Sunday, 14 December 2014

Voor die koningskap van Christus sal die nasies buig (Ps. 110) [1]

INLEIDING
As jy sou probeer om die volle raadsplan van God saam te vat in 'n paar sinne, sou Ps. 110 beslis daardie opsomming wees. Soos wat die 10 Gebooie die wil van God vir die lewe van 'n gelowige opsom, so som Ps. 110 die boodskap van die ganse Skrif op. Dit is die mees kernagtige samevatting van die geloof, want daarin hoor ons van Christus se vernedering, verhoging, en koningskap; ons vind verwysings na die gemeenskap van die gelowiges en die geestelike stryd; ons hoor die aankondigings van die finale oordeel en die oorwinning oor die Satan.

So wesentlik is die inhoud van hierdie psalm vir die Christelike geloof, dat dit meer as enige ander psalm deur die skrywers van die Nuwe Testament aangehaal word. Daar is nie minder as 25 direkte aanhalings van en verwysings na Ps. 110 in die Nuwe Testament nie. Dit word aangehaal deur:
  • Christus in sy gesprekke met die fariseërs (Matt. 22:44 en ooreenkomstige plekke) en tydens Sy verhoor voor Kajafas (Matt. 26:64 en ooreenkomstige plekke),
  • Petrus op Pinksterdag (Hand. 2:34-35),
  • Paulus in vier van sy briewe (Rom. 8:34; 1 Kor. 15:25; Ef. 1:20 en Kol. 3:1)
  • En uiteindelik ook deur die skrywer van die Hebreërbrief wat nie minder as 10 keer hier psalm aanhaal en/of  daarna verwys nie (Hebr. 1:3; 5:6, 10; 6:20; 7:3, 17, 21; 8:1; 10:12-13; 12:2).

In die psalmboek neem Ps. 110 ook 'n unieke plek in. Dit is die enigste psalm van al die psalms wat uitsluitlik na die Christus verwys. Hierdie is dus 'n profetiese psalm wat die koms van die Messias aankondig en Hom aan ons voorhou as die Koning, Priester en Oorwinnaar. Vanoggend staan ons by vers 1-3 stil. In hierdie eerste drie verse van die psalm word:
  • Die goddelike en menslike natuur van die Messias beklemtoon,
  • As ook Sy koningskap
  • En die feit dat die nasies voor Hom sal buig.

DIE GODDELIKE EN MENSLIKE NATUUR VAN CHRISTUS
Ps. 110 is 'n psalm van koning Dawid. Tog skryf Dawid in vers 1, onder die inspirasie van die Heilige Gees: “Die Here het vir my Heer die Koning gesê: ‘Kom sit aan My regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp’.”

In Christus se gesprekke met die fariseërs haal Hy hierdie psalm aan. In Matt. 22:42 vra Christus vir die fariseërs wie se seun die Christus is. Die antwoord wat hulle gee is: “Dawid s'n”. Met ander woorde, die Christus kom uit die nageslag van Dawid. Hierin is hulle reg. In Jes. 9:6 word gesê dat die Messias op die “troon van Dawid” sal sit volgens die belofte van die Here aan Dawid in 2 Sam. 7:16: “Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

Maar dis Christus se tweede vraag wat die fariseërs laat steier, want Christus vra in Matt. 22:43 en 45: “Waarom noem Dawid Hom dan ‘Here’?” Hier verwys Christus na Ps. 110:1. Wat Christus vir ons hier uitwys is dat Dawid, as koning van Israel, was die hoogste menslike gesag was. Nog meer, as koning van 'n Teokrasie – d.w.s. van 'n regering waar God deur die koning regeer – was daar geen groter gesag bo die koning, behalwe God self nie. Dus, as Dawid in Ps. 110:1 sê: “Die Here het vir my Heer die Koning gesê…”, verwys hy na iemand wat groter gesag het as hyself. Maar daar is niemand anders wat groter gesag as hy het nie, behalwe God. Dus, hy praat nie van homself of enige ander aardse koning nie. Hy praat van die Messias, die Christus, wat bo hom as aardse koning verhewe is en gelyk is aan God.

So kondig Dawid onder die inspirasie van die Heilige Gees aan dat die Messias uit die nageslag van Dawid sou kom, maar terselfdertyd ook gelyk aan God wees. Of anders gestel, die Messias sal waarlik mens wees én waarlik God. Daar is net Een wat aan hierdie vereistes kon voldoen, nl. Jesus. Want so staan daar in Rom. 1:3-4 geskrywe: “… As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van Sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.”

