Sunday 12 April 2015

Wanneer die twyfelaar gelowig word ... (Joh. 20:24-31)

INLEIDING
In Afrikaans het ons baie spreekwoorde en gesegdes wat uit die Bybel kom:
  • Die geduld van Job,
  • Om soos ‘n Judas op te tree,
  • Kain en Abel stryd,
  • Yster slyp yster,
  • Daar is ‘n tyd vir alles ...
  • Slegte geselskap bederf goeie sedes, ens.

Ons het ook die gesegde: “ongelowige Tomas”. Wanneer iemand nie jou wil glo nie, word maklik vir so ‘n persoon gesê dat hy ‘n ongelowige Tomas is. Tog is hierdie spreekwoord nie heeltemal eerlik met die geskiedenis is nie. In Joh. 20:8-9 lees ons dat die ander dissipels ook eers nie geglo het dat Jesus uit die dood opgewek is nie. Almal was ongelowig – nie net Tomas nie.

Tog bring die Here deur Sy genade ook hierdie twyfelaar tot bekering. Hiervan lees ons in Joh. 20:26-28. In hierdie verse sien ons hoe Christus aan die dissipels weer verskyn en ons hoor hoe twyfelaar gelowige bely: “my Here en my God”.

DIE TWYFELENDE TOMAS WORD DIE GELOWIGE TOMAS
Na Christus se opstanding op Paas Sondag het Hy aan verskillende persone verskyn:
  • Hy het aan Maria Magdalena by die graf verskyn (Joh. 20:11-18)
  • Aan twee reisigers op pad na die dorpie Emmaus (Luk. 24:13-35)
  • Aan die dissipels waar hulle agter geslote deure bymekaar was (Joh. 20:19-23) – by hierdie geleentheid was Tomas nie saam met die ander dissipels nie.

Die dissipels het Christus se verskyning egter nie vir hulself gehou nie, maar dit aan Tomas vertel (Joh. 20:25). Maar net soos die vroue op die Paas Sondag teen ‘n muur van ongeloof moes vasloop toe hulle vir die dissipels vertel het dat hulle Christus gesien het, so het die dissipels ook teen die muur van Tomas se ongeloof vasgeloop toe hulle hom van die goeie nuus vertel. Vir Tomas was die storie wat die dissipels vertel het net so onsin, as wat die dissipels gedink het toe die vrou van die leë graf terug gekom het. Ons hoor dit in sy reaksie in Joh. 20:25: “... As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vingers in die merke van die spykers steek en my hand in Sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.

Agt dae later verskyn Christus weer aan die dissipels – en hierdie keer is Tomas ook by. Soos die vorige keer is daar nie ‘n klop aan die deur of ‘n versoek om in te kom nie. Nee, Christus verskyn net tussen hulle met die woorde: “Vrede vir julle” (Joh. 20:19, 26). Dan nooi Christus vir Tomas uit om te kom kyk na die wonde, om sy vingers in die wonde wat die spykers gelaat het te steek en om sy hand in die spieswond in te druk.

Hierdie uitnodiging moes Tomas sonder twyfel geskud het – hoe het hierdie Jesus sy presiese woorde wat hy in sy opgeloof uitgespreek het, geweet? Wie het vir Hom vertel van die eise wat hy gestel het? Hoe het Hy geweet dat hy wat Tomas is, nie die ander geglo het nie?

Met die verskyning van Christus het die waarheid stadig begin deurdring. Waarskynlik het die Heilige Gees hom op daardie oomblik herinner aan al die beloftes van Christus met betrekking tot sy dood en opstanding. Soos ‘n golf wat swel moes die een na die ander belofte op die strand van sy ongeloof afgekom het:
  • Christus het geweet Hy gaan sterf, nog meer Hy het presies geweet hoe Hy gaan sterf (Mark. 10:32-34).
  • Hy het geweet wie Hom sou verraai (Matt. 26:20-25).
  • Hy het geweet dat die dood Hom nie sou kon vashou nie (Luk. 18:33).

