Sunday 1 March 2015

Die Woord van die Here deur Sy apostel Petrus (1 Pet. 1:1-2)

INLEIDING
Daar is sekere gedeeltes van die Bybel waaraan gelowiges dikwels baie min aandag gee: gedeeltes soos die geslags-registers, openingswoorde van briewe en die afsluitings van briewe. Tog is hierdie ook deel van God se Woord – en daarom het dit ook vir ons 'n boodskap.

Die opening van 1 Petrus is eenvoudig en tog baie ingrypend. Dit sê vir ons wie die skrywer van die boek is, asook wie die eerste lesers was.

SKRYWER
“Van Petrus”
Die brief begin met die woorde: “Van Petrus” (1 Pet. 1:1). Wie was hierdie man? Ons leer hom ken in verskillende fases van sy lewe.

Fase 1: Voor Pinkster
  • Hy en sy broer, Andreas, was vissermanne van beroep (Matt. 4:18)
  • Ons leer hom ken as die woordvoerder van die dissipels, (Matt. 16:13-23) en 'n man wat geneig was om te praat, voordat hy aan die gevolge van sy woorde dink (Matt. 26:31-35)
  • Hy was dié dissipel wat beloof het dat hy Jesus nie in die steek sal laat nie, en tog later daardie selfde aand die Here drie keer verloën (Matt. 26:69-75)
  • Na Christus se dood, vind ons hom bang en beangs vir wat die Jode nou met hom en die ander dissipels sou doen (Joh. 20:19)

Dus, 'n man wat gepraat het voordat hy gedink het en toe hy in die diepkant ingegooi is, bang geword het vir wat met hom sal gebeur.

Fase 2: Pinksterdag
Met Pinksterdag sien ons egter 'n radikale verandering in hierdie man. Waar hy 'n paar dae van te vore weg gekruip het vir die Jode, omdat hy vir hulle bang was, vind ons Petrus op die tempelplein op Pinksterdag besig om vir die skare te preek en hulle op te roep om in Jesus Christus te glo! (Hand 2:14 ev.)

Nog meer, wanneer hy en Johannes voor die Joodse Raad gedaag word – dieselfde manne wat 'n paar weke van te vore Jesus laat kruisig het – deins hulle nie terug vir die gevare nie. Onder die leiding en inspirasie van die Heilige Gees verkondig hy Christus aan die mense wat Hom vermoor het (Hand. 4:8-12), en wanneer die Joodse Raad hulle belet om enigsins verder in die Naam van Christus te preek of te genees, is sy antwoord: “… Julle moet self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” (Hand. 4:19-20).

Deur die genade van die Here het hierdie man ook een van die leiers van die kerk in Jerusalem geword (Gal 2:9) en tot kort voor sy dood in Jerusalem en omgewing gearbei.

Fase 3: Kort voor sy dood
Die laaste fase van Petrus se lewe, is die fase waarin hy hierdie brief skryf. Hy bevind hom in Rome[1] (1 Pet. 5:13). Hier aan die einde van sy lewe spoor Petrus onder die inspirasie van die Gees die gelowiges opnuut aan om getrou te bly aan Christus en die Evangelie en om soos vreemdelinge in die wêreld te lewe. In die woorde van Christus: “… Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh. 15:19). Ja, ons is nog “in” die wêreld, maar nie meer “van” die wêreld nie.

“'n Apostel van Jesus Christus”
Ons sal egter 'n fout maak as ons dink dat Petrus in sy eie hoedanigheid – op grond van sy eie gesag – hierdie brief geskryf het. Daarom voeg hy dadelik by: “Van Petrus, 'n apostel van Jesus Christus” (1 Pet. 1:1).

Wie of wat is 'n apostel? Die woord wat ons met “apostel” vertaal, beteken “afgevaardigde”. Dit is iemand wat namens iemand optree met die gesag wat aan hom verleen is. Om 'n voorbeeld te noem: Iemand wat 'n boodskap / edik van die koning aangekondig het, het dit gedoen met die gesag van die koning. Wanneer daardie aankondiger op die markplein gaan staan het en begin het met die woord “In die naam van die koning …” het die boodskap wat hy aangekondig het, die gesag van die koning gedra. Wie hom teen die aankondiging verset het, het hom ten diepste nie teen die aankondiger verset nie, maar teen die koning self!

Dit is in hierdie betekenis wat die woord “apostel” gebruik word. Petrus is nie besig om sy eie boodskap aan die gelowiges te verkondig nie, maar die boodskap wat aan hom opgedra is onder die inspirasie van die Heilige Gees. Daarom is hierdie brief nie in die eerste plek “die brief van Petrus” nie, maar “die brief van Christus deur Sy apostel Petrus”. Daarom dra dit die gesag van Christus self. Wie dus nie gehoor wil gee aan wat die Here deur Sy apostel skryf nie, verset hom teen die Here self.

