Monday 22 January 2018

Om tot die aangesig van die Heilige te nader ... Met dankgebede (Week van Gebed 2018, deel 1)

Skriflesing: Eks. 27:1-8
"Jy moet 'n altaar van doringhout maak, twee en 'n half meter in die vierkant en een en 'n half meter hoog. Jy moet horings maak aan sy vier hoeke en dit moet 'n eenheid met die altaar vorm. Jy moet die altaar met brons oortrek. Maak potte om die as te verwyder, ook skoppe, komme, vurke en vuurpanne. Jy moet al hierdie toebehore van brons maak. Jy moet 'n bronstraliewerk om die altaar sit en 'n bronsring aan elke boonste hoek van die traliewerk vassit. Sit die traliewerk onder die rand van die altaar vas, sodat dit halfpad teen die altaar afloop. Jy moet draaghoute van doringhout vir die altaar maak en dit met brons oortrek. Die draaghoute moet deur die ringe gesteek word. Die draaghoute moet weerskante van die altaar wees om dit te kan dra. Jy moet die altaar van plank maak, in die vorms van 'n kas. Maak dit presies soos dit vir jou op die berg gewys is."

(Eks. 27:1-8)

INLEIDING
Die Tabernakel was die koninklike Tent van die Here waardeur Hy onder sy volk gewoon het. Dit was in die middel van die kamp opgeslaan met die ingang daarvan na die Ooste toe. Rondom die Tabernakel het die stamme van Israel hul tente opgeslaan (Num. 2).
  • Aan die Ooste kant was die stamme Juda, Issaskar en Sebulon.
  • Aan die Suide kant was Ruben, Simeon en Gad.
  • Aan die Weste kant was Efraim, Manasse en Benjamin.
  • Aan die Noorde kant was Dan, Aser en Naftali
  • Die stam van die Leviete moet hul tente opslaan voor die ingang van die Tabernakel. 

So het God dan tussen sy volk gewoon. Maar vir God om tussen die volk te woon, het dit beteken dat hulle ook God op ‘n spesifieke manier moes nader. ‘n Israeliet kon nie maar wanneer hy wil die Tabernakel ingaan en selfs tot in die Allerheiligste kom nie. Nee, die Israeliete was toegelaat tot die bronsaltaar van die voorhof van; terwyl slegs die priesters die Heilige deel van die Tabernakel kon betree waar die tafel met die toonbrode gestaan het saam met die kandelaar en die wierookofferaltaar; en slegs die hoëpriester kon eenmaal per jaar die Allerheiligste betree waar die ark van die verbond gestaan het en die heerlikheid van God was.

Ons het vandag die voorreg dat ons tot in die Allerheiligste kan ingaan. Nie die Allerheiligste van die aardse Tabernakel nie, maar die Allerheiligste van die hemelse Tabernakel. Die Hebreërs-skrywer skryf: “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel (die deel wat die Heilige en die Allerheiligste geskei het) heen, dit is deur sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is skoon gewas met skoon water.” (Hebr. 10:19-22)

Die taal wat die skrywer van Hebreërs hier gebruik, herinner aan die Tabernakel. Die Tabernakel wat, alhoewel dit ons nie meer God deur middel daarvan nader nie, tog vir ons ‘n bloudruk gee van hoe om God te nader wanneer ons bid. Hierdie bloudruk word vir ons verduidelik aan die hand van verskillende voorwerpe wat in die Tabernakel was; en dit is na hierdie voorwerpe wat ons hierdie week na gaan kyk met die vraag: Wat leer hierdie dinge ons oor hoe ons God kan nader in gebed.

Ons begin vanaand deur na die brandofferaltaar te kyk: ‘n voorwerp wat ons herinner om die Here te dank vir die verlossing wat Hy aan ons geskenk het.

DIE BRANDOFFERALTAAR
In Eks. 27:1-8 gee die Here aan Moses voorskrifte vir die bou van ‘n brandofferaltaar. Hierdie altaar was die eerste ding wat jy gesien het as jy by die voorhof ingestap het.

Dit was gemaak van Akasia hout, oorgetrek met brons. Die afmetings daarvan was 2,5 m x 2,5 m in sy lengte en breedte, en 1,5 m in sy hoogte. Op die vier punte van die altaar was daar horings gewees en bo op die altaar was daar ‘n brons traliewerk aangebring waarop die offers gebring is. Langs die kante van die altaar was daar vier brons ringe aangebring, waardeur twee draaghoute gesit is om die altaar te dra wanneer die kamp opgeslaan is en die volk getrek het. Hierdie draaghoute is ook met brons oorgetrek.

Hierdie altaar was ook die plek van versoening gewees. Dit is op hierdie altaar waar die volk hulle offers gebring het. Hierdie offers word vir ons in Lev. 1-7 beskryf: offers soos die brandoffers, sondeoffers, skuldoffers, ens. Al hierdie offers was ‘n voortdurende herinnering aan die volk dat daar slegs toegang tot God kan wees deur die vloei van bloed en die plaasvervangende offer wat gebring word vir hulle sonde.

