Sunday, 2 February 2014

Dink na oor wat jy gaan beloof


Skriflesing: Pred. 5:1-6
Tema: Dink na oor wat jy gaan beloof

INLEIDING
As beloftes aan mense skuld maak, dan maak geloftes aan die Here beslis dubbele skuld. Tog is dit iets wat ons mense nie verstaan nie. Baie dink dat hulle met die Here kan maak soos wat hulle met ander maak: Hulle is vinnig om iets op die ingewing van die oomblik te beloof, maar wanneer die tyd kom om te doen wat hulle beloof het, is hulle vol verskonings. So maak baie kerklidmate met die geloftes wat hulle voor die Here aflê: Hulle staan voor die kansel en beloof om die Here getrou te dien, maar kort voor lank of die gelofte is vergete en hulle dwaal van die Here af weg.

Maar dit mag nie so wees nie. Deur die verlossingswerk van Christus is ons kinders van die God van die Waarheid. Ons lewe moet ook hiervan getuig! Die geloftes wat ons aan die Here maak moet ons nakom. So getuig ons dat ons kinders van die Here is – die Een wat altyd Sy beloftes nakom.

Daarom waarsku die Here ons vanoggend deur die boek van die Prediker om goed na te dink oor dit wat ons voor God beloof.

In die gedeelte wat ons gelees het is daar 4 waarhede wat wat vir ons uitgelig word:
  • Eerstens: Moenie oorhaastig wees, sodat jy moet sê “ek het my vergis” nie.
  • Tweedens: As jy beloof, betaal dit.
  • Derdens: As jy onseker is, moet eerder nie beloof nie.
  • Vierdens: God laat nie met Hom spot nie. 

In die eerste plek dan: Moenie oorhaastig 'n gelofte aflê nie.

MOENIE OORHAASTIG 'N GELOFTE AFLÊ NIE
Daar het 'n plaag die kerke stilweg binnegedring. Hierdie plaag is om in die ingewing van die oomblik allerhande geloftes aan die Here af te lê sonder om oor die gevolge daarvan na te dink:
  • Sommige van hierdie geloftes neem die vorm van onderhandeling aan: “Here as U dit of dat vir my doen, dan sal ek dit of dat vir U doen.”
  • Ander geloftes word gereken as 'n godsdienstige plig wat nagekom en afgehandel moet word, soos belydenisaflegging.

Op hierdie maniere word daar een na die ander gelofte voor die Here afgelê, terwyl dit nooit die voorneme is dit wat beloof is, na te kom nie. So vergeet hulle Wie die Een is voor Wie hulle staan: Die Heilige God wat in die hemel troon!

Wanneer jy dan met hierdie mense gaan praat, sal sommige die deur in jou gesig toeslaan, terwyl ander 'n meer “godsdienstige” masker sal voorhou deur te sê: “Maar dis nie hoe ek dit verstaan het nie.”

Daarom is die waarskuwing duidelik: “Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig 'n belofte aan God maak nie, want Hy is in die hemel en jy op die aarde. Laat jou woorde daarom min wees … Moenie dat jou mond jou laat sondig sodat jy vir 'n priester moet sê: ‘Ek het my vergis’ nie.” (Pred. 5:1, 5)

Maar tweedens: Wat jy beloof, moet jy betaal.

BETAAL WAT JY BELOOF
Daar is baie wat die standpunt inneem wat sê: “As ek nie verstaan het wat ek destyds belowe het nie, is ek nie verplig om dit wat belowe is, te betaal nie.”

Maar kyk mooi na die gedeelte wat ons gelees het. Nêrens lees ons dat die feit dat jy 'n gelofte in onkunde afgelê het, jou van jou verantwoordelikheid om daardie gelofte na te kom, los maak nie. Inteendeel! Vers 3 is hieroor baie duidelik, wat jy beloof het, moet jy betaal - ongeag wat dit is: “As jy aan God 'n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie. Wat jy beloof het, moet jy betaal.” Die Hebreeuse woord wat hier met “versuim” vertaal word, gaan oor meer as om nie die gelofte na te kom nie. Dit gaan veral oor die feit dat ons nie moet uitstel om die gelofte wat ons aflê te betaal nie.

