Sunday 21 December 2014

Christus ons Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (Ps. 110) [2]

INLEIDING
Dit is die jaar 2090 v.C. Die oggendson hang laag oor die vlaktes van Kanaän, maar die nag wat verby is, is met bloed geskryf. Oor die Koningsvlakte naby Salem kom 'n figuur op die horison aangestap. Dit is Abram en saam met hom is 318 van sy slawe. Hulle het die vorige nag vir Lot en sy mense uit die mag van Kanaänitiese konings bevry.

Maar die oggendson begroet ook 'n tweede figuur – 'n koning: Melgisedek. Hy is koning van Salem en “priester van God die Allerhoogste” (Gen. 14:18). Hy bring vir Abram en sy mense brood en wyn.

Wanneer Melgisedek en Abram voor mekaar te stane kom, is dit Melgisedek wat eerste praat, en met sy woorde seën hy Abram: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” (Gen. 14:19-20). Van wat Abram gesê het, weet ons niks, maar sy dade spreek hier boekdele: Abram het vir Melgisedek 'n “tiende van alles gegee” (Gen. 14:20).

Dit is dit somtotaal van wat die geskiedenis ons oor Melgisedek leer. En tog speel hierdie man 'n besondere rol in die Woord van die Here. So groot is die rol en betekenis van hierdie man, dat die persoon en werk van die Messias met verwysing na Melgisedek vir ons voorgehou en verduidelik word. Want daar staan in Ps. 110:4 geskrywe: “Die Here het 'n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek’”. Wat beteken dit dat die Messias, Jesus Christus, Priester is “in die priesterorde van Melgisedek”?

Voor ons hierdie vraag kan antwoord, moet ons eers na die persoon en werk van Melgisedek kyk. Eers dan sal ons kan sien hoe hierdie man – en die psalm – heenwys na Christus.

MELGISEDEK – PRIESTER VAN SALEM
Kom ons begin deur na Melgisedek self te kyk. Die naam “Melgisedek” beteken “koning van geregtigheid”. Van hom word twee dinge gesê:
  • In die eerste plek, hy was koning van die stad “Salem”. “Salem” is die stad wat later “Jerusalem” sou word. Vanuit hierdie stad het Melgisedek as koning regeer.
  • In die tweede plek was hy ook 'n priester. In Gen. 14:18 lees ons dat hy “priester van God die Allerhoogste” genoem word. Dit beteken dat hy die ware God geken en aanbid het en ook gesorg dat die oor wie hy regeer ook die ware God ken en aanbid.

Van Melgisedek skryf die Hebreërskrywer in Hebr. 7:4 dat hy 'n man van groot aansien was. Hy gaan dan gaan verder en verduidelik aan die hand van verskillende sake Melgisedek se grootheid. Om twee van hierdie sake uit te lig: Melgisedek was groot t.o.v. sy ampte en in besonder sy amp as priester.

Melgisedek se ampte
In die eerste plek het Melgisedek 'n belangrike posisie ingeneem t.o.v. sy ampte. Ons lees dat Melgisedek beide 'n koning én 'n priester was. Kyk ons na die konings wat later in Israel regeer het, sien ons dat geen koning beide die ampte van koning en priester beoefen het nie. Om die waarheid te sê, waar 'n koning die regte en pligte van 'n priester wou oorneem, het die Here daardie koning gestraf.

Dink bv. aan koning Saul wat, toe Samuel te lank na sy sin gedraai het, self die offer gebring het (1 Sam. 13:8-10). As gevolg hiervan moes Saul hoor: “Jy het dwaas gehandel. As jy mar die bevel van die Here jou God wat Hy jou gegee het, nagekom het! Waarlik, dan sou die Here nou jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom 'n man na Sy hart soek. Die Here sal hom aanstel as regeerder oor Sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie.” (1 Sam. 13:13-14).

In hierdie opsig was Melgisedek anders. Hy was beide koning én priester. In die woorde van Spurgeon: “hy was die volk se verteenwoordiger by God en God se verteenwoordiger by die volk.

Melgisedek as priester
Nie net het Melgisedek 'n belangrike posisie ingeneem t.o.v. sy ampte nie, maar in die besonder ook in sy amp as priester.

Melgisedek is die eerste priester waarvan ons in die Bybel lees. Voor Gen. 14:18 is daar geen enkele verwysing na enige iemand wat die titel van priester dra nie. Dit laat ons die logiese vraag vra: Waar kom sy priesterskap vandaan? Hoe is dit dat hy 'n priester geword het? Oor die antwoorde van hierdie vrae swyg die Skrif. En juis dit maak hom so besonder. Die Hebreërskrywer skryf in Hebr. 7:3 dat niks omtrent sy vader of moeder of afstamming bekend is nie en ook niks oor die res van sy lewe of sy dood nie.

Sy priesterskap is dus uniek in die sin dat hy dit nie deur die geboortereg ontvang het nie. Hierin het die latere Levitiese priesters van Israel van Melgisedek verskil. Alle priesters van Israel het uit die nageslag van Levi, die seun van Jakob, gekom. Maar in die geval van Melgisedek lees ons nerens dat hy lid was van 'n priesterlike lyn nie.

