Sunday, 28 September 2014

Die koms van die Koning (Mark. 1:1-4, 14-20)

Skriflesing: Mark. 1:1-4, 14-20
Tema: Die koms van die Koning

INLEIDING
Die profeet Jesaja roep uit:
“Iemand roep:
‘Maak vir die Here 'n pad
in die woestyn,
maak in die barre wêreld
'n grootpad vir ons God!
Elke laagte moet opgevul word,
elke berg en rant
moet gelykgrond word.
Elke bult moet 'n gelykte word
en elke koppie 'n vlakte.
Dan sal die mag van die Here
geopenbaar word;
al wat leef, sal dit sien.
Die Here self het dit gesê’.” (Jes. 40:3-5)

Só begin die Evangelie volgens Markus dan ook: “… Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.” (Mark. 1:3). Die Een wat kom ons Sy volk te verlos, is op pad. Die Een wat reinig van sondes is voor die deur. Die Een wat die sondes van die wêreld wegneem is naby. Hy is die Koning en Sy voetstappe weerklink!

In die eerste verse van Markus word Christus vir ons bekendgestel as die Een wat Homself met ons kom vereenselwig, sodat ons deur Hom verlos kan word. Dit het ons verlede week gesien in verse 9-13. Maar Christus word ook vir ons uitgewys as die Koning wat kom. In verse 1-4 en 14-20 sien ons hoe die Koning:
  • Aangekondig word.
  • Spreek en roep.
  • Gevolg word.

DIE KONING AANGEKONDIG
Die profete van die Ou Testament het deur die eeue die koms van die Koning aangekondig. Jesaja het uitgeroep: “Maak vir die Here 'n pad in die woestyn …” (Jes. 40:3). Maleagi het aangekondig: “Ek gaan nou My boodskapper stuur, hy sal die pad voor My regmaak en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na Sy tempel kom …” (Mal. 3:1). En nou 400 jaar na die profeet Maleagi verskyn Johannes die Doper in die woestyn. Die voorloper is hier en hy roep uit: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.” (Mark. 1:4).

Die prentjie wat vir ons hier uitgebeeld word, sluit nou aan by die antieke samelewing. Wanneer 'n koning 'n stad sou besoek, is daar boodskapper of herout vooruit na die dorp gestuur. So boodskapper sou die stad binnekom met die vlag van die koning en hard in die strate uitroep: “Die koning kom! Maak julle gereed vir die koning!” So is die hele dorp in kennis gestel dat die koning op pad was en het mense hulle voorberei om die koning te ontmoet.

Dit is wat ook hier in Mark. 1 gebeur. Johannes die Doper is hierdie boodskapper (vgl. Mal. 3:1, 4:5-6; Mark. 1:2-4) wat aankondiging: “Die Koning wat deur die profete aangekondig is, is naby. Maak julle gereed. Bekeer julle (d.w.s. sorg dat julle lewens in orde is om Hom te ontmoet). Laat julle doop (simbolies van die skoon was van hulle lewens), sodat hulle die Koning met skoon klere tegemoet kan gaan.”

Dan verskyn die Koning!
  • Nie met 'n groot skare wat Hom volg nie – maar alleen.
  • Nie in koninklike klere en 'n goue kroon nie – maar geklee soos 'n gewone man.
  • Nie met trompetgeklank nie – maar stil en onopmerklik.

Die Koning is hier – en niemand kom dit agter nie. Alleen gaan Hy met Johannes die water in. Maar na Sy doop word die stilte gebreek, want die hemele gaan oop en die Vader kondig aan die Koning – Sy geliefde Seun – hier is (Mark. 1:11). Hy word bekragtig vir die werk wat vir Hom voorlê deurdat die Gees soos 'n duif op Hom neerdaal (Mark. 1:10). En dan so skielik soos wat Hy verskyn het, so skielik verdwyn Hy dan weer die woestyn in om deur die duiwel versoek te word (Mark. 1:12-13).

DIE KONING SPREEK EN ROEP
Na Sy verskyning in die Suide van Palestina gaan daar 'n tyd verby voor die Koning weer in die Noorde van die land Sy verskyning maak. Hierdie keer is dit nie by die Jordaan nie, maar by die See van Galilea (ook beteken as die See van Tiberias of die Meer van Genesaret). Johannes die Doper is in die tussentyd deur Herodes gevange geneem en in die tronk gestop (Mark. 1:14). Hier langs die See van Galilea vind ons dan weer die Koning – hierdie keer is Hy nie stil nie, nie in die agtergrond nie, maar as die Een wat spreek en roep!

Christus se boodskap het by dié van Johannes die Doper aangesluit. Die kern daarvan word vir ons in vers 15 gegee: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die Evangelie.”

