Sunday 28 December 2014

Die Messias sal gou as Oorwinnaar kom (Ps. 110) [3]

INLEIDING
Die “Jesus” wat baie mense aanbid, is 'n “Jesus” wat vreemd is aan die Bybel. Dit is 'n “Jesus” wat eensydig uitgebeeld en verkondig word. Dit is 'n “Jesus” oor wie baie sentimenteel gepraat kan word. Dit is 'n “Jesus” wat aangespreek kan word as “Liewe Jesus”. Dit is 'n sagte “Jesus”. 'n Liefdevolle “Jesus”. 'n Vredeliewende “Jesus”.

Ja baie hiervan is waar van Christus. Ja, Sy las is lig en Sy juk sag. Ja, Hy is die uitbeelding van die volmaakte liefde van God. Ja, Hy is die Een wat vrede bring. Maar dit is nie al eienskappe wat Hy besit nie. Mense vergeet – meestal doelbewus en moedswillig – dat hierdie Jesus ook die Heilige is wat sonde haat, dat Hy ook die Koning is wat oor hemel en aarde regeer, dat Hy ook die Regter is wat regverdig sal oordeel.

Dit is juis hierdie waarhede waaraan Ps. 110 ons herinner. Christus is die Koning wat met 'n ystersepter regeer. Hy is die Hoëpriester wat ons met God kom versoen het. Maar hierdie Koning-Priester is ook die Regter wat kom om te oordeel.

In die laaste verse van hierdie psalm, verse 5-7, hoor ons die profesie: Die Messias sal gou as die Oorwinnaar kom! In hierdie laaste drie verse sien ons drie waarhede:
  • Eerstens, dat God die oorwinning aan Christus gee,
  • Tweedens, dat Christus as Oorwinnaar oordeel, en
  • Derdens, dat Christus as Oorwinnaar nie sal talm nie.

GOD GEE DIE OORWINNING AAN CHRISTUS
In vers 5 lees ons: “Die Here gee aan U die oorwinning, Hy verdelg konings …” of soos die ’53-Vertaling dit stel: “Die Here aan U regterhand verbrysel konings”.

Kyk wat is besig om hier te gebeur. In vers 1 is dit die Vader wat vir die Seun sê: “Kom sit aan My regterhand en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.” Maar nou in vers 5 hoor ons: “Die Here (d.w.s. die Vader) aan U (d.w.s. die Seun) regterhand …”.

Die toneel wat vir ons hier uitgebeeld word is in die eerste plek die Vader wat as Koning heers, maar aan die Seun daardie koningskap oordra. Dit is 'n toneel van die troonsaal, met die Grote Koning op die koningstroon en langs Hom Sy Seun aan Sy regterhand.

Maar in vers 5 verander die toneel. Hier is dit die Seun, die Prins, wat gereed staan vir oorlog. Hy is geklee vir die stryd. In Sy regterhand hou Hy Sy swaard waarmee Hy Sy vyande sal verower.

M.a.w. nie net is die Vader die Koning wat Sy koningskap aan Sy Seun oordra nie, maar Hy is as’t ware ook die swaard in die hand van Sy Seun waarmee Hy die vyande van die Seun verdelg. Want ons lees: “… Hy verdelg konings die dag as Hy Sy toorn laat losbreek” (Ps. 110:5). Dit is dus die Vader wat die oorwinning aan Sy Seun sal gee.

Maar nie net sal Hy die oorwinning aan die Seun gee nie, Hy sal ook deur die Seun die oordeel voltrek, want Christus sal as Oorwinnaar oordeel.

CHRISTUS OORDEEL AS OORWINNAAR
In vers 6 lees ons: “Hy straf die nasies, Hy verdelg hulle leiers, Hy laat die wêreld vol lyke lê.” In die Hebreeus word daar in die tweede frase van 'n enkelvoud en nie 'n meervoud nie, gebruik gemaak: “Hy straf die nasies, Hy verbrysel die hoof van die lande, Hy laat die wêreld vol lyke lê.

Die toneel wat hier voor ons afspeel is 'n wêreld verenig onder die leiding van 'n enkele figuur. Blaai ons na Op. 19 dan sien ons 'n verduideliking en uitbreiding van wat in Ps. 110:6 vir ons uitgebeeld word. In Op. 19:11-21 sien ons hoe Christus, die Ruiter op die wit perd, voor die hemelse leërmag uitry gereed om te oordeel (Op. 19:14-16). Op die aarde sien ons hoe al die konings van die aarde bymekaar kom onder die leiding van die dier uit die see, simbolies van die anti-christelike wêreldmag onder die beheer van die finale Antichris (Op. 19:19). Maar wat ons sien is nie 'n oorlog nie. Nee, ons sien 'n slagting, want die swaard gaan uit Christus se mond en daarmee neem Hy die dier en die valse profeet gevange en verdelg Hy die mense van die aarde wat teen Hom in opstand gekom het (Op. 19:15, 20-21).

