Tuesday, 23 January 2018

Om tot die aangesig van die Heilige te nader ... Met skuldbelydenis (Week van Gebed 2018, deel 2)

Skriflesing: Eks. 30:17-21

"Die Here het vir Moses gesê: 'Jy moet 'n bronswaskom met 'n bronsvoetstuk maak om in te was. Sit dit tussen die tent van ontmoeting en die altaar neer en gooi water daarin. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was. Voordat hulle in die tent van ontmoeting ingaan, moet hulle hulle met die water was sodat hulle nie sterf nie. Voordat hulle na die altaar toe kom vir hulle diens om 'n vuuroffer vir My, die Here, aan die brand te steek, moet hulle hulle hande en voete was sodat hulle nie sterf nie. Dit is 'n blywende voorskrif vir hulle en vir hulle nageslagte.'"

(Eks. 30:17-21)

INLEIDING
Ons het gisteraand begin met ons reis deur die Tabernakel en gevra: Hoe kan die voorwerpe van die Tabernakel ons help om te bid, en dan ook, hoe om doelgerig te bid. Die eerste voorwerp wat ons in die Tabernakel teëgekom het, was die brons brandofferaltaar waarop die offers van Israel gebring het. Dag en nag is daar op hierdie altaar offers gebring sodat die Here tussen die Israeliete kon woon. ‘n Mens kan jou amper nie indink dat met die verloop van ‘n jaar hierdie 2,5 m x 2,5 m x 1,5 m brons brandofferaltaar die bloed sou sien van:
  • 834 jaaroue lammers
  • 24 bulle
  • 12 skaapramme
  • 12 bokramme

En daarmee saam:
  • 1,533 ton meel
  • 981 liter wyn
  • 834 liter olie 

Dit is net die daaglikse offers, saam met die addisionele sabbatsoffers en maandelikse offers ingereken. Dit sluit nie die offers in van die groot feeste of persoonlike offers wat gebring sou word nie. Dit is geen wonder dat die Hebr. 10:3-4 sê: “Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem.”

Hierdie altaar, so het ons gesien, het ons gewys op die offer wat Jesus Christus gebring het aan die kruis, en dit by die kruis wat ons dan ook ons gebede begin: gebede van dank vir hierdie offer.

Vandaan stap ons verder die Tabernakel in. In die voorhof, tussen die ingang na die Heilige van die Tabernakel en die brons brandofferaltaar, vind ons dan ‘n tweede voorwerp: die bronswaskom.

Hierdie waskom herinner ons aan die feit dat die Heilige God slegs genader kan word as ons rein staan voor Hom.

DIE BRONSWASKOM
Die beskrywing van die bronswaskom vind ons in Eks. 30:17-21 en 38:8. Die beskrywing daarvan is redelik eenvoudig: dit was ‘n brons bak met ‘n bronsvoetstuk. Oor presies hoe breed en hoog hierdie waskom was, word nie vir ons gesê nie. Ons kan egter aflei uit die res van Eks. 30:17-21 dat hierdie waskom nie maar net ‘n emmertjie water was nie, want die Here beveel Moses dat elke keer wat Aäron en sy seuns die tent van die Tabernakel wou ingaan, hulle eers hulle hande en voete moes was (Eks. 30:20). So ook, elke keer as hulle tot die altaar nader om ‘n offer te bring, moes hulle weer hulle hande en voete was (Eks. 30:20-21). Die rede wat die Here hiervoor gee, is: “... sodat hulle nie sterf nie.” (Eks. 30:20-21)

Dit laat ons die vraag vra: Waarom al hierdie gewassery? Die doel van die waskom en die was van Aäron en sy seuns, was om te beklemtoon dat hulle net voor die Here kan verskyn, vir solank hulle skoon (of rein) voor hom staan. Byvoorbeeld, wanneer hulle ‘n offer gebring het, moes hulle rein wees sodat hulle daardie offer kon bring. As hulle onrein was, sou die offer onrein gemaak word, seremonieel gesproke. Maar deur die bring van die offer het die priester ook onrein geword deurdat daar bloed op hulle gekom het. Daarom, voordat hulle in die Heilige weer kon ingaan, moes hulle eers weer seremonieel rein word deur hulle hande en voete te was.

Dit het dus gegaan om seremonieel rein te staan voor God, gereinig vir sy diens.

Maar, soos die altaar, wys die waskom ook na Christus.

DIE WASKOM EN CHRISTUS
Die waskom het gewys op die reiniging wat deur die Offer van Christus bewerkstellig sou word. Soos water die priesters seremonieel gereinig het voor die Here, reinig die bloed van Christus ons voor God. En hierin vind daar iets besonders ook plaas: In oud Israel het die priesters deur die bring van offers onrein geword en moes hulle eers weer gereinig word deur in die water van die waskom te was. Maar die offer wat Christus bring maak nie onrein nie, maar juis rein. Sy bloed word die water van die waskom waardeur ons gereinig word van ons sondes en ons ongeregtighede. So kan ons, gewas in die bloed van die Lam, van die altaar af die teenwoordigheid van die Heilige God betree.

Maar nou moet ons vra: Hoe help die waskom ons om te bid?

