Sunday 28 September 2014

Die almagtige Koning word stil by Sy Hemelse Vader (Mark. 1:29-39)

Skriflesing: Mark. 1:29-39
Tema: Die almagtige Koning word stil by Sy Hemelse Vader

INLEIDING
Op 'n sabbatdag in die noorde van Palestina, in die stad Kapernaum, sien ons die almagtige Koning Sy verskyning maak. 'n Dag waarop Hy Sy almag vertoon en in woord en daad bewys dat Hy die Christus is, die Messias wat deur die Ou Testamentiese profete aangekondig is.

Aan die begin van hierdie sabbatdag vind ons Christus in die sinagoge van Kapernaum, besig om die mense vanuit die Skrifte te leer. Maar in die sinagoge vind ons ook 'n man wat deur 'n bose gees besete is (Mark. 1:23). Christus dryf die bose gees uit (Mark. 1:25-26) en so begin 'n dag van wonderwerke.

In Mark. 1:29-34 sien ons hoe die Koning Sy almag verder vertoon deur siekes te genees en nog bose geeste uit te dryf. Maar terselfdertyd sien ons ook in Mark. 1:35-39 hoe die almagtige Koning ook by die Vader stil word en Sy kragte vir Sy taak weer hernu. Dus, aan die eenkant die almagtige Koning aan die werk, en aan die ander kant die almagtige Koning stil voor die Vader.

DIE ALMAGTIGE KONING AAN DIE WERK
Die uitdryf van die bose gees in die sinagoge van Kapernaum, was beslis nie die enigste of laaste wonderwerk van hierdie dag nie – en nog minder dié van Christus se bediening nie! Skaars is die bose gees uitgedryf, of ons sien hoe die mense vir Christus vertel van Petrus se skoonma wat siek is. Sy het 'n hoë koors en is bedlêend (Mark. 1:30). Dit wil voorkom of die dokters vir haar niks kan doen nie. Maar waar aardse dokters se kennis en vermoëns te kort skiet, daar word die almag van die Koning juis bewys! Christus gaan na haar toe. Hy neem haar aan die hand en help haar op. Dadelik verlaat die koors haar en sy begin om hulle te bedien (Mark. 1:31).

Hier moet die onmiddelikheid van hierdie gebeure raaksien. Christus raak haar aan en dadelik … nie na 'n paar ure nie … nie na 'n paar dae nie … ook nie na 'n paar weke nie … maar dadelik het sy gesond geword! So gesond, dat sy haar dagtaak onmiddelik kon hervat. Sy het nie nodig gehad om as’t ware eers asem te skep of vir 'n oomblik eers 'n bietjie te sit sodat haar kragte kon terugkeer nie. Nee, ons lees in vers 31: “Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.

Maar wat met die besetene in die sinagoge en met Petrus se skoonma gebeur het, was slegs 'n voorskou van wat op die res van hierdie dag sou plaasvind. Want toe dit aand geword het, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Christus toe gebring (Mark. 1:32).

Wat 'n aangesig moes dit nie wees nie! Nie net 'n sieke hier en daar nie, of een of twee besetenes nie … maar 'n menigte siekes en besetenes wat voor die deur van Petrus se skoonma saamgedrom het. 'n Beeld wat enige iemand sekerlik verskrik sou maak – want 'n skare van mense wat desperaat is, is altyd gevaarlik. Maar wat sien ons? Christus is nie vreesbevange nie. Hy maak nie planne om by die agterdeur uit te sluip en in die nag te verdwyn nie. Hy sê ook nie vir Petrus om die mense weg te jaag nie. Nee, die almagtige Koning kom na buite. Hy kom na die skare toe en deur Sy almag genees Hy elkeen wat voor Hom neergelê word en Hy bevry elkeen wat deur bose geeste besete is.

