Sunday 28 December 2014

Die Messias sal gou as Oorwinnaar kom (Ps. 110) [3]

INLEIDING
Die “Jesus” wat baie mense aanbid, is 'n “Jesus” wat vreemd is aan die Bybel. Dit is 'n “Jesus” wat eensydig uitgebeeld en verkondig word. Dit is 'n “Jesus” oor wie baie sentimenteel gepraat kan word. Dit is 'n “Jesus” wat aangespreek kan word as “Liewe Jesus”. Dit is 'n sagte “Jesus”. 'n Liefdevolle “Jesus”. 'n Vredeliewende “Jesus”.

Ja baie hiervan is waar van Christus. Ja, Sy las is lig en Sy juk sag. Ja, Hy is die uitbeelding van die volmaakte liefde van God. Ja, Hy is die Een wat vrede bring. Maar dit is nie al eienskappe wat Hy besit nie. Mense vergeet – meestal doelbewus en moedswillig – dat hierdie Jesus ook die Heilige is wat sonde haat, dat Hy ook die Koning is wat oor hemel en aarde regeer, dat Hy ook die Regter is wat regverdig sal oordeel.

Dit is juis hierdie waarhede waaraan Ps. 110 ons herinner. Christus is die Koning wat met 'n ystersepter regeer. Hy is die Hoëpriester wat ons met God kom versoen het. Maar hierdie Koning-Priester is ook die Regter wat kom om te oordeel.

In die laaste verse van hierdie psalm, verse 5-7, hoor ons die profesie: Die Messias sal gou as die Oorwinnaar kom! In hierdie laaste drie verse sien ons drie waarhede:
  • Eerstens, dat God die oorwinning aan Christus gee,
  • Tweedens, dat Christus as Oorwinnaar oordeel, en
  • Derdens, dat Christus as Oorwinnaar nie sal talm nie.

GOD GEE DIE OORWINNING AAN CHRISTUS
In vers 5 lees ons: “Die Here gee aan U die oorwinning, Hy verdelg konings …” of soos die ’53-Vertaling dit stel: “Die Here aan U regterhand verbrysel konings”.

Kyk wat is besig om hier te gebeur. In vers 1 is dit die Vader wat vir die Seun sê: “Kom sit aan My regterhand en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.” Maar nou in vers 5 hoor ons: “Die Here (d.w.s. die Vader) aan U (d.w.s. die Seun) regterhand …”.

Die toneel wat vir ons hier uitgebeeld word is in die eerste plek die Vader wat as Koning heers, maar aan die Seun daardie koningskap oordra. Dit is 'n toneel van die troonsaal, met die Grote Koning op die koningstroon en langs Hom Sy Seun aan Sy regterhand.

Maar in vers 5 verander die toneel. Hier is dit die Seun, die Prins, wat gereed staan vir oorlog. Hy is geklee vir die stryd. In Sy regterhand hou Hy Sy swaard waarmee Hy Sy vyande sal verower.

M.a.w. nie net is die Vader die Koning wat Sy koningskap aan Sy Seun oordra nie, maar Hy is as’t ware ook die swaard in die hand van Sy Seun waarmee Hy die vyande van die Seun verdelg. Want ons lees: “… Hy verdelg konings die dag as Hy Sy toorn laat losbreek” (Ps. 110:5). Dit is dus die Vader wat die oorwinning aan Sy Seun sal gee.

Maar nie net sal Hy die oorwinning aan die Seun gee nie, Hy sal ook deur die Seun die oordeel voltrek, want Christus sal as Oorwinnaar oordeel.

CHRISTUS OORDEEL AS OORWINNAAR
In vers 6 lees ons: “Hy straf die nasies, Hy verdelg hulle leiers, Hy laat die wêreld vol lyke lê.” In die Hebreeus word daar in die tweede frase van 'n enkelvoud en nie 'n meervoud nie, gebruik gemaak: “Hy straf die nasies, Hy verbrysel die hoof van die lande, Hy laat die wêreld vol lyke lê.

Die toneel wat hier voor ons afspeel is 'n wêreld verenig onder die leiding van 'n enkele figuur. Blaai ons na Op. 19 dan sien ons 'n verduideliking en uitbreiding van wat in Ps. 110:6 vir ons uitgebeeld word. In Op. 19:11-21 sien ons hoe Christus, die Ruiter op die wit perd, voor die hemelse leërmag uitry gereed om te oordeel (Op. 19:14-16). Op die aarde sien ons hoe al die konings van die aarde bymekaar kom onder die leiding van die dier uit die see, simbolies van die anti-christelike wêreldmag onder die beheer van die finale Antichris (Op. 19:19). Maar wat ons sien is nie 'n oorlog nie. Nee, ons sien 'n slagting, want die swaard gaan uit Christus se mond en daarmee neem Hy die dier en die valse profeet gevange en verdelg Hy die mense van die aarde wat teen Hom in opstand gekom het (Op. 19:15, 20-21).