DIE WASKOM EN ONS GEBEDE
Waar die altaar ons herinner het aan die verlossing (die offer) wat Christus gebring het, herinner die waskom ons dat niemand voor God kan verskyn vir solank hy onrein is nie. Daarom bring die waskom ons tot skuldbelydenis op grond van die offer wat vir ons reeds gebring is.

Kom staan vir ‘n oomblik stil by die waskom en kyk na die bloed van Christus wat vir jou gestort is om jou van jou sonde te reinig. Dink aan die belofte van die Here in 1 Joh. 1:9: “... as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

Dit waskom is die plek van selfondersoek en skuldbelydenis. Dit is die plek waar jy stil word om na te dink oor dit wat in jou lewe verkeerd is. Begin deur voor God te erken dat jy ‘n sondaar is wat voor Hom verskyn omdat Christus vir jou gesterf het, en nie omdat jy dit verdien nie. Erken dat jy skuldig staan voor Hom ...

Na skulderkentenis, gaan dan oor tot skuldbelydenis. Dink na oor die sonde wat jy in die afgelope week gedoen het. Gebruik die 10 Gebooie om jou te help. Vra vir jouself vrae af soos:
  • Wat is vir my so belangrik in my lewe dat ek God se opdragte ongehoorsaam sal wees? (Hierin sal jy sien waar jou afgode is en hoe jy die eerste twee gebooie oortree het).
  • Dink na oor hoe jy gereageer het toe iemand die Naam van die Here as vloek of skelwoord gebruik het? Het jy vir die eer van die Here opgestaan?
  • Dink na oor hoe jy die rusdag deurbring. Vra vir jouself of daar nie dalk dinge is wat eerder jou verhinder om op die rusdag jou in God te verlustig nie, en verwyder daardie dinge.
  • Dink na oor hoe jy reageer teenoor die gesag wat oor jou gestel is: jou ouers, onderwysers, werkgewers, of watter ander gesag ook al.
  • Dink na oor dit wat jy in die week gesê het en hoe jy dit gesê het. En daarmee saam, wat in jou gedagtes omgegaan het. Ook ons monde en harte is dikwels ‘n moordkuil.
  • Dink na oor hoe jy kuisheid hanteer. Laat jy toe dat jou kleredrag dalk begeertes uitlok? Of laat jy jou gedagte toe om te dwaal na plekke waar dit nie behoort te wees nie?
  • Hoe lewe die slagspreuk van “optel goed is vat goed” dalk op ander maniere steeds in jou lewe voort? Is jou woorde opbouend, stigtend, waar en betroubaar? Jy is immers ‘n kind van die God van die waarheid.
  • Beoordeel jou begeertes. Is jy vergenoeg met wat jy het, of jaloers op ander.

Noudat jy jou lewe onder die vergrootglas van God se heiligheid gestel het, bely hierdie sondes by die naam. Wees spesifiek in jou belydenis. Om bewus te wees van onkruid is een ding; maar om bewus te wees van spesifieke onkruid in jou lewenstuin is iets totaal anders.

Terwyl jy opstaan by die waskom, vra ook vir krag om teen hierdie sondes wat daar nog is, te stry en daaroor oorwinning te kry.

SLOT
Die altaar is die plek van danksegging vir die Offer van Christus, maar hierdie offer dring ons ook dieper die heiligdom in en bring ons op ons knieë voor God in selfondersoek en skuldbelydenis. Dit is net wanneer ons die grote van die Offer van Christus besef, dat ons ook die diepte van ons sonde sal raaksien. Daarom laat ons dankgebede ook smeekgebede word van verootmoediging en skuldbelydenis. Amen.

Monday, 22 January 2018

Om tot die aangesig van die Heilige te nader ... Met dankgebede (Week van Gebed 2018, deel 1)

Skriflesing: Eks. 27:1-8
"Jy moet 'n altaar van doringhout maak, twee en 'n half meter in die vierkant en een en 'n half meter hoog. Jy moet horings maak aan sy vier hoeke en dit moet 'n eenheid met die altaar vorm. Jy moet die altaar met brons oortrek. Maak potte om die as te verwyder, ook skoppe, komme, vurke en vuurpanne. Jy moet al hierdie toebehore van brons maak. Jy moet 'n bronstraliewerk om die altaar sit en 'n bronsring aan elke boonste hoek van die traliewerk vassit. Sit die traliewerk onder die rand van die altaar vas, sodat dit halfpad teen die altaar afloop. Jy moet draaghoute van doringhout vir die altaar maak en dit met brons oortrek. Die draaghoute moet deur die ringe gesteek word. Die draaghoute moet weerskante van die altaar wees om dit te kan dra. Jy moet die altaar van plank maak, in die vorms van 'n kas. Maak dit presies soos dit vir jou op die berg gewys is."

(Eks. 27:1-8)

INLEIDING
Die Tabernakel was die koninklike Tent van die Here waardeur Hy onder sy volk gewoon het. Dit was in die middel van die kamp opgeslaan met die ingang daarvan na die Ooste toe. Rondom die Tabernakel het die stamme van Israel hul tente opgeslaan (Num. 2).
  • Aan die Ooste kant was die stamme Juda, Issaskar en Sebulon.
  • Aan die Suide kant was Ruben, Simeon en Gad.
  • Aan die Weste kant was Efraim, Manasse en Benjamin.
  • Aan die Noorde kant was Dan, Aser en Naftali
  • Die stam van die Leviete moet hul tente opslaan voor die ingang van die Tabernakel. 