Heel waarskynlik het die wonders wat Christus ook by hom opgekom:
  • Die genesing van mense (Mark. 1:34)
  • Die uitdryf van bose geeste (Mark. 1:34)
  • Die vermeerdering van die brode en visse (Mark. 6:35-44, 8:1-10)
  • Die stilmaak van die storms op die See van Galilea (Mark. 4:35-41)

En op daardie oomblik het die Heilige Gees hom uit sy geestelike doodsheid tot die lewe geruk, sodat hy Jesus kon sien vir wie Hy werklik is. Daarom roep Tomas die belydenis uit: “My Here en my God!” (Joh. 20:28).

My Here! Dit wil sê: My Eienaar, my Koning, my Meester! In daardie oomblik het Tomas reg op sy lewe oorgegee in die hande van Christus. Hy het voor Christus as Heerser oor sy lewe gebuig. Maar nog meer, hy het ook erken dat die Jesus wat hier voor hom staan, nie maar net ‘n mens is nie. Nee, hierdie Jesus is ook God!

Besef ons wat hier gebeur? Tomas se siening van Christus in sy ongelowige toestand was ‘n beeld van ‘n man wat gesterf het, begrawe is en op een of ander onverklaarbare manier is Sy liggaam gesteel. Maar wanneer hierdie Jesus, die Lewende Christus, voor Tomas kom staan en hy met die waarheid gekonfronteer word, dan is daar net een reaksie – ‘n heilige eerbied wat hom dring om Jesus as Here en God oor sy lewe te bely. Dit is wat gebeur wanneer die twyfelaar gelowig word: Hy word gekonfronteer met die ware Jesus en alle sprake van eie wees met Hom, enige menslike beeld wat daar van Hom in die gedagtes opgekom het, elke minderwaardige aanspreekvorm – alles, alles, verdwyn en word gevul met ‘n heilige eerbied en ontsag vir die Een voor wie ons staan.
Daar is baie vandag wat met Christus en oor Christus praat asof hierdie Lewende en Verheerlikte Here maar net ‘n mens is. ‘n Onheilge disrepek het posgevat onder baie wat bely dat hulle gelowiges is. Baie laster in hulle aanspreekvorme – en dit onder die vaandel van “kinderlike vertrou”.
  • As Christus se halfbroers, Jakobus en Judas, Hom na Sy opstanding nie as “boetie” aanspreek nie, maar hulself dienaars van Jesus Christus noem (Jak. 1:1, Jud. :1), wat durf ons om Hom op so ‘n wyse aanroep.
  • As Johannes, die apostel vir wie Jesus lief was, op Patmos soos ‘n dooie neergeval het toe hy die verheerlikte Christus gesien het, wat durf ons eie wees met Hom (Op. 1:17-18)! 

Waar is die heilige eerbied en ontsag vir die Here? Die Here moet weer soos vir die Israeliete in die tyd van Maleagi sê: “’n Seun eer sy vader en ‘n slaaf sy eienaar. As Ek dan Vader is, waar is die eer wat My toekom? En as Ek Here is, waar is die eerbied vir My dan? ...” (Mal. 1:6)

DIE ONGELOWIGE TOMAS VAN 2015
Op Tomas se belydenis, reageer Christus met die woorde: “... Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.

Tomas moes geglo het op grond van dit wat Christus oor Homself gesê het, maar nee, hy wou eers die bewyse sien! Soos die Jode het hy na ‘n teken gevra. Maar tekens bring mense nie tot geloof nie, net die waarheid doen. Christus het baie tekens gedoen en tog lees ons in Joh. 12:37: “Alhoewel Jesus so baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie.” Dit was juis oor hulle ongeloof en hulle al ewige soeke na tekens dat Christus die Jode in Matt. 12:29 bestraf het met die woorde: “’n Slegte en afvallige geslag vra na ‘n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.”

Is ons samelewing en selfs die kerklike wêreld nie nageslag van die Jode nie? Daar is ‘n godsdiens geskep wat draai rondom wonders en tekens en opspraakwekkende genesings. Dit is ‘n evangelie wat sê dat God net daar is waar die opspraakwekkende en sensasionele dinge gebeur! Dit is ‘n boodskap wat met die slagspreuk: “As jou geloof sterk genoeg is ...”. So word talle wonder wat op ‘n daaglikse basis gebeur, ontken.
  • Is dit nie ‘n wonder wat ons gesondheid het in ‘n tyd waar virusse en kieme so vinnig muteer, sodat die mediese wetenskap skaars kan voorbly nie?
  • Is dit nie ‘n wonder dat jy lewendig by jou bestemming aan kom op hierdie paaie van ons wat niks anders as ‘n slagveld is nie?
  • Is dit nie ‘n wonder dat daar ‘n mate van vrede is in ons land, ten spyte van die gewoel en remoer van hierdie goddelose en godloënende samelewing waarvan ons deel is nie?

