Sunday 12 April 2015

Wanneer die twyfelaar gelowig word ... (Joh. 20:24-31)

INLEIDING
In Afrikaans het ons baie spreekwoorde en gesegdes wat uit die Bybel kom:
  • Die geduld van Job,
  • Om soos ‘n Judas op te tree,
  • Kain en Abel stryd,
  • Yster slyp yster,
  • Daar is ‘n tyd vir alles ...
  • Slegte geselskap bederf goeie sedes, ens.

Ons het ook die gesegde: “ongelowige Tomas”. Wanneer iemand nie jou wil glo nie, word maklik vir so ‘n persoon gesê dat hy ‘n ongelowige Tomas is. Tog is hierdie spreekwoord nie heeltemal eerlik met die geskiedenis is nie. In Joh. 20:8-9 lees ons dat die ander dissipels ook eers nie geglo het dat Jesus uit die dood opgewek is nie. Almal was ongelowig – nie net Tomas nie.

Tog bring die Here deur Sy genade ook hierdie twyfelaar tot bekering. Hiervan lees ons in Joh. 20:26-28. In hierdie verse sien ons hoe Christus aan die dissipels weer verskyn en ons hoor hoe twyfelaar gelowige bely: “my Here en my God”.

DIE TWYFELENDE TOMAS WORD DIE GELOWIGE TOMAS
Na Christus se opstanding op Paas Sondag het Hy aan verskillende persone verskyn:
  • Hy het aan Maria Magdalena by die graf verskyn (Joh. 20:11-18)
  • Aan twee reisigers op pad na die dorpie Emmaus (Luk. 24:13-35)
  • Aan die dissipels waar hulle agter geslote deure bymekaar was (Joh. 20:19-23) – by hierdie geleentheid was Tomas nie saam met die ander dissipels nie.

Die dissipels het Christus se verskyning egter nie vir hulself gehou nie, maar dit aan Tomas vertel (Joh. 20:25). Maar net soos die vroue op die Paas Sondag teen ‘n muur van ongeloof moes vasloop toe hulle vir die dissipels vertel het dat hulle Christus gesien het, so het die dissipels ook teen die muur van Tomas se ongeloof vasgeloop toe hulle hom van die goeie nuus vertel. Vir Tomas was die storie wat die dissipels vertel het net so onsin, as wat die dissipels gedink het toe die vrou van die leë graf terug gekom het. Ons hoor dit in sy reaksie in Joh. 20:25: “... As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vingers in die merke van die spykers steek en my hand in Sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.

Agt dae later verskyn Christus weer aan die dissipels – en hierdie keer is Tomas ook by. Soos die vorige keer is daar nie ‘n klop aan die deur of ‘n versoek om in te kom nie. Nee, Christus verskyn net tussen hulle met die woorde: “Vrede vir julle” (Joh. 20:19, 26). Dan nooi Christus vir Tomas uit om te kom kyk na die wonde, om sy vingers in die wonde wat die spykers gelaat het te steek en om sy hand in die spieswond in te druk.

Hierdie uitnodiging moes Tomas sonder twyfel geskud het – hoe het hierdie Jesus sy presiese woorde wat hy in sy opgeloof uitgespreek het, geweet? Wie het vir Hom vertel van die eise wat hy gestel het? Hoe het Hy geweet dat hy wat Tomas is, nie die ander geglo het nie?

Met die verskyning van Christus het die waarheid stadig begin deurdring. Waarskynlik het die Heilige Gees hom op daardie oomblik herinner aan al die beloftes van Christus met betrekking tot sy dood en opstanding. Soos ‘n golf wat swel moes die een na die ander belofte op die strand van sy ongeloof afgekom het:
  • Christus het geweet Hy gaan sterf, nog meer Hy het presies geweet hoe Hy gaan sterf (Mark. 10:32-34).
  • Hy het geweet wie Hom sou verraai (Matt. 26:20-25).
  • Hy het geweet dat die dood Hom nie sou kon vashou nie (Luk. 18:33).

Heel waarskynlik het die wonders wat Christus ook by hom opgekom:
  • Die genesing van mense (Mark. 1:34)
  • Die uitdryf van bose geeste (Mark. 1:34)
  • Die vermeerdering van die brode en visse (Mark. 6:35-44, 8:1-10)
  • Die stilmaak van die storms op die See van Galilea (Mark. 4:35-41)

En op daardie oomblik het die Heilige Gees hom uit sy geestelike doodsheid tot die lewe geruk, sodat hy Jesus kon sien vir wie Hy werklik is. Daarom roep Tomas die belydenis uit: “My Here en my God!” (Joh. 20:28).

My Here! Dit wil sê: My Eienaar, my Koning, my Meester! In daardie oomblik het Tomas reg op sy lewe oorgegee in die hande van Christus. Hy het voor Christus as Heerser oor sy lewe gebuig. Maar nog meer, hy het ook erken dat die Jesus wat hier voor hom staan, nie maar net ‘n mens is nie. Nee, hierdie Jesus is ook God!