Dit is dan ook na Sy verheerliking en troonsbestyging waarna Ps. 110:1 verwys wanneer Dawid profeteer: “Kom sit aan My regterhand, en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.”

CHRISTUS SE KONINGSKAP
Om aan iemand se regterhand te wees, is 'n posisie van eer te hê. In 'n koninkryk is daar geen hoër posisie van eer as aan die regterhand van die koning nie. Dit is 'n posisie wat getuig dat die persoon die vertroue van die koning het – soveel so dat as iets met die koning sou gebeur, die een aan die regterhand van die koning die verantwoordelikhede van die koning sou oorneem.

Daarom beklemtoon die opdrag “Kom sit aan My regterhand” Christus se reg en volmag om as mede-Koning saam met die Vader te regeer en te heers. Wanneer sou dit gebeur? Kyk ons na hierdie opdrag van uit die hoekpunt van die Nuwe Testament, sien ons dat die Vader die koningskap en die regering oor die skepping aan die Seun oordra na Sy kruisdood, opstanding en hemelvaart.

Juis hierdie feit verduidelik Christus aan die reisigers na Emmaus na Sy opstanding in Luk. 24:25-26 wanneer Hy vir hulle sê: “Wat 'n gebrek aan begrip en 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in Sy heerlikheid in te gaan nie?” En voor Sy hemelvaart verklaar Christus: “… Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt. 28:18).

Christus se koningskap en regering verskil radikaal van dié van aardse konings. In 'n aardse koninkryk is die volgorde: 'n gebied word verower deur 'n persoon – nadat die gebied verower is gaan sit hy om te regeer. Maar by Christus is dit andersom: aan Hom word gesê om te sit en te regeer terwyl sy vyande nog oorwin word, want vers 1 sê: “… sit … en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp” en weer in vers 2: “… heers dan oor U vyande” – letterlik “heers te midde van U vyande”.

Dus, Christus is gekroon met mag en heerlikheid. Dit het gebeur by Sy opstanding uit die dood en hemelvaart. Maar Sy koninkryk brei daagliks uit. Dag na dag word Sy vyande deur die Vader aan Hom onderwerp. Soos daar in 1 Kor. 15:25 geskrywe staan: “Hy moet as Koning heers totdat die Vader al Sy vyande aan Hom onderwerp het.”

Voor ons verder gaan, kom ons dink net vir 'n oomblik na oor wat ons hier hoor en wat hier in vers 1 besig is om te gebeur. Deur 'n openbaring van die Gees word Dawid – en ons wat hierdie psalm lees – 'n oomblik gegee waarin ons toegelaat word om die raadsbesluit tussen die Vader en die Seun voor die skepping van die wêreld te hoor. Sondaars word toegelaat om die heilige grond van die hemelse troonsaal te betree en te hoor hoe die Vader en Seun ooreenkom oor hoe mense verlos sal word en burgers van die hemelse koninkryk sal word. Wat 'n voorreg!

DIE NASIES SAL BUIG
Maar laat ons verder gaan en die vraag vra: Hoe onderwerp die Vader die vyande van Christus? Hy doen dit op een van twee maniere.

In die eerste plek doen Hy dit deur die vyande van Christus, volgelinge van Christus te maak. In vers 3 word daar na 'n volk wat gereed staan voor Christus verwys. Wie is hulle en waar kom hulle vandaan? Dit is die gelowiges – hulle wat uit die koninkryk van die duisternis bevry is en burgers geword het van die koninkryk van die lig. In die woorde van die apostel Paulus in Rom. 5:10: “Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van die Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van Sy Seun gered sal word.” Wanneer iemand tot geloof kom, buig hy die knie onder die heerskappy van Christus. Hy onderwerp hom aan Christus se gesag oor sy lewe en hy stel hom bereid tot dienswerk in die koninkryk van God. Dit is immers wat dit beteken om te bid: “laat U koninkryk kom…” (Matt. 6:10). So word vyande dan burgers, rebelle dan onderdane, opstandiges dan onderwerptes.

Maar in die twee plek onderwerp die Vader die vyande van Christus ook deur dwang. Aan die einde van vers 3 en ook in vers 5-6 lees ons van oorlog. Hierdie oorlog het slegs een uiteinde, nl. dat elke knie buig en elke tong bely dat Jesus Christus die Here is tot eer van God die Vader (Fil. 2:13). Vandag is daar baie wat nie die Naam van Christus bely nie, baie wat Sy koningskap verwerp en onder die heerskappy van die Bose lewe. So was dit en so sal dit wees tot by die wederkoms van Christus. Dan sal almal voor die troon van Christus moet verskyn. Op daardie dag sal die vyande van Christus die knie moet buig en hoor: “Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is” (Matt. 25:41).