Dit is wat hier in Ps. 110:6 beskryf word. Christus kom as die Oorwinnaar en Hy kom om te oordeel. Op die dag van Sy wederkoms sal Hy die finale nekslag toedien en die kop van die Slang vermorsel, Hy sal die finale Antichris verslaan deur die Woord van Sy mag en Hy sal dié wat teen Hom in opstand gekom het, almal wat Hom verwerp het en nie in Hom geglo het nie, met die heilige en regverdige oordeel van God tref. Op dié dag sal niemand kan vlug nie – ja, baie sal probeer, maar dit sal nie slag nie. Almal sal voor die regterstoel van Christus geroep word: groot en klein, jonk en oud, ryk en arm, mans en vroue (Op. 20:12-13). En daar sal Christus Sy oordeel uitspreek: vryspraak vir dié wat in Hom geglo het, verderf vir dié wat Hom verwerp het.

Sien u dat die Christus van die Bybel meer is as 'n sentimentele Jesus. Besef u dat Hy die Verlosser – maar ook die Regter is?! Vir die gelowige is Hy die Goeie Herder wat Sy skape lei na groen weivelde en hulle rus gee (Ps. 23:1-2). Maar vir die ongelowige is Hy Iemand om te vrees, die swaard in die hand van die Heilige God (Op. 6:16-17). Dit is die Jesus van die Bybel! Dit is die Messias wat deur die profete van die Ou Testament aangekondig is! Dit is die Christus wat gekom het om ons te verlos en weer sal kom ons te oordeel. Wie in enige ander Jesus glo as dié Jesus, glo ter vergeefs. Wie aan enige ander Evangelie vashou as dié, se hoop is nutteloos. Wie enige ander Christus verkondig as hierdie Christus, verkondig 'n valse christus en staan onder die vloek van die Here (Gal. 1:6-9).

Dit bring ons by die laaste waarheid van hierdie psalm, dié waarheid dat Christus gou sal kom – Hy sal nie talm nie.

CHRISTUS SAL AS OORWINNAAR NIE TALM NIE
In vers 7 lees ons: “Die Koning drink water uit die stroom langs die pad, Hy sal die oorwinning behaal.”

Die toneel hier is dié van 'n koning wat haastig na die slagveld op pad is. Hy het nie tyd om rustig in die skaduwee te gaan sit en eers kragte te herwin nie. Daar is nie tyd om onder die tent te sit sodat sy bediendes eers kos en drinkgoed kan voorberei nie. Nee, hy is doelgerig op pad om sy vyande te gaan verslaan.

So is Christus ook haastig op pad. Hy is gereed om die oordeel te voltrek. Sy perd is opgesaal. Sy swaard is in Sy skede. Sy kroon is op Sy hoof. Nou wag Hy net vir die Vader se bevel en dan sal die oordeel aanbreek.

Maar nou sal mense vra: “As dit so is dat Christus haastig is om te kom, waarom dan vat dit so lank? Waarom kom Hy dan nie en maak 'n einde aan hierdie wêreld vol pyn en hartseer nie?

Op hierdie vrae moet ons twee antwoorde gee:
  • In die eerste plek, moenie jou tydsbegrip met God se tydsberip verwar nie. Moenie dink omdat 80 jaar vir jou lank voel, dit vir God lank is nie. God is die ewige en vir Hom is 'n dag soos 'n duisend jaar en 'n duisend jaar soos een dag (2 Pet. 3:8), want in die ewigheid bestaan daar nie tyd nie.
  • Maar in die tweede plek moet ons ook antwoord dat die rede waarom die wederkoms nog nie plaasgevind het nie, 'n bewys van God se genade is. Christus het in die Profetiese Rede in Matt. 24:14 gesê: “… hierdie Evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.” Dus, waarom het die einde nog nie aangebreek nie. Die rede: Die Evangelie het nog nie sy volle loop geneem nie en daarom het al die uitverkorenes van God nog nie tot bekering gekom nie. Maar wees daarvan seker wanneer die laaste uitverkorene tot bekering gekom het en so die laaste gerf in die skuur van die hemele ingebring is, dan sal Christus in mag en heerlikheid verskyn.

Laat ons dan nie opstandig word oor die feit dat die einde nog nie aangebreek het nie. Nee, laat ons luister na die Woord van die Here deur die apostel Petrus in 2 Pet. 3:15: “En beskou die geduld wat ons Here met ons het as 'n geleentheid om gered te word …

SLOT
Hierdie psalm is 'n troos vir elkeen wat ter wille van Christus vervolg word en lyding verduur – ongeag watter vorm dit mag aanneem. Dit is 'n psalm wat bemoedig en ons oë oplig na die hemele van waar ons Christus ons Koning-Priester verwag. Dit is 'n psalm wat ons laat bid: “Laat u koninkryk kom!” Hoe wonderlik is hierdie psalm – dit is salf vir wonde, lig in die duisternis, 'n fontein in 'n dorre woestyn.

Maar hierdie psalm is ook 'n angswekkende psalm vir elkeen wat nie glo nie. Vir hulle is dit die aankondiging van hul oordeel, die swaard wat dodelik wond en die vuur wat verteer.

In hierdie psalm word Christus vir ons voorgehou as die almagtige Koning wat regeer, die ewige Hoëpriester wat vir ons intree en die regverdige Regter wat spoedig sal kom om as Oorwinnaar te oordeel. Geseënd is ons as hierdie Koning-Priester-Regter ons Verlosser en Hoop is. Amen.

