Wednesday 24 January 2018

Om tot die aangesig van die Heilige te nader ... om te vra vir versorging en leiding (Week van Gebed 2018, deel 3)

Skriflesing: Eks. 25:23-40

“Jy moet ’n tafel van doringhout maak. Sy lengte moet een meter wees, sy breedte ’n half meter en sy hoogte ’n driekwart meter. Trek dit oor met suiwer goud en sit ’n goue lys rondom vas. Jy moet ’n band, sewe sentimeter breed, rondom die tafel sit en daar rondom ’n goue lys vassit. Jy moet vier goue ringe vir die tafel maak en dit aan die vier hoeke vassit, regoor die vier pote. Die ringe moet naby die band vas kom sodat die draaghoute deur hulle gesteek kan word om die tafel mee te dra. Maak die draaghoute waarmee die tafel gedra moet word, van doringhout en trek hulle oor met goud. Maak vir die tafel skottels, panne, kanne en komme, alles van suiwer goud. Gebruik dit om die drankoffer mee uit te giet. Sit offerbrood op die tafel. Dit moet altyd daar voor My in my teenwoordigheid wees.

Jy moet ’n kandelaar van suiwer goud maak. Dit moet van geslae goud wees, sodat die kandelaar se voetstuk, stam, blomkelke, knoppe en kroonblare alles een geheel is. Daar moet ses arms uit die stam vertak, drie aan elke kant. Daar moet ook drie blomkelke, in die vorm van amandelbloeisels, met knoppe en kroonblare aan elke arm van die kandelaar wees. So moet dit wees vir al ses arms wat uit die stam van die kandelaar vertak. Vir die hoofstam van die kandelaar moet daar vier blomkelke, in die vorm van amandelbloeisels, met knoppe en kroonblare wees. Verder moet daar ’n knop wees onder elke paar arms van die kandelaar, drie vir die ses arms wat uit die stam van die kandelaar vertak. Die knoppe en die arms moet alles wees uit een stuk suiwer geslae goud. Jy moet sewe lampies maak en dit so op die kandelaar vassit dat dit lig gee na sy voorkant toe. Die pithouers en bakkies van die kandelaar moet van suiwer goud wees. Al hierdie voorwerpe moet uit vier en dertig kilogram suiwer goud gemaak word. Sorg dat jy dit maak volgens die plan wat vir jou op die berg gewys is”

(Eks. 25:23-40)

INLEIDING
Ons kom vanaand nog ‘n stappie nader aan die Allerheiligste van die Tabernakel. Die voorhof is agter ons: die plek waar ons herinner is aan die offer van Christus by die altaar en waar ons by die waskom kom smeek het om vergifnis van sonde op grond van die offer van Christus. Nou staan ons in die Heilige van die Tabernakel: ‘n vertrek van glinsterende goud. In die voorhof was die voorwerpe van brons, maar nou word ons met goud begroet en sodoende herinner dat ons ‘n tree nader is aan die Koning van hemel en aarde.

Hier in die Heilige van die Tabernakel vind ons drie voorwerpe: aan die noorde kant van die Heilige is die tafel met die toonbrode, aan die suide kant is die 7-arm kandelaar en voor ons aan die weste kant staan die wierookaltaar voor die voorhangsel wat na die Allerheiligste lei.

Vanaand kyk ons na die twee voorwerpe weerskant van ons: die tafel met toonbrode en die 7-arm kandelaar. Hierdie vertrek, die Heilige van die Tabernakel, is die plek van voorbidding. Dit is hier waar ons ons aardse en geestelike behoeftes aan die Here kom bekend maak, maar ook die behoeftes van ons medegelowiges aan Hom kom opdra. In die eerste plek herinner die tafel met die toonbrode ons aan God se versorging en lei dit ons om te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matt. 6:11). Maar in die tweede plek herinner die kandelaar ons ook dat Christus die Lig van die wêreld is in wie se lig om moet lewe.