Hierdie en soveel ander wonderwerke word mis gekyk en God word nie daarvoor geëer nie. Maar as daar ‘n opspraakwekkende genesing is, dan sal God geloof word! Wat ‘n blinde geslag!

Nog meer! Die grootste wonder van alle wonders word deur hierdie mensgemaakte godsdiens op die kantlyn geskuif – die wonder van die menswording van die Seun van God om deur Sy dood en opstanding sondaars met God te versoen – nie om vir hulle ‘n lekker lewe hier op aarde te gee nie! Christus het nie die dood oorwin sodat ons groot motors en huise kan besit, of kan rol in die geld, of altyd gesond sal wees, of wat ook al nie. Nee, Hy het vir ons gesterf en die dood oorwin “sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy Naam die lewe (d.w.s. die ewige lewe) kan hê” (Joh. 20:31).

Dit is egter nie net die Jood wat vandag spring lewendig is nie, ook die Griek lewe nog vandag – hulle wat nie die Evangelie wil glo nie, omdat dit nie by hulle “wysheid” inpas nie. Soos wat die Ateners vir die Evangelie op die Areopagus gelag het (Hand. 17:32), so lag hulle nageslag vandag steeds vir die waarheid van die Evangelie. Vir die mens in die post-moderne era is sy verstand die maatstaf en alles wat hy nie kan verklaar of begryp nie, word summier een kant toe gegooi. So word die wet van God verwerp en die grense van waar en vals, reg en verkeerd, word uitgevee.
  • Daar word mooi sielkundige name vir sonde gegee.
  • Natuurwetenskaplike teorieë word in die plek van Gen. 1-2 aanvaar.
  • Die huwelik as instelling van God word ontken en afgemaak as ‘n sosiale instelling wat kan verander en aangepas kan word.

SLOT
Christus sê: “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Joh. 20:29)

Ons lewe in ‘n samelewing wat die waarheid en die betroubaarheid van die Woord ontken – dié Woord wat die enigste suiwer en ware lig is wat ons pad verlig en ons lei na die verlossing in Jesus Christus. Dit is slegs deur hierdie Woord wat Heilige Gees mense tot geloof lei. Daar staan immers in Rom. 10:17 geskrywe: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.” Deur die prediking met Christus as inhoud – nie deur wonders en tekens nie, nie deur slim redenasies en argumente nie – nee, deur die prediking van verlossing in Christus kom mense tot bekering.


Die wêreld sê: “Sien is glo!” Christus sê: “Glo is sien!” Glo jy? Amen.

Sunday 5 April 2015

Geen opstanding - geen Evangelie! (1 Kor. 15:12-19)

INLEIDING
Die opstanding van Christus vorm 'n uiters belangrike deel van die kern van die Evangelie wat deur die apostels verkondig is:
  • Op Pinksterdag preek Petrus. Hy verkondig dat Christus lewe – dat Hy uit die dood opgewek is (Hand. 2:24, 32).
  • 'n Paar dae later, nadat Petrus 'n verlamde man genees het, beklemtoon hy weer die opstanding van Christus (Hand. 3:15).
  • Wanneer Petrus en Johannes voor die Joodse Raad gedaag word en verbied word om verder die Evangelie te verkondig, wys Petrus hulle weer daarop dat God Christus uit die dood opgewek het (Hand. 4:10).
  • Ook Paulus verkondig die opstanding van Christus. In Hand. 13 lees ons hoe Paulus tydens sy sendingreis in die sinagoge in Antiochië gepreek het. Tydens sy preek gee hy 'n geruime tyd aandag aan die feit dat Christus uit die dood opgewek is en dat mense Hom na Sy opstanding gesien het (Hand. 13:30-37).
  • In Atene verkondig Paulus die Evangelie op die Areopagus, waar hy weereens verkondig dat God Christus uit die dood opgewek het (Hand. 17:31).