So het God dan tussen sy volk gewoon. Maar vir God om tussen die volk te woon, het dit beteken dat hulle ook God op ‘n spesifieke manier moes nader. ‘n Israeliet kon nie maar wanneer hy wil die Tabernakel ingaan en selfs tot in die Allerheiligste kom nie. Nee, die Israeliete was toegelaat tot die bronsaltaar van die voorhof van; terwyl slegs die priesters die Heilige deel van die Tabernakel kon betree waar die tafel met die toonbrode gestaan het saam met die kandelaar en die wierookofferaltaar; en slegs die hoëpriester kon eenmaal per jaar die Allerheiligste betree waar die ark van die verbond gestaan het en die heerlikheid van God was.

Ons het vandag die voorreg dat ons tot in die Allerheiligste kan ingaan. Nie die Allerheiligste van die aardse Tabernakel nie, maar die Allerheiligste van die hemelse Tabernakel. Die Hebreërs-skrywer skryf: “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel (die deel wat die Heilige en die Allerheiligste geskei het) heen, dit is deur sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is skoon gewas met skoon water.” (Hebr. 10:19-22)

Die taal wat die skrywer van Hebreërs hier gebruik, herinner aan die Tabernakel. Die Tabernakel wat, alhoewel dit ons nie meer God deur middel daarvan nader nie, tog vir ons ‘n bloudruk gee van hoe om God te nader wanneer ons bid. Hierdie bloudruk word vir ons verduidelik aan die hand van verskillende voorwerpe wat in die Tabernakel was; en dit is na hierdie voorwerpe wat ons hierdie week na gaan kyk met die vraag: Wat leer hierdie dinge ons oor hoe ons God kan nader in gebed.

Ons begin vanaand deur na die brandofferaltaar te kyk: ‘n voorwerp wat ons herinner om die Here te dank vir die verlossing wat Hy aan ons geskenk het.

DIE BRANDOFFERALTAAR
In Eks. 27:1-8 gee die Here aan Moses voorskrifte vir die bou van ‘n brandofferaltaar. Hierdie altaar was die eerste ding wat jy gesien het as jy by die voorhof ingestap het.

Dit was gemaak van Akasia hout, oorgetrek met brons. Die afmetings daarvan was 2,5 m x 2,5 m in sy lengte en breedte, en 1,5 m in sy hoogte. Op die vier punte van die altaar was daar horings gewees en bo op die altaar was daar ‘n brons traliewerk aangebring waarop die offers gebring is. Langs die kante van die altaar was daar vier brons ringe aangebring, waardeur twee draaghoute gesit is om die altaar te dra wanneer die kamp opgeslaan is en die volk getrek het. Hierdie draaghoute is ook met brons oorgetrek.

Hierdie altaar was ook die plek van versoening gewees. Dit is op hierdie altaar waar die volk hulle offers gebring het. Hierdie offers word vir ons in Lev. 1-7 beskryf: offers soos die brandoffers, sondeoffers, skuldoffers, ens. Al hierdie offers was ‘n voortdurende herinnering aan die volk dat daar slegs toegang tot God kan wees deur die vloei van bloed en die plaasvervangende offer wat gebring word vir hulle sonde.

DIE ALTAAR EN CHRISTUS
Dit is dan ook hierdie brandoffersaltaar wat op ‘n besondere wyse heen gewys het na Christus, die volmaakte Offerlam wat vir ons sonde geoffer word.

Waar die offers van oud Israel offers moes wees wat dag in en dag uit gebring moes word, was die offer wat Jesus Christus gebring het ‘n eenmalige offer. ‘n Eens-en-vir-altyd offer. Daarom lees ons in Hebr. 9:28: “So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem...”. En verder in Hebr. 10:12, 14: “Maar Christus het één offer vir die sondes gebring ... Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak”. So ‘n offer het ons nodig gehad, “omdat die bloed van bulle en beeste onmoontlik die sondes kan wegneem” (Hebr. 10:4)

Dus, elke keer wanneer daar in oud Israel ‘n bok, of lam, of bees geoffer is; elke keer as hulle bloed sien vloei het; elke keer as hulle die reuk van die offer geruik het; moes dit hulle daaraan herinner dat hierdie offers net ‘n tydelike instelling is. ‘n Instelling wat na iets meer wys. ‘n Instelling wat na Iemand meer wys. Die volmaakte Offerlam was op pad, en in Jesus Christus het daardie Offerlam verskyn.

Vir ons wat in die Nuwe-Testamentiese era leef, moet die brandofferaltaar ons ook aan die plaasvervangende offer van Christus aan die kruis laat dink. Maar dit bring ons by die brandofferaltaar en ons gebedslewe ...

Die vraag kan gevra word: Hoe gaan hierdie brandofferaltaar van die Tabernakel my help om te bid?