Dit is wat hier in Ps. 110:6 beskryf word. Christus kom as die Oorwinnaar en Hy kom om te oordeel. Op die dag van Sy wederkoms sal Hy die finale nekslag toedien en die kop van die Slang vermorsel, Hy sal die finale Antichris verslaan deur die Woord van Sy mag en Hy sal dié wat teen Hom in opstand gekom het, almal wat Hom verwerp het en nie in Hom geglo het nie, met die heilige en regverdige oordeel van God tref. Op dié dag sal niemand kan vlug nie – ja, baie sal probeer, maar dit sal nie slag nie. Almal sal voor die regterstoel van Christus geroep word: groot en klein, jonk en oud, ryk en arm, mans en vroue (Op. 20:12-13). En daar sal Christus Sy oordeel uitspreek: vryspraak vir dié wat in Hom geglo het, verderf vir dié wat Hom verwerp het.

Sien u dat die Christus van die Bybel meer is as 'n sentimentele Jesus. Besef u dat Hy die Verlosser – maar ook die Regter is?! Vir die gelowige is Hy die Goeie Herder wat Sy skape lei na groen weivelde en hulle rus gee (Ps. 23:1-2). Maar vir die ongelowige is Hy Iemand om te vrees, die swaard in die hand van die Heilige God (Op. 6:16-17). Dit is die Jesus van die Bybel! Dit is die Messias wat deur die profete van die Ou Testament aangekondig is! Dit is die Christus wat gekom het om ons te verlos en weer sal kom ons te oordeel. Wie in enige ander Jesus glo as dié Jesus, glo ter vergeefs. Wie aan enige ander Evangelie vashou as dié, se hoop is nutteloos. Wie enige ander Christus verkondig as hierdie Christus, verkondig 'n valse christus en staan onder die vloek van die Here (Gal. 1:6-9).

Dit bring ons by die laaste waarheid van hierdie psalm, dié waarheid dat Christus gou sal kom – Hy sal nie talm nie.

CHRISTUS SAL AS OORWINNAAR NIE TALM NIE
In vers 7 lees ons: “Die Koning drink water uit die stroom langs die pad, Hy sal die oorwinning behaal.”

Die toneel hier is dié van 'n koning wat haastig na die slagveld op pad is. Hy het nie tyd om rustig in die skaduwee te gaan sit en eers kragte te herwin nie. Daar is nie tyd om onder die tent te sit sodat sy bediendes eers kos en drinkgoed kan voorberei nie. Nee, hy is doelgerig op pad om sy vyande te gaan verslaan.

So is Christus ook haastig op pad. Hy is gereed om die oordeel te voltrek. Sy perd is opgesaal. Sy swaard is in Sy skede. Sy kroon is op Sy hoof. Nou wag Hy net vir die Vader se bevel en dan sal die oordeel aanbreek.

Maar nou sal mense vra: “As dit so is dat Christus haastig is om te kom, waarom dan vat dit so lank? Waarom kom Hy dan nie en maak 'n einde aan hierdie wêreld vol pyn en hartseer nie?

Op hierdie vrae moet ons twee antwoorde gee:
  • In die eerste plek, moenie jou tydsbegrip met God se tydsberip verwar nie. Moenie dink omdat 80 jaar vir jou lank voel, dit vir God lank is nie. God is die ewige en vir Hom is 'n dag soos 'n duisend jaar en 'n duisend jaar soos een dag (2 Pet. 3:8), want in die ewigheid bestaan daar nie tyd nie.
  • Maar in die tweede plek moet ons ook antwoord dat die rede waarom die wederkoms nog nie plaasgevind het nie, 'n bewys van God se genade is. Christus het in die Profetiese Rede in Matt. 24:14 gesê: “… hierdie Evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.” Dus, waarom het die einde nog nie aangebreek nie. Die rede: Die Evangelie het nog nie sy volle loop geneem nie en daarom het al die uitverkorenes van God nog nie tot bekering gekom nie. Maar wees daarvan seker wanneer die laaste uitverkorene tot bekering gekom het en so die laaste gerf in die skuur van die hemele ingebring is, dan sal Christus in mag en heerlikheid verskyn.

Laat ons dan nie opstandig word oor die feit dat die einde nog nie aangebreek het nie. Nee, laat ons luister na die Woord van die Here deur die apostel Petrus in 2 Pet. 3:15: “En beskou die geduld wat ons Here met ons het as 'n geleentheid om gered te word …

SLOT
Hierdie psalm is 'n troos vir elkeen wat ter wille van Christus vervolg word en lyding verduur – ongeag watter vorm dit mag aanneem. Dit is 'n psalm wat bemoedig en ons oë oplig na die hemele van waar ons Christus ons Koning-Priester verwag. Dit is 'n psalm wat ons laat bid: “Laat u koninkryk kom!” Hoe wonderlik is hierdie psalm – dit is salf vir wonde, lig in die duisternis, 'n fontein in 'n dorre woestyn.

Maar hierdie psalm is ook 'n angswekkende psalm vir elkeen wat nie glo nie. Vir hulle is dit die aankondiging van hul oordeel, die swaard wat dodelik wond en die vuur wat verteer.

In hierdie psalm word Christus vir ons voorgehou as die almagtige Koning wat regeer, die ewige Hoëpriester wat vir ons intree en die regverdige Regter wat spoedig sal kom om as Oorwinnaar te oordeel. Geseënd is ons as hierdie Koning-Priester-Regter ons Verlosser en Hoop is. Amen.

No comments:

Post a Comment