Sunday 21 December 2014

Christus ons Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (Ps. 110) [2]

INLEIDING
Dit is die jaar 2090 v.C. Die oggendson hang laag oor die vlaktes van Kanaän, maar die nag wat verby is, is met bloed geskryf. Oor die Koningsvlakte naby Salem kom 'n figuur op die horison aangestap. Dit is Abram en saam met hom is 318 van sy slawe. Hulle het die vorige nag vir Lot en sy mense uit die mag van Kanaänitiese konings bevry.

Maar die oggendson begroet ook 'n tweede figuur – 'n koning: Melgisedek. Hy is koning van Salem en “priester van God die Allerhoogste” (Gen. 14:18). Hy bring vir Abram en sy mense brood en wyn.

Wanneer Melgisedek en Abram voor mekaar te stane kom, is dit Melgisedek wat eerste praat, en met sy woorde seën hy Abram: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” (Gen. 14:19-20). Van wat Abram gesê het, weet ons niks, maar sy dade spreek hier boekdele: Abram het vir Melgisedek 'n “tiende van alles gegee” (Gen. 14:20).

Dit is dit somtotaal van wat die geskiedenis ons oor Melgisedek leer. En tog speel hierdie man 'n besondere rol in die Woord van die Here. So groot is die rol en betekenis van hierdie man, dat die persoon en werk van die Messias met verwysing na Melgisedek vir ons voorgehou en verduidelik word. Want daar staan in Ps. 110:4 geskrywe: “Die Here het 'n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek’”. Wat beteken dit dat die Messias, Jesus Christus, Priester is “in die priesterorde van Melgisedek”?

Voor ons hierdie vraag kan antwoord, moet ons eers na die persoon en werk van Melgisedek kyk. Eers dan sal ons kan sien hoe hierdie man – en die psalm – heenwys na Christus.

MELGISEDEK – PRIESTER VAN SALEM
Kom ons begin deur na Melgisedek self te kyk. Die naam “Melgisedek” beteken “koning van geregtigheid”. Van hom word twee dinge gesê:
  • In die eerste plek, hy was koning van die stad “Salem”. “Salem” is die stad wat later “Jerusalem” sou word. Vanuit hierdie stad het Melgisedek as koning regeer.
  • In die tweede plek was hy ook 'n priester. In Gen. 14:18 lees ons dat hy “priester van God die Allerhoogste” genoem word. Dit beteken dat hy die ware God geken en aanbid het en ook gesorg dat die oor wie hy regeer ook die ware God ken en aanbid.

Van Melgisedek skryf die Hebreërskrywer in Hebr. 7:4 dat hy 'n man van groot aansien was. Hy gaan dan gaan verder en verduidelik aan die hand van verskillende sake Melgisedek se grootheid. Om twee van hierdie sake uit te lig: Melgisedek was groot t.o.v. sy ampte en in besonder sy amp as priester.

Melgisedek se ampte
In die eerste plek het Melgisedek 'n belangrike posisie ingeneem t.o.v. sy ampte. Ons lees dat Melgisedek beide 'n koning én 'n priester was. Kyk ons na die konings wat later in Israel regeer het, sien ons dat geen koning beide die ampte van koning en priester beoefen het nie. Om die waarheid te sê, waar 'n koning die regte en pligte van 'n priester wou oorneem, het die Here daardie koning gestraf.

Dink bv. aan koning Saul wat, toe Samuel te lank na sy sin gedraai het, self die offer gebring het (1 Sam. 13:8-10). As gevolg hiervan moes Saul hoor: “Jy het dwaas gehandel. As jy mar die bevel van die Here jou God wat Hy jou gegee het, nagekom het! Waarlik, dan sou die Here nou jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom 'n man na Sy hart soek. Die Here sal hom aanstel as regeerder oor Sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie.” (1 Sam. 13:13-14).

In hierdie opsig was Melgisedek anders. Hy was beide koning én priester. In die woorde van Spurgeon: “hy was die volk se verteenwoordiger by God en God se verteenwoordiger by die volk.

Melgisedek as priester
Nie net het Melgisedek 'n belangrike posisie ingeneem t.o.v. sy ampte nie, maar in die besonder ook in sy amp as priester.

Melgisedek is die eerste priester waarvan ons in die Bybel lees. Voor Gen. 14:18 is daar geen enkele verwysing na enige iemand wat die titel van priester dra nie. Dit laat ons die logiese vraag vra: Waar kom sy priesterskap vandaan? Hoe is dit dat hy 'n priester geword het? Oor die antwoorde van hierdie vrae swyg die Skrif. En juis dit maak hom so besonder. Die Hebreërskrywer skryf in Hebr. 7:3 dat niks omtrent sy vader of moeder of afstamming bekend is nie en ook niks oor die res van sy lewe of sy dood nie.

Sy priesterskap is dus uniek in die sin dat hy dit nie deur die geboortereg ontvang het nie. Hierin het die latere Levitiese priesters van Israel van Melgisedek verskil. Alle priesters van Israel het uit die nageslag van Levi, die seun van Jakob, gekom. Maar in die geval van Melgisedek lees ons nerens dat hy lid was van 'n priesterlike lyn nie.

Verder is sy priesterskap uniek in die sin dat dit nie aan iemand anders oorgedra was nie. Ons lees nerens dat Melgisedek kinders gehad het wat die priesterskap by hom kon oorneem nie.

Anders gestel: Melgisedek se priesterskap is uniek aan die Skrif deurdat hy geen voorgangers gehad het by wie hy sy amp kon erf nie en ook geen opvolgers aan wie hy sy amp kon oordra nie.

