Monday 27 January 2014

Ware bekering word sigbaar in geloof, liefde en hoop


Skriflesing: 1 Thess. 11-10
Tema: Ware bekering word sigbaar in geloof, liefde en hoop.

INLEIDING
Dwars deur die Bybel vind ons van plek tot plek hoe die Here aan enkelinge, gemeentes en volke getuigskrifte gee: Soms is hierdie getuigskrifte goed, byvoorbeeld die getuigskrif aan die gemeente in Filadelfia: “… Ek weet dat jy min krag het, en tog het julle aan My boodskap vasgehou en My nie verloën nie.” (Open. 38). Soms is die getuigskrif baie negatief, byvoorbeeld die getuigskrif aan die gemeente in Laodisea: “Ek weet alles wat julle doen … omdat julle lou is, nie warm nie en nie koud nie, gaan Ek julle uit My mond uitspoeg.” (Open. 315-16)
Ook hier, in 1 Thess. 1 lees ons 'n getuigskrif – die getuigskrif van die Here aan Sy gemeente in die stad Thessalonika. Hierdie getuigskrif kan ons met drie woorde saamvat: geloof, liefde en hoop. In hierdie drie woorde word die wese van 'n ware bekering saamgevat:
·       Die werke van die geloof
·       Inspanning van geloof
·       Volharding van hoop in Christus

WERKENDE GELOOF
Ons lees in vers 2: “Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink …” Waaraan dink Paulus hulle?
In die eerste plek dink hulle aan hoe die gelowiges in Thessalonika die Evangelie ontvang en geglo het, toe Paulus hulle dit aan hulle verkondig het! Hulle geloof was die werk van die Gees, want ons lees in vers 5: “deur die Heilige Gees”. Ja, Paulus hulle het die Evangelie aan hierdie mense verkondig: “want die Evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde gekom nie…” (v. 5)
Hulle het ook hierdie Evangelie met krag verkondig: “… maar ook met krag …” d.w.s. hulle houding was nie een van jammer-dat-ek-leef nie, maar met erns het hulle die Evangelie verkondig. Hulle het dit ook “met volle oortuiging” gedoen. Dit beteken dat hulle die boodskap wat hulle verkondig het, self geglo het en gestaan of geval het by die waarheid van hierdie Evangelie.
Dit het hulle alles gedoen “deur die Heilige Gees”. Want, as dit nie vir die werk van die Heilige Gees nie kan ons as gelowiges dag in en dag uit die Evangelie met ywer verkondig, vas oortuig van die waarheid en betroubaarheid van die boodskap, en niks sal gebeur nie. Ons prediking, ons verkondiging van die Evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus moet geseën word deur die Heilige Gees. Slegs as Hy dit seën sal die saad wat ons saai, ontkiem, groei en vrug dra. Maar as Hy dit nie doen nie, sal die saad wat ons saai in die harte van mense leweloos bly en daar geen ware bekering wees nie.
Maar die apostel gaan verder in vers 6 en wys op die omstandighede waaronder hierdie mense hulle vertroue in God gestel het. Hy sê: “… In baie moeilike omstandighede het julle die Woord aangeneem met blydskap wat van die Heilige Gees kom.
Weereens sien ons die werk van die Gees in die bekering van mense – en dit in baie moeilike omstandighede. Daar het 'n dodelike gedagte in die kerke van vandag posgevat – die gedagte dat mense net tot bekering kan kom onder “ideale” toestande.  Daarom moet die mense vertel word watter voordele Christenskap inhou. Moet mense vertel word van hoe oulik hulle is en belangrik is vir die Here. Moet hulle stroop om die mond gesmeer word en hulle met soetsappige woorde gevlei word om tog maar net Jesus aan te neem.
Maar waar die Gees van God werk kom mense tot bekering ongeag die omstandighede! Lees ons Hand. 171-9 sien ons dat deur die toedoen van die Jode die stad Thessalonika opgestook is teen Paulus hulle en die Evangelie van verlossing in Christus! En tog, te midde van hierdie opstand en gevaar sorg die Here dat Sy kerk gebou word deur die werk van die Gees wat lewe in die harte van mense wek deur die verkondiging van die Evangelie.  Sodoende het hulle voorbeelde geword van getrouheid aan die Evangelie te midde van vervolging (v. 7).
Paulus hulle dank dus die Here in die eerste plek vir die feit dat hulle kan sien hoe die gelowiges se geloof werk toe hulle die Evangelie wat aan hulle verkondig is, met blydskap aangeneem en geglo het! Maar tweedens dank hulle ook God dat hulle kan sien hoe liefde deel van hierdie gelowiges se lewe is – 'n liefde wat opoffer en homself inspan vir God en die bevordering van die Evangelie.