Tog gebeur dit dikwels. Kinders lê belydenis van geloof af waarin hulle voor die Alwetende en Heilige God belowe om Hom getrou saam met hul medegelowiges in die samekomste van die gemeente te dien en te aanbid. Maar wanneer daardie gelofte betaal moet word, begin hulle uitstel:
  • Hulle gaan studeer en sê: “Here, nie nou nie. Ek is nog jonk en wil nog die lewe geniet.”
  • Dan begin hulle werk en sê: “Here, nog nie. Ek moet nou eers my plekkie hier by die werk verseker.”
  • Dan ontmoet hulle hul man of vrou en trou en sê: “Here, nog so bietjie uitstel, die lewe is swaar vir jong getroudes.”
  • Dan kom die kinders en hulle sê: “Here, ek moet nou genoeg tyd aan my kinders spandeer. Ek het nie nou tyd om my geloftes te betaal nie.”
  • En uiteindelik tree hulle eendag af en sê: “Here, die lewe is kort en daar is nog baie wat ek wil sien en geniet. Ek sal later my geloftes betaal.”
  • En dan kom die dood. Dan staan daardie persoon voor die Here, terwyl hy/sy moet erken: “Here, ek het nooit betaal wat ek beloof het nie.” 

Betaal wat jy beloof – maar as jy onseker is, luister na die derde waarheid: moet eerder dan niks beloof nie.

MOET EERDER NIE BELOOF NIE
'n Belofte maak skuld en geloftes dubbele skuld slegs wanneer dit gemaak word. Vir solank as wat daar geen beloftes gemaak word nie, is daar geen skuld om te betaal nie.

'n Bank eis slegs die volle bedrag en die rente van 'n lening wanneer daardie lening aangegaan word. Maar waar daar geen lening is nie, is daar niks om terug te betaal nie. Iemand wat weet dat hy nie in staat is om 'n lening te betaal nie, is wys om nooit daardie lening uit te neem nie.

Beloftes bring altyd verantwoordelikheid. As jy nie bereid is om daardie verantwoordelikheid na te kom en te dra nie, moet eerder nie die belofte maak nie. Niemand sal jou kwalik neem nie. Inteendeel! Dit baie meer eerbaar om te erken dat jy nie kan betaal nie wat jy oorweeg om te belowe, as wat jy belowe en later moet erken dat jy nooit in staat was om te betaal nie.

In Spr. 20:25 word gesê dat wie ook al nie dink wat die gevolge van 'n belofte is nie, maar dit oorhaastig maak en later nie kan betaal nie, stel vir homself 'n strik: “Jy stel vir jouself 'n strik as jy oorhaastig iets aan die Here wys en agterna eers besef wat jy belowe het.”

Daarom sê die Prediker in vers 4: “Dit is beter dat jy nie belowe nie, as dat jy belowe en nie betaal nie.”

Dit bring ons by die laaste waarheid: God laat nie met Hom spot nie.

GOD LAAT NIE MET HOM SPOT NIE
In vers 5 word die vraag gestel: “… Waarom sal jy God laat kwaad word oor wat jy gesê het en Hom jou werke laat vernietig?”

Daar is soveel kerklidmate vandag wat vergeet dat die Een voor wie hulle hul geloftes aflê, die Heilige en Almagtige God is, die Een wat in die hemel is! God laat nie toe dat mense Sy met Hom spot nie. Hy is nie goedgesind teenoor hulle wat Sy Naam ydelik gebruik deur valse geloftes af te lê nie.

Daarom, onthou met Wie jy te doen het. Hy is die Een voor Wie jy eendag sal staan om rekenskap van jou lewe te doen. In die woorde van dieselfde Prediker in Pred. 12:14: “God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.”

Waarom sal ons die oordeel van die Here oor ons lewens opwek deur oorhaastig dinge te sê en te belowe wat ons nie kan betaal nie?! Nee, wees eerder stil. Belowe niks en daar sal geen skuld wees nie!

