Sunday 2 February 2014

Dink na oor wat jy gaan beloof


Skriflesing: Pred. 5:1-6
Tema: Dink na oor wat jy gaan beloof

INLEIDING
As beloftes aan mense skuld maak, dan maak geloftes aan die Here beslis dubbele skuld. Tog is dit iets wat ons mense nie verstaan nie. Baie dink dat hulle met die Here kan maak soos wat hulle met ander maak: Hulle is vinnig om iets op die ingewing van die oomblik te beloof, maar wanneer die tyd kom om te doen wat hulle beloof het, is hulle vol verskonings. So maak baie kerklidmate met die geloftes wat hulle voor die Here aflê: Hulle staan voor die kansel en beloof om die Here getrou te dien, maar kort voor lank of die gelofte is vergete en hulle dwaal van die Here af weg.

Maar dit mag nie so wees nie. Deur die verlossingswerk van Christus is ons kinders van die God van die Waarheid. Ons lewe moet ook hiervan getuig! Die geloftes wat ons aan die Here maak moet ons nakom. So getuig ons dat ons kinders van die Here is – die Een wat altyd Sy beloftes nakom.

Daarom waarsku die Here ons vanoggend deur die boek van die Prediker om goed na te dink oor dit wat ons voor God beloof.

In die gedeelte wat ons gelees het is daar 4 waarhede wat wat vir ons uitgelig word:
  • Eerstens: Moenie oorhaastig wees, sodat jy moet sê “ek het my vergis” nie.
  • Tweedens: As jy beloof, betaal dit.
  • Derdens: As jy onseker is, moet eerder nie beloof nie.
  • Vierdens: God laat nie met Hom spot nie. 

In die eerste plek dan: Moenie oorhaastig 'n gelofte aflê nie.

MOENIE OORHAASTIG 'N GELOFTE AFLÊ NIE
Daar het 'n plaag die kerke stilweg binnegedring. Hierdie plaag is om in die ingewing van die oomblik allerhande geloftes aan die Here af te lê sonder om oor die gevolge daarvan na te dink:
  • Sommige van hierdie geloftes neem die vorm van onderhandeling aan: “Here as U dit of dat vir my doen, dan sal ek dit of dat vir U doen.
  • Ander geloftes word gereken as 'n godsdienstige plig wat nagekom en afgehandel moet word, soos belydenisaflegging.

Op hierdie maniere word daar een na die ander gelofte voor die Here afgelê, terwyl dit nooit die voorneme is dit wat beloof is, na te kom nie. So vergeet hulle Wie die Een is voor Wie hulle staan: Die Heilige God wat in die hemel troon!

Wanneer jy dan met hierdie mense gaan praat, sal sommige die deur in jou gesig toeslaan, terwyl ander 'n meer “godsdienstige” masker sal voorhou deur te sê: “Maar dis nie hoe ek dit verstaan het nie.

Daarom is die waarskuwing duidelik: “Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig 'n belofte aan God maak nie, want Hy is in die hemel en jy op die aarde. Laat jou woorde daarom min wees … Moenie dat jou mond jou laat sondig sodat jy vir 'n priester moet sê: ‘Ek het my vergis’ nie.” (Pred. 5:1, 5)

Maar tweedens: Wat jy beloof, moet jy betaal.

BETAAL WAT JY BELOOF
Daar is baie wat die standpunt inneem wat sê: “As ek nie verstaan het wat ek destyds belowe het nie, is ek nie verplig om dit wat belowe is, te betaal nie.

Maar kyk mooi na die gedeelte wat ons gelees het. Nêrens lees ons dat die feit dat jy 'n gelofte in onkunde afgelê het, jou van jou verantwoordelikheid om daardie gelofte na te kom, los maak nie. Inteendeel! Vers 3 is hieroor baie duidelik, wat jy beloof het, moet jy betaal - ongeag wat dit is: “As jy aan God 'n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie. Wat jy beloof het, moet jy betaal.” Die Hebreeuse woord wat hier met “versuim” vertaal word, gaan oor meer as om nie die gelofte na te kom nie. Dit gaan veral oor die feit dat ons nie moet uitstel om die gelofte wat ons aflê te betaal nie.

