Monday 3 February 2014

Lewe in afwagting van die wederkoms van Christus


Skriflesing: 1 Thess. 5:1-11
Tema: Lewe in afwagting van die wederkoms van Christus

INLEIDING
In 1 Thess. 4:13-5:11 spreek die apostel Paulus twee emosies aan wat algemeen voorkom onder alle mense:
  • In 1 Thess. 4:13-18 spreek hy die emosie van hartseer aan, soos ons verlede week gesien het. Die gelowiges in Thessalonika was hartseer oor die gelowiges wat reeds gesterf het en het begin vrae vra oor of hulle ook deel sal hê aan die wederkoms van Christus.
  • In 1 Thess. 5:1-11 spreek hy 'n tweede emosie aan, nl. vrees – vrees vir die wederkoms van Christus. Die wederkoms van Christus is 'n wonderlike vooruitsig – mits dit binne die regte verband verstaan word. 

In 1 Thess. 5:1-11 roep die Here deur Sy apostel die gelowiges op om in afwagting van die wederkoms te lewe. Dit beteken dat verkeerde idees wat onder die gelowiges geleef het, eers reg gestel moes word. Eers nadat die verkeerde idees reg gestel is, kon die gelowiges gewys word op hoe hulle moes lewe.

VERKEERDE IDEES REG GESTEL
Vrees het 'n manier om homself aan die slaap te sus deur te sê: “As ek weet wanneer die gevaar gaan kom, kan ek daarvoor gereed wees.” Hierdie was ook die gedagte onder die gelowiges in Thessalonika.

Paulus hulle het sekerlik met die gelowiges gepraat oor die wederkoms van die Here. Daarom skryf hy in vers 2: “Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag.” Die uitdrukking “die dag van die Here” is deur in die Ou Testament gebruik om te verwys na die dag waarop God die wêreld sal oordeel. Daar is baie mense vandag wat – as hulle nog glo in die wederkoms – 'n baie idiliese beeld van die wederkoms het. Maar kyk ons na die beskrywing van die dag van die Here, is dit 'n dag wat angswekkend sal wees. Ons lees byvoorbeeld in die profete die volgende beskrywings:
  • Joël skryf in Joël 2:1-2: “Blaas die ramshoring in Sion, roep hard op My heilige berg. Al die inwoners van die land sal bewe, want die dag van die Here kom, dit is naby: dié stikdonker dag, die dag van donker wolke waarop die groot sterk nasie oor die berge uitsprei soos die lig van die dagbreek uitsprei …” En ook in vers 11: “… Die dag van die Here is die groot dag, 'n verskriklike dag; wie is daarteen bestand?
  • Ons vind dieselfde prentjie in Amos 5:18-20 waar die Here vir die volk wat hul rug op Hom gedraai sê: “Ellende wag vir dié wat smag na die dag van die Here! Waarom verlang julle na die dag van die Here? Dit sal donker bring, nie lig nie; dit sal wees soos wanneer iemand vir 'n leeu vlug en 'n beer val hom aan, of soos wanneer iemand tuiskom en hy leun met sy hand teen die muur en 'n slang pik hom. Die dag van die Here bring donker, nie lig nie; net duisternis, nie 'n ligstraal nie.
  • Of dink aan die uitspraak van die Here deur die profeet Maleagi in Mal. 4:1: “Die dag kom en hy brand soos 'n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie 'n wortel, nie 'n tak oorbly nie.” 

Hierdie, en ander uitsprake in die Ou Testament, leer ons dat die dag van die Here beslis nie 'n ligtelike saak sal wees nie. Die aarde sal voor Hom bewe, die fondamente van die berge sal skud en losruk, die see sal opwel soos nog nooit te vore nie en die volke sal skuiling soek.

Omdat hierdie so 'n vreeslike dag sal wees, het die gelowiges probeer om hul voor te berei vir die dag, maar op die verkeerde manier. Hulle het probeer uitvind wanneer die dag sal wees, sodat hulle gereed sal wees daarvoor. Maar die apostel Paulus wys hulle op hul denkfout. Hy sê in vers 1-3 dat dit nie nodig is dat hulle aan die gemeente oor die tyd hoef te skryf nie, omdat hulle reeds weet dat niemand weet wanneer die dag sal aanbreek nie. Om hierdie waarheid tuis te bring, gebruik hy twee beelde:
  • In die eerste plek sê hy in vers 2 dat die dag van die Here “onverwags sal kom, soos 'n dief in die nag”. Diewe is vreemde mense. Hulle los nie vir jou 'n waarskuwingskaartjie wat sê: “Geagte inwoner van so en so. Ons gaan môreaand om 23:00 by jou huis inbreek. Vriendelike groete, die buurt-inbreker” nie. Nee, 'n dief kom in die nag wanneer niemand hom kan sien nie, wanneer almal slaap sodat niemand hom sal hoor nie. Sy besoek is totaal onverwags en skielik. So sê Paulus hulle sal dit wees met die koms van Christus. Dit sal skielik wees, sonder waarskuwing.
  • Die tweede beeld wat hy gebruik is die beeld van die geboortepyne van 'n swanger vrou. Hy skryf in vers 3: “Wanneer die mense sê: ‘Alles is rustig en veilig,’ sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne 'n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie.” Waar die onverwagte en skielike wederkoms van Christus in v. 2 beklemtoon is, beklemtoon Paulus hulle in v. 3 die skielike en onvermydelike wederkoms van Christus. Die geboortepyne word verwag, sodra die vrou hoor dat sy swanger is. Dit sal kom, sy kan dit nie verhoed nie. Dit sal ook skielik wees, al verwag sy dit. So sal dit dan ook by die wederkoms wees. Alhoewel die feit van die wederkoms reeds aangekondig is, sal dit steeds skielik gebeur en daar is niks wat die mens kan doen om dit te verhoed nie. 

