Monday 17 March 2014

Beoefen die gemeenskap van die gelowiges

Skriflesing: 1 Thess. 5:12-28
Tema: Beoefen die gemeenskap van die gelowiges

INLEIDING
Paulus hulle kom nou aan die einde van hul brief aan die gelowiges in Thessalonika. In hierdie brief het hulle:
  • Vir die gelowiges gebid,
  • Die gelowiges aangespoor en bemoedig,
  • Verlange teenoor die gelowiges uitgespreek, 
  • Hulle vermaan om heilig te lewe,
  • Hulle getroos en geleer oor wat om by die wederkoms van Christus te verwag
  • Hulle opgeroep om te groei in geestelike volwassenheid en onderskeidingsvermoë.

Nou is daar nog net vier verse oor, vers 25-28. In hierdie verse vind ons die laaste drie opdragte wat die Here deur Sy apostel gee. Die klem wat in hierdie opdragte gelê word, is dat ons die gemeenskap van die gelowiges moet beoefen.

BID VIR ONS
In vers 25 skryf Paulus hulle: “Broers, bid ook vir ons.” In die brief het Paulus hulle reeds melding gemaak van die feit dat hulle vir die gelowiges in Thessalonika bid:
  • In 1 Thess. 1:2 skryf hulle dat hulle altyd die Here dank wanneer hulle aan die gemeente in Thessalonika dink.
  • In 1 Thess. 3:12-13 bid hulle dat die Here hulle sal laat toeneem in liefde vir mekaar, dat die Here hulle sal bewaar om onberispelik te wees en te heilig.
  • In 1 Thess. 5:23 bid hulle dat die Here hulle liggaamlik en geestelik sal bewaar.

Maar Paulus hulle besef ook dat hulle as medewerkers in die koninkryk van God ook die gebede van hulle medegelowiges nodig het. Daarom skryf hulle hier aan die einde dat die gelowiges in Thessalonika ook vir hulle sal bid waar hulle besig is om die Evangelie van verlossing in Christus aan die heidene te verkondig.

Hierdie is nie die eerste of enigste plek in die briewe van Paulus waar hy vir voorbidding gevra het nie:
  • Ef. 6:19 skryf hy: “Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die Evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.
  • 2 Thess. 3:1-2 skryf hy: “Verder, broers, bid vir ons, sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral in ere gehou mag word soos by julle. Bid ook dat ons van verkeerde en slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie.

Die vraag wat ons vir onsself moet afvra, is dit: Hoeveel bid ons vir die bedienaars van die Woord? Hoeveel bid ons dat die Here 'n geopende deur sal gee, sodat die Evangelie wat verkondig word aanvaar sal word? Hoeveel bid ons dat die Here Sy koninkryk sal laat deurbreek in die lewens van mense deur die verkondiging van Sy Woord?

Dit is deel van ons Christelike roep en deel van die beoefening van die gemeenskap van die gelowiges om vir mekaar en vir die bevordering van die Evangelie van Christus te bid.

GROET MEKAAR
Die tweede van hierdie laaste opdragte vind ons in vers 26. Daar staan: “Groet al die medegelowiges met 'n soen van Christelike broederskap.”

Die soengroet op die wang is vandag nog in baie lande 'n algemene gebruik. Tog verskil die gebruik van plek tot plek. In een land word daar gesoen-groet. Op ander plekke word daar vir mekaar 'n handdruk gegee of selfs omhels. Terwyl daar weer op ander plekke geen fisiese kontak is nie, maar 'n buiging gemaak word.

Watter gebruik dit ook al mag wees, moet ons in hierdie vers op twee belangrike sake let.

In die eerste plek moet ons die woordjie “al” raaksien. Paulus hulle skryf: “Groet al die medegelowiges …”. Met ander woorde, binne die gemeenskap van die gelowiges mag daar geen partyskap wees nie. Daar mag niemand voor getrek of oorgesien word nie. Ons is almal lede van die huisgesin van God, ons is almal deur die verlossingswerk van Jesus Christus met God versoen en ons is almal deur die selfde Gees lewend gemaak en aan mekaar verbind. Daarom mag een nie op die ander neersien nie.