Tog gebeur dit dikwels. Kinders lê belydenis van geloof af waarin hulle voor die Alwetende en Heilige God belowe om Hom getrou saam met hul medegelowiges in die samekomste van die gemeente te dien en te aanbid. Maar wanneer daardie gelofte betaal moet word, begin hulle uitstel:
  • Hulle gaan studeer en sê: “Here, nie nou nie. Ek is nog jonk en wil nog die lewe geniet.”
  • Dan begin hulle werk en sê: “Here, nog nie. Ek moet nou eers my plekkie hier by die werk verseker.”
  • Dan ontmoet hulle hul man of vrou en trou en sê: “Here, nog so bietjie uitstel, die lewe is swaar vir jong getroudes.”
  • Dan kom die kinders en hulle sê: “Here, ek moet nou genoeg tyd aan my kinders spandeer. Ek het nie nou tyd om my geloftes te betaal nie.
  • En uiteindelik tree hulle eendag af en sê: “Here, die lewe is kort en daar is nog baie wat ek wil sien en geniet. Ek sal later my geloftes betaal.”
  • En dan kom die dood. Dan staan daardie persoon voor die Here, terwyl hy/sy moet erken: “Here, ek het nooit betaal wat ek beloof het nie. 

Betaal wat jy beloof – maar as jy onseker is, luister na die derde waarheid: moet eerder dan niks beloof nie.

MOET EERDER NIE BELOOF NIE
'n Belofte maak skuld en geloftes dubbele skuld slegs wanneer dit gemaak word. Vir solank as wat daar geen beloftes gemaak word nie, is daar geen skuld om te betaal nie.

'n Bank eis slegs die volle bedrag en die rente van 'n lening wanneer daardie lening aangegaan word. Maar waar daar geen lening is nie, is daar niks om terug te betaal nie. Iemand wat weet dat hy nie in staat is om 'n lening te betaal nie, is wys om nooit daardie lening uit te neem nie.

Beloftes bring altyd verantwoordelikheid. As jy nie bereid is om daardie verantwoordelikheid na te kom en te dra nie, moet eerder nie die belofte maak nie. Niemand sal jou kwalik neem nie. Inteendeel! Dit baie meer eerbaar om te erken dat jy nie kan betaal nie wat jy oorweeg om te belowe, as wat jy belowe en later moet erken dat jy nooit in staat was om te betaal nie.

In Spr. 20:25 word gesê dat wie ook al nie dink wat die gevolge van 'n belofte is nie, maar dit oorhaastig maak en later nie kan betaal nie, stel vir homself 'n strik: “Jy stel vir jouself 'n strik as jy oorhaastig iets aan die Here wys en agterna eers besef wat jy belowe het.

Daarom sê die Prediker in vers 4: “Dit is beter dat jy nie belowe nie, as dat jy belowe en nie betaal nie.”

Dit bring ons by die laaste waarheid: God laat nie met Hom spot nie.

GOD LAAT NIE MET HOM SPOT NIE
In vers 5 word die vraag gestel: “… Waarom sal jy God laat kwaad word oor wat jy gesê het en Hom jou werke laat vernietig?

Daar is soveel kerklidmate vandag wat vergeet dat die Een voor wie hulle hul geloftes aflê, die Heilige en Almagtige God is, die Een wat in die hemel is! God laat nie toe dat mense Sy met Hom spot nie. Hy is nie goedgesind teenoor hulle wat Sy Naam ydelik gebruik deur valse geloftes af te lê nie.

Daarom, onthou met Wie jy te doen het. Hy is die Een voor Wie jy eendag sal staan om rekenskap van jou lewe te doen. In die woorde van dieselfde Prediker in Pred. 12:14: “God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.

Waarom sal ons die oordeel van die Here oor ons lewens opwek deur oorhaastig dinge te sê en te belowe wat ons nie kan betaal nie?! Nee, wees eerder stil. Belowe niks en daar sal geen skuld wees nie!

SLOT
Laat ons opnuut aan die Here toewy en opnuut die geloftes wat ons voor Hom afgelê het, bevestig. 

Laat ons die toekomstige geloftes wat ons wil maak, met groot versigtigheid maak. Maak eers seker wat die kostes is, voor jy jou tot die betaling daarvan verbind.

En daar waar ons dalk geloftes in onkunde gemaak het, laat ons die volle gevolge daarvan te wete kom. Laat ons nie verder uitstel om te betaal wat ons beloof het nie, maar laat ons met bereidwilligheid dit nakom.

No comments:

Post a Comment