Dus, as priester-koning het Melgisedek 'n besondere posisie ingeneem. Juis hierin het hy in sy persoon en ampswerk vooruit gewys na die Een wat as die volmaakte Priester-Koning, die volmaakte Koning van geregtigheid wat vrede sou bring.

Dit bring ons by Ps. 110:4 en Christus.

CHRISTUS – ONS VOLMAAKTE HOËPRIESTER
Nadat Dawid onder die inspirasie van die Heilige Gees na die Messias verwys het as die volmaakte Koning wat sou kom regeer (Ps. 110:1-3), gaan hy verder in vers 4 en wys ook na Christus as die volmaakte Hoëpriester wat sou kom.

Die Messias word aangewys as die Een wat vir “altyd priester [sal] wees in die priesterorde van Melgisedek” (Ps. 110:4). In die lig van die persoon en werk van Melgisedek beteken dit die volgende:
  • In die eerste plek, Christus sal soos Melgisedek beide Koning wees wat regeer én Hoëpriester wees wat Middelaar tussen God en mens is (1 Tim. 2:5). As ons volmaakte en ewige Hoëpriester het Christus die volmaakte offers – sy eie bloed – vir ons sonde gebring en ons los gekoop van die oordeel wat ons verdien het. Aan die kruis op Golgota het Christus tussen God en die mens kom staan: van die mens se kant het Hy die sonde op Hom geneem en van God se kant af die heilige toorn op daardie sonde gedra. So het Hy as Hoëpriester selfs Melgisedek oortref, want Melgisedek het wel offers namens die volk gebring, maar hy kon nooit homself as daardie offer aanbied nie. Maar Christus is beide die Hoëpriester wat vir ons intree en die Offerlam deur wie se bloed ons verlos word en kinders van God word.
  • In die tweede plek het Christus soos Melgisedek nie Sy priesterskap ontvang d.m.v. geboorte nie, maar deur aanstelling. Christus is as mens op aarde nie uit die stam van Levi nie, maar uit die stam van Juda, gebore. Daarom kon Hy slegs op een manier Priester word en dit is deurdat God self Hom aanstel. Dit is van hierdie aanstelling wat ons lees in Ps. 110:4!

Maar dit bring ons by 'n element waarin Christus se Hoëpriesterskap selfs bo dié van Melgisedek uitstyg. In die eerste deel van vers 4 lees ons: “Die Here het 'n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie …”. Nerens lees ons dat enige priester ooit die amp van priester ontvang het deurdat dit aan hom deur God met 'n eed beloof is nie. Die naaste wat ons hieraan kom is die teken van toewyding aan die Here waar daar olie oor die priester se kop uitgegiet word as teken dat hy aan die Here behoort (Lev. 21:12) – maar daar is geen sprake van 'n eed nie.

Dis anders by die aanstelling van Christus as Hoëpriester. Hier lê die Vader 'n onherroeplike eed af waarin die Seun as die Hoëpriester van die kinders van God aangestel word (vgl. Hebr. 5:5-10).

Hier moet ons let op die finaliteit en afgeslotenheid van hierdie aanstelling, want vers 4 staan nie los van vers 1-3 of 5-7 nie. Net die Seun kan as Hoëpriester aangestel word, omdat net die Seun waarlik God en waarlik mens is wat deur die Vader as Koning en Regter aangewys is. Omdat daar niemand anders is wat aan die vereistes beantwoord nie, kan niemand anders as Hoëpriester Christus se plek in neem nie. En sonder Christus as Hoëpriester en Middelaar is daar geen toegang tot die Vader nie.

SLOT
Broers en susters in Christus, die Messias waarvan Ps. 110 getuig is die Koning van hemel en aarde, ons Verlosser en Hoëpriester. Maar Hy is nie soos 'n menslike priester wat beperk is in mag of meelewing nie. Nee, ons Hoëpriester is Een wat waarlik medelye met ons kan hê, omdat Hy in Sy menslike natuur ook aan swakheid en versoekings onderwerp is (Hebr. 4:14-15). Hy ken jou pyn. Hy ken jou worsteling. Hy ken jou hartseer. En as jou Hoëpriester nooi Hy jou uit in Sy woord: Kom met vrymoedigheid na die genadetroon (Hebr. 4:16). Voel jy of jy vergaan onder jou sonde – by Christus is verlossing. Voel jy of jou kragte ingee en te min is – by Christus vind jy versterking. Voel dit ons die magte van die Bose en versoekings te sterk is – by Christus is oorwinning.

Luister dan na die Woord van die Here:

Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Hebr. 4:14-16)

Sunday 14 December 2014

Voor die koningskap van Christus sal die nasies buig (Ps. 110) [1]

INLEIDING
As jy sou probeer om die volle raadsplan van God saam te vat in 'n paar sinne, sou Ps. 110 beslis daardie opsomming wees. Soos wat die 10 Gebooie die wil van God vir die lewe van 'n gelowige opsom, so som Ps. 110 die boodskap van die ganse Skrif op. Dit is die mees kernagtige samevatting van die geloof, want daarin hoor ons van Christus se vernedering, verhoging, en koningskap; ons vind verwysings na die gemeenskap van die gelowiges en die geestelike stryd; ons hoor die aankondigings van die finale oordeel en die oorwinning oor die Satan.

