Sunday 28 September 2014

Die koms van die Koning (Mark. 1:1-4, 14-20)

Skriflesing: Mark. 1:1-4, 14-20
Tema: Die koms van die Koning

INLEIDING
Die profeet Jesaja roep uit:
Iemand roep:
‘Maak vir die Here 'n pad
in die woestyn,
maak in die barre wêreld
'n grootpad vir ons God!
Elke laagte moet opgevul word,
elke berg en rant
moet gelykgrond word.
Elke bult moet 'n gelykte word
en elke koppie 'n vlakte.
Dan sal die mag van die Here
geopenbaar word;
al wat leef, sal dit sien.
Die Here self het dit gesê’.” (Jes. 40:3-5)

Só begin die Evangelie volgens Markus dan ook: “… Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.” (Mark. 1:3). Die Een wat kom ons Sy volk te verlos, is op pad. Die Een wat reinig van sondes is voor die deur. Die Een wat die sondes van die wêreld wegneem is naby. Hy is die Koning en Sy voetstappe weerklink!

In die eerste verse van Markus word Christus vir ons bekendgestel as die Een wat Homself met ons kom vereenselwig, sodat ons deur Hom verlos kan word. Dit het ons verlede week gesien in verse 9-13. Maar Christus word ook vir ons uitgewys as die Koning wat kom. In verse 1-4 en 14-20 sien ons hoe die Koning:
  • Aangekondig word.
  • Spreek en roep.
  • Gevolg word.

DIE KONING AANGEKONDIG
Die profete van die Ou Testament het deur die eeue die koms van die Koning aangekondig. Jesaja het uitgeroep: “Maak vir die Here 'n pad in die woestyn …” (Jes. 40:3). Maleagi het aangekondig: “Ek gaan nou My boodskapper stuur, hy sal die pad voor My regmaak en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na Sy tempel kom …” (Mal. 3:1). En nou 400 jaar na die profeet Maleagi verskyn Johannes die Doper in die woestyn. Die voorloper is hier en hy roep uit: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.” (Mark. 1:4).

Die prentjie wat vir ons hier uitgebeeld word, sluit nou aan by die antieke samelewing. Wanneer 'n koning 'n stad sou besoek, is daar boodskapper of herout vooruit na die dorp gestuur. So boodskapper sou die stad binnekom met die vlag van die koning en hard in die strate uitroep: “Die koning kom! Maak julle gereed vir die koning!” So is die hele dorp in kennis gestel dat die koning op pad was en het mense hulle voorberei om die koning te ontmoet.

Dit is wat ook hier in Mark. 1 gebeur. Johannes die Doper is hierdie boodskapper (vgl. Mal. 3:1, 4:5-6; Mark. 1:2-4) wat aankondiging: “Die Koning wat deur die profete aangekondig is, is naby. Maak julle gereed. Bekeer julle (d.w.s. sorg dat julle lewens in orde is om Hom te ontmoet). Laat julle doop (simbolies van die skoon was van hulle lewens), sodat hulle die Koning met skoon klere tegemoet kan gaan.”

Dan verskyn die Koning!
  • Nie met 'n groot skare wat Hom volg nie – maar alleen.
  • Nie in koninklike klere en 'n goue kroon nie – maar geklee soos 'n gewone man.
  • Nie met trompetgeklank nie – maar stil en onopmerklik.

Die Koning is hier – en niemand kom dit agter nie. Alleen gaan Hy met Johannes die water in. Maar na Sy doop word die stilte gebreek, want die hemele gaan oop en die Vader kondig aan die Koning – Sy geliefde Seun – hier is (Mark. 1:11). Hy word bekragtig vir die werk wat vir Hom voorlê deurdat die Gees soos 'n duif op Hom neerdaal (Mark. 1:10). En dan so skielik soos wat Hy verskyn het, so skielik verdwyn Hy dan weer die woestyn in om deur die duiwel versoek te word (Mark. 1:12-13).

DIE KONING SPREEK EN ROEP
Na Sy verskyning in die Suide van Palestina gaan daar 'n tyd verby voor die Koning weer in die Noorde van die land Sy verskyning maak. Hierdie keer is dit nie by die Jordaan nie, maar by die See van Galilea (ook beteken as die See van Tiberias of die Meer van Genesaret). Johannes die Doper is in die tussentyd deur Herodes gevange geneem en in die tronk gestop (Mark. 1:14). Hier langs die See van Galilea vind ons dan weer die Koning – hierdie keer is Hy nie stil nie, nie in die agtergrond nie, maar as die Een wat spreek en roep!

Christus se boodskap het by dié van Johannes die Doper aangesluit. Die kern daarvan word vir ons in vers 15 gegee: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die Evangelie.

Die tyd het aangebreek en die koninkryk is naby! Vir eeue is daar deur die profete van ouds aangekondig dat daar 'n tyd sal kom wanneer God Sy gesalfde Messias-Koning sal stuur en dat die koninkryk van God sal deurbreek. Daardie profesieë staan nou op die punt om in vervulling te gaan, want die Messias-Koning is hier en Hy is nie stil nie! Hy spreek en roep mense op tot bekering:
  • Sy woorde dra 'n Blye Boodskap van verlossing en vergewe van sondes.
  • Dit dra die Blye Boodskap van 'n herstelde verhouding met God.
  • Dit dra die Blye Boodskap dat mense burgers van God se koninkryk kan wees!

