Sunday 14 December 2014

Voor die koningskap van Christus sal die nasies buig (Ps. 110) [1]

INLEIDING
As jy sou probeer om die volle raadsplan van God saam te vat in 'n paar sinne, sou Ps. 110 beslis daardie opsomming wees. Soos wat die 10 Gebooie die wil van God vir die lewe van 'n gelowige opsom, so som Ps. 110 die boodskap van die ganse Skrif op. Dit is die mees kernagtige samevatting van die geloof, want daarin hoor ons van Christus se vernedering, verhoging, en koningskap; ons vind verwysings na die gemeenskap van die gelowiges en die geestelike stryd; ons hoor die aankondigings van die finale oordeel en die oorwinning oor die Satan.

So wesentlik is die inhoud van hierdie psalm vir die Christelike geloof, dat dit meer as enige ander psalm deur die skrywers van die Nuwe Testament aangehaal word. Daar is nie minder as 25 direkte aanhalings van en verwysings na Ps. 110 in die Nuwe Testament nie. Dit word aangehaal deur:
  • Christus in sy gesprekke met die fariseërs (Matt. 22:44 en ooreenkomstige plekke) en tydens Sy verhoor voor Kajafas (Matt. 26:64 en ooreenkomstige plekke),
  • Petrus op Pinksterdag (Hand. 2:34-35),
  • Paulus in vier van sy briewe (Rom. 8:34; 1 Kor. 15:25; Ef. 1:20 en Kol. 3:1)
  • En uiteindelik ook deur die skrywer van die Hebreërbrief wat nie minder as 10 keer hier psalm aanhaal en/of  daarna verwys nie (Hebr. 1:3; 5:6, 10; 6:20; 7:3, 17, 21; 8:1; 10:12-13; 12:2).

In die psalmboek neem Ps. 110 ook 'n unieke plek in. Dit is die enigste psalm van al die psalms wat uitsluitlik na die Christus verwys. Hierdie is dus 'n profetiese psalm wat die koms van die Messias aankondig en Hom aan ons voorhou as die Koning, Priester en Oorwinnaar. Vanoggend staan ons by vers 1-3 stil. In hierdie eerste drie verse van die psalm word:
  • Die goddelike en menslike natuur van die Messias beklemtoon,
  • As ook Sy koningskap
  • En die feit dat die nasies voor Hom sal buig.

DIE GODDELIKE EN MENSLIKE NATUUR VAN CHRISTUS
Ps. 110 is 'n psalm van koning Dawid. Tog skryf Dawid in vers 1, onder die inspirasie van die Heilige Gees: “Die Here het vir my Heer die Koning gesê: ‘Kom sit aan My regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp’.

In Christus se gesprekke met die fariseërs haal Hy hierdie psalm aan. In Matt. 22:42 vra Christus vir die fariseërs wie se seun die Christus is. Die antwoord wat hulle gee is: “Dawid s'n”. Met ander woorde, die Christus kom uit die nageslag van Dawid. Hierin is hulle reg. In Jes. 9:6 word gesê dat die Messias op die “troon van Dawid” sal sit volgens die belofte van die Here aan Dawid in 2 Sam. 7:16: “Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

Maar dis Christus se tweede vraag wat die fariseërs laat steier, want Christus vra in Matt. 22:43 en 45: “Waarom noem Dawid Hom dan ‘Here’?” Hier verwys Christus na Ps. 110:1. Wat Christus vir ons hier uitwys is dat Dawid, as koning van Israel, was die hoogste menslike gesag was. Nog meer, as koning van 'n Teokrasie – d.w.s. van 'n regering waar God deur die koning regeer – was daar geen groter gesag bo die koning, behalwe God self nie. Dus, as Dawid in Ps. 110:1 sê: “Die Here het vir my Heer die Koning gesê…”, verwys hy na iemand wat groter gesag het as hyself. Maar daar is niemand anders wat groter gesag as hy het nie, behalwe God. Dus, hy praat nie van homself of enige ander aardse koning nie. Hy praat van die Messias, die Christus, wat bo hom as aardse koning verhewe is en gelyk is aan God.

So kondig Dawid onder die inspirasie van die Heilige Gees aan dat die Messias uit die nageslag van Dawid sou kom, maar terselfdertyd ook gelyk aan God wees. Of anders gestel, die Messias sal waarlik mens wees én waarlik God. Daar is net Een wat aan hierdie vereistes kon voldoen, nl. Jesus. Want so staan daar in Rom. 1:3-4 geskrywe: “… As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van Sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.

Dit is dan ook na Sy verheerliking en troonsbestyging waarna Ps. 110:1 verwys wanneer Dawid profeteer: “Kom sit aan My regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.”

CHRISTUS SE KONINGSKAP
Om aan iemand se regterhand te wees, is 'n posisie van eer te hê. In 'n koninkryk is daar geen hoër posisie van eer as aan die regterhand van die koning nie. Dit is 'n posisie wat getuig dat die persoon die vertroue van die koning het – soveel so dat as iets met die koning sou gebeur, die een aan die regterhand van die koning die verantwoordelikhede van die koning sou oorneem.

