Tuesday 28 January 2014

Die Evangelie van Christus sal verkondig, geglo en teëgestaan word!


Skriflesing: 1 Thess. 21-16
Tema: Die Evangelie van Christus sal verkondig, geglo en teëgestaan word!

INLEIDING
In 1 Thess. 1 skryf die apostel Paulus aan die gemeente dat wanneer hy en sy medewerkers aan die gelowiges in Thessalonika dink, hulle God altyd oor hulle dank. Waarom? Hulle dank God om drie redes:
  • Eerstens omdat hierdie gelowiges die Evangelie van verlossing in en deur Christus geglo en aangeneem het.
  • Tweedens omdat hulle hierdie Evangelie nie vir hulself gehou het nie, maar ook na buite verkondig het.
  • En derdens omdat hulle God van harte dien en die wederkoms van Christus verwag. 

Tog was daar mense wat die gemeente binnegedring het, en begin het om Paulus hulle se gesag en die boodskap wat hulle verkondig het, te bevraagteken. Hierdie stemme wat die gesag van Paulus – en trouens die gesag van die res van die Skrif – bevraagteken hoor ons steeds vandag. Daarom moet ons ag gee op wat die Here deur Sy apostel in 1 Thess. 2:1-16 skryf.

In hierdie gedeelte beklemtoon Christus deur Sy apostel Paulus die waarheid dat die Evangelie van verlossing verkondig sal word, dat hierdie Evangelie ook geglo sal word, maar dat daar ook altyd mense sal wees wat dit teëstaan! Dit was waar in die tyd toe hierdie brief op skrif gestel is, en so is dit ook vandag steeds waar en sal dit waar wees in die toekoms tot by die wederkoms van Christus!

Die Evangelie van verlossing sal verkondig, geglo en teëgestaan word.

DIE VERKONDIGERS VAN DIE EVANGELIE
In verse 1-12 word die waarheid gestel dat daar altyd mense sal wees wat die ware Evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus sal verkondig. Dit is juis hierdie Evangelie wat Paulus hulle aan die gemeente daar in Thessalonika verkondig het.

Maar omdat Paulus bewus is van sommige wat die betroubaarheid van die Evangelie en die gesag van hulle wat die Evangelie verkondig, bevraagteken; stel hy dit baie duidelik dat hulle:
  • Eerstens die betroubare Evangelie verkondig het.
  • En tweedens dit gedoen het sonder enige bybedoelings. 

Die betroubare Evangelie
In die eerste plek wys die apostel op die feit dat die Evangelie wat hulle verkondig het, sy oorsprong nie by hulle as mense gehad het nie, maar by God. Anders gestel: Die Evangelie is deur God aan hulle toevertrou en is nie maar stories wat vertel is om 'n kampvuur nie.

Om hierdie waarheid te beklemtoon verwys die apostel na die boodskap wat hulle verkondig het deur gebruik te maak van uitdrukkings soos: “die evangelie van God” (v. 8-9), “die boodskap van God” (v. 13) en “die woord van God” (v. 13). Uit hierdie uitdrukkings blyk dit duidelik dat die boodskap, die Evangelie van verlossing in Christus, nie die uitvindsel van 'n mens is nie, maar dat dit van God self kom. Hy is die Outeur. Hy is die Een wat Sy knegte roep en stuur om hierdie boodskap te gaan verkondig.

Maar net vir ingeval iemand hierdie uitdrukkings mis lees – soos dit dikwels gebeur – stel die apostel die baie duidelik dat hierdie boodskap nie op menslike uitdenksels berus nie. Hy skryf in vers 3-4: “Ons prediking berus immer nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings. Nee, God het ons gekeur en die Evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit…

Dus, wie ook al die Evangelie van verlossing in Christus verwerp as maar net stories om die kampvuur, of mense se slim redenasies; verwerp die gesag van die apostel, verwerp die gesag van die Skrif en uiteindelik verwerp hulle die gesag van God self!

Sonder bybedoelings
Nie net is die Evangelie betroubaar omdat dit van God kom nie, ook hulle wat die ware Evangelie verkondig is betroubaar omdat hulle die eer van God soek.

Ons lewe vandag in 'n samelewing waar baie van die “groot predikers” van ons dag nie die eer van God soek nie, maar eerder die eer van mense! Hulle hou daarvan om in die komplimente van mense te bad soos 'n vark in modder. Hulle hou daarvan om mense heuning om die mond te smeer, sodat hulle kan voel hoe hul eie ego gestreel word. Hulle preek emosioneel-opswepende preke en beloof wonderlike dinge, sodat die mense hulle beursies sal leegmaak in die asblikke wat by die deure van die kerkgeboue staan.

Maar die apostel Paulus wys die gemeente daarop dat hierdie nooit die werkswyse van diegene is wat die ware Evangelie verkondig nie:
  • In vers 3 skryf hy dat hulle nie aan die mense kom stories vertel het nie en hulle probeer oortuig het om die boodskap te glo deur hulle te mislei nie. 
  • In vers 5 sê hy dat hulle hul nie met vleitaal besig gehou het nie, en dat die motief waarom hulle die Evangelie verkondig het nie was om daardeur vir hulself rykdom te bekom nie.
  • In vers 4 en 6 sê hy dat hulle motief ook nie was om deur mense geëer te word nie. 