SLOT
Laat ons opnuut aan die Here toewy en opnuut die geloftes wat ons voor Hom afgelê het, bevestig. 

Laat ons die toekomstige geloftes wat ons wil maak, met groot versigtigheid maak. Maak eers seker wat die kostes is, voor jy jou tot die betaling daarvan verbind.

En daar waar ons dalk geloftes in onkunde gemaak het, laat ons die volle gevolge daarvan te wete kom. Laat ons nie verder uitstel om te betaal wat ons beloof het nie, maar laat ons met bereidwilligheid dit nakom.

Saturday, 1 February 2014

Die opstanding by die wederkoms van Christus


Skriflesing: 1 Thess. 4:12-18
Tema: Die opstanding by die wederkoms van Christus

INLEIDING
Die dood was, en sal seker nooit, 'n gewilde onderwerp wees nie. En tog, moet ons erken, sal ons almal eendag ons kop neerlê. Ons is immers almal sterflike mense, mense gemaak uit die stof van die aarde.

Ook in die gemeente in Thessalonika is die gelowiges met die sterflikheid van die mens gekonfronteer. Dit duidelik uit Paulus se skrywe aan hulle dat daar van die gelowiges was wat 'n baie spoedige wederkoms van Christus verwag het. Die probleem was egter dat daar van die gelowiges in die gemeente begin sterf het. Dit het die gelowiges allerhande vra oor die opstanding en die wederkoms laat vra. Een van die vrae wat gevra is, was: Sal die gelowiges wat reeds gesterf het, ook die wederkoms van Christus ervaar?

Dit is om hierdie vraag te beantwoord wat Paulus aan die gemeente die deel skryf wat ons gelees het.

In hierdie verse meld Paulus:
  • in die eerste plek, die doel waarom hy hierdie onderwerp aanraak,
  • tweedens gee hy die versekering van die opstanding van die wat gesterf het,
  • en derdens wys hy op die orde wat by die wederkoms gaan wees.

Die doel, die versekering en die orde.

DIE DOEL
Die apostel begin hierdie gedeelte deur sy doel te meld. Hy skryf in vers 13: “Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur soos die ander mense wat geen hoop het nie.”

Die doel wat Paulus hulle vermeld is tweeledig.

In die eerste plek wil hy hulle onderrig oor wat met die ontslapenes gaan gebeur. Die woord “ontslapenes” is 'n eufinisme – 'n manier om iets sagter te stel – om na die wat gesterf het, te verwys.

Ons almal ken die spreekwoord: “'n Klein bietjie kennis is gevaarlik”. En hiervan is die Here ook bewys. Daar het al menigte dwalinge die lig gesien, omdat mense 'n klein bietjie van iets geweet het, en gedink het dat hulle die alfa en omega van die onderwerp deurdink het. Daarom onderrig die Here die gelowiges in Thessalonika en ook ons oor wat met die ontslapenes gaan gebeur by die wederkoms van Christus.

In die tweede plek gaan daar saam met kennis ook 'n wonderlike troos. Dit is wanneer mense in onkunde uitsprake maak oor die lewe na die dood, dat hulle trooswoorde dikwels leeg en hol is. Trooswoorde wat mooi en soetsappig klink, maar nie werklike troos in hulle het nie. Om maar een voorbeeld te noem: Ons hoor dikwels op begrafnisse dat die “Here die persoon kom pluk het uit Sy hele blombedding, want hy was die mooiste blom”, of “die Here het hom daar nodig gehad”. Met alle respekte gesê, al hierdie dinge mag goed bedoel word, maar dit totaal leeg van enige Bybelse waarhede en daarom ook leeg van troos.

God wil nie hê dat Sy kinders mekaar met leë woorde moet troos nie. Dis iets wat die wêreld doen, daarom dat hulle as “mense sonder hoop” beskryf word. Nee, as gelowiges moet ons mekaar met die waarhede van die Skrif troos. Want dis net deur die woord waar ons ware troos sal vind.

Wat moet ons dan weet oor die opstanding van hulle wat ons vooruit gegaan het?