DIE ALTAAR EN MY GEBEDE
Wanneer ons bid, nader ons ook tot die Here. Ons het die bevoorregte posisie om onverhinderd tot die Here te nader al die pad tot in die Allerheiligste van die hemele. Maar hierdie toenadering tot God, mag ons nie ligtelik opneem nie. Nee, soos Moses moet ons met eerbied tot die Here nader in die besef dat ons op heilige grond staan. En dit is juis hierin dat die voorwerpe van die Tabernakel ons help – nie net om met eerbied tot God te nader nie, maar ook om doelgerig te bid.

Stel vir ‘n oomblik jou voor terug in die dae van die Tabernakel wanneer jy begin bid. Jy stap by die ingang van die voorhof van die Tabernakel in. In die middel van die voorhof staan die Tabernakel tent versier met rooi, blou en pers materiaal. Halfpad na die Tabernakel staan die brons brandofferaltaar. Gaan staan stil by die altaar en dink na oor Christus se offer vir jou.
  • Dink eerstens terug aan wat Christus prysgegee het vir jou toe Hy mens geword het: hoe Hy, die Almagtige Skepper van hemel en aarde, sy hemelse heerlikheid versluier het deur die gestalte van ‘n swak mens aan te neem (Fil. 2:6-7).
  • Dink in die tweede plek na oor die feit dat Hy in jou plek volmaak gelewe het. Dat Hy jou Verlosser kon wees omdat Hy nooit in gedagte, woord of daad gesondig het nie. In die woorde van Hebr. 4:15: “... Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.”
  • Dink in die derde plek aan die lyding wat Hy ter wille van jou moes ly: emosionele lyding as gevolg van die spot van mense, ja, sy eie mense; fisiese lyding toe die spykers deur hande en voete skeur en die bloedige Palestina son op Hom neer brand; maar ook geestelik lyding, die diepste lyding van alles, toe die Vader vir drie ure in duisternis sy vaderlike liefde en nabyheid van sy Seun terug getrek het en sy heilige oordeel wat ek en jy verdien het, oor sy Seun daar aan die kruis uitgegiet het.
  • En laastens, dink aan die vernedering wat Hy ervaar het, nie net deur ‘n mens te word en deur mense gekruisig te word nie, maar deur veral toe te laat dat die dood vir drie dae oor Hom heers. Wat ‘n vernedering moes dit nie wees vir die ewige en almagtige Seun om te sterf nie.

Jy staan by die brandofferaltaar en dink ... jy dink aan hierdie offer wat Christus vir jou gebring het, om jou van jou sonde en die oordeel wat jy verdien het, te verlos. Hier by die altaar voor die Tabernakel, dank nou die Here vir hierdie wonderlike verlossing wat Hy vir jou geskenk het.

SLOT
Die brandofferaltaar van die Tabernakel het die volk van ouds op die volmaakte Offer wat sou kom, gewys. Maar ook ons staan by hierdie altaar, nie om opnuut ‘n offer te bring nie, maar om terug te dink aan dié eens-en-vir-altyd Offer wat reeds gebring is. ‘n Offer wat ons beweeg om ons gebede te begin met dank aan die Here vir sy genade in Christus. Amen.

Friday, 11 August 2017

Loof die Here, want Hy het ons geseën! (Efesiërs 1:3-14)

INLEIDING
Die brief aan die Efesiërs is sonder twyfel een van die mees beknopte, saamgeperste en mees gelaaide samevattings van die Evangelie in die hele Bybel. In hierdie eerste paar verse hoor ons leerstellings soos die vyf pilare van Calvinisme in een of ander vorm:
  • Ons hoor van die sonde en verlorenheid van die mens waaruit ons gered moet word (radikale verdorwenheid. 
  • Ons hoor van God se genade waardeur Hy ons red (onweerstaanbare genade)
  • Ons hoor van die verlossing wat daar in Christus vir elkeen wat in Hom glo, verwerf is (toegespitste verlossing)
  • Ons hoor hoe God reeds voor die skepping van die heelal mense vir Hom as sy kinders uitgekies het (spesifieke uitvierkiesing)
  • En ons hoor van die volharding van die gelowiges deur die werking van die Heilige Gees (ewige bewaring van die gelowiges).
Saam vorm hierdie vyf leerstellings die R.O.T.S.E. waarop die Christelike geloof berus. Maar behalwe hierdie leerstellings vind ons ook leerstellings wat grondliggend en rigting gewend was in die tyd van die Reformasie en steeds vandag is, die sg. Sola’s van die Reformasie:
  • Christus alleen (soli Christi)
  • Genade alleen (sola gratia)
  • Geloof alleen (sola fide)
  • Die Woord alleen (sola Scriptura)
  • Die eer van God alleen (soli Deo gloria)

Tog is Ef. 1:1-14 nie net koue, teologiese stellings wat ons moet glo nie. Nee, hierdie is lieflike waarhede wat tot troos is vir elke gelowige en wat elkeen lei tot aanbidding van God. Ons sien dit in Paulus se emosie wanneer hy hierdie woorde neerpen. Kyk hoe begin hy. Hy begin nie deur te sê: “Luister Efesiërs, hier is nou ‘n paar dinge wat hulle moet weet en oor ‘n paar dae gaan eksamen skryf” nie. Nee, hy begin met ‘n loflied aan God: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!...” (Ef. 1:3)

Paulus het onder die leiding van die Heilige Gees maar een oproep in hierdie inleidende verse: Loof die Here, want Hy het ons geseën!

