Skriflesing:
Eks. 30:1-10
"Jy
moet ’n altaar van doringhout maak om daarop wierook te brand. Dit moet ’n half
meter in die vierkant wees en ’n meter hoog. Sy horings moet ’n eenheid daarmee
vorm. Jy moet die bokant, die sye rondom, en die horings met suiwer goud
oortrek en ’n goue lys rondom die altaar vassit. Jy moet twee goue ringe vir
elke kant maak en dit aan weerskante teenoor mekaar, onderaan die lys vassit om
die draaghoute waarmee jy die altaar moet dra, daardeur te steek. Jy moet die
draaghoute van doringhout maak en hulle met goud oortrek. Sit die altaar dan
neer voor die voorhangsel wat hang voor die ark met die getuienis, voor die
deksel op die getuienis waar Ek jou sal ontmoet. Elke oggend wanneer Aäron die
lampe versorg, moet hy geurige wierook op die altaar brand. Elke aand wanneer
hy die lampe aansteek, moet hy wierook brand. Die wierookoffer moet altyd, ook
deur julle nageslag, vir My, die Here, gebring word. Julle mag nie ongeoorloofde
wierook op die wierookaltaar brand nie, ook nie brandoffers of graanoffers nie,
en nie ’n drankoffer daarop uitgiet nie. Aäron moet een keer per jaar op die
horings van die altaar versoening doen met die bloed van die sondeoffer. Ook
julle nageslag moet een keer per jaar op die horings versoening doen. Die
altaar is op ’n besondere manier gewy aan My, die Here."
(Eks. 30:1-10)
INLEIDING
Ons
het gisteraand die Heilige van die Tabernakel betree en na die eerste twee
voorwerpe in hierdie vertrek gekyk: die tafel met die offerbrode en die
kandelaar met die sewe lampe. Hierdie voorwerpe lei ons in ons voorbidding vir
ons eie behoeftes. Die tafel met sy offerbrode herinner ons nie net dat Jesus
Christus die Brood is wat die lewe gee nie, maar ook die Een is wat ons na
liggaam en gees voed en versorg. Aan die ander kant herinner die kandelaar ons
dat Jesus Christus die Lig is wat ons gered het uit die duisternis, sodat ons
in sy lig tot eer van God kan lewe. Dus, wanneer ons hier in die Heilige stil
word om te bid, bid ons dat die Here ons sal versorg na liggaam en gees, maar
ook sal lei tot eer van sy Naam.
Vanaand
staan ons stil by die derde voorwerp wat in die Heilige gestaan het: die goue
wierookaltaar aan die Weste kant van die Heilige. Hierdie altaar herinner ons
om in te tree vir ons medegelowiges.
DIE WIEROOKALTAAR
Die
wierookaltaar was die voorwerp wat die meeste eer geniet het in die Heilige. Van
hierdie altaar sê die Here in Eks. 30:6: “Sit
die altaar dan neer voor die voorhangsel wat hang voor die ark met die
getuienis, voor die deksel op die getuienis waar Ek jou sal ontmoet.” Hierdie
altaar het dus voor die Here gestaan.
Die altaar
self was 50 cm breed, 50 cm lank en 1 m hoog. Dit het aan die bo kant op die
punte vier horings gehad en ‘n goue rand rondom die bopunt. Aan die kante was
daar vier ringe vir die twee draaghoute. Die hele altaar met sy draaghoute was
oorgetrek met suiwer goud.
Die wierook
vir hierdie altaar was ook voorgeskryf. Die voorskrifte hiervoor vind ons in
Eks. 30:34-38. Dit het bestaan uit gelyke dele van hars, naeltjies, galbanum en
suiwer wierook en met sout gemeng. Hierdie mengsel moes fyn gemaal word tot
poeier. Daar sou van die kole van die bronsaltaar geneem word om op hierdie
altaar in die Heilige te sit en dan was daar van hierdie wierook op die kole elke
oggend en aand gegooi, sodat die rook van hierdie wierook die Heilige en die
Allerheiligste sou vul.
Die
Here het ook verbied dat daar op hierdie altaar enige ander offer gebring mag
word: “Julle mag nie ongeoorloofde
wierook op die wierookaltaar brand nie, ook nie brandoffers of graanoffers nie,
en nie ‘n drankoffer daarop uitgiet nie.” (Eks. 30:9)
Hierdie
wierookaltaar was ook simbolies van die voorbidding vir die volk en die wierook
simbolies van die gebede wat tot die Here opstyg. Uit Luk. 1:9-10 sien ons dat
met die aansteek van die wierookoffer, die volk buite gestaan en bid het en die
priester ook vir die volk ingetree het. Wanneer die priester hier by die wierookaltaar
gebid het, het hy as die tussenganger gestaan tussen God en sy volk en as
tussenganger die gebede van die volk soos die lieflike wierook voor die Here
gebring.
DIE WIEROOKALTAAR EN
CHRISTUS
Waar
die bronsaltaar in die voorhof op Christus se amp as Verlosser gedui het, dui
die goue wierookaltaar op Christus se amp as Middelaar. Christus is ons
Hoëpriester wat vir ons intree by die Vader en ons gebede tot die genadetroon
van die Here bring. Daarom dat apostel Johannes in 1 Joh. 2:1 skryf: “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders,
dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus
Christus, die Regverdige, as ons Voorspraak by die Vader.” En daarom skryf
die apostel Paulus in 1 Tim. 2:5-6: “Daar
is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mens, die
mens Christus Jesus wat Homself as losprys vir almal gegee het ...”