SLOT
In Ps. 2:1-3 hoor ons die aankondiging: Die Messias kom en voor Hom sal die nasies buig! Die vraag is: Het jy al die knie voor Christus gebuig en Hom as jou enigste Verlosser en Koning bely?

Voor die bestaan van ruimte en tyd,
het God Drie-Enig reeds besluit
om die Seun na ons te stuur.

Hy gebore in die volheid van die tyd,
Hy – Seun van Dawid – sal na stryd
as Koning langs die Vader heers.

Hy sal Sy septer uitstrek,
só Sy volk na Hom toe trek
en voor Hom sal hul buig.

O, Seun van Dawid en van God,
U kom deel hier in ons lot
en versoen ons met die Vader.

Laat kom dan U koninkryk met mag,
laat elke mens onder U gesag
die knie buig voor U as Koning.

Sunday, 7 December 2014

Die volke sal kniel voor die Leeu uit die stam van Juda (Gen. 49:8-12)

INLEIDING
Dink vir jouself die volgende toneel in. Jy is in die bosveld. Die takkies van die bome en die grasse van die veld ritsel saggies in die middagwindjie. Skielik word die stilte van die bosveld gebreek deur die gebrul van leeus. Daar, in die grasveld, staan twee leeu mannetjies gereed vir die geveg. Hul gegrom en gebrul laat die aarde onder jou voete bewe en die stof dans om hulle in die middagson wanneer hul mekaar die geveg aansê. Hul geveg is nie 'n spelletjie nie – dis 'n kragmeting. 'n Kragmeting waarvan slegs een as die oorwinnaar sal wegstap.

Dit Bybel vertel ons ook van twee leeus wat in 'n kragmeting is:
  • Aan die een kant is daar die Leeu uit die stam van Juda, Christus die Oorwinnaar (Op. 5:5).
  • Aan die ander kant is daar die leeu van die aarde, die Satan, wat brullend soek na iemand om te verslind (1 Pet. 5:8).

Met die verloop van die eeue hoor ons keer op keer die gebrul van hierdie leeus. Die eerste gebrul het ons al in die Tuin van Eden gehoor waar die geveg om die lewe van die mens begin is. En telkens sien ons hoe die brullende en verskeurende leeu die onderspit delf in sy geveg met die Leeu uit die stam van Juda.

In Gen. 49:8-12 lees ons die laaste van drie beloftes wat oor die koms van die Verlosser handel.
  • In Gen. 3:15 het ons die eerste belofte gehoor: Die Verlosser sal kom om verlossing te bring.
  • In Gen. 12:3 hoor ons die tweede belofte: Hierdie verlossing sal uitkring na al die nasies.
  • En hier in Gen. 49:10 lees ons die derde belofte: Die Verlosser wat kom sal heers oor die volke van die aarde.

Hierdie Verlosser sou egter nie net uit die bloute verskyn nie. Nee, Hy sou gebore word uit die nageslag van 'n spesifieke man, nl. Juda, die seun van Jakob, die seun van Isak, die seun van Abraham. Voor hierdie Verlosser, hierdie Leeu uit die stam van Juda, sal die volke kniel. Dit is die seën wat Juda hoor.

Die seën wat oor Juda uitgespreek word, kan ons in drie dele indeel:
  • Deel 1: Die koningshuis van Juda.
  • Deel 2: Die koms van Silo, dié Leeu uit die stam van Juda.
  • Deel 3: Die heerskappy van Silo.

DIE KONINGSHUIS VAN JUDA
Jakob lê op sterwe. Vir 'n laaste keer roep hy sy seuns bymekaar. Die seuns verwag dat hul vader hulle gaan seën. Maar wat gebeur. Die oudste, Ruben, hoor hoe hy nie meer die vernaamste sal wees nie, omdat hy met een van sy pa se vroue gemeenskap gehad het (Gen. 49:3-4). Simeon en Levi, die tweede en derde oudste seuns, hoor soortgelyk hoe hulle die straf van God sal ervaar oor hul geweld (Gen. 49:5-7).

Volgende op die lys is Juda. Wat sal hy van sy pa hoor? Sy lewe was self vol sonde. Dit was Juda wat voorgestel het dat Josef as slaaf verkoop moet word (Gen. 37:26). Dit was Juda wat met Tamar, sy skoondogter, gemeenskap gehad het (Gen. 38:15-18). Watter vervloekinge sal hy nie moet hoor nie?!