Daarom beklemtoon die opdrag “Kom sit aan My regterhand” Christus se reg en volmag om as mede-Koning saam met die Vader te regeer en te heers. Wanneer sou dit gebeur? Kyk ons na hierdie opdrag van uit die hoekpunt van die Nuwe Testament, sien ons dat die Vader die koningskap en die regering oor die skepping aan die Seun oordra na Sy kruisdood, opstanding en hemelvaart.

Juis hierdie feit verduidelik Christus aan die reisigers na Emmaus na Sy opstanding in Luk. 24:25-26 wanneer Hy vir hulle sê: “Wat 'n gebrek aan begrip en 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in Sy heerlikheid in te gaan nie?” En voor Sy hemelvaart verklaar Christus: “… Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt. 28:18).

Christus se koningskap en regering verskil radikaal van dié van aardse konings. In 'n aardse koninkryk is die volgorde: 'n gebied word verower deur 'n persoon – nadat die gebied verower is gaan sit hy om te regeer. Maar by Christus is dit andersom: aan Hom word gesê om te sit en te regeer terwyl sy vyande nog oorwin word, want vers 1 sê: “… sit … en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp” en weer in vers 2: “… heers dan oor U vyande” – letterlik “heers te midde van U vyande”.

Dus, Christus is gekroon met mag en heerlikheid. Dit het gebeur by Sy opstanding uit die dood en hemelvaart. Maar Sy koninkryk brei daagliks uit. Dag na dag word Sy vyande deur die Vader aan Hom onderwerp. Soos daar in 1 Kor. 15:25 geskrywe staan: “Hy moet as Koning heers totdat die Vader al Sy vyande aan Hom onderwerp het.”

Voor ons verder gaan, kom ons dink net vir 'n oomblik na oor wat ons hier hoor en wat hier in vers 1 besig is om te gebeur. Deur 'n openbaring van die Gees word Dawid – en ons wat hierdie psalm lees – 'n oomblik gegee waarin ons toegelaat word om die raadsbesluit tussen die Vader en die Seun voor die skepping van die wêreld te hoor. Sondaars word toegelaat om die heilige grond van die hemelse troonsaal te betree en te hoor hoe die Vader en Seun ooreenkom oor hoe mense verlos sal word en burgers van die hemelse koninkryk sal word. Wat 'n voorreg!

DIE NASIES SAL BUIG
Maar laat ons verder gaan en die vraag vra: Hoe onderwerp die Vader die vyande van Christus? Hy doen dit op een van twee maniere.

In die eerste plek doen Hy dit deur die vyande van Christus, volgelinge van Christus te maak. In vers 3 word daar na 'n volk wat gereed staan voor Christus verwys. Wie is hulle en waar kom hulle vandaan? Dit is die gelowiges – hulle wat uit die koninkryk van die duisternis bevry is en burgers geword het van die koninkryk van die lig. In die woorde van die apostel Paulus in Rom. 5:10: “Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van die Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van Sy Seun gered sal word.” Wanneer iemand tot geloof kom, buig hy die knie onder die heerskappy van Christus. Hy onderwerp hom aan Christus se gesag oor sy lewe en hy stel hom bereid tot dienswerk in die koninkryk van God. Dit is immers wat dit beteken om te bid: “laat U koninkryk kom…” (Matt. 6:10). So word vyande dan burgers, rebelle dan onderdane, opstandiges dan onderwerptes.

Maar in die twee plek onderwerp die Vader die vyande van Christus ook deur dwang. Aan die einde van vers 3 en ook in vers 5-6 lees ons van oorlog. Hierdie oorlog het slegs een uiteinde, nl. dat elke knie buig en elke tong bely dat Jesus Christus die Here is tot eer van God die Vader (Fil. 2:13). Vandag is daar baie wat nie die Naam van Christus bely nie, baie wat Sy koningskap verwerp en onder die heerskappy van die Bose lewe. So was dit en so sal dit wees tot by die wederkoms van Christus. Dan sal almal voor die troon van Christus moet verskyn. Op daardie dag sal die vyande van Christus die knie moet buig en hoor: “Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is” (Matt. 25:41).

SLOT
In Ps. 2:1-3 hoor ons die aankondiging: Die Messias kom en voor Hom sal die nasies buig! Die vraag is: Het jy al die knie voor Christus gebuig en Hom as jou enigste Verlosser en Koning bely?

Voor die bestaan van ruimte en tyd,
het God Drie-Enig reeds besluit
om die Seun na ons te stuur.

Hy gebore in die volheid van die tyd,
Hy – Seun van Dawid – sal na stryd
as Koning langs die Vader heers.

Hy sal Sy septer uitstrek,
só Sy volk na Hom toe trek
en voor Hom sal hul buig.

O, Seun van Dawid en van God,
U kom deel hier in ons lot
en versoen ons met die Vader.

Laat kom dan U koninkryk met mag,
laat elke mens onder U gesag
die knie buig voor U as Koning.

No comments:

Post a Comment