Die tyd het aangebreek en die koninkryk is naby! Vir eeue is daar deur die profete van ouds aangekondig dat daar 'n tyd sal kom wanneer God Sy gesalfde Messias-Koning sal stuur en dat die koninkryk van God sal deurbreek. Daardie profesieë staan nou op die punt om in vervulling te gaan, want die Messias-Koning is hier en Hy is nie stil nie! Hy spreek en roep mense op tot bekering:
  • Sy woorde dra 'n Blye Boodskap van verlossing en vergewe van sondes.
  • Dit dra die Blye Boodskap van 'n herstelde verhouding met God.
  • Dit dra die Blye Boodskap dat mense burgers van God se koninkryk kan wees!

Maar Christus se woorde bly nie net by woorde nie. Nee, die Koning roep aktief. Ons sien Hom langs die See van Galilea, daar waar die wind op 'n rustige sonskyn oor die waters waai, met vissersbootjies wat die landskap versier. Langs die oewers is die vissermanne besig. Sommige gooi hul nette in in die hoop om 'n goeie vangs te kry. Ander sit in hul bootjies besig om hulle nette reg te maak. En so kom die Koning in die midde van hierdie vissers staan. Uit hierdie mense sal Hy Sy eerste dissipels roep! Wat 'n kontras. Die Koning gaan nie na die plek waar die geleerdes of rykes of mees vernaamde mense is nie. Nee, Hy roep Sy dissipels uit die gewone mense van die samelewing.

Wie kies Hy?
  • Simon (Petrus) (v. 16), die voorbarige een wat later Christus sou verloën (Mark. 14:29-31, 66-72), maar ook deur Christus begenadig sou word om nie net die leier van die Twaalf apostels te wees nie, maar ook 'n belangrike rol sou vervul in die leiding van die kerk (Gal. 2:9).
  • Andreas, die broer van Simon, wat altyd besig was om mense na Jesus te bring (Joh. 1:40-42; 6:8; 12:20-22).
  • Jakobus, die seun van Sebedeus, wat saam met Petrus 'n leier van die vroeg-Christelike kerk in Jersalem (Gal. 2:9) was en later ook die eerste apostel sou word wat 'n martelaarsdood sou sterf ter wille van Christus (Hand. 12:2).
  • Johannes, die broer van Jakobus, die geliefde dissipel (Joh. 13:23) en die skrywer van die Evangelie volgens Johannes, asook die briewe 1-3 Johannes en die boek Openbaring.

Met die roeping van hierdie vier manne, gaan Christus lynreg in teen die gebruike van die tyd. Die Joodse rabbi’s (soos bv. die Fariseërs en selfs Johannes die Doper) het ook dissipels gehad (Joh. 1:22, 35). Om volgelinge te hê sou niks vreemd wees nie. Maar wat wel vreemd is, was dat die rabbi’s nooit mense persoonlik uitgekies het om hulle te volg nie. Dit is aan die persoon oorgelaat om te kies deur wie hy hom wil laat onderrig in die Wet van Moses. Maar hier kies Christus manne by die naam uit – nie om in die eerste plek onderrig te ontvang in die Wet nie, maar om voorberei te word om “vissers van mense” te word (Mark. 1:17). Dit is die Koning wat roep en Sy onderdane vir Homself uitkies.

DIE KONING WORD GEVOLG
Tog roep die Koning nie net nie. Ons sien ook dat dié wat geroep word, Hom ook volg. Ons lees in vers 18 dat toe Christus vir Simon en Andreas geroep het hulle “onmiddelik” hul nette gelos het en Hom gevolg het. Ons sien dieselfde in vers 20 waar ook Jakobus en Johannes die nette gelos het, hul pa en die werkers agter gelaat het en dadelik Christus gevolg het.

Vanuit Joh. 1:35-51 is dit duidelik dat hierdie manne waarskynlik al vroeër met Christus kennis gemaak het. Maar hier kom Christus en Hy kom kies hulle uit as die eerstes van sy apostels en hulle gehoorsaam Sy roepstem. Hulle laat staan alles en volg Hom.

Wat ons moet raaksien is dit:
  • Die Koning wag nie vir volgelinge nie – Hy gaan haal hulle.
  • Die Koning smeek nie mense nie – Hy beveel hulle.
  • Die Koning laat nie mense die inisiatief neem nie – Hy neem dit.

Hy is Koning! Wanneer Hy soek, vind Hy ons; wanneer Hy roep, kom ons; wanneer Hy kies, gehoorsaam ons.

In hierdie eerste woorde van die Evangelie volgens Markus begin Christus, die Koning van Sy kerk, die eerste pilare van die Nuwe Testamentiese kerk op te rig – Sy dissipels wat nie net self volgelinge van Hom sou wees nie, maar op hulle beurt ander sou oproep om volgelinge van Christus te word, om in te val by die rangordes van Sy magtige leër en om leerlinge by Sy voete te wees.

SLOT
Vir eeue het die beloftes weerklink van die koms van die Koning. Profete het nagespeur na wat die tyd en omstandighede van Sy koms sou wees (1 Pet. 1:1-12). En op die tyd wat God daarvoor bepaal het, het hierdie Koning – Jesus Christus ons Here en Verlosser – verskyn. Hy het gekom om ook jou en my te roep – te roep na Hom, sodat ons ook deur Hom:
  • In 'n herstelde verhouding met God die Vader kan lewe.
  • Die ewige lewe mag ontvang en burgers van Sy koninkryk mag wees.
  • Voorberei en toegerus mag word om vissers van mense en soldate in Sy leërmag te wees.

