Sunday 5 April 2015

Geen opstanding - geen Evangelie! (1 Kor. 15:12-19)

INLEIDING
Die opstanding van Christus vorm 'n uiters belangrike deel van die kern van die Evangelie wat deur die apostels verkondig is:
  • Op Pinksterdag preek Petrus. Hy verkondig dat Christus lewe – dat Hy uit die dood opgewek is (Hand. 2:24, 32).
  • 'n Paar dae later, nadat Petrus 'n verlamde man genees het, beklemtoon hy weer die opstanding van Christus (Hand. 3:15).
  • Wanneer Petrus en Johannes voor die Joodse Raad gedaag word en verbied word om verder die Evangelie te verkondig, wys Petrus hulle weer daarop dat God Christus uit die dood opgewek het (Hand. 4:10).
  • Ook Paulus verkondig die opstanding van Christus. In Hand. 13 lees ons hoe Paulus tydens sy sendingreis in die sinagoge in Antiochië gepreek het. Tydens sy preek gee hy 'n geruime tyd aandag aan die feit dat Christus uit die dood opgewek is en dat mense Hom na Sy opstanding gesien het (Hand. 13:30-37).
  • In Atene verkondig Paulus die Evangelie op die Areopagus, waar hy weereens verkondig dat God Christus uit die dood opgewek het (Hand. 17:31).

Ook wanneer ons die briewe van die apostels bestudeer, is dit duidelik dat daar geen sprake van 'n Evangelie sonder die liggaamlike opstanding van Christus is nie. Dit is juis hierdie waarheid wat die apostel Paulus in die eerste vier verse van 1 Kor. 15 beklemtoon. Daarom is die liggaamlike opstanding van Christus 'n kernwaarheid van die Christelike geloof. As Christus nie uit die dood opgestaan het nie, tuimel ons geloof onmiddellik soos 'n kaartehuis inmekaar!

Onder die invloed van die Griekse filosowe, was daar gelowiges in Korinthe wat gesê het dat daar nie 'n opstanding van die dode is nie. Die gevaar van hierdie siening – soos Paulus dit ook uitwys in 1 Kor. 15:11-19 – is dat, as daar nie 'n opstanding van die dode is nie, dit beteken dat Christus ook nie opgewek is nie. Die gevolg hiervan is drieledig: As Christus nie uit die dood opgewek is nie, is:
  • Die Evangelie sonder inhoud.
  • Die geloof van die gelowiges tevergeefs.
  • Ons steeds verlore in ons sonde.

DIE EVANGELIE SONDER INHOUD
In die eerste plek beklemtoon die apostel Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees dat as Christus nie uit die dood opgestaan het nie, daar geen Evangelie is nie. Hy skryf in 1 Kor. 15:14: “En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud …” Die Griekse woord wat ons met “sonder inhoud” vertaal, beklemtoon die gedagte van totale leegheid. As Christus nie opgewek is nie, is die Evangelie leë woorde, totaal nutteloos en betekenisloos. Die opstanding van Christus vorm die hart van die Evangelie boodskap. Neem die hart van die Evangelie weg, en die hele Evangelie sterf. Daarom kan met reg gesê word: “Neem die opstanding weg, dan bly daar niks oor nie”.

As Christus nie liggaamlik uit die dood opgestaan het nie, kan ons die Bybel maar toemaak. Ons hoef nie meer dit te lees nie. Ons hoef nie meer daaruit Bybelstudie te doen nie. Ons hoef nie meer daarna te luister nie. Want as Christus nie uit die dood opgewek is nie, is dit 'n boek vol leë stories, mites en legendes. Dan is dit soos 'n lugspieëling in die woestyn – dit skep die illusie dat daar strome van lewende water is. Tog is dit niks ander as sand soos die res van die woestyn nie.

Soos in die verlede hoor ons steeds vandag die stemme wat dit uitbasuin dat Christus nie uit die dood opgestaan het nie. Sommige van hierdie dwaalleraars beweer dat jy steeds 'n “Christen” kan wees, en tog nie in die liggaamlike opstanding hoef te glo nie. Maar Paulus stel dit duidelik in die gedeelte wat ons gelees het: Sonder die opstanding is daar géén Evangelie nie, daar is dus niks om te glo nie!

Dit bring ons by die tweede punt wat Paulus hier maak: As die Evangelie leeg en nutteloos is, beteken dit ook dat die geloof van hulle wat die Evangelie glo, leeg en nutteloos is!

ONS GELOOF IS DAN TEVERGEEFS
Hy skryf in vers 14: “En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud”. Hy herhaal weer hierdie waarheid in vers 17: En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sonde”.

Een ding moet ons goed verstaan: Jy kan nie iets volmaak met iets wat leeg is nie. Jy kan nie 'n leë glas met water volmaak, as daar nie water in die kraan of bottel is nie. So ook kan jou geloof nie inhoud hê as jy iets glo wat inhoudloos is nie. Om dus te sê: “Ek is 'n Christen, al het Christus nie uit die dood opgestaan het,” beteken net soveel as om te sê: “Ek drink water uit 'n glas sonder water”.