LESERS
Nie net word die skrywer aan ons bekend gestel in die eerste verse nie, ook die lesers word aan ons bekend gestel. Dit doen die apostel Petrus deur vier woorde te gebruik:
  • In die eerste plek die woord “uitverkorenses”. Hierdie woordjie plaas die klem op God as die Bron van hulle verlossing. In God se vrymagtige raadsbesluit het Hy die gelowiges uitverkies om Sy kinders te wees. Deur hierdie woord tref die apostel 'n streep deur alle leerlinge wat van die standpunt uitgaan dat die mens homself kan verlos!
  • Die tweede woord wat Petrus gebruik, is die woord “vreemdelinge”. 'n Vreemdeling is 'n persoon wat nie burger van 'n land is waar hy besoek af lê nie. Ons bly byvoorbeeld in Suid-Afrika en ons is burgers van Suid-Afrika. Maar wanneer ons na Europa toe gaan om daar besoek af te lê, word ons nie burgers van Europa nie, maar is ons slegs “besoekers” of “vreemdelinge”. En as vreemdeling in 'n vreemde land, staan ons uit. Ons aksent waarmee ons praat, ons gebruike en kleredrag verskil van die mense van Europa. So sê Petrus is gelowiges in die wêreld. Ons lewe in die wêreld, maar hier is ons net vreemdelinge – besoekers wat vir 'n paar jaar deur die wêreld reis op pad na ons Vaderland: die hemelse Kanaän. Ons burgerskap is nie van die wêreld nie, maar ons burgerskap is in die hemel.
  • Die derde woord wat hy gebruik om die gelowiges te beskryf, is die woord “wat verspreid woon” of “verstrooiing”. Hierdie woord is 'n gelaaide woord wat sy Bybelse betekenis aan die Ou Testament ontleen. In die tyd voor die ballingskap het die Here vir Israel gesê dat Hy hulle oor die hele aarde sal verstrooi. Maar saam met die verstrooiing het die Here ook beloof dat Hy hulle sou beskerm en 'n oorblyfsel terug sou bring na die beloofde land. Wanneer Petrus die term “vertrooi” / “versprei” gebruik, beklemtoon hy die feit dat alhoewel die gelowiges verstrooi is, hulle nie weerloos en magteloos is nie. Die Here is met hulle. Hy beskerm hulle. Hy dra hulle.
  • Die laaste woord wat Petrus gebruik, is die woord “afgesonder”. “Afgesonder” beteken om een kant gesit te word vir 'n spesifieke doel of taak. In 1 Pet. 1:2 vind ons dat gelowige afgesonder is deur die werk van die Heilige Gees vir twee redes:
    • In die eerste plek “om aan God gehoorsaam te wees”. Ons moet onthou dat gelowiges uit die wêreld gered is, en deel van die koninkryk van God geword het. Waar ons vroeër gehoorsaam was aan die Duiwel, moet ons nou gehoorsaam wees aan Jesus Christus, ons Koning. Dit beteken dat ons hele lewe onder Sy heerskappy moet kom.

    • Maar tweedens is ons afgesonder “om besprinkel te word met die bloed van Christus”. Die besprinkeling met bloed vind ons ook in die Ou Testament. Op die Groot Versoendag is die bloed van die offerlam geneem en op die verbondsvolk en op die lede van die volk gesprinkel. Die simboliek was dat 'n lewe in die plek van 'n lewe gegee is en dat die lewe wat gegee is. Die bloed wat op die verbondsark gesprinkel is, was simbolies van die offer wat deur God aanvaar is om die sonde van die volk voor Hom weg te neem, terwyl die bloed wat op die volkslede gesprinkel is, simbolies was dat hulle van hul sonde gereinig is en weer in die regte verhouding met God staan. Wanneer die apostel Petrus dan sê dat ons met die “bloed van Christus besprinkel is,” sê hy daarmee dat ons deur die verlossingswerk van Jesus Christus afgesonder is om in die regte en herstelde verhouding met God die Vader te staan.

DIE SEËNGROET
Ons hoor dikwels die seëngroet “genade en vrede vir julle,” maar wat beteken dit?

Genade
Die genade wat toegesê word aan die gelowiges is God se krag en Sy bystand in die lewe van Sy kinders. Soos ons in ons verhouding met God groei ervaar ons al hoe meer hoe Hy ons die krag gee om tot Sy eer te lewe en hoe Hy ons ondersteun in tye van nood. Daarom dat gesê word dat die genade “vermenigvuldig” / “oorvloedig” is.

Vrede
Die vrede waarvan hier ter sprake is, is nie 'n wêreldse vrede nie. Dit is nie 'n vrede waar daar 'n afwesigheid van oorlog of stryd is nie. Nee, hierdie vrede gaan baie verder. Dit is 'n vrede waarin daar 'n volmaakte harmonie is. Deur die verlossingswerk van Jesus Christus is die verhouding tussen God en Sy kinders herstel – dit is wat ware vrede is! Ons kan ook in die ervaring van hierdie vrede groei. Soos wat die Gees ons daagliks al hoe meer na die beeld van Christus herstel, ervaar ons die herstelde verhouding met die Vader al hoe beter.

SLOT
Ook ons – gelowiges, Christene, kinders van die Allerhoogste – is geroep om as vreemdelinge te lewe. Deur die verlossingswerk van Christus is ons uit die wêreld gered om burgers van die Koninkryk van die Lig te wees! En ons kan dit ook wees, omdat ons verlossing nie van onsself afhang nie. Ons verlossing staan vas – in die ewigheid het God besluit om ons te red en in die geskiedenis het Hy dit gedoen deur die kruisdood van Sy Seun en werk van die Heilige Gees.

Laat ons dan uit liefde vir God – ons Koning en Verlosser – soos vreemdelinge in hierdie donker wêreld leef. Laat ons daagliks die wapens van die lig opneem onder die leiding en in die krag van die Heilige Gees. Laat ons lewe getuig: Afgesonder vir die diens van die Koning!


[1] In die vroeg-Christelike kerk is daar na Rome verwys deur die naam “Babilon” te gebruik. Babilon was die simbool van alles wat teen God en Sy gesag gestaan het. Ons vind dieselfde gebruik in die Openbaring aan Johannes (vgl. Open. 18).