Saturday 1 February 2014

Die opstanding by die wederkoms van Christus


Skriflesing: 1 Thess. 4:12-18
Tema: Die opstanding by die wederkoms van Christus

INLEIDING
Die dood was, en sal seker nooit, 'n gewilde onderwerp wees nie. En tog, moet ons erken, sal ons almal eendag ons kop neerlê. Ons is immers almal sterflike mense, mense gemaak uit die stof van die aarde.

Ook in die gemeente in Thessalonika is die gelowiges met die sterflikheid van die mens gekonfronteer. Dit duidelik uit Paulus se skrywe aan hulle dat daar van die gelowiges was wat 'n baie spoedige wederkoms van Christus verwag het. Die probleem was egter dat daar van die gelowiges in die gemeente begin sterf het. Dit het die gelowiges allerhande vra oor die opstanding en die wederkoms laat vra. Een van die vrae wat gevra is, was: Sal die gelowiges wat reeds gesterf het, ook die wederkoms van Christus ervaar?

Dit is om hierdie vraag te beantwoord wat Paulus aan die gemeente die deel skryf wat ons gelees het.

In hierdie verse meld Paulus:
  • in die eerste plek, die doel waarom hy hierdie onderwerp aanraak,
  • tweedens gee hy die versekering van die opstanding van die wat gesterf het,
  • en derdens wys hy op die orde wat by die wederkoms gaan wees.

Die doel, die versekering en die orde.

DIE DOEL
Die apostel begin hierdie gedeelte deur sy doel te meld. Hy skryf in vers 13: “Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur soos die ander mense wat geen hoop het nie.

Die doel wat Paulus hulle vermeld is tweeledig.

In die eerste plek wil hy hulle onderrig oor wat met die ontslapenes gaan gebeur. Die woord “ontslapenes” is 'n eufinisme – 'n manier om iets sagter te stel – om na die wat gesterf het, te verwys.

Ons almal ken die spreekwoord: “'n Klein bietjie kennis is gevaarlik”. En hiervan is die Here ook bewys. Daar het al menigte dwalinge die lig gesien, omdat mense 'n klein bietjie van iets geweet het, en gedink het dat hulle die alfa en omega van die onderwerp deurdink het. Daarom onderrig die Here die gelowiges in Thessalonika en ook ons oor wat met die ontslapenes gaan gebeur by die wederkoms van Christus.

In die tweede plek gaan daar saam met kennis ook 'n wonderlike troos. Dit is wanneer mense in onkunde uitsprake maak oor die lewe na die dood, dat hulle trooswoorde dikwels leeg en hol is. Trooswoorde wat mooi en soetsappig klink, maar nie werklike troos in hulle het nie. Om maar een voorbeeld te noem: Ons hoor dikwels op begrafnisse dat die “Here die persoon kom pluk het uit Sy hele blombedding, want hy was die mooiste blom”, of “die Here het hom daar nodig gehad”. Met alle respekte gesê, al hierdie dinge mag goed bedoel word, maar dit totaal leeg van enige Bybelse waarhede en daarom ook leeg van troos.

God wil nie hê dat Sy kinders mekaar met leë woorde moet troos nie. Dis iets wat die wêreld doen, daarom dat hulle as “mense sonder hoop” beskryf word. Nee, as gelowiges moet ons mekaar met die waarhede van die Skrif troos. Want dis net deur die woord waar ons ware troos sal vind.

Wat moet ons dan weet oor die opstanding van hulle wat ons vooruit gegaan het?

DIE VERSEKERING
In die eerste plek moet ons weet dat die opstanding vas en seker staan. Dit sal plaasvind! Hoe kan ons dit sê? Omdat God vir ons daarvan verseker het deur die opstanding van Sy Seun uit die dood. Daarom staan daar in vers 14 geskrywe: “Ons glo immers dat Jesus gesterwe het maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.

In vers 14 vind ons 'n dubbele troos:
  • In die eerste plek die feit dat omdat Christus uit die dood opgestaan het, ons seker kan wees dat almal wat in Hom geglo het ook uit die dood opgewek sal word. In 1 Kor. 15 spandeer die apostel Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees 'n hele hoofstuk aan hierdie een waarheid!
  • Maar in die tweede plek word ons ook getroos met die wete dat wanneer ons sterf ons by Christus is. Die frase “na Hom toe sal neem” kan meer letter vertaal word soos in die ’53 Vertaling met “sal saam met Hom bring”. Maar hoe kan die ontslapenes saam met Christus kom by Sy wederkoms, as hulle nie al reeds in Sy heerlike teenwoordigheid is nie. Dus, ja, daar sal 'n dag kom wanneer die grafte sal oopbreek en die dooies opgewek sal word; maar in die tussen tyd is die wat gesterf het, se gees reeds by die Here in Sy teenwoordigheid.