Verder is sy priesterskap uniek in die sin dat dit nie aan iemand anders oorgedra was nie. Ons lees nerens dat Melgisedek kinders gehad het wat die priesterskap by hom kon oorneem nie.

Anders gestel: Melgisedek se priesterskap is uniek aan die Skrif deurdat hy geen voorgangers gehad het by wie hy sy amp kon erf nie en ook geen opvolgers aan wie hy sy amp kon oordra nie.

Dus, as priester-koning het Melgisedek 'n besondere posisie ingeneem. Juis hierin het hy in sy persoon en ampswerk vooruit gewys na die Een wat as die volmaakte Priester-Koning, die volmaakte Koning van geregtigheid wat vrede sou bring.

Dit bring ons by Ps. 110:4 en Christus.

CHRISTUS – ONS VOLMAAKTE HOËPRIESTER
Nadat Dawid onder die inspirasie van die Heilige Gees na die Messias verwys het as die volmaakte Koning wat sou kom regeer (Ps. 110:1-3), gaan hy verder in vers 4 en wys ook na Christus as die volmaakte Hoëpriester wat sou kom.

Die Messias word aangewys as die Een wat vir “altyd priester [sal] wees in die priesterorde van Melgisedek” (Ps. 110:4). In die lig van die persoon en werk van Melgisedek beteken dit die volgende:
  • In die eerste plek, Christus sal soos Melgisedek beide Koning wees wat regeer én Hoëpriester wees wat Middelaar tussen God en mens is (1 Tim. 2:5). As ons volmaakte en ewige Hoëpriester het Christus die volmaakte offers – sy eie bloed – vir ons sonde gebring en ons los gekoop van die oordeel wat ons verdien het. Aan die kruis op Golgota het Christus tussen God en die mens kom staan: van die mens se kant het Hy die sonde op Hom geneem en van God se kant af die heilige toorn op daardie sonde gedra. So het Hy as Hoëpriester selfs Melgisedek oortref, want Melgisedek het wel offers namens die volk gebring, maar hy kon nooit homself as daardie offer aanbied nie. Maar Christus is beide die Hoëpriester wat vir ons intree en die Offerlam deur wie se bloed ons verlos word en kinders van God word.
  • In die tweede plek het Christus soos Melgisedek nie Sy priesterskap ontvang d.m.v. geboorte nie, maar deur aanstelling. Christus is as mens op aarde nie uit die stam van Levi nie, maar uit die stam van Juda, gebore. Daarom kon Hy slegs op een manier Priester word en dit is deurdat God self Hom aanstel. Dit is van hierdie aanstelling wat ons lees in Ps. 110:4!

Maar dit bring ons by 'n element waarin Christus se Hoëpriesterskap selfs bo dié van Melgisedek uitstyg. In die eerste deel van vers 4 lees ons: “Die Here het 'n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie …”. Nerens lees ons dat enige priester ooit die amp van priester ontvang het deurdat dit aan hom deur God met 'n eed beloof is nie. Die naaste wat ons hieraan kom is die teken van toewyding aan die Here waar daar olie oor die priester se kop uitgegiet word as teken dat hy aan die Here behoort (Lev. 21:12) – maar daar is geen sprake van 'n eed nie.

Dis anders by die aanstelling van Christus as Hoëpriester. Hier lê die Vader 'n onherroeplike eed af waarin die Seun as die Hoëpriester van die kinders van God aangestel word (vgl. Hebr. 5:5-10).

Hier moet ons let op die finaliteit en afgeslotenheid van hierdie aanstelling, want vers 4 staan nie los van vers 1-3 of 5-7 nie. Net die Seun kan as Hoëpriester aangestel word, omdat net die Seun waarlik God en waarlik mens is wat deur die Vader as Koning en Regter aangewys is. Omdat daar niemand anders is wat aan die vereistes beantwoord nie, kan niemand anders as Hoëpriester Christus se plek in neem nie. En sonder Christus as Hoëpriester en Middelaar is daar geen toegang tot die Vader nie.

SLOT
Broers en susters in Christus, die Messias waarvan Ps. 110 getuig is die Koning van hemel en aarde, ons Verlosser en Hoëpriester. Maar Hy is nie soos 'n menslike priester wat beperk is in mag of meelewing nie. Nee, ons Hoëpriester is Een wat waarlik medelye met ons kan hê, omdat Hy in Sy menslike natuur ook aan swakheid en versoekings onderwerp is (Hebr. 4:14-15). Hy ken jou pyn. Hy ken jou worsteling. Hy ken jou hartseer. En as jou Hoëpriester nooi Hy jou uit in Sy woord: Kom met vrymoedigheid na die genadetroon (Hebr. 4:16). Voel jy of jy vergaan onder jou sonde – by Christus is verlossing. Voel jy of jou kragte ingee en te min is – by Christus vind jy versterking. Voel dit ons die magte van die Bose en versoekings te sterk is – by Christus is oorwinning.

Luister dan na die Woord van die Here:

Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Hebr. 4:14-16)

No comments:

Post a Comment