DIE ALTAAR EN CHRISTUS
Dit is dan ook hierdie brandoffersaltaar wat op ‘n besondere wyse heen gewys het na Christus, die volmaakte Offerlam wat vir ons sonde geoffer word.

Waar die offers van oud Israel offers moes wees wat dag in en dag uit gebring moes word, was die offer wat Jesus Christus gebring het ‘n eenmalige offer. ‘n Eens-en-vir-altyd offer. Daarom lees ons in Hebr. 9:28: “So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem...”. En verder in Hebr. 10:12, 14: “Maar Christus het één offer vir die sondes gebring ... Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak”. So ‘n offer het ons nodig gehad, “omdat die bloed van bulle en beeste onmoontlik die sondes kan wegneem” (Hebr. 10:4)

Dus, elke keer wanneer daar in oud Israel ‘n bok, of lam, of bees geoffer is; elke keer as hulle bloed sien vloei het; elke keer as hulle die reuk van die offer geruik het; moes dit hulle daaraan herinner dat hierdie offers net ‘n tydelike instelling is. ‘n Instelling wat na iets meer wys. ‘n Instelling wat na Iemand meer wys. Die volmaakte Offerlam was op pad, en in Jesus Christus het daardie Offerlam verskyn.

Vir ons wat in die Nuwe-Testamentiese era leef, moet die brandofferaltaar ons ook aan die plaasvervangende offer van Christus aan die kruis laat dink. Maar dit bring ons by die brandofferaltaar en ons gebedslewe ...

Die vraag kan gevra word: Hoe gaan hierdie brandofferaltaar van die Tabernakel my help om te bid?

DIE ALTAAR EN MY GEBEDE
Wanneer ons bid, nader ons ook tot die Here. Ons het die bevoorregte posisie om onverhinderd tot die Here te nader al die pad tot in die Allerheiligste van die hemele. Maar hierdie toenadering tot God, mag ons nie ligtelik opneem nie. Nee, soos Moses moet ons met eerbied tot die Here nader in die besef dat ons op heilige grond staan. En dit is juis hierin dat die voorwerpe van die Tabernakel ons help – nie net om met eerbied tot God te nader nie, maar ook om doelgerig te bid.

Stel vir ‘n oomblik jou voor terug in die dae van die Tabernakel wanneer jy begin bid. Jy stap by die ingang van die voorhof van die Tabernakel in. In die middel van die voorhof staan die Tabernakel tent versier met rooi, blou en pers materiaal. Halfpad na die Tabernakel staan die brons brandofferaltaar. Gaan staan stil by die altaar en dink na oor Christus se offer vir jou.
  • Dink eerstens terug aan wat Christus prysgegee het vir jou toe Hy mens geword het: hoe Hy, die Almagtige Skepper van hemel en aarde, sy hemelse heerlikheid versluier het deur die gestalte van ‘n swak mens aan te neem (Fil. 2:6-7).
  • Dink in die tweede plek na oor die feit dat Hy in jou plek volmaak gelewe het. Dat Hy jou Verlosser kon wees omdat Hy nooit in gedagte, woord of daad gesondig het nie. In die woorde van Hebr. 4:15: “... Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.
  • Dink in die derde plek aan die lyding wat Hy ter wille van jou moes ly: emosionele lyding as gevolg van die spot van mense, ja, sy eie mense; fisiese lyding toe die spykers deur hande en voete skeur en die bloedige Palestina son op Hom neer brand; maar ook geestelik lyding, die diepste lyding van alles, toe die Vader vir drie ure in duisternis sy vaderlike liefde en nabyheid van sy Seun terug getrek het en sy heilige oordeel wat ek en jy verdien het, oor sy Seun daar aan die kruis uitgegiet het.
  • En laastens, dink aan die vernedering wat Hy ervaar het, nie net deur ‘n mens te word en deur mense gekruisig te word nie, maar deur veral toe te laat dat die dood vir drie dae oor Hom heers. Wat ‘n vernedering moes dit nie wees vir die ewige en almagtige Seun om te sterf nie.

Jy staan by die brandofferaltaar en dink ... jy dink aan hierdie offer wat Christus vir jou gebring het, om jou van jou sonde en die oordeel wat jy verdien het, te verlos. Hier by die altaar voor die Tabernakel, dank nou die Here vir hierdie wonderlike verlossing wat Hy vir jou geskenk het.

SLOT
Die brandofferaltaar van die Tabernakel het die volk van ouds op die volmaakte Offer wat sou kom, gewys. Maar ook ons staan by hierdie altaar, nie om opnuut ‘n offer te bring nie, maar om terug te dink aan dié eens-en-vir-altyd Offer wat reeds gebring is. ‘n Offer wat ons beweeg om ons gebede te begin met dank aan die Here vir sy genade in Christus. Amen.

No comments:

Post a Comment