Sunday 28 September 2014

Die gesag van die Koning (Mark. 1:21-28)

Skriflesing: Mark. 1:21-28
Tema: Die gesag van die Koning

INLEIDING
Die Evangelie volgens Markus begin met die aankondiging: Die Koning kom! Maak die pad gereed vir die Koning!

Die Hemelse Koning het neergedaal en die koninkryk van die duiwel hier op aarde kom betree. In die woestyn het Hy die stryd teen die duiwel self aangesê en bewys dat Hy magtig is om nie net die aanvalle van die duiwel af te weer nie, maar ook die duiwel se mag te breek. Ons moet goed verstaan: die duiwel bestaan regtig. Hy is die god van hierdie wêreld (2 Kor. 4:4), die koning van die bose geeste (Ef. 2:2), die brullende leeu wat opsoek is na iemand om te verslind (1 Pet. 5:8). Hy hou mense deur hulle sondes in sy koninkryk gevange en sleep hulle saam met hom die ewige hel tegemoet. Die mens is nie in staat om homself uit hierdie koninkryk te bevry of los te koop nie – ons het nie die mag, gesag of krag om dit reg te kry nie. Maar daar is een wat die mag en gesag het om ons te bevry – Jesus Christus, die Koning van die hemele.

In Mark. 1 sien ons hoe Christus begin om die koninkryk van die duisternis af breek, terwyl Hy terselfdertyd die koninkryk van God begin uitbou. In die woestyn bewys Hy dat Sy gesag en mag ver bo dié van die duiwel is (Mark. 1:9-11) en in Kapernaum sien ons hoe Sy gesag selfs die bose geeste laat sidder (Mark. 1:21-28).

In Mark. 1:21-28 sien ons hoe die Koning se gesag op twee maniere sigbaar word:
  • Eerstens, Sy woorde dra gesag.
  • Tweedens, Sy dade bevestig Sy gesag. 

DIE WOORDE VAN DIE KONING DRA GESAG
Markus begin die geskiedenis van Christus se bediening in 'n plek met die naam Kapernaum.
  • Kapernaum was 'n stad aan die noordelike oewer van die See van Galilea.
  • Dit het na beraming sowat 10 000 inwoners gehad en dit was 'n sentrum van handel in die Noorde van Palestina.
  • Daar was 'n leërafdeling van soldate gestasioneer.
  • Die stad was 'n sentrum vir belasting. Uit Matt. 9:1, 9 blyk dit dat Mattheus, die tollenaar, wat later een van Jesus se dissipels sou word, tollenaar in Kapernaum.
  • Die stad het ook 'n sinagoge gehad waar Christus dikwels mense geleer het, soos dit ook die geval is in Mark. 1:21-28.

Ons sien in Mark. 1:21 hoe Jesus op die sabbatdag na die sinagoge gaan en daar mense begin leer. Dit was die gebruik van die Jode dat as 'n besoekende rabbi die geleentheid sou kry om 'n deel uit die Skrifte voor te lees en uit te lê. Dit is dan wat ons hier sien gebeur. Gerigte oor Christus moes al die rondte gedoen het, want uit Joh. 2:1-12 blyk dit dat Christus voor hierdie sabbatdag reeds wonders begin doen het. Dus, toe hulle verneem dat Hy na Kapernaum kom, sou hulle Hom die geleentheid wou bied om in die sinagoge met hulle te praat.

Maar wat hulle gehoor het op hierdie sabbatdag was iets wat hulle nooit sou verwag nie. Oor wat die inhoud van Christus se boodskap was, word daar nie vir ons gesê nie, maar die resultaat van Sy woorde word wel genoem. Markus skryf in vers 22: “Hulle was verstom oor Sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.

Hulle was verstom …”. Die woord wat hier gebruik word, is 'n woord wat nie net vir algemene en aangename verrassing verwys nie. Nee, die betekenis van hierdie woord is dat Christus se woorde en die manier waarop Hy hulle geleer het, hulle totaal en al uit die veld geslaan het. Verstarde gesiguitdrukkings, oop monde en gespitste ore sou die toneel in hierdie sinagoge.