So wesentlik is die inhoud van hierdie psalm vir die Christelike geloof, dat dit meer as enige ander psalm deur die skrywers van die Nuwe Testament aangehaal word. Daar is nie minder as 25 direkte aanhalings van en verwysings na Ps. 110 in die Nuwe Testament nie. Dit word aangehaal deur:
  • Christus in sy gesprekke met die fariseërs (Matt. 22:44 en ooreenkomstige plekke) en tydens Sy verhoor voor Kajafas (Matt. 26:64 en ooreenkomstige plekke),
  • Petrus op Pinksterdag (Hand. 2:34-35),
  • Paulus in vier van sy briewe (Rom. 8:34; 1 Kor. 15:25; Ef. 1:20 en Kol. 3:1)
  • En uiteindelik ook deur die skrywer van die Hebreërbrief wat nie minder as 10 keer hier psalm aanhaal en/of  daarna verwys nie (Hebr. 1:3; 5:6, 10; 6:20; 7:3, 17, 21; 8:1; 10:12-13; 12:2).

In die psalmboek neem Ps. 110 ook 'n unieke plek in. Dit is die enigste psalm van al die psalms wat uitsluitlik na die Christus verwys. Hierdie is dus 'n profetiese psalm wat die koms van die Messias aankondig en Hom aan ons voorhou as die Koning, Priester en Oorwinnaar. Vanoggend staan ons by vers 1-3 stil. In hierdie eerste drie verse van die psalm word:
  • Die goddelike en menslike natuur van die Messias beklemtoon,
  • As ook Sy koningskap
  • En die feit dat die nasies voor Hom sal buig.

DIE GODDELIKE EN MENSLIKE NATUUR VAN CHRISTUS
Ps. 110 is 'n psalm van koning Dawid. Tog skryf Dawid in vers 1, onder die inspirasie van die Heilige Gees: “Die Here het vir my Heer die Koning gesê: ‘Kom sit aan My regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp’.

In Christus se gesprekke met die fariseërs haal Hy hierdie psalm aan. In Matt. 22:42 vra Christus vir die fariseërs wie se seun die Christus is. Die antwoord wat hulle gee is: “Dawid s'n”. Met ander woorde, die Christus kom uit die nageslag van Dawid. Hierin is hulle reg. In Jes. 9:6 word gesê dat die Messias op die “troon van Dawid” sal sit volgens die belofte van die Here aan Dawid in 2 Sam. 7:16: “Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

Maar dis Christus se tweede vraag wat die fariseërs laat steier, want Christus vra in Matt. 22:43 en 45: “Waarom noem Dawid Hom dan ‘Here’?” Hier verwys Christus na Ps. 110:1. Wat Christus vir ons hier uitwys is dat Dawid, as koning van Israel, was die hoogste menslike gesag was. Nog meer, as koning van 'n Teokrasie – d.w.s. van 'n regering waar God deur die koning regeer – was daar geen groter gesag bo die koning, behalwe God self nie. Dus, as Dawid in Ps. 110:1 sê: “Die Here het vir my Heer die Koning gesê…”, verwys hy na iemand wat groter gesag het as hyself. Maar daar is niemand anders wat groter gesag as hy het nie, behalwe God. Dus, hy praat nie van homself of enige ander aardse koning nie. Hy praat van die Messias, die Christus, wat bo hom as aardse koning verhewe is en gelyk is aan God.

So kondig Dawid onder die inspirasie van die Heilige Gees aan dat die Messias uit die nageslag van Dawid sou kom, maar terselfdertyd ook gelyk aan God wees. Of anders gestel, die Messias sal waarlik mens wees én waarlik God. Daar is net Een wat aan hierdie vereistes kon voldoen, nl. Jesus. Want so staan daar in Rom. 1:3-4 geskrywe: “… As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van Sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.

Dit is dan ook na Sy verheerliking en troonsbestyging waarna Ps. 110:1 verwys wanneer Dawid profeteer: “Kom sit aan My regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.”

CHRISTUS SE KONINGSKAP
Om aan iemand se regterhand te wees, is 'n posisie van eer te hê. In 'n koninkryk is daar geen hoër posisie van eer as aan die regterhand van die koning nie. Dit is 'n posisie wat getuig dat die persoon die vertroue van die koning het – soveel so dat as iets met die koning sou gebeur, die een aan die regterhand van die koning die verantwoordelikhede van die koning sou oorneem.

Daarom beklemtoon die opdrag “Kom sit aan My regterhand” Christus se reg en volmag om as mede-Koning saam met die Vader te regeer en te heers. Wanneer sou dit gebeur? Kyk ons na hierdie opdrag van uit die hoekpunt van die Nuwe Testament, sien ons dat die Vader die koningskap en die regering oor die skepping aan die Seun oordra na Sy kruisdood, opstanding en hemelvaart.

Juis hierdie feit verduidelik Christus aan die reisigers na Emmaus na Sy opstanding in Luk. 24:25-26 wanneer Hy vir hulle sê: “Wat 'n gebrek aan begrip en 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in Sy heerlikheid in te gaan nie?” En voor Sy hemelvaart verklaar Christus: “… Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt. 28:18).