Hier
moet ons egter ook ‘n saak duidelik stel: Jesus Christus is die enigste
Middelaar tussen God en die mens. Daarom mag ons net tot God nader deur
Christus alleen. Geen ander mense, hoe heilig hulle ook al mag gelewe het, en
geen engel kan vir ons toegang verkry tot die genadetroon van God nie. Daarom
is dit on-Bybels en verkeerd om in die naam van enige mens of engel – of dit
nou Maria, Paulus, Petrus, Gabriël of Michael is. Hierdie mense en engele het
nie vir ons gesterf nie; en daarom kan hulle nie ons middelaars wees nie.
Alleen Jesus Christus het ons ons gesterf en met sy bloed die Allerheiligste
binne gegaan om so versoening te doen vir ons. Daarom kom ons tot God in die
Naam van Jesus Christus, ons enigste Verlosser en enigste Middelaar.
DIE WIEROOKALTAAR EN ONS
GEBEDE
Alhoewel
die wierookaltaar op Christus se Middelaarskap dui en ons verseker dat Hy vir
ons by die Vader intree; lei hierdie wierookaltaar ons ook om uit liefde vir
ons medegelowiges en ons naaste by God in te tree. In Op. 8:3-4 word die wierookaltaar
voorgehou as die plek waar die gebede van die gelowiges voor God opstyg. Ons
lees: “’n Ander engel het toe gekom en by
die altaar gaan staan met ‘n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom
gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die
troon te offer. Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het
saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.”
So
staan ons dan by die goue wierookaltaar in die Heilige en doen voorbidding. Ons
draai om en kyk terug na die tafel met die offerbrode en bid dat die Here ook
sal voorsien in die daaglikse en geestelike behoeftes van sy kinders. Maar ons
bid ook dat God se algemene genade waardeur Hy sy skepping onderhou ook groot
sal wees oor ons naaste, al ken hulle Hom nie.
Ons
kyk ook na die kandelaar met die sewe lampe en bid dat die Here sy kerk sal lei
om getroue getuies van sy Naam en die Evangelie van Christus sal wees – ook
wanneer hulle ter wille van sy eer en die Evangelie vervolging ervaar. Maar
terselfdertyd bid ons ook vir ons naaste, ja, ook vir die ongelowige wêreld,
dat die Here in sy genade die boosheid in hierdie wêreld sal bekamp en ook die
ongelowiges sal gebruik om sy wil uit te voer.
Terwyl
ons bid vir die versorging en leiding van ons medegelowiges en naaste, dink ons
ook terug aan die bronswaskom en die bronsaltaar.
- Ons dank God vir die genade wat Hy aan ons medegelowiges bewys het deur hulle ook te verlos en hulle sondes te vergewe op grond van die offer en bloed van Jesus Christus. Ons dank Hom omdat die Hy besig is om sy kerk te bou. Daarom bid ons ook dat ons medegelowiges nie net vas sal staan in die Evangelie nie, maar ook sal groei in hulle verhouding met God en die lewe van heiligmaking.
- En vir die ongelowige wêreld bid ons vir genadetyd. Genadetyd omdat ons besef dat wie ook al hulle rug op die offer van Christus draai, nie net verlore is nie, maar in hulle verlorenheid ook onder die ewige oordeel van God is. Soos die Hebreërs-skrywer dit ook in Hebr. 10:28-29 stel: “As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?”
Kom
ons maak dit vanaand baie prakties: Dink vir ‘n oomblik aan jou familie-,
werks- en vriendekring.
- Kies nou vir jou 5 name van mense wat jy weet gelowiges is. Dink vir ‘n oomblik aan hulle behoeftes, die dinge wat hulle nodig het. Aardse en tydelike behoeftes, maar ook geestelike behoeftes. Bid daarvoor en vra die Here se leiding oor hulle lewe. Vra dat Hy hulle sal naby wees en sal lei om werklik ligdraers in hierdie donker wêreld te wees.
- Fokus nou jou aandag op 5 name van mense wat jy ken wat jy weet ongelowiges is. Is daar iets in hierdie mense se lewe waarmee hulle worstel, of sukkel, of hulp nodig het. Dra dit op aan die Here en vra dat hy ook hierdie situasie waarin hulle hul bevind sal gebruik om hulle tot bekering te bring. Bid dat die Gees hulle oë sal oopmaak vir die lig van die Evangelie en in hulle ‘n nuwe geestelike lewe sal wek.
Word
stil by die goue wierookaltaar voor die aangesig van God en tree in vir die
mense in jou lewe: jou medegelowiges, maar ook jou naaste.
SLOT
Ons
het al ver gevorder op ons reis in die Tabernakel:
- Ons het God gedank vir die verlossing wat Hy bewerk het deur die offer van sy Seun, Jesus Christus.
- Ons het ervaar hoe Hy ons vryspreek van ons sonde, omdat ons met die bloed van Christus gewas is en nou rein voor Hom staan.
- Ons kon met vrymoedigheid vra dat Hy sal voorsien in ons aardse en tydelike behoeftes, en
- Ons kan reken op sy leiding wat Hy vir ons gee deur sy Gees en sy Woord, om sodoende ware ligdraers te kan wees in die donker wêreld waarin ons leef.
Nou
staan ons by die goue wierookaltaar en bid ook vir ander: vir ons medegelowige,
mede-verlostes deur Jesus Christus en lede van die huisgesin van God; maar ook
vir ons naastes, vriend of vyand wat die Here oor ons pad stuur. So volg ons
ook in die voetspore van Christus, wat gebid het vir sy kerk, maar ook vir dié
wat Hom vervolg het. Laat ons so stil word by die wierookaltaar en intree vir
ander by ons Hemelse Vader. Amen.
No comments:
Post a Comment