DIE HEILIGE VAN DIE TABERNAKEL EN DIE VOORWERPE
Stel jou die volgende toneel voor: Jy staan voor die ingang van deel wat na die Heilige van die Tabernakel lei: ‘n pragtige gordyn van blou, pers en bloedrooi wolstof versier met borduurwerk. Jy trek hierdie gordyn oop en stap die Heilige binne. Voor jou sien jy die voorhangsel wat die Allerheiligste van die Heilige skei, ‘n pragtige gordyn met die motiewe van gerubs daarop geborduur. Voor die voorhangsel staan die wierookaltaar wat die Heilige vul met ‘n soet reuk van wierook. Regs van jou staan die tafel met toonbrode en links van jou die 7-arm kandelaar wat die vertrek verlig. Orals waar jy kyk, sien jy net goud: die mure, goud; die tafel, goud; die wierookaltaar, goud; die kandelaar, goud. Alles is van goud ...

Die tafel met toonbrode
Die tafel was gemaak van doringhout en oorgetrek met suiwer goud. Dit is 1 m in lengte, 50 cm in breedte en 75 cm in hoogte. Rondom die rand van die tafel is daar ‘n band van goud aangebring, 7 cm breed. Aan die vier punte van die tafel is daar ‘n goue ring waardeur die draaghoute wat met goud oortrek is, gesteek is.

Bo-op die tafel is daar twee stapels offerbrode, twaalf in totaal en bo-op elke stapel ‘n bakkie met wierook daarin as offer vir die Here (Lev. 24:7). Hierdie brode het die twaalf stamme van Israel verteenwoordig en is elke Sabbat vervang.

Hierdie tafel met sy brode was simbolies van God se versorging van Israel, nie net gedurende die tyd in die woestyn nie, maar ook die belofte van versorging vir wanneer hulle in die beloofde land sou kom.

Die kandelaar met 7 lampe
Teenoor die tafel met die twaalf toonbrode het die kandelaar met sy sewe lampe gestaan. Dit was gegiet om een stuk te vorm uit suiwer goud. Dit het bestaan uit ‘n hoofstam versier met vier blomkelke met ‘n knop onder elke kelk. Uit die stam het daar ses arms vertak, drie aan elke kant en versier met drie blomkelke met ‘n knop onder aan elke kelk. Bo aan die arms van die kandelaar was daar sewe olielampe van goud met die pit aan die voorkant van die lamp. Hierdie lampe was, volgens Lev. 24:1-4 gevul met olyfolie en moes voortdurend brand.

Hierdie kandelaar het God se leiding gesimboliseer. Dit het die volk daaraan herinner dat God nie net onder sy volk woon nie, maar dat Hy hulle ook lei deur sy wette en voorskrifte. Maar, as volk van God, moes hulle ook ‘n lig wees vir die volke rondom hulle. Dis onder andere waarom die Here die volk na die beloofde land toe gebring het, want dit was die kruispad van die destydse wêreld, en dit was vanuit die beloofde land wat God se lig ook sou uitkring oor die wêreld.

DIE TAFEL EN LAMP WYS OP CHRISTUS
Hierdie twee voorwerpe, die tafel met sy toonbrode en die kandelaar, wys op ‘n besondere manier na Christus.

In Joh. 6:35 sê Christus: “... Ek is die Brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie ...”. Die tafel met sy toonbrode het nie net Israel herinner aan God se versorging nie, maar dit het hulle ook gewys op die Een wat sou kom om hulle ewige honger te vul, nl. Jesus Christus deur wie ons die ewige lewe ontvang. Daarom dat Jesus in Joh. 6:47-8 sê: “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die Brood wat lewe gee.”