Maar in die plek van vervloeking, hoor Juda seëning. Dit is uit die nageslag van Juda wat die leiers van die Israeliete sou kom: “Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer: jy sal jou vyande onderwerp en jou broers sal voor jou buig” (Gen. 49:8). Om hierdie belofte te bevestig vergelyk Jakob sy seun met 'n leeu wat jag en sy prooi vang en niemand durf om dit by hom weg te vat nie (Gen. 49:9).

Kyk ons na die geskiedenis dan sien ons ook hierdie belofte in vervulling gaan. Dink vir 'n oomblik aan die konings van Israel. Uit wie se nageslag was koning Dawid? Dawid was uit die nageslag van Juda (1 Kron. 2:15). En na Dawid was daar tot en met die ballingskap konings uit die nageslag van Juda op die troon in Jerusalem.

So hoor ons dan die eerste belofte aan Juda: Uit jou sal konings kom!

DIE KOMS VAN SILO, DIE LEEU UIT DIE STAM VAN JUDA
Hierdie konings sou egter net voorlopers wees van 'n finale Koning wat sou kom: “Jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer totdat Silo kom, die Heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp” (Gen. 49:10).

Die geskiedenis was besig om na 'n hoogtepunt te beweeg. In hierdie geskiedenis sou daar konings wees wat soos die golwe van die see die een op die ander sou volg. Sommige sou groot golwe wees – manne wat God gedien en geëer het. Ander sou kleiner golfies wees – manne wat dinge gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here. Maar al hierdie golwe – groot en klein – sou verdwerg word met die koms van Silo – die groot Koning wie se heerskappy die strand van hierdie wêreld geskiedenis soos 'n tsunami sou tref.

Géén koning van Israel kon ooit sê dat al die volke van die aarde hul aan hom onderwerp het nie. Selfs nie eers in die tyd van die groot konings van Israel soos Dawid en Salomo nie. Ja, die breek van hierdie koninklike branders op die strand van die wêreld geskiedenis sou indrukwekkend wees, maar dit sou grense hê. Maar die heerskappy van Silo sou anders wees. Wanneer die tsunami van Sy heerskappy sou tref, sou daar geen keer daaraan wees nie. Niks sou dit kon terughou nie. Niks sou daarvoor kon vlug nie. Niks sou daarvoor staande kon bly nie.

Wie is hierdie Silo waarvan Jakob praat? Silo is niemand anders as die Messias nie – Jesus Christus. Christus is die hoogtepunt van Juda se nageslag. In Christus het die koningshuis van Juda sy volkome mag bereik, want Christus se mag is nie net tot die land Israel beperk nie, maar die ganse aarde is onder Sy heerskappy. Nog meer, nie net die aarde nie, maar ook die hemele is aan Hom onderwerp. Hy het immers verklaar: “… Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt. 28:18).

Wanneer hierdie Leeu uit Juda sy magtige, koninklik stem laat hoor, sal ons nie bewe en voor Hom kniel nie? Sal ons nie dan ook soos die profeet Amos uitroep: “Die Leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie? Die Here het gepraat, wie sal nie as profeet optree nie?” (Am. 3:8)

Hierdie Koning van die konings, die Heerser van die heersers, die finale Leeu uit die stam van Juda is die Een wat nie net die verlossing bring nie, maar Hy is ook die Een voor wie elke knieg sal buig. Deur die eeue heen sien ons die koningskap van Christus deurbreek – soms soos 'n deurdringende reën en soms soos 'n magtige wolkbreuk. Maar dag by dag groei Sy koninkryk hier op aarde. Maar die groei van die koninkryk op aarde is nog niks in vergelyking met die dag wat die ganse aarde – hulle wat in Hom glo en hulle wat Hom verwerp het – voor Hom die knieg sal buig nie. Ja, in hierdie geskiedenis is die water besig om terug te trek – die teken van 'n golf wat kom – en in die verte sien ons die kruin van Christus se koningsheerskappy.

So hoor ons dan die tweede belofte aan Juda: Nie net konings nie, maar dié Messias-Koning sal uit jou kom.

DIE HEERSKAPPY VAN SILO
In vers 11-12 word ons 'n voorskou gegee van hoe die koninkryk van Silo sal lyk. Dit word vir ons uitgebeeld in 'n paar beelde / metafore: “Hy maak Sy rydier vas aan 'n wingerdstok, Sy donkie aan die beste wingerdstok. Sy klere is so rooi soos wyn, Sy koningskleed so rooi soos druiwesap. Sy oë is donkerder as wyn, Sy tande witter as melk.”