In die tweede plek moet ons verduidelik wat die “soen van Christelike broederskap” behels het. Dit was meer as net 'n soen op die wang of 'n handdruk. Gelowiges het mekaar gewoonlik met 'n seënwens gegroet, baie dieselfde as wat ons in die begin van die briewe van die Nuwe Testament vind. Wanneer hulle mekaar gegroet het, sou hulle dikwels sê: “Genade en vrede vir jou”. So het hulle mekaar die ondersteuning en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, toegebid!

Vandag verskil die manier waarop ons mekaar groet, maar die inhoud behoort dieselfde te bly. Dikwels klink ons groet wêrelds, deurdat ons onmiddelik vra: “Hoe gaan dit?” en dan gewoonlik in die verbygang sonder om eers stil te staan en te luister na die antwoord. Dit is 'n goeie en Skriftuurlike gebruik om ons medegelowiges met die seën van die Here of met 'n bede te groet. Nie net getuig dit van die feit dat ons werklik vir mekaar omgee nie, maar dit getuig ook van die feit dat ons deel van die gemeenskap van die gelowiges is – kinders van God.

LEES DIE BRIEF IN DIE GEMEENTE
Die laaste opdrag wat Paulus hulle gee, lees ons in vers 27: “In die Naam van die Here dring ek by julle daarop aan dat hierdie brief aan al die gelowiges voorgelees moet word.”

Ons moet onthou dat toe Paulus hulle hierdie brief geskryf het, die grootste deel van die Nuwe Testament nog nie op skrif gestel is nie. Ons moet ook onthou dat die apostel nie alles wat die gelowiges moes weet in een brief geskryf het nie. Dikwels was daar meer as een brief geskryf aan 'n gemeente, of was daar sake in ander briewe bespreek wat ook in die gemeente voorgelees moes word. So lees ons byvoorbeeld in Kol. 4:16 hoe Paulus die gemeente beveel om die brief wat aan die Laodisense gerig is, ook in die gemeente van Kolosse te lees, en die brief wat aan hulle geskryf is, weer in Laodisense gelees moet word.

Maar verder moet ons ook raaksien dat hierdie briewe nie net bedoel was vir 'n paar gelowiges in die gemeente nie. Dit was nie net die predikant of die ouderlinge of die diakens wat dit moes lees en bestudeer nie. Dit moes “aan al die gelowiges voorgelees” word. Die Bybel was nooit bedoel vir 'n paar uitgesoekte, geestelike leiers nie. Dit was nog altyd die doel van die Here om Sy Woord vir al Sy kinders beskikbaar te stel. Daarom moet ons as gelowige getrou wees in die eredienste waar die Woord voorgelees en verduidelik word, maar ook getrou wees in ons persoonlike studie van die Woord.

Ons moet besef dat ons 'n groot voorreg het. Ons het die Woord van God volledig in ons eie taal. Tog is daar baie van ons medegelowiges wat nie deel in hierdie voorreg nie. Daarom moet ons bid dat die Here werkers sal stuur om Sy Woord te vertaal in die tale van die wêreld wat nog nie die Woord in hulle eie taal besit nie. Ons moet selfs, waar ons kan, finansieel bydra vir die opleiding van vertaler en die projekte wat hierdie groot werk onderneem.

SLOT
Die apostel Paulus hulle sluit die brief af met 'n seën. Hy skryf in vers 28: “Die genade van ons Here Jesus Christus sal by ons wees.”

Hierdie seën is die hartklop van die gemeenskap van die gelowiges. Elke gelowige wat deel van die huisgesin van God geword het, het dit net geword deur die genade van God wat daar in Jesus Christus is. By Hom het ons niks verdien nie en vir Hom kon ons niks aanbied nie. Nee, uit genade is ons gered en uit genade bly ons ook verloste mense in Jesus Christus.

Maar hierdie seën mag nie net woorde bly nie. Die mense rondom ons moet sien hoe die genade wat daar in Christus is, ook in ons lewe sigbaar word in ons daaglikse omgang met ons medegelowiges. Soos wat ons van God genade ontvang het, behoort ons ook genade aan ander te bewys. Sodoende sal ons in die voetstappe van ons Here en Verlosser volg. Dan sal mense na die gemeenskap van die gelowiges kyk, en ons Vader wat in die hemel is, verheerlik. Amen.

No comments:

Post a Comment