Christus se koningskap en regering verskil radikaal van dié van aardse konings. In 'n aardse koninkryk is die volgorde: 'n gebied word verower deur 'n persoon – nadat die gebied verower is gaan sit hy om te regeer. Maar by Christus is dit andersom: aan Hom word gesê om te sit en te regeer terwyl sy vyande nog oorwin word, want vers 1 sê: “… sit … en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp” en weer in vers 2: “… heers dan oor U vyande” – letterlik “heers te midde van U vyande”.

Dus, Christus is gekroon met mag en heerlikheid. Dit het gebeur by Sy opstanding uit die dood en hemelvaart. Maar Sy koninkryk brei daagliks uit. Dag na dag word Sy vyande deur die Vader aan Hom onderwerp. Soos daar in 1 Kor. 15:25 geskrywe staan: “Hy moet as Koning heers totdat die Vader al Sy vyande aan Hom onderwerp het.”

Voor ons verder gaan, kom ons dink net vir 'n oomblik na oor wat ons hier hoor en wat hier in vers 1 besig is om te gebeur. Deur 'n openbaring van die Gees word Dawid – en ons wat hierdie psalm lees – 'n oomblik gegee waarin ons toegelaat word om die raadsbesluit tussen die Vader en die Seun voor die skepping van die wêreld te hoor. Sondaars word toegelaat om die heilige grond van die hemelse troonsaal te betree en te hoor hoe die Vader en Seun ooreenkom oor hoe mense verlos sal word en burgers van die hemelse koninkryk sal word. Wat 'n voorreg!

DIE NASIES SAL BUIG
Maar laat ons verder gaan en die vraag vra: Hoe onderwerp die Vader die vyande van Christus? Hy doen dit op een van twee maniere.

In die eerste plek doen Hy dit deur die vyande van Christus, volgelinge van Christus te maak. In vers 3 word daar na 'n volk wat gereed staan voor Christus verwys. Wie is hulle en waar kom hulle vandaan? Dit is die gelowiges – hulle wat uit die koninkryk van die duisternis bevry is en burgers geword het van die koninkryk van die lig. In die woorde van die apostel Paulus in Rom. 5:10: “Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van die Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van Sy Seun gered sal word.” Wanneer iemand tot geloof kom, buig hy die knie onder die heerskappy van Christus. Hy onderwerp hom aan Christus se gesag oor sy lewe en hy stel hom bereid tot dienswerk in die koninkryk van God. Dit is immers wat dit beteken om te bid: “laat U koninkryk kom…” (Matt. 6:10). So word vyande dan burgers, rebelle dan onderdane, opstandiges dan onderwerptes.

Maar in die twee plek onderwerp die Vader die vyande van Christus ook deur dwang. Aan die einde van vers 3 en ook in vers 5-6 lees ons van oorlog. Hierdie oorlog het slegs een uiteinde, nl. dat elke knie buig en elke tong bely dat Jesus Christus die Here is tot eer van God die Vader (Fil. 2:13). Vandag is daar baie wat nie die Naam van Christus bely nie, baie wat Sy koningskap verwerp en onder die heerskappy van die Bose lewe. So was dit en so sal dit wees tot by die wederkoms van Christus. Dan sal almal voor die troon van Christus moet verskyn. Op daardie dag sal die vyande van Christus die knie moet buig en hoor: “Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is” (Matt. 25:41).

SLOT
In Ps. 2:1-3 hoor ons die aankondiging: Die Messias kom en voor Hom sal die nasies buig! Die vraag is: Het jy al die knie voor Christus gebuig en Hom as jou enigste Verlosser en Koning bely?

Voor die bestaan van ruimte en tyd,
het God Drie-Enig reeds besluit
om die Seun na ons te stuur.

Hy gebore in die volheid van die tyd,
Hy – Seun van Dawid – sal na stryd
as Koning langs die Vader heers.

Hy sal Sy septer uitstrek,
só Sy volk na Hom toe trek
en voor Hom sal hul buig.

O, Seun van Dawid en van God,
U kom deel hier in ons lot
en versoen ons met die Vader.

Laat kom dan U koninkryk met mag,
laat elke mens onder U gesag
die knie buig voor U as Koning.

Sunday 7 December 2014

Die volke sal kniel voor die Leeu uit die stam van Juda (Gen. 49:8-12)

INLEIDING
Dink vir jouself die volgende toneel in. Jy is in die bosveld. Die takkies van die bome en die grasse van die veld ritsel saggies in die middagwindjie. Skielik word die stilte van die bosveld gebreek deur die gebrul van leeus. Daar, in die grasveld, staan twee leeu mannetjies gereed vir die geveg. Hul gegrom en gebrul laat die aarde onder jou voete bewe en die stof dans om hulle in die middagson wanneer hul mekaar die geveg aansê. Hul geveg is nie 'n spelletjie nie – dis 'n kragmeting. 'n Kragmeting waarvan slegs een as die oorwinnaar sal wegstap.

Dit Bybel vertel ons ook van twee leeus wat in 'n kragmeting is:
  • Aan die een kant is daar die Leeu uit die stam van Juda, Christus die Oorwinnaar (Op. 5:5).
  • Aan die ander kant is daar die leeu van die aarde, die Satan, wat brullend soek na iemand om te verslind (1 Pet. 5:8).

Met die verloop van die eeue hoor ons keer op keer die gebrul van hierdie leeus. Die eerste gebrul het ons al in die Tuin van Eden gehoor waar die geveg om die lewe van die mens begin is. En telkens sien ons hoe die brullende en verskeurende leeu die onderspit delf in sy geveg met die Leeu uit die stam van Juda.