Oor die betekenis van hierdie laaste twee verse is daar verskil. Sommige is van mening dat dit drie vergelykings is wat saam een saak beklemtoon, nl. die oorvloed wat daar in die koninkryk van die Messias sal wees. Alhoewel dit as die oorkoepelende beklemtoning gesien kan word, is ek persoonlik daarvan oortuig dat daar ook meer spesifieke toepassings van hierdie laaste drie beeld is:
  • In die eerste plek beklemtoon die eerste beeld in vers 11 die oorvloed wat daar in die koninkryk sal wees. Dit sal van so aard wees, dat Christus nie bekommerd sal wees dat dit in waarde sal verminder nie. Ons lees dat Hy Sy donkie aan die beste wingerdstok sal vasmaak. Vra enige boer en hy sal waarskynlik vir jou sê dat daar baie beter plekke is om jou donkie vas te maak. Om die waarheid te sê die laaste plek waar jy 'n donkie wil vasmaak is by die beste van oes, want die donkie sal dit begin vreet. Maar in die ryk van die Messias sal daar soveel in oorvloed wees, dat dit nie sal saak maak as die donkie aan een van die beste wingerdstokke kou nie.
  • In die tweede plek word die Messias uitgebeeld as Een wie se klere rooi is soos wyn en druiwesap. Meer letterlik vertaal, lees ons: “Hy was Sy klere in die bloed van druiwe”. Dit kan nie toevallig wees dat daar in vers 10 gesê word dat Hy die volke sal onderwerp en direk daarna na “bloed” verwys nie. Die tweede deel van vers 11 is 'n beeld waardeur Christus uitgebeeld word as die Een wat Sy vyande vertrap. Die beeld van die parskuip en die oordeel word op ander plekke ook gebruik. Byvoorbeeld, in Klaag. 1:15 word gesê dat die Here Juda fyngetrap het in die parskuip en in Joël 3:13 sê die Here: “Hulle sondes is baie: steek die sekel in, want die oes is ryp, kom trap, die parskuip is vol, die wynkuipe loop oor.” Dit is dan ook nie vreemd dat wanneer Christus as Oorwinnaar in Op. 19 uitgebeeld word, dit in soortgelyke taal is nie. Ons lees in Op. 19:13: “Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was …” en wie se bloed is dit? Vers 15 gee die antwoord: “Uit Sy mond het daar 'n skerp swaard uitgekom om die nasies te tref, en Hy sal met 'n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en oordeel van God, die Allerhoogste.”
  • In die derde plek word die prag van hierdie Messias-Koning ook uitgebeeld in vers 12. Sy oë is donker en sy tande is wit. Hierdie is beelde wat op prag en krag wys. Die verheerlikte Christus sal die toonbeeld van prag wees, want uit Hom sal die heerlikheid van God straal. So ook sal Hy die vertoning van krag wees, want Hy besit alle mag in die hemel en op die aarde.

Hierdie is dan die Koning van die konings, die Heerser van die heersers en die finale Leeu uit die stam van Juda aan wie se koningsheerskappy geen einde sal wees nie. Hy is die enigste Verlosser, die almagtige Koning en die regverdige Regter.

SLOT
Kersfees is om die draai. Wanneer mense oor Kersfees na dink, dan sien baie 'n weerlose babatjie in 'n krip. Maar hoeveel besef dat hierdie Kindjie, die vervulling van eeue se beloftes is, dat hierdie Kindjie die magtige Leeu uit die stam van Juda is wat gekom het om mense te verlos en die koninkryk van God te vestig.

Die koms van hierdie Kind, hierdie Koning, hierdie Leeu uit die stam van Juda stel elkeen voor 'n keuse: Of jy staan aan die kant van die Leeu uit Juda, die Oorwinnaar, of jy staan aan die kant van die verskeurende leeu van hierdie wêreld? Waar staan jy? Amen. 

Sunday, 19 October 2014

Die Here kies, stuur en beskerm dié wat Hom dien (Jer. 1:1-8)

Skriflesing: Jer. 1:1-8
Tema: Die Here kies, stuur en beskerm dié wat Hom dien

INLEIDING
Dit is die jaar 627 v.C. Die plek: Jerusalem. Die koning: koning Josia, die laaste godvresende koning wat in Juda sou regeer voor Jerusalem en die tempel deur Nebukadnesar, koning van Babilonië, vernietig sou word. Dit is 'n tyd van herlewing, van hervorming op sosiale, ekonomiese en godsdienstige gebied.

Koning Josia is besig om Suidelike Ryk skoon te maak van al die afgodsbeelde, heilige pale en altare ter ere van die afgode op die hoogtes wat deur sy voorvaders opgerig is. Dit is in hierdie tyd wat die Here 'n man, 'n profeet, na die koning, die amptenare, die priesters en die volk stuur. Hierdie man is Jeremia.

