38:1-13).
Jeremia se vyande sou baie wees. Hy sou vir die grootste
deel van sy bedien in direkte oortreding van die koning se bevele wees. Sy
boodskap sou lynreg in gaan teen die vredesboodskappe van die valse profete. Hy
sou die valse vertroue op die tempel by die volk moes ontmasker. Hy sou beledig
word en bestempel as word 'n verraaier, 'n man wat die moraal van die mense
ondermyn en valse oordeelsboodskappe verkondig.
As Jeremia hierdie dinge moes ervaar en in eie krag
deurmaak, sou hy nooit sy roeping vervul het nie. Hy sou nooit sy mond
oopgemaak het en gespreek het nie. Hy sou nooit stroom op gegaan het en getrou
gebly het aan die Here nie. Daarom beloof die Here aan hom Sy beskerming en Sy
ondersteuning.
Maar wat waar is van Jeremia, is ook waar van elkeen van
ons. Ook ons het is deur God gekies en vir Sy diens afgesonder. So het ons
gesien in 1 Pet. 2:9. En as mense wat vir Hom afgesonder is, is ons ook gestuur
met 'n boodskap: Die boodskap van verlossing vir elkeen wat in Christus glo,
maar ook die boodskap van oordeel vir elkeen wat die rug op Christus draai.
Hierdie is nie 'n populêre boodskap in vandag se samelewing nie. Dié wat
hierdie boodskap verkondig, sal uitgemaak word as “doem-profete”, “mense wat
verdeeldheid saai” en wat “onverdraagsaam”
is.
Ons sal onsself bluf as ons dink dat ons in eie krag
hierdie boodskap van verlossing en oordeel kan verkondig. Ook ons moet versterk
word deur die woord van die Here wat sê: “Ek
is by jou!” En daardie versekering het ons, want Christus het gesê: “… onthou: Ek is by julle al die dae tot die
voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20).
SLOT
In die dae van godsdienstige agteruitgang en afvalligheid,
het die Here 'n man met die naam Jeremia as profeet geroep – 'n profeet wat Hy
uitgekies het, 'n profeet wat Hy vir Sy diens afgesonder het, 'n profeet wat Hy
gestuur het met 'n boodskap, 'n profeet wat Hy beskerm het om sy roeping te
vervul.
So het God ook ons uitgekies. Deur die verlossingswerk van
Christus het Hy ons vir Hom afgesonder en aan ons roeping gegee – dié roeping
om die Evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus alleen te verkondig,
of mense wil luister of nie. Maar in Sy genade het Hy ook aan ons die belofte
van Sy bystand gegee, sodat ons, soos Jeremia ook kan hoor: “Ek is by jou”.
Aan die Drie-Enige God die dank vir hierdie voorreg om in
Sy diens te staan. Aan Hom die lof vir die genade wat Hy aan ons in Christus
bewys het. Aan Hom die eer vir Sy almagtige teenwoordigheid in ons lewens. Amen.