Nee, as verkondigers van die Evangelie het hulle die Evangelie aan die mense verkondig soos God dit aan hulle toevertrou het. Hulle motief was om God te eer en om Sy goedkeuring te ontvang. Daarom het hulle hul juis so gedra sodat niemand die egtheid en betroubaarheid van die Evangelie sou bevraagteken nie:
  • Hulle was altyd liefdevol en sag teenoor die gelowiges (v. 8)
  • Hulle het nie van hulself 'n las gemaak nie, maar self gewerk om so aan die lewe te bly (v. 9)
  • Hulle lewenswyse was onberispelik – d.w.s. niemand kon met reg na hulle die vinger wys oor iets wat hulle verkeerd gedoen het nie (v. 10).
  • Hulle het die gelowiges bemoedig en aangespoor waar dit nodig was en hulle opgeroep om soos verloste mense te lewe (v. 11-12). 

Hulle het dus gedoen wat God van hulle verwag het: Hulle het die Evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus aan hulle verkondig sonder om self eer te verwag, maar om deur hulle dienswerk juis God te verheerlik.

DIÉ WAT DIE EVANGELIE GLO
Deur die genade van die Here sal daar ook vrug wees om die arbeid van dié wat Hom dien. God is getrou aan Sy beloftes en Hy het beloof dat Sy Woord nooit leeg na Hom toe terugkeer nie (Jes. 55:11). Daarom sal daar altyd mense wees wat die Evangelie wat verkondig is, sal glo.

Dit is ook wat gebeur het in die gemeente in Thessalonika! Paulus skryf in vers 13: “Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat hulle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die Woord van God. En dit is ook inderdaad die Woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys.”

In hierdie vers wys Paulus op twee kern waarhede: 
  • In die eerste plek dat die feit dat hulle die Evangelie geglo en aangeneem het, die werk van God was. Daarom dank hulle God daarvoor! Want dit was God wat deur Sy Gees hulle oortuig het van die waarheid en die betroubaarheid van die Evangelie wat aan hulle verkondig is.
  • Tweedens, en hierby het ons reeds stilgestaan, maar dis nodig dat ons dit weer hoor: die Evangelie van verlossing is nie mensewoorde nie, maar dit is die Woord van God! 

Maar Paulus gaan ook verder en wys daarop dat diegene wat die Evangelie glo, lyding moet verwag en sal verduur (v. 14). Waarom, omdat die wêreld Christus haat, die boodskap van Sy verlossingswerk haat, die verkondigers van hierdie boodskap haat en daarom ook almal haat wat na hierdie boodskap luister en dit glo.

DIE TEËSTANDERS VAN DIE EVANGELIE
Daarom, laastens: Nie net sal die Evangelie van verlossing in en deur Christus altyd verkondig word en deur mense aangeneem en geglo word nie; daar sal ook altyd teenstand teen die Evangelie wees.

Hiervan was – en is steeds – die Jode 'n goeie voorbeeld. Daarom skryf Paulus onder die inspirasie van die Gees in vers 15: “Dit is die Jode deur wie die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg is…

Christus het immers self gesê: “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is …” (Matt. 23:37)

Dink maar net aan die Jode se optrede in die Ou Testament:
  • Dink aan hoeveel keer Moses se lewe in gevaar was omdat hy gedoen het wat God verwag en die volk in opstand gekom het (vgl. bv. Num. 14:36-45).
  • Dink aan Elia wat moes vlug vir die goddelose koning Agas en sy vrou Esebel (1 Kon. 19).
  • Dink maar aan Jeremia wat selfs in 'n put gegooi is omdat die koning en sy amptenare nie gehou het van die boodskap wat Jeremia verkondig het nie (Jer. 38:1-13). 

Dink aan die Jode in die Nuwe Testament:
  • Die Jode wat voor Pilatus uitgeroep het dat Christus gekruisig moes word en dat Sy bloed op hulle en hul kinders moet wees (Matt. 27:22-25).
  • Die Jode wat Stefanus buite die stadsmure van Jerusalem gesleep het en gestenig het (Hand. 7:57-59).
  • Die Jode wat selfs die oorsaak was dat Paulus dikwels vir sy lewe moes vlug – soos in die geval van die gebeure in Thessalonika (Hand. 17:1-10) en dat hulle selfs per geleentheid die oorsaak was dat hy gestenig en vir dood gelaat is (Hand. 14:19-20). 

In die optrede van die Jode sien ons die haat van die wêreld teenoor die Evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus. Die wêreld sal alles in hulle vermoë doen om die verkondiging en bevordering van die Evangelie teë te staan. Hulle sal alles doen wat hulle kan om te verhinder dat die Evangelie verkondig word aan dié wat dit nog nie gehoor het nie (v. 16). En daar waar hulle nie die Evangelie kan keer nie, maar hulle probeer om die groei van die kerk van Christus in die kiem te smoor deur vervolging.

Al hulle pogings is egter tevergeefs! Al wat hulle reg kry is om, soos vers 16 dit stel, “hulle sonde vol te maak”. Ja, die Here laat toe dat die wêreld die beker van hul sonde vol maak, so vol te maak dat dit oorloop! En wanneer die beker oorloop sal God in Sy heilige geregtigheid en vreeslike toorn die wêreld die volle maat van die oordeelsbeker laat drink!

SLOT
Ons lewe in 'n tyd waar die Evangelie teëgestaan word. Daagliks hoor ons die aanslae teen die betroubaarheid van die Woord van God in die media. Maar moenie bekommerd wees nie!

Ja, die wêreld sal gal braak in 'n poging om die betroubaarheid van die Evangelie wat ons glo in diskrediet te bring. Die wêreld sal dit selfs reg kry om sommige te laat twyfel in die betroubaarheid van die Woord. Maar die wêreld en die Bose sal nooit daarin slaag om die vloedgolf van die Evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus alleen te keer of terug te hou nie. Christus is in beheer. Hy waak oor Sy Woord en eer.

No comments:

Post a Comment