Jeremia was 'n priester, 'n nakomeling uit die geslag van Levi. Hy het Anatot gewoon, ongeveer 5 km Noord-Oos van Jerusalem (Jer. 1:1). Vanuit Anatot was die mure van Jerusalem in die Weste sigbaar, asook die woestynland in die Ooste.

Jeremia se bediening sou oor 'n tydperk van 40 jaar of meer strek. Hy sou konings sien kom en konings sien gaan. Hy sou die regerings van Josia, Jojakim en Sedekia deurleef (Jer. 1:2-3) en uiteindelik ook sien hoe Jerusalem deur vlamme verteer word. Hy sou die hoogtepunt van herlewing in sy leeftyd ervaar, maar ook die laagtepunt van Jerusalem en die volk se afvalligheid van die Here.

In die 13de regeringsjaar van koning Josia, 'n jaar nadat Josia met die hervorminge begin het, het die Here aan Jeremia verskyn. Op hierdie geleentheid hoor ons hoe die Here Jeremia:
  • Gekies het as Sy profeet,
  • Hom stuur na die Suidelike Ryk, en
  • Beloof om hom te beskerm. 

DIE HERE KIES
Oor presies hoe die Here aan Jeremia verskyn het, word nie vir ons gesê nie, net dat “die woord van die Here het tot my (Jeremia) gekom” (Jer. 1:4).

Hierdie “woord van die Here” was duidelik en reguit. Die Here sê in vers 5: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.”

Voordat Jeremia die sonlig by geboorte gesien het, het die Here in Sy ewige raadsbesluit reeds drie dinge gedoen:

Ek het jou uitgekies
In die eerste plek, Hy het Jeremia uitgekies en besluit om in 'n verhouding met hom te staan. Hy sê: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken…”. Die woord wat ons met “geken” vertaal, is 'n woord wat gebruik word vir 'n intieme verhouding. Met ander woorde, Jeremia, voordat jy in die moederskoot ingekom het, het Ek besluit om in 'n verhouding met jou te staan. Ek het jou van voor jou geboorte, ja, nog voor jy gevorm was in jou moederskoot, vir My uitgekies om Myne te wees.

Maar wat waar is van Jeremia, is ook waar van elke gelowige. Ons hoor dieselfde taal in Ef. 1:4-5 waar die apostel Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees skryf: “So het Hy (die Vader), nog voor die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In Sy liefde het Hy ons, volgens Sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus Sy kinders te wees.”

Die Goddelike uitverkiesing is vir die gelowige 'n wonderlike troos, omdat ons redding nie van onsself afhang nie, maar in die hande van die Onveranderlike God is wat ons deur die verlossingwerk van Jesus Christus gered het.

Ek het jou aan My gewy
Nie net het die Here Jeremia uitgekies nie, Hy het hom ook aan hom as profeet gewy, want Hy sê: “… voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy …”. Wanneer die Here iemand aan Hom wy, sonder Hy daardie persoon vir Sy diens alleen af. In Deut. 14:2 word daar aan die volk gesê: “Julle is 'n volk wat aan die Here julle God gewy is …” en dan gaan Moses onmiddelik verder en verduidelik wat dit beteken “Hy het julle uit al die volke op aarde uitgekies om Sy eiendomsvolk te wees.” Dus wanneer God vir Jeremia sê dat Hy hom aan Hom gewy het, sê Hy daarmee dat Jeremia aan Hom behoort en alleen in Sy diens staan.

Ons sal egter 'n fout maak as ons dink dat net Jeremia aan die Here gewy was. Elke gelowige word aan God gewy deur die bloed van Jesus Christus wat Hy op Golgota aan die kruis gestort het. Die Hebreërskrywer, onder die inspirasie van die Heilige Gees, sê dit in soveel woorde in Hebr. 10:10: “Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus Sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.”

Ek het jou as profeet aangestel
Maar wat behels hierdie diens, waarom het God Jeremia uitgekies en hom aan Hom gewy? Einde vers 5: “Ek het … jou as profeet vir die nasies aangestel.”