Besef ons wat hier gebeur? Tomas se siening van Christus in sy ongelowige toestand was ‘n beeld van ‘n man wat gesterf het, begrawe is en op een of ander onverklaarbare manier is Sy liggaam gesteel. Maar wanneer hierdie Jesus, die Lewende Christus, voor Tomas kom staan en hy met die waarheid gekonfronteer word, dan is daar net een reaksie – ‘n heilige eerbied wat hom dring om Jesus as Here en God oor sy lewe te bely. Dit is wat gebeur wanneer die twyfelaar gelowig word: Hy word gekonfronteer met die ware Jesus en alle sprake van eie wees met Hom, enige menslike beeld wat daar van Hom in die gedagtes opgekom het, elke minderwaardige aanspreekvorm – alles, alles, verdwyn en word gevul met ‘n heilige eerbied en ontsag vir die Een voor wie ons staan.
Daar is baie vandag wat met Christus en oor Christus praat asof hierdie Lewende en Verheerlikte Here maar net ‘n mens is. ‘n Onheilge disrepek het posgevat onder baie wat bely dat hulle gelowiges is. Baie laster in hulle aanspreekvorme – en dit onder die vaandel van “kinderlike vertrou”.
  • As Christus se halfbroers, Jakobus en Judas, Hom na Sy opstanding nie as “boetie” aanspreek nie, maar hulself dienaars van Jesus Christus noem (Jak. 1:1, Jud. :1), wat durf ons om Hom op so ‘n wyse aanroep.
  • As Johannes, die apostel vir wie Jesus lief was, op Patmos soos ‘n dooie neergeval het toe hy die verheerlikte Christus gesien het, wat durf ons eie wees met Hom (Op. 1:17-18)! 

Waar is die heilige eerbied en ontsag vir die Here? Die Here moet weer soos vir die Israeliete in die tyd van Maleagi sê: “’n Seun eer sy vader en ‘n slaaf sy eienaar. As Ek dan Vader is, waar is die eer wat My toekom? En as Ek Here is, waar is die eerbied vir My dan? ...” (Mal. 1:6)

DIE ONGELOWIGE TOMAS VAN 2015
Op Tomas se belydenis, reageer Christus met die woorde: “... Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.

Tomas moes geglo het op grond van dit wat Christus oor Homself gesê het, maar nee, hy wou eers die bewyse sien! Soos die Jode het hy na ‘n teken gevra. Maar tekens bring mense nie tot geloof nie, net die waarheid doen. Christus het baie tekens gedoen en tog lees ons in Joh. 12:37: “Alhoewel Jesus so baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie.” Dit was juis oor hulle ongeloof en hulle al ewige soeke na tekens dat Christus die Jode in Matt. 12:29 bestraf het met die woorde: “’n Slegte en afvallige geslag vra na ‘n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.”

Is ons samelewing en selfs die kerklike wêreld nie nageslag van die Jode nie? Daar is ‘n godsdiens geskep wat draai rondom wonders en tekens en opspraakwekkende genesings. Dit is ‘n evangelie wat sê dat God net daar is waar die opspraakwekkende en sensasionele dinge gebeur! Dit is ‘n boodskap wat met die slagspreuk: “As jou geloof sterk genoeg is ...”. So word talle wonder wat op ‘n daaglikse basis gebeur, ontken.
  • Is dit nie ‘n wonder wat ons gesondheid het in ‘n tyd waar virusse en kieme so vinnig muteer, sodat die mediese wetenskap skaars kan voorbly nie?
  • Is dit nie ‘n wonder dat jy lewendig by jou bestemming aan kom op hierdie paaie van ons wat niks anders as ‘n slagveld is nie?
  • Is dit nie ‘n wonder dat daar ‘n mate van vrede is in ons land, ten spyte van die gewoel en remoer van hierdie goddelose en godloënende samelewing waarvan ons deel is nie?

Hierdie en soveel ander wonderwerke word mis gekyk en God word nie daarvoor geëer nie. Maar as daar ‘n opspraakwekkende genesing is, dan sal God geloof word! Wat ‘n blinde geslag!

Nog meer! Die grootste wonder van alle wonders word deur hierdie mensgemaakte godsdiens op die kantlyn geskuif – die wonder van die menswording van die Seun van God om deur Sy dood en opstanding sondaars met God te versoen – nie om vir hulle ‘n lekker lewe hier op aarde te gee nie! Christus het nie die dood oorwin sodat ons groot motors en huise kan besit, of kan rol in die geld, of altyd gesond sal wees, of wat ook al nie. Nee, Hy het vir ons gesterf en die dood oorwin “sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy Naam die lewe (d.w.s. die ewige lewe) kan hê” (Joh. 20:31).

Dit is egter nie net die Jood wat vandag spring lewendig is nie, ook die Griek lewe nog vandag – hulle wat nie die Evangelie wil glo nie, omdat dit nie by hulle “wysheid” inpas nie. Soos wat die Ateners vir die Evangelie op die Areopagus gelag het (Hand. 17:32), so lag hulle nageslag vandag steeds vir die waarheid van die Evangelie. Vir die mens in die post-moderne era is sy verstand die maatstaf en alles wat hy nie kan verklaar of begryp nie, word summier een kant toe gegooi. So word die wet van God verwerp en die grense van waar en vals, reg en verkeerd, word uitgevee.
  • Daar word mooi sielkundige name vir sonde gegee.
  • Natuurwetenskaplike teorieë word in die plek van Gen. 1-2 aanvaar.
  • Die huwelik as instelling van God word ontken en afgemaak as ‘n sosiale instelling wat kan verander en aangepas kan word.

SLOT
Christus sê: “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Joh. 20:29)

Ons lewe in ‘n samelewing wat die waarheid en die betroubaarheid van die Woord ontken – dié Woord wat die enigste suiwer en ware lig is wat ons pad verlig en ons lei na die verlossing in Jesus Christus. Dit is slegs deur hierdie Woord wat Heilige Gees mense tot geloof lei. Daar staan immers in Rom. 10:17 geskrywe: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.” Deur die prediking met Christus as inhoud – nie deur wonders en tekens nie, nie deur slim redenasies en argumente nie – nee, deur die prediking van verlossing in Christus kom mense tot bekering.


Die wêreld sê: “Sien is glo!” Christus sê: “Glo is sien!” Glo jy? Amen.

No comments:

Post a Comment