Ook wanneer ons die briewe van die apostels bestudeer, is dit duidelik dat daar geen sprake van 'n Evangelie sonder die liggaamlike opstanding van Christus is nie. Dit is juis hierdie waarheid wat die apostel Paulus in die eerste vier verse van 1 Kor. 15 beklemtoon. Daarom is die liggaamlike opstanding van Christus 'n kernwaarheid van die Christelike geloof. As Christus nie uit die dood opgestaan het nie, tuimel ons geloof onmiddellik soos 'n kaartehuis inmekaar!

Onder die invloed van die Griekse filosowe, was daar gelowiges in Korinthe wat gesê het dat daar nie 'n opstanding van die dode is nie. Die gevaar van hierdie siening – soos Paulus dit ook uitwys in 1 Kor. 15:11-19 – is dat, as daar nie 'n opstanding van die dode is nie, dit beteken dat Christus ook nie opgewek is nie. Die gevolg hiervan is drieledig: As Christus nie uit die dood opgewek is nie, is:
  • Die Evangelie sonder inhoud.
  • Die geloof van die gelowiges tevergeefs.
  • Ons steeds verlore in ons sonde.

DIE EVANGELIE SONDER INHOUD
In die eerste plek beklemtoon die apostel Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees dat as Christus nie uit die dood opgestaan het nie, daar geen Evangelie is nie. Hy skryf in 1 Kor. 15:14: “En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud …” Die Griekse woord wat ons met “sonder inhoud” vertaal, beklemtoon die gedagte van totale leegheid. As Christus nie opgewek is nie, is die Evangelie leë woorde, totaal nutteloos en betekenisloos. Die opstanding van Christus vorm die hart van die Evangelie boodskap. Neem die hart van die Evangelie weg, en die hele Evangelie sterf. Daarom kan met reg gesê word: “Neem die opstanding weg, dan bly daar niks oor nie”.

As Christus nie liggaamlik uit die dood opgestaan het nie, kan ons die Bybel maar toemaak. Ons hoef nie meer dit te lees nie. Ons hoef nie meer daaruit Bybelstudie te doen nie. Ons hoef nie meer daarna te luister nie. Want as Christus nie uit die dood opgewek is nie, is dit 'n boek vol leë stories, mites en legendes. Dan is dit soos 'n lugspieëling in die woestyn – dit skep die illusie dat daar strome van lewende water is. Tog is dit niks ander as sand soos die res van die woestyn nie.

Soos in die verlede hoor ons steeds vandag die stemme wat dit uitbasuin dat Christus nie uit die dood opgestaan het nie. Sommige van hierdie dwaalleraars beweer dat jy steeds 'n “Christen” kan wees, en tog nie in die liggaamlike opstanding hoef te glo nie. Maar Paulus stel dit duidelik in die gedeelte wat ons gelees het: Sonder die opstanding is daar géén Evangelie nie, daar is dus niks om te glo nie!

Dit bring ons by die tweede punt wat Paulus hier maak: As die Evangelie leeg en nutteloos is, beteken dit ook dat die geloof van hulle wat die Evangelie glo, leeg en nutteloos is!

ONS GELOOF IS DAN TEVERGEEFS
Hy skryf in vers 14: “En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud”. Hy herhaal weer hierdie waarheid in vers 17: En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sonde”.

Een ding moet ons goed verstaan: Jy kan nie iets volmaak met iets wat leeg is nie. Jy kan nie 'n leë glas met water volmaak, as daar nie water in die kraan of bottel is nie. So ook kan jou geloof nie inhoud hê as jy iets glo wat inhoudloos is nie. Om dus te sê: “Ek is 'n Christen, al het Christus nie uit die dood opgestaan het,” beteken net soveel as om te sê: “Ek drink water uit 'n glas sonder water”.

