Friday 11 August 2017

Loof die Here, want Hy het ons geseën! (Efesiërs 1:3-14)

INLEIDING
Die brief aan die Efesiërs is sonder twyfel een van die mees beknopte, saamgeperste en mees gelaaide samevattings van die Evangelie in die hele Bybel. In hierdie eerste paar verse hoor ons leerstellings soos die vyf pilare van Calvinisme in een of ander vorm:
  • Ons hoor van die sonde en verlorenheid van die mens waaruit ons gered moet word (radikale verdorwenheid. 
  • Ons hoor van God se genade waardeur Hy ons red (onweerstaanbare genade)
  • Ons hoor van die verlossing wat daar in Christus vir elkeen wat in Hom glo, verwerf is (toegespitste verlossing)
  • Ons hoor hoe God reeds voor die skepping van die heelal mense vir Hom as sy kinders uitgekies het (spesifieke uitvierkiesing)
  • En ons hoor van die volharding van die gelowiges deur die werking van die Heilige Gees (ewige bewaring van die gelowiges).
Saam vorm hierdie vyf leerstellings die R.O.T.S.E. waarop die Christelike geloof berus. Maar behalwe hierdie leerstellings vind ons ook leerstellings wat grondliggend en rigting gewend was in die tyd van die Reformasie en steeds vandag is, die sg. Sola’s van die Reformasie:
  • Christus alleen (soli Christi)
  • Genade alleen (sola gratia)
  • Geloof alleen (sola fide)
  • Die Woord alleen (sola Scriptura)
  • Die eer van God alleen (soli Deo gloria)

Tog is Ef. 1:1-14 nie net koue, teologiese stellings wat ons moet glo nie. Nee, hierdie is lieflike waarhede wat tot troos is vir elke gelowige en wat elkeen lei tot aanbidding van God. Ons sien dit in Paulus se emosie wanneer hy hierdie woorde neerpen. Kyk hoe begin hy. Hy begin nie deur te sê: “Luister Efesiërs, hier is nou ‘n paar dinge wat hulle moet weet en oor ‘n paar dae gaan eksamen skryf” nie. Nee, hy begin met ‘n loflied aan God: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!...” (Ef. 1:3)

Paulus het onder die leiding van die Heilige Gees maar een oproep in hierdie inleidende verse: Loof die Here, want Hy het ons geseën!

Hoe het Hy ons geseën? Hierop gee Ef. 1:3-14 vir ons ‘n drieledige antwoord, waarna elk afsonderlike deel afsluit met ‘n oproep om God te prys. Hy het ons geseën deurdat:
·       Die Vader ons uitverkies het,
·       Die Seun ons verlos het en deel gemaak het van sy koninkryk, en
·       Die Heilige Gees ons beseël vir die ewige lewe.

Paulus begin sy loflied in vers 3: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.

DIE VADER KIES UIT
Die eerste seëning van die Heilige Gees waarna Paulus verwys en waaroor ons God moet prys, is die uitverkiesing: “So het Hy, nog voordat die wêreld gemaak is, ons in Christus uitverkies ...” (Ef. 1:4)

Wanneer daar oor die uitverkiesing gepraat word, is dit die geneigdheid van mense om altyd te probeer uitwerk hoe die uitverkiesing werk. Vrae soos “waarom net sekere persone kies en ander nie?” en “is God dan nie onregverdig om net sekere mense hemel toe te vat en ander in die hel te laat beland nie?” is gewoonlik teenwoordig. Maar laat ons een ding goed verstaan: ons weet gewoon nie hoe God gekies het en waarom Hy een persoon bo ‘n ander gekies het nie. Sommige het hierop al probeer ‘n antwoord gee deur te sê dat God gesien het dat ‘n persoon gaan glo, en daarom daardie persoon gekies (die sg. Uitverkiesing op grond van vooruitgesiene geloof), maar dit is hoegenaamd nie uitverkiesing nie. Uitverkiesing lê die besluit voor God. Kyk na die woordeskat wat Paulus in hierdie gedeelte gebruik:
  • v. 4: “... nog voordat die wêreld geskep is ... uitverkies ...”
  • v. 5: “... genadige beskikking ... bestem ...”
  • v. 8: “... kragtens sy besluit en voorneme ...”
  • v. 11: “... vooruit al bestem ... voorgeneem ...”