Hier moet ons tog een ding raaksien en goed verstaan. Daar is vandag baie wat daarop aanspraak maak dat hulle die gawe het om siekes te genees en duiwels uit te dryf. Wees versigtig. Want die meeste – indien nie almal nie – besit nie hierdie gawes nie. Nou kan daar dadelik gesê word dat die stelling onredelik en veralgemeen nie. Maar let goed op wat besig was om te gebeur in Mark. 1:32-34: Almal – nie net sommige nie – maar almal wat na Christus gebring word, word gesond gemaak en bevry. Tog sien ons vandag 'n menigte van selfaangestelde profete en apostels wat aanspraak maak op die gawes van genesing en uitdrywing, maar kyk ons na die mense wat hulle onder hande gehad het, sien ons dat hierdie mense slegter af is as wat hulle was. En daar waar genesings of bevrydings nie “suksesvol” is nie, word die skuld voor die deur van die siekte of “besetene” gelê deur vir hulle te sê dat hulle geloof nie sterk genoeg is nie of dat hulle 'n groter geldelike bydra moet gee! Watter onsin! Watter vermetelheid om mense wat na hulp soekend is te belas met sulke uitlatings. Hierdie selfaangestelde profete en apostels is nie deur God gestuur nie, as hulle was sou hulle die gawes beoefen het soos Christus dit vir ons hier voorstel: m.a.w. dat almal wat na hulle toe kom om genesing of bevryding dit kry – sonder uitsondering! Van sulke selfaangestelde profete en apostels lewer die Here deur die profeet Esegiël duidelik uitspraak:
3So sê die Here my God: Ellende wag vir die verwaande profete wat geen gesigte gesien het nie en hulle deur hulle eie gedagtes laat lei ... 6Hulle het gesigte gesien wat nie daar was nie en hulle waarsêery is leuens. Hulle sê: ‘Die Here sê’ al het Hy hulle nie gestuur nie, en dan verwag hulle dat Hy moet laat uitkom wat hulle sê. 7Hulle sien gesigte wat nie daar was nie en hulle verkondig leuens as waarsêery, hulle sê: ‘Die Here sê’, maar Ek het dit nie gesê nie. 8Daarom,” so sê die Here my God, “omdat wat hulle sê, vals is en omdat wat hulle as gesigte sien, leuens is, is Ek hulle teenstander,” sê die Here my God.(Eseg. 13:3,6-8)

Verder moet ons ook onthou dat nie alles wat bo-natuurlik is, noodwendig van God kom nie. Die duiwel het ook mag en is ook tot wonders in staat. Dit is juis deur wonders wat hy mense verlei. Daarom waarsku die Here ons deur Sy Woord dat die Bose deur wonders baie sal verlei. Christus self sê in Matt. 7:21-23 dat nie almal wat wonders doen gesante van God is nie:
21Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. 22Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’23Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.

Dieselfde waarskuwings weerklink ook op ander plekke in die Skrif:
  • In Matt. 24:11 waarsku Christus dat daar baie vals profete sal kom en mense mislei.
  • In 2 Tess. 2:9 word gesê dat die wettelose mens valse tekens en wonders sal doen.
  • In Op. 13:13-15 lees ons dat die dier uit die aarde – 'n simbole van valse profete – in staat sal wees om groot tekens en wonders te doen en dat hierdie gesag van die Satan kom (Op. 13:4). 

Wie aanspraak maak op hierdie gawes van genesing en uitdrywing, moet dit doen soos Christus dit vir ons hier voorhou – en soos dit ook deur die apostels later beoefen is – naamlik dat elke sieke genees en elke besetene bevry moet word. Wie dit nie so beoefen nie, laat hy weg gaan voor ons en ons nie pla met verdigsels en fabels nie. Die Groot Koning het Sy almag bewys deur die siekes te genees en besetenes te bevry.

DIE KONING WORD STIL BY DIE VADER
Nie net sien ons die Koning aan die werk besig om siekes te genees en besetenes te bevry nie. Ons sien Hom ook tyd maak om by die Vader stil te word. Ons lees in Mark. 1:35 die volgende: “Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid.