So 'n inhoudlose geloof kan nie aanspoor tot 'n lewende geloofslewe nie. Het julle al ooit gewonder hoe dit kon gebeur dat gelowiges terwyl hulle dood gemartel en op brandstapels vermoor is, tot eer van God kon sing? Een van die redes was die feit dat hulle die verwagting gehad het dat hulle uit die dood opgewek sal word, omdat Christus die dood oorwin het. Een van die vroeë martelare van die vroeg-Christelike kerk, Polikarpus, het byvoorbeeld op die brandstapel gebid dat hy God loof, omdat hy weet dat hy na liggaam en siel deel aan die opstanding tot die ewige lewe sal kry (Pol. 14:2). As Christus dan nie uit die dood opgestaan het nie, sou dit beteken dat die martelare vir 'n nuttelose geloof gesterf het!

Geen wonder dat die apostel in vers 19 skryf: As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerendwaardigste van alle mense. Dink daaraan. Hier is ’n mens wat aan ’n leë boodskap vashou. Sy eie geloof is leeg. Hy is vas daarvan oortuig dat jy gered is en dat hy ook uit die dood opgewek sal word, maar dit is ’n noodlottige vergissing. Nog meer! Hy verkondig hierdie inhoudlose boodskap vol ywer. Ja, hy is selfs bereid om daarvoor te sterf en dit gebeur ook. En waarvoor was dit alles gewees? Vir ’n lugkasteel?! Wat ’n tragiese figuur!

As Christus nie uit die dood opgewek is nie, is ons geloof inhoudloos – dit is tervergeefs.

In die derde plek spreek die apostel Paulus die noodwendige gevolg van 'n inhoudlose Evangelie en geloof aan, nl. dat die mag van die sonde nie gebreek is nie.

ONS IS STEEDS VERLORE
In 1 Kor. 15:17-18: “En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore.

Wat beteken dit dat Christus uit die dood opgewek is? Waarom was dit nodig? Deur Christus uit die dood uit op te wek, het God die Vader getuig dat Hy die offer wat Christus vir ons sondes gebring het, aanvaar het. Soos daar ook in Rom. 4:25 geskrywe staan: “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.” Met ander woorde, Christus is oorgelewer om aan die kruis vir ons sondes te sterwe, maar is ook opgewek uit die dood as 'n bevestiging daarvan dat God ons op grond van Christus se offer vryspreek.

Wat sou dit dan beteken as Christus nie liggaamlik uit die dood opgewek is nie? Die antwoord is eenvoudig: As Christus nie opgewek is nie, beteken dit dat God die Vader nie Sy offer vir ons sondes aangeneem het nie. En as God nie Sy offer aangeneem het nie, beteken dit dat ons steeds verlore is en die oordeel tegemoet gaan.

Wie van mening is dat die liggaamlike opstanding van Christus vir die Christelike geloof nie belangrik is nie, weet nie waarvan hulle praat nie. Sonder die liggaamlike opstanding van Christus is daar geen Evangelie nie, is daar geen geloof nie en is daar geen verlossing nie. Ja, neem die opstanding van Christus weg, en daar bly letterlik niks van die Blye Boodskap oor nie.

MAAR NOU, CHRISTUS IS OPGEWEK!
Maar dank God – daar is hoop! Toe ons Israel in 2012 besoek het, het ons onder andere die Tuingraf besoek. Op die deur wat voor die opening van die graf is, was daar 'n bordjie met die woorde van die engel: “Hy is nie hier nie – want Hy het opgestaan!

Hoe waar is hierdie woorde nie en omdat dit waar is, is daar vaste hoop. Ons geloof is nie betekenisloos nie, die Evangelie is nie nutteloos nie! In vers 20 jubel die apostel Paulus dit uit: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode, as eersteling uit dié wat gesterf het”. Ons Here leef! Die graf is leeg! Hy het opgestaan! En Sy opstanding waarborg ons verlossing.

SLOT
Vandag vier ons Paasfees – ons herdenk die dag waarop God Sy Seun uit die dood opgewek het. Mag ons dan vandag terugkyk – terugkyk na die graf en deur die oë van die geloof sien dat die klip weg gerol is. Mag ons met die ore van die geloof opnuut die stem van die engel hoor wat sê: “Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan!” Mag ons vandag opnuut die vrede in ons harte ervaar wanneer ons saam met Paulus dit uitroep: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode!

Ja, die Evangelie wat ons glo is nie inhoudloos nie! Die Evangelie wat ons verkondig is nie tevergeefs nie - hierdie Evangelie van die kruis en leë graf is die krag van God tot redding van elkeen wat glo (Rom. 1:16). Laat ons dan hierdie Evangelie tydig en ontydig verkondig, verkondig of mense luister of nie, en so ons roeping nakom om dissipels van al die nasies te maak.