Hoe het Hy ons geseën? Hierop gee Ef. 1:3-14 vir ons ‘n drieledige antwoord, waarna elk afsonderlike deel afsluit met ‘n oproep om God te prys. Hy het ons geseën deurdat:
·       Die Vader ons uitverkies het,
·       Die Seun ons verlos het en deel gemaak het van sy koninkryk, en
·       Die Heilige Gees ons beseël vir die ewige lewe.

Paulus begin sy loflied in vers 3: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.”

DIE VADER KIES UIT
Die eerste seëning van die Heilige Gees waarna Paulus verwys en waaroor ons God moet prys, is die uitverkiesing: “So het Hy, nog voordat die wêreld gemaak is, ons in Christus uitverkies ...” (Ef. 1:4)

Wanneer daar oor die uitverkiesing gepraat word, is dit die geneigdheid van mense om altyd te probeer uitwerk hoe die uitverkiesing werk. Vrae soos “waarom net sekere persone kies en ander nie?” en “is God dan nie onregverdig om net sekere mense hemel toe te vat en ander in die hel te laat beland nie?” is gewoonlik teenwoordig. Maar laat ons een ding goed verstaan: ons weet gewoon nie hoe God gekies het en waarom Hy een persoon bo ‘n ander gekies het nie. Sommige het hierop al probeer ‘n antwoord gee deur te sê dat God gesien het dat ‘n persoon gaan glo, en daarom daardie persoon gekies (die sg. Uitverkiesing op grond van vooruitgesiene geloof), maar dit is hoegenaamd nie uitverkiesing nie. Uitverkiesing lê die besluit voor God. Kyk na die woordeskat wat Paulus in hierdie gedeelte gebruik:
  • v. 4: “... nog voordat die wêreld geskep is ... uitverkies ...”
  • v. 5: “... genadige beskikking ... bestem ...”
  • v. 8: “... kragtens sy besluit en voorneme ...”
  • v. 11: “... vooruit al bestem ... voorgeneem ...”

Die een waarheid wat die uitverkiesing voor ons kom neerlê is dit: jou verlossing is die werk van God. Jy glo nie omdat jy beter is as iemand ander of omdat jy dit meer verdien nie. Nee, jy glo omdat God jou “volgens sy genadige beskikking ... bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.” (Ef. 1:5) Dit is ‘n troos vir elkeen wat glo, want dit sê vir jou dat jou verlossing nie in jou eie hande is nie, maar in die hande van die almagtige God.

Verder is die doel van die uitverkiesing die eer van God. Vers 4 wys ons daarop dat God ons uitverkies het – nie in die eerste plek sodat ons erns in die toekoms die ewige lewe kan ontvang nie – dit ook ja, maar sodat ons Hom nou reeds hier op aarde kan verheerlik deur “heilig en onberispelik voor Hom te wees”.

Dus, omdat God ons uitverkies het, “Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.” (Ef. 1:6)

Maar behalwe die uitverkiesing, het God ons ook geseën met die verlossing in Christus en die deel word van sy koninkryk.

DIE SEUN VERLOS 
Jesus, die Verlosser
Die tweede seëning waarna Paulus verwys is die verlossing deur die bloed van Christus: “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredings vergewe ...” (Ef. 1:7).

Die uitverkiesing sou van geen nut gewees het as Christus nie in die plek van die uitverkorenes gesterf het om hulle te verlos nie. Daarom skryf Paulus in vers 9-10: “Hy het kragtens sy besluit en voorneme (verwysend na die uitverkiesing – v. 4-6) die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het (verwysend na die kruis van Christus – v. 7) ...”.

Jesus Christus, die Seun van God, het gesterf en deur sy bloed is daar verlossing en vergifnis van sondes verkry. Maar hierdie verlossing word slegs toegereken vir elkeen wat in Jesus Christus glo en Hom as hul enigste Verlosser bely. Buite Christus is daar geen verlossing nie. Daarom dat ons keer op keer uitdrukkings soos “in Christus” en “deur Christus” in hierdie gedeelte vind. En dit laat jou en my voor ‘n ernstige vraag staan: ‘n vraag wat letterlik ‘n saak van lewe en dood is, ‘n vraag wat jou ewigheid bepaal: Is hierdie Jesus jou Verlosser? Glo jou in en vertrou op Hom alleen vir jou verlossing? Indien jy hierop eerlik “ja” kan antwoord, het jy die troos: jou sonde is vergewe en voor God staan jy rein, gewas deur die bloed van Christus, Sy Seun. Maar as jy op hierdie vraag moet “nee” sê, pleit ek by jou: maak nóú jou saak met God reg. Bekeer jou en kom na Christus toe. Draai weg van jou eie pogings tot verlossing. Draai weg van die gedagte dat jy verlossing kan verdien. Kom na Christus en Hy sal jou rus gee.

Jesus, die Koning
Paulus gaan verder, hierdie Jesus is nie net die Verlosser nie, maar ook Koning, want die derde seëning is om deel te word van die koninkryk van Christus, deel te word van die kerk waarvan Christus self die Hoof is (Ef. 1:10). Vers 11 lees: “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het ...”.