DIE VERSEKERING
In die eerste plek moet ons weet dat die opstanding vas en seker staan. Dit sal plaasvind! Hoe kan ons dit sê? Omdat God vir ons daarvan verseker het deur die opstanding van Sy Seun uit die dood. Daarom staan daar in vers 14 geskrywe: “Ons glo immers dat Jesus gesterwe het maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.”

In vers 14 vind ons 'n dubbele troos:
  • In die eerste plek die feit dat omdat Christus uit die dood opgestaan het, ons seker kan wees dat almal wat in Hom geglo het ook uit die dood opgewek sal word. In 1 Kor. 15 spandeer die apostel Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees 'n hele hoofstuk aan hierdie een waarheid!
  • Maar in die tweede plek word ons ook getroos met die wete dat wanneer ons sterf ons by Christus is. Die frase “na Hom toe sal neem” kan meer letter vertaal word soos in die ’53 Vertaling met “sal saam met Hom bring”. Maar hoe kan die ontslapenes saam met Christus kom by Sy wederkoms, as hulle nie al reeds in Sy heerlike teenwoordigheid is nie. Dus, ja, daar sal 'n dag kom wanneer die grafte sal oopbreek en die dooies opgewek sal word; maar in die tussen tyd is die wat gesterf het, se gees reeds by die Here in Sy teenwoordigheid.

Wat 'n wonderlike troos om mekaar mee te troos by 'n oop graf: Ja, die liggaam word neergelê, maar ons weet sy gees is by die Here! Ja, die liggaam word neergelê, maar ons weet by Christus se wederkoms sal die liggaam in onsterflikheid opgewek word.

Is hierdie nie 'n veel beter en groter troos as “dit was sy tyd om gepluk te word” nie?!

DIE ORDE BY DIE WEDERKOMS
In vers 15-17 verduidelik die apostel onder die inspirasie van die Heilige Gees wat by die wederkoms sal plaasvind. Aangesien hierdie een die gedeeltes is wat dikwels misverstaan word en misbruik word om leerstelling soos die wegraping te regverdig is die nodig dat ons, voor ons aan beweeg, net weer aan die verband herinner:
  • In die eerste plek is Paulus hulle besig om hierdie te bespreek wat met die gelowiges gaan gebeur – nie alle mense nie. Daar is ander gedeeltes wat handel oor die opstanding van die ongelowiges, maar dit is nie die fokus in hierdie gedeelte nie.
  • In die tweede plek is hier slegs sprake van een wederkoms wat die ewigheid inlei (v. 17). Die idee van 'n wegraping en 'n tweede wederkoms is vreemd aan die verband van 1 Thess. 4:13-18.
  • Derdens, die woord wat sommige misbruik om “wegraping” te regverdig is die Griekse woord wat beteken om “iets vas te gryp” / “te vat” en dra gewoonlik die idee van iets wat skielik gebeur en nie gekeer kan word nie. Ons sou dus kon vertaal vertaal: “dat ons skielik saam met hulle wat opgewek is in die wolke geneem sal word, Jesus tegemoet.”

Met hierdie verband in ons gedagtes, kom ons kyk nou na die volgorde wat sal plaasvind:
  • In vers 15 lees ons dat daar by die wederkoms van Christus steeds gelowiges op aarde sal wees.
  • Wanneer Christus verskyn, sal daar 'n paar dinge gebeur: daar sal die geklink van die aartsengel se stem en 'n trompet wees wat soos aankondigers die einde sal aankondig, asook die koms van Christus (v. 16).
  • Daarna sal Christus sigbaar neerdaal en al die gelowiges wat gesterf het, eerste opwek (v. 16). Uit vers 17 wil dit voorkom of Christus nie tot op die aarde sal neerdaal nie, maar slegs in die wolke bo die aarde waar almal Hom kan sien.
  • Nadat al die gelowiges opgewek is, sal alle gelowiges opgeneem word – 'n soort hemelvaart – op die wolk tot waar Christus vir hulle in die lug wag (v. 17).
  • Hierdie gebeurtenis sal die einde van die wêreld aankondig en die ewigheid inlei, want daar staan geskrywe in vers 17 se einde: “… En so sal ons altyd by die Here wees.”