Die een waarheid wat die uitverkiesing voor ons kom neerlê is dit: jou verlossing is die werk van God. Jy glo nie omdat jy beter is as iemand ander of omdat jy dit meer verdien nie. Nee, jy glo omdat God jou “volgens sy genadige beskikking ... bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.” (Ef. 1:5) Dit is ‘n troos vir elkeen wat glo, want dit sê vir jou dat jou verlossing nie in jou eie hande is nie, maar in die hande van die almagtige God.

Verder is die doel van die uitverkiesing die eer van God. Vers 4 wys ons daarop dat God ons uitverkies het – nie in die eerste plek sodat ons erns in die toekoms die ewige lewe kan ontvang nie – dit ook ja, maar sodat ons Hom nou reeds hier op aarde kan verheerlik deur “heilig en onberispelik voor Hom te wees”.

Dus, omdat God ons uitverkies het, “Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.” (Ef. 1:6)

Maar behalwe die uitverkiesing, het God ons ook geseën met die verlossing in Christus en die deel word van sy koninkryk.

DIE SEUN VERLOS 
Jesus, die Verlosser
Die tweede seëning waarna Paulus verwys is die verlossing deur die bloed van Christus: “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredings vergewe ...” (Ef. 1:7).

Die uitverkiesing sou van geen nut gewees het as Christus nie in die plek van die uitverkorenes gesterf het om hulle te verlos nie. Daarom skryf Paulus in vers 9-10: “Hy het kragtens sy besluit en voorneme (verwysend na die uitverkiesing – v. 4-6) die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het (verwysend na die kruis van Christus – v. 7) ...”.

Jesus Christus, die Seun van God, het gesterf en deur sy bloed is daar verlossing en vergifnis van sondes verkry. Maar hierdie verlossing word slegs toegereken vir elkeen wat in Jesus Christus glo en Hom as hul enigste Verlosser bely. Buite Christus is daar geen verlossing nie. Daarom dat ons keer op keer uitdrukkings soos “in Christus” en “deur Christus” in hierdie gedeelte vind. En dit laat jou en my voor ‘n ernstige vraag staan: ‘n vraag wat letterlik ‘n saak van lewe en dood is, ‘n vraag wat jou ewigheid bepaal: Is hierdie Jesus jou Verlosser? Glo jou in en vertrou op Hom alleen vir jou verlossing? Indien jy hierop eerlik “ja” kan antwoord, het jy die troos: jou sonde is vergewe en voor God staan jy rein, gewas deur die bloed van Christus, Sy Seun. Maar as jy op hierdie vraag moet “nee” sê, pleit ek by jou: maak nóú jou saak met God reg. Bekeer jou en kom na Christus toe. Draai weg van jou eie pogings tot verlossing. Draai weg van die gedagte dat jy verlossing kan verdien. Kom na Christus en Hy sal jou rus gee.

Jesus, die Koning
Paulus gaan verder, hierdie Jesus is nie net die Verlosser nie, maar ook Koning, want die derde seëning is om deel te word van die koninkryk van Christus, deel te word van die kerk waarvan Christus self die Hoof is (Ef. 1:10). Vers 11 lees: “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het ...”.