So 'n inhoudlose geloof kan nie aanspoor tot 'n lewende geloofslewe nie. Het julle al ooit gewonder hoe dit kon gebeur dat gelowiges terwyl hulle dood gemartel en op brandstapels vermoor is, tot eer van God kon sing? Een van die redes was die feit dat hulle die verwagting gehad het dat hulle uit die dood opgewek sal word, omdat Christus die dood oorwin het. Een van die vroeë martelare van die vroeg-Christelike kerk, Polikarpus, het byvoorbeeld op die brandstapel gebid dat hy God loof, omdat hy weet dat hy na liggaam en siel deel aan die opstanding tot die ewige lewe sal kry (Pol. 14:2). As Christus dan nie uit die dood opgestaan het nie, sou dit beteken dat die martelare vir 'n nuttelose geloof gesterf het!

Geen wonder dat die apostel in vers 19 skryf: As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerendwaardigste van alle mense. Dink daaraan. Hier is ’n mens wat aan ’n leë boodskap vashou. Sy eie geloof is leeg. Hy is vas daarvan oortuig dat jy gered is en dat hy ook uit die dood opgewek sal word, maar dit is ’n noodlottige vergissing. Nog meer! Hy verkondig hierdie inhoudlose boodskap vol ywer. Ja, hy is selfs bereid om daarvoor te sterf en dit gebeur ook. En waarvoor was dit alles gewees? Vir ’n lugkasteel?! Wat ’n tragiese figuur!

As Christus nie uit die dood opgewek is nie, is ons geloof inhoudloos – dit is tervergeefs.

In die derde plek spreek die apostel Paulus die noodwendige gevolg van 'n inhoudlose Evangelie en geloof aan, nl. dat die mag van die sonde nie gebreek is nie.

ONS IS STEEDS VERLORE
In 1 Kor. 15:17-18: “En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore.

Wat beteken dit dat Christus uit die dood opgewek is? Waarom was dit nodig? Deur Christus uit die dood uit op te wek, het God die Vader getuig dat Hy die offer wat Christus vir ons sondes gebring het, aanvaar het. Soos daar ook in Rom. 4:25 geskrywe staan: “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.” Met ander woorde, Christus is oorgelewer om aan die kruis vir ons sondes te sterwe, maar is ook opgewek uit die dood as 'n bevestiging daarvan dat God ons op grond van Christus se offer vryspreek.

Wat sou dit dan beteken as Christus nie liggaamlik uit die dood opgewek is nie? Die antwoord is eenvoudig: As Christus nie opgewek is nie, beteken dit dat God die Vader nie Sy offer vir ons sondes aangeneem het nie. En as God nie Sy offer aangeneem het nie, beteken dit dat ons steeds verlore is en die oordeel tegemoet gaan.

Wie van mening is dat die liggaamlike opstanding van Christus vir die Christelike geloof nie belangrik is nie, weet nie waarvan hulle praat nie. Sonder die liggaamlike opstanding van Christus is daar geen Evangelie nie, is daar geen geloof nie en is daar geen verlossing nie. Ja, neem die opstanding van Christus weg, en daar bly letterlik niks van die Blye Boodskap oor nie.

MAAR NOU, CHRISTUS IS OPGEWEK!
Maar dank God – daar is hoop! Toe ons Israel in 2012 besoek het, het ons onder andere die Tuingraf besoek. Op die deur wat voor die opening van die graf is, was daar 'n bordjie met die woorde van die engel: “Hy is nie hier nie – want Hy het opgestaan!

Hoe waar is hierdie woorde nie en omdat dit waar is, is daar vaste hoop. Ons geloof is nie betekenisloos nie, die Evangelie is nie nutteloos nie! In vers 20 jubel die apostel Paulus dit uit: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode, as eersteling uit dié wat gesterf het”. Ons Here leef! Die graf is leeg! Hy het opgestaan! En Sy opstanding waarborg ons verlossing.

SLOT
Vandag vier ons Paasfees – ons herdenk die dag waarop God Sy Seun uit die dood opgewek het. Mag ons dan vandag terugkyk – terugkyk na die graf en deur die oë van die geloof sien dat die klip weg gerol is. Mag ons met die ore van die geloof opnuut die stem van die engel hoor wat sê: “Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan!” Mag ons vandag opnuut die vrede in ons harte ervaar wanneer ons saam met Paulus dit uitroep: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode!

Ja, die Evangelie wat ons glo is nie inhoudloos nie! Die Evangelie wat ons verkondig is nie tevergeefs nie - hierdie Evangelie van die kruis en leë graf is die krag van God tot redding van elkeen wat glo (Rom. 1:16). Laat ons dan hierdie Evangelie tydig en ontydig verkondig, verkondig of mense luister of nie, en so ons roeping nakom om dissipels van al die nasies te maak.

No comments:

Post a Comment