Dus, kortliks saamgevat: By Christus se wederkoms, sal Hy in die wolke verskyn, die gelowiges wat gesterf het opwek, al die gelowiges sal na Hom in die wolke opgeneem word en dan begin die ewigheid.

Die gelowiges in Thessalonika en ook ons vandag hoef nie te vrees dat diegene wat gesterf het, die wederkoms sal mis nie. Alle gelowiges – kop vir kop, groot en klein – wat geleef het vanaf die skepping tot by die wederkoms sal opgewek word en die ewige heerlikheid saam met Christus binnegaan!

Wat 'n wonderlike trooswoord! Laat ons dan gehoor gee aan die opdrag van vers 18: “Troos mekaar dan met hierdie woorde.”

SLOT
Kyk ons vandag rondom ons, dan sien ons baie mense wat treur sonder hoop by 'n oop graf. Mense wat soms heeltemal beheer verloor en selfs agter die kis die graf wil inklim. Mense wat sonder God en daarom sonder hoop is in hierdie wêreld. Dit is ons roeping om ook aan hierdie mense die Evangelie van verlossing in Christus te verkondig. Ja, ons kan niks doen vir die ongelowige wat reeds gesterf het nie, maar vir hulle wat nog lewe kan ons oproep om hul hoop en vertrou in Jesus Christus, die Opstanding en die Lewe, te stel.

En vir ons wat by 'n oop graf gestaan het, of in die toekoms sal moet staan, laat ons die Woord van die Here in ons harte bewaar. Laat ons onthou dat die dood nie die einde is nie, maar slegs die begin. Laat ons uitsien na die dag wanneer ons Verlosser en Here op die wolke sal verskyn, die grafte sal oopbreek en ons in heerlikheid saam met Hom die ewigheid sal ingaan. Laat ons mekaar met hierdie trooswoord van die Here troos en bemoedig. 

Thursday, 30 January 2014

Vorder op die pad van heiligmaking en broederliefde


Skriflesing: 1 Thess. 4:1-12
Tema: Vorder op die pad van heiligmaking en broederliefde

INLEIDING
As mense word ons baie gou gemaklik. Gemaklik met ons lewe, gemaklik met ons prestasies en veral gemaklik met waar ons staan in ons geestelike lewe. Die begin van ons geestelike lewe is dikwels soos 'n klip wat afdraende rol en vinnige vordering maak, maar wanneer dit op die gelyktes van die lewe kon, begin die klip stadiger rol en kom dit uiteindelik tot stilstand. So gebeur dit dikwels dat iemand wat nog jonk in die geloof is, vinnig vorder in die proses van heiligmaking en dan momentum begin verloor. Kyk jy na so 'n persoon se lewe 'n paar jaar nadat hy tot geloof gekom het, sien jy dat hy begin het om in die geloof te stagneer. Die groei van vroeër en die ywer waarmee hy die Here gedien het, is nie meer daar nie.

Die apostel Paulus, onder die inspirasie van die Heilige Gees, het geweet hoe gevaarlik dit is vir gelowiges om momentum in hul geloofslewe te verloor. Hy het gesien dat die gelowiges in Thessalonika die Here met ywer dien en die Evangelie van harte aangeneem nie. Tog besef hy dat dit nie altyd die geval sal wees nie. Die Satan sal hulle nie alleen los nie, maar alles in sy vermoë doen om hulle geloofsgroei te hinder.

Daarom roep die apostel die gelowiges op om hulle met volle ywer toe te lê op die Christelike lewe. In 1 Thess. 4:1-12 roep hy op gesag van Christus hulle op om hulle toe te lê op twee sake:
  • Om heilig te lewe
  •  En om mekaar lief te hê. 

OP BEVEL VAN CHRISTUS
Voor Paulus met sy oproep begin, herinner hy egter eers die gelowiges dat wat volg nie sy woorde of menings is nie. Dit is nie maar Paulus wat vir hulle werk uit dink nie. Nee, wat hy aan hulle skryf is die wil van God. Hierdie waarheid beklemtoon hy twee keer:
  • In vers 1 skryf hy: “… Julle het van ons geleer hoe God wil hê julle moet lewe. Julle doen dit ook, maar in die Naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: Lê julle nog meer daarop toe.”
  • En vir 'n tweede keer in vers 2: “Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het.” 

