Geestelike liedere

Die liedere wat ek hier plaas, is liedere wat ek na aanleiding van Skrifgedeeltes geskryf het. Alhoewel ek nie kopiereg op hierdie liedere het nie, is daar wel kopiereg op die melodieë waarop dit gesing word. Ek vra egter om nie die woorde van die liedere te wysig nie.

Die Losser

1 Gods Woord klink deur profete –
kondig die Losser aan!
Hy uit die maagd gebore:
“Immanuel” Sy Naam!
Hy daal, die hemel Koning,
in mens’ gestalte neer;
maak onder mense woning –
die Losser en die Heer!

2 O, moenie vrees nie, Josef;
vind vrede in jou Heer!
Wat in haar skoot verwek is,
is van die Heil’ge Gees!
Want lank reeds het profete
die boodskap reeds laat hoor:
“Vanuit die maagd gebore,
kom die Verlosser voor!”

Melodie: Samuel Wesley, 1864
Teks: Barend J Hefer, 2013

Lied van Simeon

Laat tog U dienaar nou maar gaan,
in vrede, Here na U kom –
voor my is U verlossing!
U wat dit voor ons oë berei:
die Lig wat na die lewe lei
en tot U eer, o Here!
Jou Kind, Maria, is bestem,
tot Israel se struikeling
en tot hul opstanding,
as teken wat weerspreek sal word.
En jou siel deur die swaard gewond,
langs Hom as jou Verlosser!

Melodie: Es sind doch selig alle die – Mathias Greiter, 1525; Straatsburg, 1539; Genève, 1551.
Teks: Barend J Hefer, 2013


Hef op die oë na die kruis

1 Hef op die oë na die kruis,
die Heiland daar – bespot, verguis.
Hy het die weg wat ek moes gaan,
vir my geloop, my straf ontvang.

2 Soldate daar by Sy kruis,
verdeel Sy kleed wyl stemme druis.
Hy bid: “O Heer, vergeef hul dit,
want in onkunde doen hul dit.”

3 'n Moeder ween daar by Sy kruis,
ook in Sy dood voorsien Hy 'n huis:
“O vrou, kyk daar, hy’s nou jou seun;
en jy, o man, wees nou haar steun.”

4 Langs Hom hang twee misdadigers,
die een skel saam verbygangers;
die ander smeek: “Onthou my Heer,”
en hoor: “Jou plek is reeds gereed.”

5 Drie ure is daar duisternis,
die Vader draai weg Sy gesig.
Die Seun alleen – verlaat in angs –
Roep: “God, My God, U’t My verlaat!”

6 Die nagtelike sluier lig,
die Vader wys Sy aangesig.
Steeds aan die vloekhout hang die Mens,
“Ek’s dors,” weerklink dan nou Sy wens.

7 Die Heiland het my prys betaal,
die volle straf vir my gedra.
Sy bloed, dié vloei en reinig my.
“Dit is volbring!” troos ook vir my.

8 Sy offer is nou klaar gebring,
Sy laaste woorde, dié weerklink;
Met hoof omhoog, hoor hul die Heer:
“My Vader, hier is nou My Gees.”

9 Daar aan die hout van Golgota,
het Jesus ook my straf gedra.
Die kruis getuig: “Ek het jou lief;
My sy is ook vir jou geklief.”

Melodie: Aanskou die Heiland aan die kruis - Edward Miller, 1790
Teks: Barend J Hefer, 2014


Na drie dae in die graf

Na drie dae in die graf,
verrys die Heer gekroon met mag,
verheerlik deur die Vader.
Hy het vir ons die dood oorwin!
Die nuwe lewe het begin!
Hy is die Sleuteldraer!
Beef, beef, o dood en doderyk,
die Seun van God tree uit die stryd,
as Triomfator!
Die graf is oop, Sy plek is leeg,
die dood het oor Hom mag nie meer.
Wie in Hom glo, sal lewe.

Melodie: Es sind doch selig alle die – Mathias Greiter, 1525; Straatsburg, 1539; Genève, 1551.
Teks: Barend J Hefer, 2014

O, my siel, waarom is jy onrustig?

O, my siel, waarom is jy onrustig?
O, my siel, waarom buig jy jou neer?
Hoop op God, want Hy is jou genadig,
kniel voor Hom – jou Verlosser en Heer.
In die donker van die dae, sal Hy altyd by jou staan,
jou lei en jou leer, deur Sy Gees naby jou wees.
O, my siel, wees nie langer onrustig!
Hef jou oë op na jou Heer!
Wees verseker van die Here altyd daar is,
loof Hom as jou Verlosser en Heer.

Melodie: Gisela de Villiers, 2001
Teks: Barend J Hefer, 2014

In die begin

1 In die begin, in die Tuin van Eden,
het die mens in opstand gekom.
Hul het geëet dit wat die Heer verbied het
en hulself en die mensdom verdoem.
Besmet met sonde – onderwerp aan dood,
is die verhouding met hul God verbreek.
Genadig is die Heer – Hy buig Hom tot ons neer!
Hy sien ons nood aan en kondig die Losser aan:
“Hy kom! Hy kom! Hy sal die Slang verslaan!”

2 Deur eeue heen, hoor ons die beloftes
van die Een wat verlossing sal bring.
Hy wat sal kom uit die geslag van Abr’am
en sal sit op Dawid se troon.
Hy sal Sy lewe as offer gee
en so ons red van die oordeel van die Heer.
Hy’s ons Vredevors – ons Priester en ons Koning,
die magtige Seun van God. Hy daal na ons toe neer.
o Wonderbare Raadsman, aan U kom toe alle eer!

Melodie: O Holy night - Adolphe Adam, 1847
Teks: Barend J Hefer, 2014

No comments:

Post a Comment