Ons was verlore. Ons was slawe van die sonde. Ons het tot die koninkryk van die duisternis behoort en gelewe onder die oordeel van God. Maar in God se liefde en genade het Hy ons verlos deur die bloed van sy aan die kruis, Hy het die mag van die sonde gebreek deur die offer van Christus op Golgota, en Hy ons deel gemaak van sy koninkryk deur die opstanding van Christus uit die dood. Jesus Christus is ons Verlosser en Koning onder wie ons staan en in wie se hande ons lewe is. Daarom, moet ons “die grootheid van God prys” (Ef. 1:12).

DIE HEILIGE GEES BESEËL
Maar God is nog nie klaar nie ... Hy seën ons nog meer! Behalwe vir die uitverkiesing, die verlossing en die deel word van sy koninkryk, verseker Hy ons van ons ewige verlossing deur aan ons die Heilige Gees te gee.

Die Heilige Gees in die eerste plek die seën van ons verlossing en tweedens die waarborg dat ons daardie verlossing sal ontvang. Hierin vind ons die laaste twee seëninge waarna Paulus verwys.

Die Heilige Gees as seël
In die eerste plek dan, die Heilige Gees as seël. In die verlede wanneer daar ‘n slaaf op die mark gekoop was, was daar een of ander merk op hom geplaas – hetsy ‘n tatoeëermerk of brandmerk – om te wys wie se slaaf daardie persoon is. Ons het die merk van die Satan en die koninkryk van die duisternis gedra, maar deur die bloed van Christus is daardie merk van ons verwyder en het ons ‘n nuwe merk ontvang: die Heilige Gees. Die Heilige Gees is die seël – die eiendomsmerk van Christus (Ef. 1:13). En wanneer het ons die Gees ontvang? Vers 13 lees: “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het...” dit is toe dat ons in Christus die Heilige Gees ontvang het deur wie ons nou “as eiendom van God beseël” is.

Maar die ontvangs van die Heilige Gees is nie net die teken dat ons aan God behoort nie. Hy is ook die waarborg dat ons die volle verlossing by die wederkoms van Christus sal ontvang.

Die Heilige Gees as waarborg
Ons lees in vers 14: “Die Heilige Gees is die waarborg dat ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos ...”.

Die uitverkiesing en die verlossing deur Christus sou vir ons van geen troos gewees het as daar ‘n moontlikheid sou wees dat ons weer verlore kan gaan en ons verlossing verloor nie. Dink vir ‘n oomblik daaraan: Hier kon God, Hy kies ons uit, Hy stuur Christus as Verlosser om ons uit die mag van die Bose en sonde te bevry en sê dan: “Sterkte, jy is nou op jou eie!” Sal dit vir jou iets beteken? Of anders gestel: Jy is ‘n slaaf van die sonde en Bose – vyande te sterk vir jou om hulle te oorwin. Dan kom God – die Enigste Een wat hulle kan oorwin – en verlos jou uit hul mag. Maar halfpad los God jou op ‘n kruispad en sê: “Jy moet maar self by die eindbestemming kom.” Wat sal jou reaksie wees? Sal daar nie vrees by jou opkom vir die vyande van wie jy sopas verlos is nie. Sal daar nie by jou dieselfde angs wees as by die Israeliete toe die Farao op hulle met sy leër by die Riet See afgestorm het nie? Sal God werklik die God van liefde wees as Hy jou kies en verlos, maar nie ook beskerm en lei nie?

Maar God is die God van liefde wat ons nie net uitverkies het en deur Christus verlos het nie, maar ook ons beskerm en ons veilig by ons eindbestemming sal aanbring. Daarvan is die Heilige Gees ons teken en waarborg. “... Daarom moet ons sy grootheid prys.” (Ef. 1:14)

SLOT

Sal ons nie vanoggend saam met die apostel Paulus dit uitjubel: “Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade, om moet sy grootheid prys,” want Hy het ons uitverkies om aan Hom te behoort, Hy het verlos en ons sondes vergewe deur die bloed van sy Seun en Hy beskerm ons deur die werk van die Heilige Gees. Waarlik, van begin tot einde is ons verlossing in die hande van die lewende en almagtige God! Amen.

Sunday, 12 April 2015

Wanneer die twyfelaar gelowig word ... (Joh. 20:24-31)

INLEIDING
In Afrikaans het ons baie spreekwoorde en gesegdes wat uit die Bybel kom:
  • Die geduld van Job,
  • Om soos ‘n Judas op te tree,
  • Kain en Abel stryd,
  • Yster slyp yster,
  • Daar is ‘n tyd vir alles ...
  • Slegte geselskap bederf goeie sedes, ens.

Ons het ook die gesegde: “ongelowige Tomas”. Wanneer iemand nie jou wil glo nie, word maklik vir so ‘n persoon gesê dat hy ‘n ongelowige Tomas is. Tog is hierdie spreekwoord nie heeltemal eerlik met die geskiedenis is nie. In Joh. 20:8-9 lees ons dat die ander dissipels ook eers nie geglo het dat Jesus uit die dood opgewek is nie. Almal was ongelowig – nie net Tomas nie.