Ons was verlore. Ons was slawe van die sonde. Ons het tot die koninkryk van die duisternis behoort en gelewe onder die oordeel van God. Maar in God se liefde en genade het Hy ons verlos deur die bloed van sy aan die kruis, Hy het die mag van die sonde gebreek deur die offer van Christus op Golgota, en Hy ons deel gemaak van sy koninkryk deur die opstanding van Christus uit die dood. Jesus Christus is ons Verlosser en Koning onder wie ons staan en in wie se hande ons lewe is. Daarom, moet ons “die grootheid van God prys” (Ef. 1:12).

DIE HEILIGE GEES BESEËL
Maar God is nog nie klaar nie ... Hy seën ons nog meer! Behalwe vir die uitverkiesing, die verlossing en die deel word van sy koninkryk, verseker Hy ons van ons ewige verlossing deur aan ons die Heilige Gees te gee.

Die Heilige Gees in die eerste plek die seën van ons verlossing en tweedens die waarborg dat ons daardie verlossing sal ontvang. Hierin vind ons die laaste twee seëninge waarna Paulus verwys.

Die Heilige Gees as seël
In die eerste plek dan, die Heilige Gees as seël. In die verlede wanneer daar ‘n slaaf op die mark gekoop was, was daar een of ander merk op hom geplaas – hetsy ‘n tatoeëermerk of brandmerk – om te wys wie se slaaf daardie persoon is. Ons het die merk van die Satan en die koninkryk van die duisternis gedra, maar deur die bloed van Christus is daardie merk van ons verwyder en het ons ‘n nuwe merk ontvang: die Heilige Gees. Die Heilige Gees is die seël – die eiendomsmerk van Christus (Ef. 1:13). En wanneer het ons die Gees ontvang? Vers 13 lees: “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het...” dit is toe dat ons in Christus die Heilige Gees ontvang het deur wie ons nou “as eiendom van God beseël” is.

Maar die ontvangs van die Heilige Gees is nie net die teken dat ons aan God behoort nie. Hy is ook die waarborg dat ons die volle verlossing by die wederkoms van Christus sal ontvang.

Die Heilige Gees as waarborg
Ons lees in vers 14: “Die Heilige Gees is die waarborg dat ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos ...”.

Die uitverkiesing en die verlossing deur Christus sou vir ons van geen troos gewees het as daar ‘n moontlikheid sou wees dat ons weer verlore kan gaan en ons verlossing verloor nie. Dink vir ‘n oomblik daaraan: Hier kon God, Hy kies ons uit, Hy stuur Christus as Verlosser om ons uit die mag van die Bose en sonde te bevry en sê dan: “Sterkte, jy is nou op jou eie!” Sal dit vir jou iets beteken? Of anders gestel: Jy is ‘n slaaf van die sonde en Bose – vyande te sterk vir jou om hulle te oorwin. Dan kom God – die Enigste Een wat hulle kan oorwin – en verlos jou uit hul mag. Maar halfpad los God jou op ‘n kruispad en sê: “Jy moet maar self by die eindbestemming kom.” Wat sal jou reaksie wees? Sal daar nie vrees by jou opkom vir die vyande van wie jy sopas verlos is nie. Sal daar nie by jou dieselfde angs wees as by die Israeliete toe die Farao op hulle met sy leër by die Riet See afgestorm het nie? Sal God werklik die God van liefde wees as Hy jou kies en verlos, maar nie ook beskerm en lei nie?

Maar God is die God van liefde wat ons nie net uitverkies het en deur Christus verlos het nie, maar ook ons beskerm en ons veilig by ons eindbestemming sal aanbring. Daarvan is die Heilige Gees ons teken en waarborg. “... Daarom moet ons sy grootheid prys.” (Ef. 1:14)

SLOT

Sal ons nie vanoggend saam met die apostel Paulus dit uitjubel: “Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade, om moet sy grootheid prys,” want Hy het ons uitverkies om aan Hom te behoort, Hy het verlos en ons sondes vergewe deur die bloed van sy Seun en Hy beskerm ons deur die werk van die Heilige Gees. Waarlik, van begin tot einde is ons verlossing in die hande van die lewende en almagtige God! Amen.