In Gen. 49:8-12 lees ons die laaste van drie beloftes wat oor die koms van die Verlosser handel.
  • In Gen. 3:15 het ons die eerste belofte gehoor: Die Verlosser sal kom om verlossing te bring.
  • In Gen. 12:3 hoor ons die tweede belofte: Hierdie verlossing sal uitkring na al die nasies.
  • En hier in Gen. 49:10 lees ons die derde belofte: Die Verlosser wat kom sal heers oor die volke van die aarde.

Hierdie Verlosser sou egter nie net uit die bloute verskyn nie. Nee, Hy sou gebore word uit die nageslag van 'n spesifieke man, nl. Juda, die seun van Jakob, die seun van Isak, die seun van Abraham. Voor hierdie Verlosser, hierdie Leeu uit die stam van Juda, sal die volke kniel. Dit is die seën wat Juda hoor.

Die seën wat oor Juda uitgespreek word, kan ons in drie dele indeel:
  • Deel 1: Die koningshuis van Juda.
  • Deel 2: Die koms van Silo, dié Leeu uit die stam van Juda.
  • Deel 3: Die heerskappy van Silo.

DIE KONINGSHUIS VAN JUDA
Jakob lê op sterwe. Vir 'n laaste keer roep hy sy seuns bymekaar. Die seuns verwag dat hul vader hulle gaan seën. Maar wat gebeur. Die oudste, Ruben, hoor hoe hy nie meer die vernaamste sal wees nie, omdat hy met een van sy pa se vroue gemeenskap gehad het (Gen. 49:3-4). Simeon en Levi, die tweede en derde oudste seuns, hoor soortgelyk hoe hulle die straf van God sal ervaar oor hul geweld (Gen. 49:5-7).

Volgende op die lys is Juda. Wat sal hy van sy pa hoor? Sy lewe was self vol sonde. Dit was Juda wat voorgestel het dat Josef as slaaf verkoop moet word (Gen. 37:26). Dit was Juda wat met Tamar, sy skoondogter, gemeenskap gehad het (Gen. 38:15-18). Watter vervloekinge sal hy nie moet hoor nie?!

Maar in die plek van vervloeking, hoor Juda seëning. Dit is uit die nageslag van Juda wat die leiers van die Israeliete sou kom: “Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer: jy sal jou vyande onderwerp en jou broers sal voor jou buig” (Gen. 49:8). Om hierdie belofte te bevestig vergelyk Jakob sy seun met 'n leeu wat jag en sy prooi vang en niemand durf om dit by hom weg te vat nie (Gen. 49:9).

Kyk ons na die geskiedenis dan sien ons ook hierdie belofte in vervulling gaan. Dink vir 'n oomblik aan die konings van Israel. Uit wie se nageslag was koning Dawid? Dawid was uit die nageslag van Juda (1 Kron. 2:15). En na Dawid was daar tot en met die ballingskap konings uit die nageslag van Juda op die troon in Jerusalem.

So hoor ons dan die eerste belofte aan Juda: Uit jou sal konings kom!

DIE KOMS VAN SILO, DIE LEEU UIT DIE STAM VAN JUDA
Hierdie konings sou egter net voorlopers wees van 'n finale Koning wat sou kom: “Jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer totdat Silo kom, die Heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp” (Gen. 49:10).

Die geskiedenis was besig om na 'n hoogtepunt te beweeg. In hierdie geskiedenis sou daar konings wees wat soos die golwe van die see die een op die ander sou volg. Sommige sou groot golwe wees – manne wat God gedien en geëer het. Ander sou kleiner golfies wees – manne wat dinge gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here. Maar al hierdie golwe – groot en klein – sou verdwerg word met die koms van Silo – die groot Koning wie se heerskappy die strand van hierdie wêreld geskiedenis soos 'n tsunami sou tref.

Géén koning van Israel kon ooit sê dat al die volke van die aarde hul aan hom onderwerp het nie. Selfs nie eers in die tyd van die groot konings van Israel soos Dawid en Salomo nie. Ja, die breek van hierdie koninklike branders op die strand van die wêreld geskiedenis sou indrukwekkend wees, maar dit sou grense hê. Maar die heerskappy van Silo sou anders wees. Wanneer die tsunami van Sy heerskappy sou tref, sou daar geen keer daaraan wees nie. Niks sou dit kon terughou nie. Niks sou daarvoor kon vlug nie. Niks sou daarvoor staande kon bly nie.

Wie is hierdie Silo waarvan Jakob praat? Silo is niemand anders as die Messias nie – Jesus Christus. Christus is die hoogtepunt van Juda se nageslag. In Christus het die koningshuis van Juda sy volkome mag bereik, want Christus se mag is nie net tot die land Israel beperk nie, maar die ganse aarde is onder Sy heerskappy. Nog meer, nie net die aarde nie, maar ook die hemele is aan Hom onderwerp. Hy het immers verklaar: “… Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt. 28:18).