Tog bring die Here deur Sy genade ook hierdie twyfelaar tot bekering. Hiervan lees ons in Joh. 20:26-28. In hierdie verse sien ons hoe Christus aan die dissipels weer verskyn en ons hoor hoe twyfelaar gelowige bely: “my Here en my God”.

DIE TWYFELENDE TOMAS WORD DIE GELOWIGE TOMAS
Na Christus se opstanding op Paas Sondag het Hy aan verskillende persone verskyn:
  • Hy het aan Maria Magdalena by die graf verskyn (Joh. 20:11-18)
  • Aan twee reisigers op pad na die dorpie Emmaus (Luk. 24:13-35)
  • Aan die dissipels waar hulle agter geslote deure bymekaar was (Joh. 20:19-23) – by hierdie geleentheid was Tomas nie saam met die ander dissipels nie.

Die dissipels het Christus se verskyning egter nie vir hulself gehou nie, maar dit aan Tomas vertel (Joh. 20:25). Maar net soos die vroue op die Paas Sondag teen ‘n muur van ongeloof moes vasloop toe hulle vir die dissipels vertel het dat hulle Christus gesien het, so het die dissipels ook teen die muur van Tomas se ongeloof vasgeloop toe hulle hom van die goeie nuus vertel. Vir Tomas was die storie wat die dissipels vertel het net so onsin, as wat die dissipels gedink het toe die vrou van die leë graf terug gekom het. Ons hoor dit in sy reaksie in Joh. 20:25: “... As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vingers in die merke van die spykers steek en my hand in Sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Agt dae later verskyn Christus weer aan die dissipels – en hierdie keer is Tomas ook by. Soos die vorige keer is daar nie ‘n klop aan die deur of ‘n versoek om in te kom nie. Nee, Christus verskyn net tussen hulle met die woorde: “Vrede vir julle” (Joh. 20:19, 26). Dan nooi Christus vir Tomas uit om te kom kyk na die wonde, om sy vingers in die wonde wat die spykers gelaat het te steek en om sy hand in die spieswond in te druk.

Hierdie uitnodiging moes Tomas sonder twyfel geskud het – hoe het hierdie Jesus sy presiese woorde wat hy in sy opgeloof uitgespreek het, geweet? Wie het vir Hom vertel van die eise wat hy gestel het? Hoe het Hy geweet dat hy wat Tomas is, nie die ander geglo het nie?

Met die verskyning van Christus het die waarheid stadig begin deurdring. Waarskynlik het die Heilige Gees hom op daardie oomblik herinner aan al die beloftes van Christus met betrekking tot sy dood en opstanding. Soos ‘n golf wat swel moes die een na die ander belofte op die strand van sy ongeloof afgekom het:
  • Christus het geweet Hy gaan sterf, nog meer Hy het presies geweet hoe Hy gaan sterf (Mark. 10:32-34).
  • Hy het geweet wie Hom sou verraai (Matt. 26:20-25).
  • Hy het geweet dat die dood Hom nie sou kon vashou nie (Luk. 18:33).

Heel waarskynlik het die wonders wat Christus ook by hom opgekom:
  • Die genesing van mense (Mark. 1:34)
  • Die uitdryf van bose geeste (Mark. 1:34)
  • Die vermeerdering van die brode en visse (Mark. 6:35-44, 8:1-10)
  • Die stilmaak van die storms op die See van Galilea (Mark. 4:35-41)

En op daardie oomblik het die Heilige Gees hom uit sy geestelike doodsheid tot die lewe geruk, sodat hy Jesus kon sien vir wie Hy werklik is. Daarom roep Tomas die belydenis uit: “My Here en my God!” (Joh. 20:28).

My Here! Dit wil sê: My Eienaar, my Koning, my Meester! In daardie oomblik het Tomas reg op sy lewe oorgegee in die hande van Christus. Hy het voor Christus as Heerser oor sy lewe gebuig. Maar nog meer, hy het ook erken dat die Jesus wat hier voor hom staan, nie maar net ‘n mens is nie. Nee, hierdie Jesus is ook God!

Besef ons wat hier gebeur? Tomas se siening van Christus in sy ongelowige toestand was ‘n beeld van ‘n man wat gesterf het, begrawe is en op een of ander onverklaarbare manier is Sy liggaam gesteel. Maar wanneer hierdie Jesus, die Lewende Christus, voor Tomas kom staan en hy met die waarheid gekonfronteer word, dan is daar net een reaksie – ‘n heilige eerbied wat hom dring om Jesus as Here en God oor sy lewe te bely. Dit is wat gebeur wanneer die twyfelaar gelowig word: Hy word gekonfronteer met die ware Jesus en alle sprake van eie wees met Hom, enige menslike beeld wat daar van Hom in die gedagtes opgekom het, elke minderwaardige aanspreekvorm – alles, alles, verdwyn en word gevul met ‘n heilige eerbied en ontsag vir die Een voor wie ons staan.
Daar is baie vandag wat met Christus en oor Christus praat asof hierdie Lewende en Verheerlikte Here maar net ‘n mens is. ‘n Onheilge disrepek het posgevat onder baie wat bely dat hulle gelowiges is. Baie laster in hulle aanspreekvorme – en dit onder die vaandel van “kinderlike vertrou”.
  • As Christus se halfbroers, Jakobus en Judas, Hom na Sy opstanding nie as “boetie” aanspreek nie, maar hulself dienaars van Jesus Christus noem (Jak. 1:1, Jud. :1), wat durf ons om Hom op so ‘n wyse aanroep.
  • As Johannes, die apostel vir wie Jesus lief was, op Patmos soos ‘n dooie neergeval het toe hy die verheerlikte Christus gesien het, wat durf ons eie wees met Hom (Op. 1:17-18)! 