Maar ook die kandelaar en sy lig wys na Christus. In Joh. 8:12 sê Christus: “... Ek is die Lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Jesus Christus is die Lig wat die donkerte van die sonde uit die harte van mense verdryf en hulle lei tot die nuwe lewe. Sonder Christus sou ek en jy in duisternis bly woon het. Maar Christus gaan ook verder en wys ons daarop dat ons, as dissipels van die Lig, ook self ligdraers in hierdie donker wêreld moet wees. Ons lees in Matt. 5:14 en 16: “Julle is die lig vir die wêreld ... Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Daarom dui die kandelaar nie net op die verlossingswerk van Christus as die Lig vir die wêreld nie, maar ook op ons roeping om die lig van die Woord deur ons woorde en ons dade in hierdie donker wêreld uit te leef.

En dit bring ons by ons gebedslewe ...

DIE TAFEL EN KANDELAAR LEER ONS OM TE BID
Soos reeds gesê is, is die Heilige van die Tabernakel die plek waar ons voorbidding doen. Dit is die plek waar ons ons hart voor die Here uitstort oor die behoeftes van ons hart met betrekking tot die aardse, maar ook die geestelike lewe.

Soos jy in die Tabernakel van jou gebed instap, gaan staan vir ‘n oomblik stil by die tafel met sy toonbrode en bid: “Vader, gee vandag vir my my daaglikse brood.” Met ander woorde, gee vir my dit wat nodig is vandag om U te kan dien. Dink byvoorbeeld na oor die dinge wat vir jou voorlê vir die dag. Kyk na jou program en bid die Here se seën daaroor.

Terwyl jy bid vir daaglikse brood, draai ook na die kandelaar en bid vir sy leiding. Vra Hom om vir jou wysheid te gee, sodat jy dit wat vir jou in die dag voorlê, so sal aanpak dat jy werklik ‘n ligdraer van Christus in die donker wêreld sal kan wees en dat jou lewe Hom sal verheerlik.

Maar moenie vas hak by die aardse nie, bid ook dat die Here ook sal voorsien en jou sal lei wat die geestelike lewe betref. Bid, soos Christus ons leer bid het: “... laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.” (Matt. 6:13) Met ander woorde, bid vir krag vir en leiding in die stryd teen die Bose, die stryd teen die sondige wêreld en die stryd teen jou eie sondige natuur. Bid dat die Here jou geestelik sal versterk soos wat jy oor sy Woord nadink en dat Hy jou sal lei om die regte keuses te maak in die besluite wat jy moet neem wanneer versoekings oor jou pad kom.

En terwyl jy hiervoor bid, vra ook dat Hy jou sal help om op Hom te vertrou: te vertrou vir dit wat jy nodig het (let wel, vir dit wat jy nodig het, nie dit wat jy wil hê nie), maar ook om sy leiding te vertrou, al is dit nie populêr in die oë van die samelewing nie.

SLOT
Jesus Christus het vir jou gesterf en sy lewe as offer en losprys gegee, sodat jy gered kon word en in ‘n lewende verhouding met God kan staan. Deur sy bloed word jy ook skoon gewas van jou sonde en kan jy nou, rein voor God, die Heilige betree en jou hart voor die Here uitstort: jy mag en moet met Hom praat oor jou behoeftes en die dinge wat jy na liggaam en gees nodig het – nie omdat God nie weet wat jy nodig het nie, maar omdat Hy wil hê dat jy jou hart voor Hom moet uitstort en soos ‘n kind aan sy Vader jou behoeftes aan Hom bekend maak. Maar om dit ook so te doen, dat ons op Hom bly vertrou, selfs wanneer Hy ons gebede op ‘n manier beantwoord wat anders is as wat ons verwag het.

Word vir ‘n oomblik stil in die Heilige van die Tabernakel: kyk na die tafel met die toonbrode en wees dat jou Vader wat in die hemel is, weet wat jy nodig het; kyk na die kandelaar en vertrou dat Hy weet wat die beste is. Vertrou op Hom, Hy sorg ook vir jou. Amen.


No comments:

Post a Comment