Maar waarom was hulle so verstom en uit die veld geslaan? “Hulle was verstom oor Sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.”

Hoe het die skrifgeleerdes mense geleer? Die skrifgeleerdes sou 'n deel van die Skrifte aanhaal, maar in plaas daarvan dat hulle self 'n verklaring daarvan sou gee, sou hulle die een na die ander rabbi se verklarings oor die gedeelte aanhaal. Dis sou iets soos volg geklink het: “Daar staan geskryf dat jy nie mag vals sweer nie. M.a.w. soos rabbi Juda sê: …, maar dan moet ons ook rabbi Josef se woorde daarby lees wat sê: …. Natuurlik stem rabbi Esra nie hiermee noodwendig saam nie, want hy sê: …

Die gevolg was dat dit dikwels geklink het soos 'n wedstryd waar die een na die ander rabbi aangehaal is in die soeke na 'n moontlike verklaring. Dit sou genoeg wees om enige persoon wat navraag oor 'n gedeelte gedoen het, laat voel of daar 'n byenes in sy kop rond zoom en hy sou meer verward van die rabbi weg gaan as toe hy na hom gekom het.

Maar dis nie hoe Christus die mense geleer het nie. Christus is die Koning wie se woorde gesag dra – Hy hoef niks en niemand aan te haal nie. Hy neem Sy koninkryk woorde op en lê dit self uit soos dit bedoel is. Hy het die waarheid van die Skrifte voorgehou en hulle laat skyn soos die son op sy helderste voor die oë van mense. Sy woorde was duidelik, reguit en gesagvol. Dit het mense in die harte getref, sodat niemand kon weg gaan van Hom sonder om 'n keuse te maak nie. Hulle moes Sy woorde vir waar aanvaar en dit gehoorsaam, of hulle moes Sy woorde verwerp tot hul eie ondergang. Daar was geen middelweg nie, geen diplomasie nie en geen draad sittery nie…

So het Christus se koninklike gesag geblyk deur dit wat Hy gesê het en die manier waarop Hy dit gesê het.

DIE DADE VAN DIE KONING DRA GESAG
Nie net in woord nie, maar ook deur daad het die gesag van die Koning deurgebreek.

Ons sien in vers 23 dat daar in die sinagoge op die sabbatdag 'n man was wat deur 'n “onrein gees” besete was. Nou dadelik sal dit vir ons vreemd klink: 'n man besete deur 'n bose gees in die sinagoge waar die Skrifte gelees word en die Here aanbid word?! Is dit regtig vreemd? Die duiwel self doen hom voor as 'n engel van die lig en dus is dit ook te verwagte dat die bose geeste dieselfde sal doen. Die beste manier om die waarheid te ondermyn is immers deur dit van binne af aan te val soos 'n kanker, eerder as om dit te probeer van buite af bombardeer met die kanonne van vervolging. So sien ons dan hierdie bose gees wat 'n man beset het sonder om uiterlik dit te wys … totdat Christus verskyn!

Die verskyning van Christus en dit wat Hy gesê het was genoeg om die bose gees na vore te laat tree en sy masker te laat val, want terwyl Christus nog besig is, skree hy uit: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!” (v. 24)

Die bose gees, gekonfronteer van met die teenwoordigheid van Koning, kan nie langer sy mond hom en op sy lip byt nie. Want anders as die reaksie van die mense wat “verstom” was oor Christus se leer, het hierdie bose gees gesidder en gebewe van angs en vrees. Die mense is verwonderd omdat hulle nie weet wie Jesus is nie, maar die bose gees weet wie Hy is en daarom skreeu hy angsbevange: “Wat het ons met U te doen!” M.a.w.: “Los ons in rus en vrede, ons het niks met U in gemeen nie.