Friday 3 April 2015

Die volmaakte Offer wat die volmaakte verlossing volbring (Joh. 19:30)

INLEIDING
Vandag vier ons Goeie Vrydag – ‘n dag waarop ons terug kyk na die volmaakte offer van Christus wat die volmaakte verlossing volbring het. Maar om hierdie volmaakte offer van Christus te verstaan, moet ons terug gaan in die geskiedenis – verby die kruis, verby die lewe van Christus, verby die profesieë van die profete oor Christus, verby die offers wat wys na Christus ... Ons moet al die pad terug gaan tot in die tuin van Eden ... want dit is in Gen. 3 waar ons die sleutel tot die verstaan van die kruisiging ontdek.

In die begin het God die hemel en die aarde geskape. Op die aarde het Hy ‘n tuin gemaak waarvan Hy kon sê: “Dit is baie goed!” (Gen. 1:31) In hierdie tuin het Hy die mens – Adam en Eva – geplaas om daar te woon, dit te bewerk en dit te beskerm (Gen. 1:28, 2:15). Daar het God ook ‘n boom geplant: die boom van kennis van goed en kwaad (Gen. 2:9). Van al die bome in die tuin kon die mens eet, behalwe van hierdie boom, want die dag as hulle daarvan sou eet,  sou hulle sterf (Gen. 2:16-17, 3:2-3). Die mens was egter ongehoorsaam en hulle het van die boom geëet en so in sonde geval.

Die volmaakte verhouding wat daar tussen hulle en God was, was verbreek en die oordeel van die heilige God het op hulle en ook hulle nageslag gerus. Hierdie gebroke verhouding het sigbaar geword in die feit dat hulle hul naaktheid probeer bedek het deur “klere” van vyeblare en in hulle poging om vir God weg te kruip. Wat sou nou van hulle word?
  • Vir hul daad van opstand kon hulle net die dood verwag!
  • Vir hul daad van ongehoorsaamheid kon hulle net ‘n gebroke verhouding wys!
  •  Vir hulle daad van sonde kon hulle net ‘n patetiese poging vir klere van vyeblare wys!

So word die boom in die tuin, ‘n boom van oordeel, van verlatenheid, van totale onmag.

Maar in die Bybel lees ons ook van ‘n ander boom – die boom van Golgota. Daar verander Christus:
  • Die boom van oordeel in die boom van lewe,
  • Die boom van verlatenheid in die boom van versoening, en
  • Die boom van onmag in die boom van volkome verlossing.

Dit is aan die boom van Golgota waar Christus die volmaakte offer vir volmaakte verlossing bring.

In Joh. 19:30 hoor ons Christus uitroep: “Dit is volbring!” Hierdie is nie maar net die laaste woorde van ‘n sterwende man nie. Ook nie die finale woorde van ‘n veroordeelde nie. Nee, hierdie is ‘n duidelike, hoorbare verklaring. ‘n Verklaring dat die volmaakte offer gebring is en deur die bring van die volmaakte offer, die volmaakte verlossing ook volbring is. Dit beteken dat die offer van Christus:
  • Eerstens volkome plaasvervangend van aard was.
  • Tweedens volkome herstel versekering het.
  • Derdens volkome in krag tot redding was.

DIE VOLMAAKTE PLAASVERVANGENDE OFFER
Die gedagte van ‘n plaasvervangende offer is nie in die eerste plek in die wetboeke van die Ou Testament te vinde nie. Nee, die eerste plek waar ons van ‘n plaasvervangende offer lees, is in Gen. 3:21. Adam en Eva het gesondig en die loon van die sonde is die dood. Tog val Adam en Eva nie onmiddelik dood neer wanneer God hulle konfronteer nie. Ja, hulle het sterflik geword in daardie oomblik. Ja, hulle het ook geestelik gesterf in die sin dat die verhouding tussen hulle en God verbreek was.