Wat 'n wonderlike troos om mekaar mee te troos by 'n oop graf: Ja, die liggaam word neergelê, maar ons weet sy gees is by die Here! Ja, die liggaam word neergelê, maar ons weet by Christus se wederkoms sal die liggaam in onsterflikheid opgewek word.

Is hierdie nie 'n veel beter en groter troos as “dit was sy tyd om gepluk te word” nie?!

DIE ORDE BY DIE WEDERKOMS
In vers 15-17 verduidelik die apostel onder die inspirasie van die Heilige Gees wat by die wederkoms sal plaasvind. Aangesien hierdie een die gedeeltes is wat dikwels misverstaan word en misbruik word om leerstelling soos die wegraping te regverdig is die nodig dat ons, voor ons aan beweeg, net weer aan die verband herinner:
  • In die eerste plek is Paulus hulle besig om hierdie te bespreek wat met die gelowiges gaan gebeur – nie alle mense nie. Daar is ander gedeeltes wat handel oor die opstanding van die ongelowiges, maar dit is nie die fokus in hierdie gedeelte nie.
  • In die tweede plek is hier slegs sprake van een wederkoms wat die ewigheid inlei (v. 17). Die idee van 'n wegraping en 'n tweede wederkoms is vreemd aan die verband van 1 Thess. 4:13-18.
  • Derdens, die woord wat sommige misbruik om “wegraping” te regverdig is die Griekse woord wat beteken om “iets vas te gryp” / “te vat” en dra gewoonlik die idee van iets wat skielik gebeur en nie gekeer kan word nie. Ons sou dus kon vertaal vertaal: “dat ons skielik saam met hulle wat opgewek is in die wolke geneem sal word, Jesus tegemoet.”

Met hierdie verband in ons gedagtes, kom ons kyk nou na die volgorde wat sal plaasvind:
  • In vers 15 lees ons dat daar by die wederkoms van Christus steeds gelowiges op aarde sal wees.
  • Wanneer Christus verskyn, sal daar 'n paar dinge gebeur: daar sal die geklink van die aartsengel se stem en 'n trompet wees wat soos aankondigers die einde sal aankondig, asook die koms van Christus (v. 16).
  • Daarna sal Christus sigbaar neerdaal en al die gelowiges wat gesterf het, eerste opwek (v. 16). Uit vers 17 wil dit voorkom of Christus nie tot op die aarde sal neerdaal nie, maar slegs in die wolke bo die aarde waar almal Hom kan sien.
  • Nadat al die gelowiges opgewek is, sal alle gelowiges opgeneem word – 'n soort hemelvaart – op die wolk tot waar Christus vir hulle in die lug wag (v. 17).
  • Hierdie gebeurtenis sal die einde van die wêreld aankondig en die ewigheid inlei, want daar staan geskrywe in vers 17 se einde: “… En so sal ons altyd by die Here wees.

Dus, kortliks saamgevat: By Christus se wederkoms, sal Hy in die wolke verskyn, die gelowiges wat gesterf het opwek, al die gelowiges sal na Hom in die wolke opgeneem word en dan begin die ewigheid.

Die gelowiges in Thessalonika en ook ons vandag hoef nie te vrees dat diegene wat gesterf het, die wederkoms sal mis nie. Alle gelowiges – kop vir kop, groot en klein – wat geleef het vanaf die skepping tot by die wederkoms sal opgewek word en die ewige heerlikheid saam met Christus binnegaan!

Wat 'n wonderlike trooswoord! Laat ons dan gehoor gee aan die opdrag van vers 18: “Troos mekaar dan met hierdie woorde.”

SLOT
Kyk ons vandag rondom ons, dan sien ons baie mense wat treur sonder hoop by 'n oop graf. Mense wat soms heeltemal beheer verloor en selfs agter die kis die graf wil inklim. Mense wat sonder God en daarom sonder hoop is in hierdie wêreld. Dit is ons roeping om ook aan hierdie mense die Evangelie van verlossing in Christus te verkondig. Ja, ons kan niks doen vir die ongelowige wat reeds gesterf het nie, maar vir hulle wat nog lewe kan ons oproep om hul hoop en vertrou in Jesus Christus, die Opstanding en die Lewe, te stel.

En vir ons wat by 'n oop graf gestaan het, of in die toekoms sal moet staan, laat ons die Woord van die Here in ons harte bewaar. Laat ons onthou dat die dood nie die einde is nie, maar slegs die begin. Laat ons uitsien na die dag wanneer ons Verlosser en Here op die wolke sal verskyn, die grafte sal oopbreek en ons in heerlikheid saam met Hom die ewigheid sal ingaan. Laat ons mekaar met hierdie trooswoord van die Here troos en bemoedig. 

No comments:

Post a Comment