Saamgevat, sê Paulus hulle: Moenie julle kop breek oor die tyd van Christus se wederkoms nie. Weet net dit: dit sal onverwags wees en dit sal onvermydelik wees. Daarom wees gereed daarvoor. 

WAG OP DIE REGTE MANIER
In v. 4-8 word die regte ingesteldheid ten opsigte van die wederkoms vir ons verduidelik. Dit doen Paulus hulle deur 'n skerp kontras te stel tussen vier teenoorgesteldes:
  • Die kontras tussen dag en nag.
  • Die kontras tussen lig en duisternis.
  • Die kontras tussen wakker bly en aan die slaap wees.
  • Die kontras tussen nugter wees en dronk wees. 

As gelowiges is ons deel van die lig, ons lewe in die dag, ons is wakker en by ons volle positiewe. Dit beteken dat ons sien omkant gevang word deur iets wat skielik gebeur nie. Want wanneer word iemand omkant gevang deur iets wat skielik gebeur? Daar is drie geleenthede wanneer iemand omkant gevang word:
  • Eerstens wanneer dit nag is en alles donker is. In die donkerte kan jy nie die gevaar sien aankom nie.
  • Tweedens wanneer iemand aan die slaap is en iets skielik gebeur. Dink maar net hoe 'n alarm jou kan laat skrik wat skielik afgaan in die middel van die nag terwyl jy rustig slaap.
  • Derdens wanneer iemand dronk is en nie kan reageer soos wat hy moet op die gevaar wat hom skielik tref nie. 

Dit is die verskil tussen die gelowiges en ongelowiges.
  • Die gelowiges is mense van die lig, wat weet dat die wederkoms van Christus kom en daarom wakker is en dit verwag. Hulle laat hulself nie toe om bedwelm te word deur dit wat aards en tydelik is nie, maar met nugter denke hou hulle voortdurend die hemel dop in afwagting van die verskyning van Christus.
  • Die ongelowiges aan die ander kant, is soos mense wat lewe in die duisternis en nie die gevaar van die wederkoms van Christus raaksien of daarvan bewus is nie. Hulle is geestelik aan die slaap en hoor nie die voetstappe van Christus in die wedergeskiedenis nie en sien nie die tekens van die tyd nie. Hulle verstaan nie dat die tyd min is en dat die wederkoms enige oomblik kan aanbreek nie, want hulle verstand is benewel en bedwelm deur die bekoortlikhede van hierdie tydelike lewe. Deur al die rykdom en prag van die wêreld het die Satan hulle bedwelm en dink hulle dat hulle vir hulself hemel op aarde moet maak. 

'N HOOPVOLLE AFWAGTING
Wat maak dan die verskil tussen hoe die gelowiges en ongelowiges na die wederkoms kyk? Die verskil is Christus. As kinders van die lig, trek ons die borsharnas van geloof en liefde aan. In die geloof, rig ons ons oë na die hemel in afwagting van Christus se verskyning; terwyl ons in liefde hier op aarde lewe en 'n ligdraer is van die Evangelie van verlossing in Christus. Deur hierdie geloof en liefde plaas ons ook die helm van hoop op die verlossing op ons kop en stry ons die goeie stryd in die wete dat ons by die wederkoms van Christus die volle verlossing deelagtig sal word.

Hoe kan ons met hierdie afwagting op die wederkoms lewe? Hoe kan ons uitsien na die dag van die Here wat deur die profete en ook in die Nuwe Testament beskryf word as 'n vreeslike dag, 'n dag van verskrikking, 'n dag wat vrees in die harte van mense sal laat inskiet? Hoe? Ons kan uitsien na die wederkoms van Christus omdat ons weet dat die Regter wat kom, ook ons Verlosser is wat Sy lewe vir ons afgelê het. Die apostel Paulus skryf in vers 9-10: “God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by Sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.”

Die Regter wat kom, is die Een wat Sy lewe vir ons afgelê het! Deur Sy dood het ons die lewe ontvang. Daarom sal ons ook by Sy wederkoms die volle erfdeel ontvang – 'n lewe in die heerlike teenwoordigheid van die Almagtige God vir ewig en altyd. Ons het beslis 'n wonderlike vooruitsig! 'n Vooruitsig wat nie in ons vrees wek nie, omdat ons weet dat ons straf reeds gedra is en die prys vir ons sonde reeds betaal is. Daarom verwag ons nie straf nie, maar verlossing; nie Godverlatenheid nie, maar Godsteenwoordigheid; nie vrees en bewing nie, maar blydskap en vreugde!

SLOT
Die apostel sluit v. 11 af op 'n soortgelyke wyse as 4:18: “Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.” Die wederkoms van Christus, die wete dat Hy ons Verlosser is en die feit dat ons die volle verlossing by Sy koms sal ontvang; is die gereedskap waarmee ons mekaar se geloof versterf, die bron waaruit ons mekaar bemoedig en aanspoor en die vlam wat die vuur van hoop in ons harte brandend hou!

Mag ons lewe daarvan getuig dat ons die skielike en onvermydelike wederkoms Christus enige oomblik verwag. En mag God ons deur Sy Gees die krag gee om steeds op ons pos te staan by Christus se wederkoms, gewapen met die harnas van geloof en liefde en die hemel van hoop op die verlossing.

No comments:

Post a Comment