Maar waarom het Adam en Eva nie onmiddelik dood neergeval nie. Die antwoord is: God se genade. In plaas daarvan dat God hulle lewe op die plek neem, neem Hy eerder die lewe van diere, want ons lees in Gen. 3:21: “Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek.” Vir klere van vel was dit nodig dat diere sou sterf. So tree God as die eerste Hoëpriester op wat die eerste offer vir die sonde van die mens bring, sodat die mens mag lewe.

Maar Gen. 3:21 wys uiteindelik heen nie na die offers van die Ou Testament nie, maar na die volmaakte offer van die volmaakte Offerlam wat deur die volmaakte Hoëpriester gebring sou word, nl. Christus se offer aan die kruis op Golgota.

Wanneer Christus aan die kruis uitroep: “Dit is volbring!” verklaar Hy daarmee dat die volmaakte, plaasvervangende offer vir die lewe van mense gebring is. Hierdie offer was nodig omdat die bloed van diere nooit verlossing vir die mens kon bring nie (Hebr. 10:1-4). Maar al die offers het heen gewys na dié Lam wat sou kom om as die volmaakte Plaasvervanger in ons plek te kom staan en ons straf te dra – net soos die diere in die tuin van Eden die straf van die mens moes dra.

Maar om die volmaakte Plaasvervanger te wees sou beteken dat Christus ons lewe volmaak sou moes oorleef – van die wieg tot in die graf. En dit is wat Hy met die uitroep van hierdie kruiswoord verklaar: Alles wat vir Hom nodig was om te doen om die volmaakte Plaasvervanger te wees, dit het Hy gedoen en voltooi!

As volmaakte Plaasvervanger was Hy ook in staat om volkome herstel tussen God en die mens te bewerkstellig; en dit is die tweede element van Christus se verklaring dat alles volbring is.

DIE OFFER WAT VOLKOME HERSTEL VERSEKER
Dink vir ‘n oomblik terug aan wat na die sondeval daar in die tuin van Eden gebeur het. Die verhouding tussen God en die mens was verbreek en ‘n nuwe verhouding tussen die mens en die duiwel het ontstaan. Maar in God se genade kom Hy en verbreek Hy hierdie noodlottige verbond deur die oordeel oor die slang (en die duiwel) uit te spreek (Gen. 3:14-15). Daarna maak God vir die mens klere van vel as ‘n teken dat daar ‘n mate van herstel in die verhouding tussen hulle en God is. Deurdat God na die klere van vel kyk, sien Hy eerstens die bloed wat moes vloei.

Hierdie gedagte word ook later in die geskiedenis van Israel op ‘n ander manier uitbeeld, nl. deur die verbondsark. Die verbondsark was ongeveer 125 cm lank, 75 cm hoog en 75 breed (Eks. 25:10). Dit was oorgetrek met suiwer goud. Bo op die ark van die verbond was daar twee beelde van gerubs (engele met vlerke) wat met hulle gesigte na mekaar gedraai was en afgekyk het (Eks. 25:20). Die vlerke van die gerubs moes uitgesprei wees en na mekaar toe wys, sodat dit die deksel kon bedek, omdat God bo die verbondsark tussen die vlerke van die gerubs verskyn het (Eks. 25:20-22). In die verbondsark moes die 10 gebooie wees (Eks. 25:16).

Kyk ons na hierdie prentjie dan sien ons die Heilige God wat mense ontmoet op grond van die verbond wat Hy met hulle gesluit het. Die probleem was dat wanneer God bo die deksel verskyn het, Hy na die mens sou kyk deur die wet wat in die verbondsark geberg was. Dit beteken dat Hy die mens sou sien wat die oordeel verdien, omdat hulle die verbond keer op keer verbreek het.

Maar dan sien ons ook die genade, nl. dat God bepaal het dat een maal per jaar op die groot versoendag die bloed van ‘n dier sonder liggaamgebrek op die deksel en voor die verbondsark gesprinkel moet word (Lev. 16:14-15). Wanneer God dan na die mens sou kyk, sou Hy hulle sien nie deur die wet en as verbrekers van die wet nie; maar deur die bloed van die offerlam en mense wat in ‘n herstelde verhouding met Hom lewe.