Waar is die heilige eerbied en ontsag vir die Here? Die Here moet weer soos vir die Israeliete in die tyd van Maleagi sê: “’n Seun eer sy vader en ‘n slaaf sy eienaar. As Ek dan Vader is, waar is die eer wat My toekom? En as Ek Here is, waar is die eerbied vir My dan? ...” (Mal. 1:6)

DIE ONGELOWIGE TOMAS VAN 2015
Op Tomas se belydenis, reageer Christus met die woorde: “... Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

Tomas moes geglo het op grond van dit wat Christus oor Homself gesê het, maar nee, hy wou eers die bewyse sien! Soos die Jode het hy na ‘n teken gevra. Maar tekens bring mense nie tot geloof nie, net die waarheid doen. Christus het baie tekens gedoen en tog lees ons in Joh. 12:37: “Alhoewel Jesus so baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie.” Dit was juis oor hulle ongeloof en hulle al ewige soeke na tekens dat Christus die Jode in Matt. 12:29 bestraf het met die woorde: “’n Slegte en afvallige geslag vra na ‘n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.”

Is ons samelewing en selfs die kerklike wêreld nie nageslag van die Jode nie? Daar is ‘n godsdiens geskep wat draai rondom wonders en tekens en opspraakwekkende genesings. Dit is ‘n evangelie wat sê dat God net daar is waar die opspraakwekkende en sensasionele dinge gebeur! Dit is ‘n boodskap wat met die slagspreuk: “As jou geloof sterk genoeg is ...”. So word talle wonder wat op ‘n daaglikse basis gebeur, ontken.
  • Is dit nie ‘n wonder wat ons gesondheid het in ‘n tyd waar virusse en kieme so vinnig muteer, sodat die mediese wetenskap skaars kan voorbly nie?
  • Is dit nie ‘n wonder dat jy lewendig by jou bestemming aan kom op hierdie paaie van ons wat niks anders as ‘n slagveld is nie?
  • Is dit nie ‘n wonder dat daar ‘n mate van vrede is in ons land, ten spyte van die gewoel en remoer van hierdie goddelose en godloënende samelewing waarvan ons deel is nie?

Hierdie en soveel ander wonderwerke word mis gekyk en God word nie daarvoor geëer nie. Maar as daar ‘n opspraakwekkende genesing is, dan sal God geloof word! Wat ‘n blinde geslag!

Nog meer! Die grootste wonder van alle wonders word deur hierdie mensgemaakte godsdiens op die kantlyn geskuif – die wonder van die menswording van die Seun van God om deur Sy dood en opstanding sondaars met God te versoen – nie om vir hulle ‘n lekker lewe hier op aarde te gee nie! Christus het nie die dood oorwin sodat ons groot motors en huise kan besit, of kan rol in die geld, of altyd gesond sal wees, of wat ook al nie. Nee, Hy het vir ons gesterf en die dood oorwin “sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy Naam die lewe (d.w.s. die ewige lewe) kan hê” (Joh. 20:31).

Dit is egter nie net die Jood wat vandag spring lewendig is nie, ook die Griek lewe nog vandag – hulle wat nie die Evangelie wil glo nie, omdat dit nie by hulle “wysheid” inpas nie. Soos wat die Ateners vir die Evangelie op die Areopagus gelag het (Hand. 17:32), so lag hulle nageslag vandag steeds vir die waarheid van die Evangelie. Vir die mens in die post-moderne era is sy verstand die maatstaf en alles wat hy nie kan verklaar of begryp nie, word summier een kant toe gegooi. So word die wet van God verwerp en die grense van waar en vals, reg en verkeerd, word uitgevee.
  • Daar word mooi sielkundige name vir sonde gegee.
  • Natuurwetenskaplike teorieë word in die plek van Gen. 1-2 aanvaar.
  • Die huwelik as instelling van God word ontken en afgemaak as ‘n sosiale instelling wat kan verander en aangepas kan word.

SLOT
Christus sê: “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Joh. 20:29)

Ons lewe in ‘n samelewing wat die waarheid en die betroubaarheid van die Woord ontken – dié Woord wat die enigste suiwer en ware lig is wat ons pad verlig en ons lei na die verlossing in Jesus Christus. Dit is slegs deur hierdie Woord wat Heilige Gees mense tot geloof lei. Daar staan immers in Rom. 10:17 geskrywe: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.” Deur die prediking met Christus as inhoud – nie deur wonders en tekens nie, nie deur slim redenasies en argumente nie – nee, deur die prediking van verlossing in Christus kom mense tot bekering.


Die wêreld sê: “Sien is glo!” Christus sê: “Glo is sien!” Glo jy? Amen.