God het Jeremia uitgekies en vir sy diens afgesonder, om as 'n profeet op te tree. 'n Profeet nie net vir die Israeliete nie, maar vir die nasies. Maar nou kan ons vra: Hoe werk dit? Jeremia het nooit reise onderneem na ander lande soos Jona nie. Dit mag so wees, maar Jeremia het teen die nasies geprofeteer. In Jer. 46-51 lees ons sy profesieë teen Egipte (Jer. 46), die Filistyne (Jer. 47), Moab (Jer. 48), die Ammoniete (Jer. 49:1-6), Edom (Jer. 49:7-27), Kedar en Gasor (Jer. 49:28-33), Elam (Jer. 49:34-39) en uiteindelik ook teen Babel (Jer. 50-51). Aan die einde van die boek lees ons ook hoe Jeremia aan Seraja opdrag gee om die boek saam te neem Babel toe en dit daar hardop voor te lees (Jer. 51:59-64).

So het die Here dan Jeremia, die profeet vir die nasies gemaak. En hierin sien ons ook 'n voorskou van die roeping van die kerk. Want ook ons, gelowiges in die Nuwe Testamentiese bedeling, het die roeping ontvang van Christus om die Evangelie aan al die nasies te verkondig. 'n Boodskap van hoop vir elkeen wat in Christus glo, maar ook 'n boodskap van oordeel vir elkeen wat Hom verwerp.

Die profeet Jeremia se uitverkiesing, wyding en aanstelling is 'n voorbeeld van wat die kerk van Christus later sou wees. Ons hoor dieselfde taal van Jer. 1:5 in 1 Pet. 2:9:  “Julle (die gelowiges), daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na Sy wonderbare lig.” Het ons dit gehoor? Julle is “uitverkore”. Julle is “afgesonder”. Julle moet “verkondig”.

DIE HERE STUUR
Wat sou ons reaksie gewees het as die Here aan ons verskyn het soos Hy aan Jeremia verskyn het? Persoonlik is ek daarvan oortuig dat ons onsself dikwels veel vromer wil voorhou as die profete van ouds. Dikwels wanneer ons die vraag hoor, is ons geneig om te sê: “Ons sou dadelik opgewonde gewees het!” Maar voor ons antwoord, laat ons eers toelaat dat die Here ons nederig maak deur na 'n paar voorbeelde te kyk van mense se reaksies voor die lewende God:
  • Wanneer die Here Moses roep, wat is Moses se reaksie? Het hy gesê: “Uiteindelik! Ek het so lank hiervoor gewag?” Nee, hy antwoord in Eks. 3:11: “Wie is ék dat ek dit by die farao te waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”. En 'n bietjie verder in Eks. 4:10: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; …”.
  • Of dink aan die roeping van Jesaja. Het Jesaja uit sy vel gespring toe die Here hom geroep het? Beslis nie! Inteendeel, hy moes uitroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder 'n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige!” (Jes. 6:5). Dit is eers nadat 'n seraf sy lippe met 'n kool van die altaar af aanraak, dat hy kan instem op God se vraag: “Wie kan Ek stuur?” en antwoord “Hier is ek! Stuur my!” (Jes. 6:8)
  • Of kyk na Jeremia se reaksie hier. Hy hoor hoe die Here hom as profeet aanstel, maar soos Moses en Jesaja besef hy sy eie onwaardigheid. Hy antwoord: “… ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.” Heel waarskynlik was Jeremia reg in sy stelling. Hy was nog 'n jong man en waarskynlik nog nie goed onderlê in spraakkuns nie. Maar dit is geen verskoning nie. Net so min as wat God Moses se spraakgebrek aanvaar het of Jesaja se onheiligheid, net so min aanvaar Hy Jeremia se verskoning van moeilik praat en onervare jonkheid.

Die Here is nie afhanklik van ons vaardighede nie. Hy is nie afhanklik van ons volmaaktheid nie. Hy is nie afhanklik van ons lewenservaring nie. Nee, die Almagtige God is in staat die een wat stotter en stuier oor sy woorde in diens te neem en Sy boodskap te laat verkondig met die vaardigheid van die mees ervare redenaar. Hy is in staat om die onvolmaakte en gebarste kruik te neem en dit te vul met die lieflike boodskap van die volmaakte verlossing in Christus. Hy is in staat om die jongste seuntjie of dogtertjie in Sy diens te neem en waarhede te verkondig wat ou mense met al hul lewenservaring nog nooit ontdek het nie.

Laat ons gewaarsku wees! God se almag mag ons nie misbruik om ons verantwoordelikhede te ontduik nie. Nooit mag 'n gelowige sê: “God sal my die woorde gee, dus kan ek maar agteroorsit en wag”. Nee, ons moet getrou wees in ons bestudering van die Woord en ons moet daarin toegerus word.