Maar Christus se woorde bly nie net by woorde nie. Nee, die Koning roep aktief. Ons sien Hom langs die See van Galilea, daar waar die wind op 'n rustige sonskyn oor die waters waai, met vissersbootjies wat die landskap versier. Langs die oewers is die vissermanne besig. Sommige gooi hul nette in in die hoop om 'n goeie vangs te kry. Ander sit in hul bootjies besig om hulle nette reg te maak. En so kom die Koning in die midde van hierdie vissers staan. Uit hierdie mense sal Hy Sy eerste dissipels roep! Wat 'n kontras. Die Koning gaan nie na die plek waar die geleerdes of rykes of mees vernaamde mense is nie. Nee, Hy roep Sy dissipels uit die gewone mense van die samelewing.

Wie kies Hy?
  • Simon (Petrus) (v. 16), die voorbarige een wat later Christus sou verloën (Mark. 14:29-31, 66-72), maar ook deur Christus begenadig sou word om nie net die leier van die Twaalf apostels te wees nie, maar ook 'n belangrike rol sou vervul in die leiding van die kerk (Gal. 2:9).
  • Andreas, die broer van Simon, wat altyd besig was om mense na Jesus te bring (Joh. 1:40-42; 6:8; 12:20-22).
  • Jakobus, die seun van Sebedeus, wat saam met Petrus 'n leier van die vroeg-Christelike kerk in Jersalem (Gal. 2:9) was en later ook die eerste apostel sou word wat 'n martelaarsdood sou sterf ter wille van Christus (Hand. 12:2).
  • Johannes, die broer van Jakobus, die geliefde dissipel (Joh. 13:23) en die skrywer van die Evangelie volgens Johannes, asook die briewe 1-3 Johannes en die boek Openbaring.

Met die roeping van hierdie vier manne, gaan Christus lynreg in teen die gebruike van die tyd. Die Joodse rabbi’s (soos bv. die Fariseërs en selfs Johannes die Doper) het ook dissipels gehad (Joh. 1:22, 35). Om volgelinge te hê sou niks vreemd wees nie. Maar wat wel vreemd is, was dat die rabbi’s nooit mense persoonlik uitgekies het om hulle te volg nie. Dit is aan die persoon oorgelaat om te kies deur wie hy hom wil laat onderrig in die Wet van Moses. Maar hier kies Christus manne by die naam uit – nie om in die eerste plek onderrig te ontvang in die Wet nie, maar om voorberei te word om “vissers van mense” te word (Mark. 1:17). Dit is die Koning wat roep en Sy onderdane vir Homself uitkies.

DIE KONING WORD GEVOLG
Tog roep die Koning nie net nie. Ons sien ook dat dié wat geroep word, Hom ook volg. Ons lees in vers 18 dat toe Christus vir Simon en Andreas geroep het hulle “onmiddelik” hul nette gelos het en Hom gevolg het. Ons sien dieselfde in vers 20 waar ook Jakobus en Johannes die nette gelos het, hul pa en die werkers agter gelaat het en dadelik Christus gevolg het.

Vanuit Joh. 1:35-51 is dit duidelik dat hierdie manne waarskynlik al vroeër met Christus kennis gemaak het. Maar hier kom Christus en Hy kom kies hulle uit as die eerstes van sy apostels en hulle gehoorsaam Sy roepstem. Hulle laat staan alles en volg Hom.

Wat ons moet raaksien is dit:
  • Die Koning wag nie vir volgelinge nie – Hy gaan haal hulle.
  • Die Koning smeek nie mense nie – Hy beveel hulle.
  • Die Koning laat nie mense die inisiatief neem nie – Hy neem dit.

Hy is Koning! Wanneer Hy soek, vind Hy ons; wanneer Hy roep, kom ons; wanneer Hy kies, gehoorsaam ons.

In hierdie eerste woorde van die Evangelie volgens Markus begin Christus, die Koning van Sy kerk, die eerste pilare van die Nuwe Testamentiese kerk op te rig – Sy dissipels wat nie net self volgelinge van Hom sou wees nie, maar op hulle beurt ander sou oproep om volgelinge van Christus te word, om in te val by die rangordes van Sy magtige leër en om leerlinge by Sy voete te wees.

SLOT
Vir eeue het die beloftes weerklink van die koms van die Koning. Profete het nagespeur na wat die tyd en omstandighede van Sy koms sou wees (1 Pet. 1:1-12). En op die tyd wat God daarvoor bepaal het, het hierdie Koning – Jesus Christus ons Here en Verlosser – verskyn. Hy het gekom om ook jou en my te roep – te roep na Hom, sodat ons ook deur Hom:
  • In 'n herstelde verhouding met God die Vader kan lewe.
  • Die ewige lewe mag ontvang en burgers van Sy koninkryk mag wees.
  • Voorberei en toegerus mag word om vissers van mense en soldate in Sy leërmag te wees.

No comments:

Post a Comment