Christus het Sy hele aardse lewe en bediening stap vir stap, tree vir tree, volgens die wil van die Vader ingerig. Daarom het Hy altyd stil geraak om die wil van die Vader te ken en om by Hom stil te word vir krag. Lees ons deur die Evangelie beskrywings vind ons die almagtige Koning dikwels in gebed erns op 'n eensame en afgeleë plek:
  • Ons sien dit hier in Mark. 1:35 na 'n vermoeiende dag en aan die begin van 'n nuwe dag waar Hy die wil van die Vader aan mense bekend sou maak en weer swaarde met die Bose sou moes kruis (Mark. 1:38-39).
  • Ons sien Hom in gebed na die eerste vermeerdering van die brode in Matt. 14:23.
  • Ons sien Hom weer in gebed voordat Hy 12 van die dissipels kies om later apostels te word in Luk. 6:12.
  • En weer sien ons Hom in gebed voor Sy kruisiging in die Tuin van Getsemane in Mark. 14:32-39.
  • Dat hierdie Sy gebruik was, is duidelik vanuit Luk. 5:16 waar ons lees: “Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.”

Hierin het ons Verlosser en Koning ook vir ons die voorbeeld gestel. Hy het die erns en die noodsaak van gebed besef en daarom deur Sy woorde en dade ook vir ons die voorbeeld van 'n lewe van gebed voor God gestel. Met “'n lewe van gebed” word nie bedoel 'n paar minute in die dag nie, maar 'n lewe wat voordurend in gesprek met God is. Ons kan enige tyd van die dag, enige plek en onder alle omstandighede met ons Hemelse Vader in gebed verkeer. Ons kan met Hom praat as ons in die kar ry, of as ons op die speelgrond is, in die klas sit of op kantoor is. Ons kan met Hom praat wanneer ons gelukkig is of wanneer ons hartseer is, wanneer ons moedeloos voel of kans sien vir enige iets.

Ons het toegang tot die Vader, omdat Christus, ons Groot Koning en Verlosser nie net vir ons die voorbeeld van gebed gestel het nie, maar ook deur Sy bloed die toegang tot die Vader verkry het. Deur Sy offer is die voorhangsel verwyder en kan ons tot in die heilige teenwoordigheid van die Vader kom. Ons kan die troonsaal van die Groot Koning enige tyd betree en ons begeertes, ons vrese, ons behoefte, ons lofbetuigings of wat daar ook al in ons hart omgaan op daardie oomblik voor Hom kom neerlê in die wete dat Hy ons gebede hoor.

Christus, ons Koning en Verlosser, het tyd gemaak om stil te word by Sy Vader en om so Sy kragte te hernu vir die taak wat aan Hom gegee is. In hoe 'n mate volg ons hierdie voorbeeld na?
  • Pak ons ons dagtaak aan met die idee dat alles sal slaag omdat ons alles mooi beplan het? Of besef ons in nederigheid hoe afhanklik ons van God is?
  • Staan ons op in die oggend en begin met 'n gejaag? Of word ons aan die begin van die dag in gebed voor ons Hemelse Vader stil en vra vir krag vir die dag?
  • En wanneer ons in die aande gaan slaap, sak ons dood moeg in die bed en vergeet ons om te bid? Of word ons ook aan die einde van die dag stil en bely soos die slaaf van Abraham: “Die Here het my in my doel laat slaag” (Gen. 24:56)?

Kortom gestel: Is ek en jy biddende mense, soos Christus ons biddende Koning en Hoëpriester was?

SLOT
In Mark. 1:29-39 sien ons die almagtige Koning aan die werk: Hy genees die siekes en bevry dié wat besete was. Maar ons sien ons Hom stil word, afgesonder om met die Vader te praat.


As mense na ons kyk, sien hulle ook hierdie beeld van ons Koning en Verlosser in ons lewe? Sien hulle mense wat hul dagtaak aanpak – nie in eie krag nie – maar in afhanklikheid van God, omdat ons weet dat ons tot niks in staat is as God ons nie deur die Heilige Gees die krag daartoe verleen nie? Amen.

No comments:

Post a Comment