INSPANNENDE LIEFDE
In vers 8-9 getuig Paulus dat die tweede rede waarom hulle God dank, die feit is dat die gelowiges in Thessalonika nie net die Evangelie ontvang en geglo het nie, maar ook uitgedra het! Hy skryf in vers 8: “Van julle af is die Woord van die Here in Masedonië en in Ahaje verkondig…”
Hierdie gelowiges het besef dat die geloof wat daar in hulle harte was nie iets was wat hulle vir hulself kon hou nie. Inteendeel, hulle het die liefde van God gesmaak – die liefde van God se verlossingswerk in hulle lewe op grond van die verlossingswerk van Jesus Christus en deur die krag van die Heilige Gees. En as hulle dan God se liefde in Christus ervaar het, hoe kan hul dan anders as om ook in liefde vir hulle naaste hierdie selfde boodskap van verlossing aan die mense rondom hulle te verkondig!
Die vraag wat ons vir onsself moet vra is dit: Dring die liefde van Christus my om in liefde die Evangelie van verlossing in Christus aan ander te verkondig? Of anders gestel: Het ek my naaste so lief dat ek met dieselfde ywer en oortuiging waarmee Paulus hulle die gelowiges in Thessalonika tot bekering geroep het, ander mense rondom my daagliks tot bekering roep? Of moet ons vandag dalk erken dat ons eindelik liefdeloos optree, omdat ons hierdie wonderlike boodskap van verlossing in Christus vir onsself hou?
Die uitdra van die Evangelie het egter meer as net hulle woorde ingesluit – dit het ook die manier waarop die gelowiges geleef het, ingesluit. Daarom skryf die apostel: “… oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. Die mense vertel self van hoe julle ons ontvang het en hoe julle jul van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien.” (v.8-9)
Die lewe van die gelowiges was deur twee belangrike sake gekenmerk.
Eerstens word daar 'n negatief gestel: Julle het jul van die afgode bekeer. M.a.w. daar het 'n ingrypende verandering in julle lewe plaasgevind. Julle het jul rug gedraai op die ou, sondige lewe. En dit is wat ware bekering behels – dit beteken dat ek die lewe wat ek vroeër geleef het toe ek nog onder die beheer van my sondige begeertes was, afgesterf het. In die woorde van Paulus aan die Galasiërs: “Die wat aan Christus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig” (Gal. 524)
Maar positief gestel, is bekering nie net 'n wegdraai van die ou, sondige lewe nie – dit is ook 'n omdraai na 'n lewe wat God verheerlik. Vers 9 lees: “… en hoe julle jul van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien
Daar is gans te veel gelowiges vandag wat wil breek met die sonde in hul lewe, sonder om te wil lewe tot eer van God. Hulle wil vry wees van die bande van die sonde, hulle wil vry wees van die komende oordeel, hulle wil vry wees van alles wat hulle lewe kan vernietig; maar hulle is nie bereid om hulle te laat verbind tot 'n lewe wat God verheerlik nie.
'n Ware bekering beteken meer as om net die Evangelie te glo en met die sonde in jou lewe te wil breek – dit beteken ook om vir God, Sy eer en die uitbreiding van Sy koninkryk te lewe!

VOLHARDENDE HOOP
Laastens dank Paulus hulle die Here ook vir die volhardende hoop wat hulle in die lewe van die gelowiges raaksien. Hierdie lewende hoop word verder verduidelik in vers 10: “… en dat julle Sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.
Die hoop van die gelowiges was drieledig: In die eerste plek was hulle hoop gevestig op die lewende en opgestane Christus! Hulle het geglo dat Jesus Christus vir hulle gesterf het, maar dat God Hom ook liggaamlik uit die dood opgewek het. Hulle (en ook ons vandag) glo in en stel ons vertroue op die Lewende Here! Tweedens het hulle ook die wederkoms van Christus verwag. Alles wat hulle gedoen het, was gedryf deur die wete dat Christus enige oomblik van die dag kan kom en dan mag hulle nie ledig gevind word nie. En derdens het hulle ook vertrou dat hulle by Christus se wederkoms die volle verlossing deelagtig sal word – dat hulle voor die regterstoel van Christus sal verskyn en sal hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor min was jy getrou en oor veel sal jy aangestel word. Gaan in die vreugde van jou Here in.”
Hul geloof was dus gevul met 'n toekomsverwagting – die verwagting dat Christus enige oomblik kan verskyn. Hoe lyk ons verwagting? Sien ons uit na die wederkoms van Christus?

SLOT
Saamgevat, 'n ware bekering word sigbaar in geloof, liefde en hoop:
Geloof: Dit wil sê dat God deur Sy Gees die geloof in ons harte wek, sodat ons die Evangelie van verlossing in Jesus Christus met blyskap kan aanneem en glo.
Liefde: 'n Liefde vir God en ons naaste wat sigbaar word in die feit dat ons die Evangelie van verlossing met ons mond verkondig, maar ook deur ons lewe volgens hierdie Evangelie inrig deur met die sonde in ons lewe te breek en tot eer van ons Verlosser te lewe.
Hoop: Dit is die lewende verwagting na die wederkoms van Jesus Christus, die Seun van God en ons Verlosser.

No comments:

Post a Comment