Wanneer hierdie Leeu uit Juda sy magtige, koninklik stem laat hoor, sal ons nie bewe en voor Hom kniel nie? Sal ons nie dan ook soos die profeet Amos uitroep: “Die Leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie? Die Here het gepraat, wie sal nie as profeet optree nie?” (Am. 3:8)

Hierdie Koning van die konings, die Heerser van die heersers, die finale Leeu uit die stam van Juda is die Een wat nie net die verlossing bring nie, maar Hy is ook die Een voor wie elke knieg sal buig. Deur die eeue heen sien ons die koningskap van Christus deurbreek – soms soos 'n deurdringende reën en soms soos 'n magtige wolkbreuk. Maar dag by dag groei Sy koninkryk hier op aarde. Maar die groei van die koninkryk op aarde is nog niks in vergelyking met die dag wat die ganse aarde – hulle wat in Hom glo en hulle wat Hom verwerp het – voor Hom die knieg sal buig nie. Ja, in hierdie geskiedenis is die water besig om terug te trek – die teken van 'n golf wat kom – en in die verte sien ons die kruin van Christus se koningsheerskappy.

So hoor ons dan die tweede belofte aan Juda: Nie net konings nie, maar dié Messias-Koning sal uit jou kom.

DIE HEERSKAPPY VAN SILO
In vers 11-12 word ons 'n voorskou gegee van hoe die koninkryk van Silo sal lyk. Dit word vir ons uitgebeeld in 'n paar beelde / metafore: “Hy maak Sy rydier vas aan 'n wingerdstok, Sy donkie aan die beste wingerdstok. Sy klere is so rooi soos wyn, Sy koningskleed so rooi soos druiwesap. Sy oë is donkerder as wyn, Sy tande witter as melk.”

Oor die betekenis van hierdie laaste twee verse is daar verskil. Sommige is van mening dat dit drie vergelykings is wat saam een saak beklemtoon, nl. die oorvloed wat daar in die koninkryk van die Messias sal wees. Alhoewel dit as die oorkoepelende beklemtoning gesien kan word, is ek persoonlik daarvan oortuig dat daar ook meer spesifieke toepassings van hierdie laaste drie beeld is:
  • In die eerste plek beklemtoon die eerste beeld in vers 11 die oorvloed wat daar in die koninkryk sal wees. Dit sal van so aard wees, dat Christus nie bekommerd sal wees dat dit in waarde sal verminder nie. Ons lees dat Hy Sy donkie aan die beste wingerdstok sal vasmaak. Vra enige boer en hy sal waarskynlik vir jou sê dat daar baie beter plekke is om jou donkie vas te maak. Om die waarheid te sê die laaste plek waar jy 'n donkie wil vasmaak is by die beste van oes, want die donkie sal dit begin vreet. Maar in die ryk van die Messias sal daar soveel in oorvloed wees, dat dit nie sal saak maak as die donkie aan een van die beste wingerdstokke kou nie.
  • In die tweede plek word die Messias uitgebeeld as Een wie se klere rooi is soos wyn en druiwesap. Meer letterlik vertaal, lees ons: “Hy was Sy klere in die bloed van druiwe”. Dit kan nie toevallig wees dat daar in vers 10 gesê word dat Hy die volke sal onderwerp en direk daarna na “bloed” verwys nie. Die tweede deel van vers 11 is 'n beeld waardeur Christus uitgebeeld word as die Een wat Sy vyande vertrap. Die beeld van die parskuip en die oordeel word op ander plekke ook gebruik. Byvoorbeeld, in Klaag. 1:15 word gesê dat die Here Juda fyngetrap het in die parskuip en in Joël 3:13 sê die Here: “Hulle sondes is baie: steek die sekel in, want die oes is ryp, kom trap, die parskuip is vol, die wynkuipe loop oor.” Dit is dan ook nie vreemd dat wanneer Christus as Oorwinnaar in Op. 19 uitgebeeld word, dit in soortgelyke taal is nie. Ons lees in Op. 19:13: “Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was …” en wie se bloed is dit? Vers 15 gee die antwoord: “Uit Sy mond het daar 'n skerp swaard uitgekom om die nasies te tref, en Hy sal met 'n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en oordeel van God, die Allerhoogste.
  • In die derde plek word die prag van hierdie Messias-Koning ook uitgebeeld in vers 12. Sy oë is donker en sy tande is wit. Hierdie is beelde wat op prag en krag wys. Die verheerlikte Christus sal die toonbeeld van prag wees, want uit Hom sal die heerlikheid van God straal. So ook sal Hy die vertoning van krag wees, want Hy besit alle mag in die hemel en op die aarde.

Hierdie is dan die Koning van die konings, die Heerser van die heersers en die finale Leeu uit die stam van Juda aan wie se koningsheerskappy geen einde sal wees nie. Hy is die enigste Verlosser, die almagtige Koning en die regverdige Regter.

SLOT
Kersfees is om die draai. Wanneer mense oor Kersfees na dink, dan sien baie 'n weerlose babatjie in 'n krip. Maar hoeveel besef dat hierdie Kindjie, die vervulling van eeue se beloftes is, dat hierdie Kindjie die magtige Leeu uit die stam van Juda is wat gekom het om mense te verlos en die koninkryk van God te vestig.

Die koms van hierdie Kind, hierdie Koning, hierdie Leeu uit die stam van Juda stel elkeen voor 'n keuse: Of jy staan aan die kant van die Leeu uit Juda, die Oorwinnaar, of jy staan aan die kant van die verskeurende leeu van hierdie wêreld? Waar staan jy? Amen.