Hierdie verse moet ons tot groot versigtigheid maan! Wat hier geleer word in 1 Thess. 4:1-12 is nie maar die woorde van mense nie en dit is ook nie maar om met 'n mens te verskil nie. Wie nie die woorde van hierdie gedeelte ter harte neem nie en hulle daarteen verset, verset hulle teen God self! Dit skryf die apostel in soveel woorde in vers 8: “Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net 'n mens nie, hy verwerp God wat ook Sy Heilige Gees aan julle gegee het.”

Laat ons dan met groot eerbied en versigtigheid voortgaan.

VORDER OP DIE WEG VAN HEILIGMAKING
Die eerste saak waartoe die apostel Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees die gelowige oproep is om hulle nog meer toe te lê op hulle vordering op die weg van heiligmaking. Daarom skryf hy in vers 3: “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe.”

'n Lewe van heiligheid en heiligmaking is nie groot prioriteit onder baie mense wat hulself “Christene” noem nie. Sodra jy met mense begin praat oor 'n lewe wat God verheerlik, 'n lewe waarin die beeld van Christus uitgestraal word en in ooreenstemming met Sy wil en wet gebring word, is hulle vinnig om die rug te draai en 'n dowe oor te hou. Sommige sal jou beskuldig van “wettisisme”, ander sal jou toesnou dat jy dink dat jy beter is as hulle en nog ander sal iets sê soos “ons is onder die genade en nie die wet nie”.

Daar is geen begrip by hierdie mense dat jy nie kan sê dat jy 'n Christen is en steeds in die sonde lewe nie. Of anders gestel: Jy kan nie sê dat jy 'n verloste is en dan nog as 'n slaaf van jou sondige begeertes lewe nie! Watter krag sal jou getuienis hê?! Ongeveer soveel krag soos 'n man van jou vertel van 'n wonderlike pilletjie wat al die pyne weg vat, terwyl hyself gebuk gaan onder die pyn in sy eie liggaam!

Nee, dit is die wil van God dat ons heilig moet lewe. Hy is immers die Heilige God en as Sy kinders beveel Hy ons om ook heilig te lewe (Lev. 19:2; 1 Pet. 1:16). Maar hoe lyk 'n “heilig lewe”?

In vers 4-7 word die antwoorde gegee. 'n Heilige lewe is 'n lewe wat in die eerste plek nie deur onsedelikheid gekenmerk word nie. Die apostel skryf in vers 3: “… Weerhou julle van onsedelikheid.”

Ons moet onthou dat die gelowiges tot bekering gekom het, te midde van 'n goddelose en onsedelike samelewing. Egbreuk was aan die orde van die dag. Baie van die godsdienstige praktyke van die destydse samelewing was seksueel van aard en tempelprostitusie was niks vreemd nie. Maar as verloste mense mag die gelowiges nie meer aan hierdie praktyke meedoen nie. Die ou, sondige en onsedelike lewe moet hulle afsterf. Elkeen moet in rein verhouding met sy eie man en vrou lewe (v. 4) en nie toelaat dat hulle begeertes hulle dring om egbreuk te pleeg nie (v. 5-6).

Maar die daad is nie die begin nie, dit is slegs die vrug. Daarom gaan 'n heilige lewe om meer as net die uiterlike daad. Dit begin by die innerlike mens. Daarom die oproep in vers 5: “julle moenie deur hartstog en begeertes gedrywe word soos die heidene wat God nie ken nie.” 'n Onsedelike lewe begin nooit by die sondige daad nie, maar by die sondige gedagte. In die woorde van Jakobus in Jak. 1:14-15: “Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.”

Dit oproep om ons dus toe te lê op 'n heilige lewe, begin nie by my uiterlike dade nie, maar in die gedagtes van my innerlike mens.