Die bose gees weet wat vir hom en sy mede bose geeste wag. Hy weet dat die Een wat daar voor Hom staan die Regter is wat hulle in die hel sal werp wanneer die tyd daarvoor aanbreek. Hy weet daar is vir hom geen wegkom kans nie, geen manier om verlos te word van wat op hom wag nie en geen manier waarop hy versagtende omstandighede sal ontvang het. Al wat hy nou kan hoop is dat daardie vreeslike uur nie nou al aanbreek nie – en daarom die vraag: “… Het U gekom om ons te verdelg? …” (v. 24). M.a.w. “is dit nou die tyd dat U ons – my en my mede bose geeste – se vonnis gaan voltrek? Of is daar nog vir ons 'n bietjie tyd oor?

Maar die vrees van die bose gees vir Christus is nie net op grond van sy kennis dat Hy die Regter is nie, maar ook omdat hy weet dat Christus die Heilige van God is. Wat 'n skrille kontras: 'n bose gees in die teenwoordigheid van die Heilige van God! Wie sal nie voor Hom as Heilige Regter en Koning sidder van vrees nie?! Ja, die bose gees weet dat Jesus, die Seun van God, heilig is en daarom sonde en boosheid haat en dit sal straf met Sy heilige en regverdige oordeel. Hy weet dat God Hom afgesonder en aangewys het as Regter om hul vonnis te voltrek. Hierdie wete is soos 'n klemmende hand om dit hart van die bose gees en 'n pyniging vir sy verstand.

Maar let op Christus se optrede. Hy gaan nie met die bose gees in gesprek nie. Hy vra nie vir hom vrae nie. Hy sê die allerhande formules op en Hy doen geen rituele om die bose gees uit te dryf nie. Al wat Hy doen is om Hom met 'n woord tot swye te roep en uit te dryf (v. 25). En die reaksie van die bose gees? Met 'n harde geskreeu en struiptrekkings verlaat hy die mens (v. 26). So onwillig soos hy is om sy slagoffer prys te gee, moet hy inwillig en doen wat Koning beveel. Die Koning het met gesag beveel en weë die een wat nie luister nie.

Maar wat was die reaksie van die mense? As hulle uit die veld geslaan was oor dit wat Hy gesê het, is hulle beslis dubbeld uit die veld geslaan nadat hulle gesien het wat voor hulle oë gebeur. Ons lees in vers 27: “Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: ‘Wat gaan hier aan? Dit is 'n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam Hom.’

Die Koning staan in hulle midde. Sy woorde getuig van Sy gesag en Sy dade bevestig Sy gesag!

Maar hoe tragies is die prentjie nie. Die mense is verstom oor wat Christus sê en doen, maar weet nie wie Hy is nie. Die bose gees weet wie Hy is en hy sidder van angs. Die bose gees besef die oordeel wag op hom en hy kan nie verlos word nie. Die mense besef nie dat hulle onder die oordeel is nie en wil daarom nie verlos word nie.

SLOT
Die wonders van Christus – ook die uitdryf van die bose geeste – is vir die mense wat dit gesien het en ook vir ons vandag preke in aksie. Dit getuig van die Koning se gesag. Maar nog meer, dit getuig van Sy almag. As Koning het Hy die mag en die gesag om mense uit die koninkryk van die duisternis te ruk soos 'n brandende hout uit die vuur geruk word. Wanneer die Koning Sy hand uitstrek om iemand uit die mag van die Bose te bevry, kan die Bose dit nie keer nie, want die Koning spreek en selfs die Bose moet op die vlug slaan.


Elkeen van ons wat Christus as Koning erken en dien, kan weet dat Hy hierdie genade aan ons bewys het. Ja, ook ons was vroeër burgers van die koninkryk van die duisternis, maar deur Christus se verlossingswerk het Hy ons burgers van die koninkryk van die lig gemaak. Ons was op pad na die ewige verdoemenis, maar in Sy genade het Hy gekom om aan ons die ewige lewe te gee. Ons was slawe van die Bose en die sonde, gebind met die kettings van ons eie ongeregtighede; maar Christus het ons losgekoop, die kettings gebreek en ons vrygespreek.

No comments:

Post a Comment