Of anders gestel: Die Almagtige is in staat om die wat Hy uitverkies, vir Hom afgesonder het en aan aangestel in Sy diens ook te vorm en toe te rus vir hulle dienswerk, sodat Hy hulle ook kan stuur waarheen Hy wil. Daarom sê die Here aan Jeremia in vers 7-8: “Jy moenie sê: ‘Ek is te jonk’ nie. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. Dit is wat die Here gesê het.”

DIE HERE BESKERM
Wat 'n ramp sou dit nie wees vir Jeremia as die Here by vers 7 gestop het nie. As die Here net vir Hom gesê het: “Jeremia, Ek het jou gekies, afgesonder en as profeet aangestel. Gaan en verkondig alles wat Ek jou sal gee om te verkondig.” Jeremia sou sonder twyfel kon redeneer: “Here, U wil my na hier spul Jode stuur – mense wat profete vroeër dood gemaak het omdat hulle U boodskap verkondig het. U wil hê dat ek my lewe moet waag vir iets waarna mense nie sal wil luister nie!? Is U seker dat daar nie iemand anders is wat U kan stuur nie?”

Maar genadiglik stop die Here nie by vers 7 nie. Hy gaan verder en belowe ook aan Jeremia beskerming in vers 8. Jeremia sou op die kruin van herlewing sy bediening begin en onder koning Josia sou mense hom geduld het, maar dit sou nie vir altyd so wees nie. Die laaste vier konings van Juda, konings Joahas, Jojakim, Jojagin en Sedekia, was almal konings wat goddeloos was en gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here. Tydens hul regering was Jeremia vervolg en bespot (Jer. 15:15-18), sy lewe was in gevaar (Jer. 18:23), valse profete het sy woorde belaglik probeer maak (Jer. 28), hy was in die tronk gegooi (Jer. 37:11-21) en later in 'n modderige put (Jer. 38:1-13).

Jeremia se vyande sou baie wees. Hy sou vir die grootste deel van sy bedien in direkte oortreding van die koning se bevele wees. Sy boodskap sou lynreg in gaan teen die vredesboodskappe van die valse profete. Hy sou die valse vertroue op die tempel by die volk moes ontmasker. Hy sou beledig word en bestempel as word 'n verraaier, 'n man wat die moraal van die mense ondermyn en valse oordeelsboodskappe verkondig.

As Jeremia hierdie dinge moes ervaar en in eie krag deurmaak, sou hy nooit sy roeping vervul het nie. Hy sou nooit sy mond oopgemaak het en gespreek het nie. Hy sou nooit stroom op gegaan het en getrou gebly het aan die Here nie. Daarom beloof die Here aan hom Sy beskerming en Sy ondersteuning.

Maar wat waar is van Jeremia, is ook waar van elkeen van ons. Ook ons het is deur God gekies en vir Sy diens afgesonder. So het ons gesien in 1 Pet. 2:9. En as mense wat vir Hom afgesonder is, is ons ook gestuur met 'n boodskap: Die boodskap van verlossing vir elkeen wat in Christus glo, maar ook die boodskap van oordeel vir elkeen wat die rug op Christus draai. Hierdie is nie 'n populêre boodskap in vandag se samelewing nie. Dié wat hierdie boodskap verkondig, sal uitgemaak word as “doem-profete”, “mense wat verdeeldheid saai” en wat “onverdraagsaam” is.

Ons sal onsself bluf as ons dink dat ons in eie krag hierdie boodskap van verlossing en oordeel kan verkondig. Ook ons moet versterk word deur die woord van die Here wat sê: “Ek is by jou!” En daardie versekering het ons, want Christus het gesê: “… onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20).

SLOT
In die dae van godsdienstige agteruitgang en afvalligheid, het die Here 'n man met die naam Jeremia as profeet geroep – 'n profeet wat Hy uitgekies het, 'n profeet wat Hy vir Sy diens afgesonder het, 'n profeet wat Hy gestuur het met 'n boodskap, 'n profeet wat Hy beskerm het om sy roeping te vervul.

So het God ook ons uitgekies. Deur die verlossingswerk van Christus het Hy ons vir Hom afgesonder en aan ons roeping gegee – dié roeping om die Evangelie van verlossing in en deur Jesus Christus alleen te verkondig, of mense wil luister of nie. Maar in Sy genade het Hy ook aan ons die belofte van Sy bystand gegee, sodat ons, soos Jeremia ook kan hoor: “Ek is by jou”.


Aan die Drie-Enige God die dank vir hierdie voorreg om in Sy diens te staan. Aan Hom die lof vir die genade wat Hy aan ons in Christus bewys het. Aan Hom die eer vir Sy almagtige teenwoordigheid in ons lewens. Amen.