Hoe lyk jou lewe? Nie die maskers wat jy voorhou nie, maar daardie deel van jou lewe wat jy vir almal weg steek, waarvan niemand weet nie, behalwe jy en God? Hoor vandag die oproep van die Heilige God: “God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe.” Hoe ver het jy al gevorder op die pad van heiligmaking? Hoeveel van Christus se beeld kan ander al in jou lewe sien?

WEES OORVLOEDIG IN LIEFDE
Nie net besef die apostel dat gelowiges die gevaar loop om lam in die knieë te raak en stadiger te vorder op die weg van heiligmaking nie, hy besef ook dat die liefde vir ons medegelowiges so maklik kan verkoel. Daarom roep hy hulle onder die inspirasie van die Gees op om hulle nog meer toe te lê om in liefde met mekaar te lewe (v. 9-10).

In die lewe van hierdie gemeente was liefde sigbaar. Paulus gee ook hieraan erkenning in vers 9-10 wanneer hy skryf: “Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skryf nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En dit doen julle dan ook teenoor die broers in die hele Masedonië…” Maar liefde kan verkoel, soos ons lees van die gemeente in Efese in Open. 2:4 waar Christus vir die gemeente kom sê: “Maar Ek het dit teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.”

Daarom kom die dringende oproep – en ons kan sommer die erns in die stem van die apostel hoor – wanneer hy skryf aan die einde van vers 10: “… Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe.” Ja, sorg dat die vlam van liefde vir Christus en vir mekaar nie verflou en uitgeblus word nie. Gooi eerder nog so paar kole op die vuur en blaas die as weg, eerder as wat julle net toekyk hoe die vlammetjie laer en laer brand totdat dit uiteindelik heeltemal verdwyn en nie die gloei van die kole oor is …

Natuurlik is hierdie nie 'n maklike saak nie. Jy kry mense vir wie dit maklik is om lief te wees, met wie jy in rus en vrede kan saamleef. Maar jy kry ook mense wat dit moeilik maak – ja, selfs gelowiges wat jou geduld en liefde tot die uiterste toe kan toets. Maar die Here sê vir ons deur Sy apostel dat ons ook hulle moet liefhê. Nog meer! Ons moet groei in ons liefde vir hulle.

Wie in liefde groei, sal die genade ontvang om in rustigheid met ander te kan saamleef en hulle te beperk tot hul eie sake (v. 11). Maar hulle wat nie in liefde lewe nie, is geneig om hulle neus in ander se sake in te druk. Beteken dit dat ons nie moet vra wat in die lewe van ons broers en susters in die geloof aangaan nie? Nee, beslis nie! Wat dit beteken is dat ons ook die privaatheid van ons medegelowiges sal respekteer – en waar hulle hulp nodig het, dit sal vrylik aanbied.

SLOT
Dit kan maklik nou gevra word: Waarom op hierdie manier lewe? Waarom ons toespits op 'n heilige lewe en broederliefde? Die antwoorde is tweeledig:
  • In die eerste plek: Dit is 'n bevel van God! Dit is die wil van God dat Sy kinders anders as die wêreld sal lewe. Hy het ons losgekoop met die bloed van Sy Seun op Golgota. Die prys vir ons verlossing was onberekenbaar hoog en daarom behoort ons uit dankbaarheid vir die verlossing in liefde gehoor te gee aan die wil van ons Vader.
  • Maar in die tweede plek: Ons lewe dra ook 'n getuienis. Ons dra in ons naam die Naam van Christus. 'n Christen is 'n navolger van Christus. Wat ons doen, gee aanleiding tot óf lofprysing óf lastering. Wie heilig lewe en die broederliefde uitleef, getuig voor die wêreld  van die heiligheid en liefde van God! (v. 12). Maar wie onsedelik lewe en liefdeloos, bring die Naam van Christus in die skande. 

Mag God ons die genade gee om daagliks al hoe meer onder die leiding en in die krag van die Heilige Gees te vorder op die weg van heiligmaking. Mag Hy deur Sy Gees die vlam van liefde in ons harte brandend hou – en daar waar die vlam laag brand, of dalk selfs dood gegaan het, weer opnuut laat ontvlam. Mag ons ook op hierdie manier ons Here en Verlosser wie se Naam ons dra, verheerlik.