Wanneer Christus dan aan die kruis uitroep: “Dit is volbring!” verklaar Hy daarmee dat Hy daardie volmaakte Offerlam was wie se bloed gevloei het, deur wie se bloed ons losgekoop word van die oordeel, in wie se bloed God ons nou sien – mense gereinig deur die bloed van die Lam en nie langer as sondaars wat die oordeel verdien nie. Deur die offer van Christus, Sy uitroep van verlatenheid aan die kruis en Sy verklaring dat alles volbring is, is die verhouding tussen ons en God herstel.

Soos Adam en Eva met die velle van diere geklee was, so word ons met die geregtigheid van Christus geklee. Daarom kan ons verseker wees dat die verhouding herstel is.

Laastens, as volmaakte Plaasvervanger deur wie ons verhouding met God herstel word, is Christus se offer ook volkome in sy krag om ons te verlos.

DIE OFFER WAT VOLKOME VERLOS
Wanneer die mens probeer ons sy eie sonde te bedek, of probeer om homself te verlos, maak hy net ‘n gemors daarvan. Kyk net na Adam en Eva se patetiese poging om vir hulle klere van vyeblare te maak! Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons ons sondes probeer wegsteek deur verskonings van vyeblare nie.

Daar is baie maniere waarop mense probeer om vyeblare by mekaar te werk, sodat hulle hul sonde voor God kan wegsteek:
  • Die Rooms Katolieke doen dit deur goeie werke, belydenisse van sonde en as dit nie genoeg op aarde is nie, die vagevuur.
  • Ander volg in die voetspore van Rome en dink dat as hulle goed genoeg lewe, dit genoeg sal wees om die oordeel vry te spring, of om in die hemel te kom.
  • Dan is daar natuurlik ook digene wat so blind is vir hulle sonde dat die Here vir hulle dieselfde moet sê as vir die gemeente in Laodisea in Op. 3:17: “Julle sê: ‘Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,’ en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.

Hou tog op om klere van vye blare te maak. Hou tog op om jouself te probeer verlos. Hou tog op om jou verlossing te probeer verdien. Dit gaan nie werk nie. Hy het ‘n groter kans om die winde uit die vierwindrigtings in jou hande vas te vang en dit daar te hou!

Ek pleit vanoggend by jou – as jy nog nie dit gedoen het nie – vlug na die kruis van Christus, laat jou was in die bloed van Christus, trek die klere van Sy geregtigheid aan! Hy het verklaar: “Dit is volbring!

Ja, die offer wat nodig was om mense te verlos, is gebring en dit is afgehandel. Niks kan of mag daarby gevoeg word nie en niks kan en mag daarvan weg geneem word nie. In die woorde van die Hebreërskrywer in Hebr. 9:25-26: “Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleiding van die tye verskyn om deur Sy offer die sonde weg te neem.

En weer in Hebr. 10:10: “Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus Sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.

Het ons dit gehoor? “... net een keer ...”, “... eens en vir altyd”. Christus se offer vir die verlossing van mense kan nie weer gebring word nie. Daar kan geen byvoegings wees nie. Dit is Christus en Christus alleen – sonder my werk, sonder my pogings, sonder my kragte. Christus! Nét Christus! Hoor u dit: “Dit is volbring!” Dit is afgehandel. Die prys is ten volle betaal!

Hierin lê die troos: Ek is losgekoop deur Christus – die Een wat in my plek voor God kom staan het om my te reinig deur Sy bloed, los te koop deur Sy offer en my verlossing te beseël deur Sy dood. In Sy hande is ek veilig – nou en vir altyd! Aan God die eer!

SLOT
Waar laat dit ons? Hoe kan ons ons dank vir so ‘n Verlosser uitleef? Spurgeon se woorde tref die teiken van hierdie vraag in die kol wanneer hy sê: “Vir solank as wat daar asem in ons liggame is, laat ons Christus dien; vir solank as wat ons kan dink, vir solank ons kan praat, vir solank ons kan werk, laat ons Hom dien, laat ons Hom dien met ons laaste asem; en, indien dit moontlik sou wees, laat ons probeer om werk aan die gang te sit wat Hom sal verheerlik wanneer ons sterf en nie meer daar is nie.”


Christus het Sy lewe vir jou en my afgelê, sodat ons kan lewe. Sal ons dan nie ook ons lewe aflê om in lewe en in sterf ons Verlosser en Here te verheerlik nie? Amen.