Monday, 17 March 2014

Beoefen die gemeenskap van die gelowiges

Skriflesing: 1 Thess. 5:12-28
Tema: Beoefen die gemeenskap van die gelowiges

INLEIDING
Paulus hulle kom nou aan die einde van hul brief aan die gelowiges in Thessalonika. In hierdie brief het hulle:
  • Vir die gelowiges gebid,
  • Die gelowiges aangespoor en bemoedig,
  • Verlange teenoor die gelowiges uitgespreek, 
  • Hulle vermaan om heilig te lewe,
  • Hulle getroos en geleer oor wat om by die wederkoms van Christus te verwag
  • Hulle opgeroep om te groei in geestelike volwassenheid en onderskeidingsvermoë.

Nou is daar nog net vier verse oor, vers 25-28. In hierdie verse vind ons die laaste drie opdragte wat die Here deur Sy apostel gee. Die klem wat in hierdie opdragte gelê word, is dat ons die gemeenskap van die gelowiges moet beoefen.

BID VIR ONS
In vers 25 skryf Paulus hulle: “Broers, bid ook vir ons.” In die brief het Paulus hulle reeds melding gemaak van die feit dat hulle vir die gelowiges in Thessalonika bid:
  • In 1 Thess. 1:2 skryf hulle dat hulle altyd die Here dank wanneer hulle aan die gemeente in Thessalonika dink.
  • In 1 Thess. 3:12-13 bid hulle dat die Here hulle sal laat toeneem in liefde vir mekaar, dat die Here hulle sal bewaar om onberispelik te wees en te heilig.
  • In 1 Thess. 5:23 bid hulle dat die Here hulle liggaamlik en geestelik sal bewaar.

Maar Paulus hulle besef ook dat hulle as medewerkers in die koninkryk van God ook die gebede van hulle medegelowiges nodig het. Daarom skryf hulle hier aan die einde dat die gelowiges in Thessalonika ook vir hulle sal bid waar hulle besig is om die Evangelie van verlossing in Christus aan die heidene te verkondig.

Hierdie is nie die eerste of enigste plek in die briewe van Paulus waar hy vir voorbidding gevra het nie:
  • Ef. 6:19 skryf hy: “Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die Evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.”
  • 2 Thess. 3:1-2 skryf hy: “Verder, broers, bid vir ons, sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral in ere gehou mag word soos by julle. Bid ook dat ons van verkeerde en slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie.”

Die vraag wat ons vir onsself moet afvra, is dit: Hoeveel bid ons vir die bedienaars van die Woord? Hoeveel bid ons dat die Here 'n geopende deur sal gee, sodat die Evangelie wat verkondig word aanvaar sal word? Hoeveel bid ons dat die Here Sy koninkryk sal laat deurbreek in die lewens van mense deur die verkondiging van Sy Woord?

Dit is deel van ons Christelike roep en deel van die beoefening van die gemeenskap van die gelowiges om vir mekaar en vir die bevordering van die Evangelie van Christus te bid.

GROET MEKAAR
Die tweede van hierdie laaste opdragte vind ons in vers 26. Daar staan: “Groet al die medegelowiges met 'n soen van Christelike broederskap.”

Die soengroet op die wang is vandag nog in baie lande 'n algemene gebruik. Tog verskil die gebruik van plek tot plek. In een land word daar gesoen-groet. Op ander plekke word daar vir mekaar 'n handdruk gegee of selfs omhels. Terwyl daar weer op ander plekke geen fisiese kontak is nie, maar 'n buiging gemaak word.

Watter gebruik dit ook al mag wees, moet ons in hierdie vers op twee belangrike sake let.

In die eerste plek moet ons die woordjie “al” raaksien. Paulus hulle skryf: “Groet al die medegelowiges …”. Met ander woorde, binne die gemeenskap van die gelowiges mag daar geen partyskap wees nie. Daar mag niemand voor getrek of oorgesien word nie. Ons is almal lede van die huisgesin van God, ons is almal deur die verlossingswerk van Jesus Christus met God versoen en ons is almal deur die selfde Gees lewend gemaak en aan mekaar verbind. Daarom mag een nie op die ander neersien nie.

In die tweede plek moet ons verduidelik wat die “soen van Christelike broederskap” behels het. Dit was meer as net 'n soen op die wang of 'n handdruk. Gelowiges het mekaar gewoonlik met 'n seënwens gegroet, baie dieselfde as wat ons in die begin van die briewe van die Nuwe Testament vind. Wanneer hulle mekaar gegroet het, sou hulle dikwels sê: “Genade en vrede vir jou”. So het hulle mekaar die ondersteuning en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, toegebid!

Vandag verskil die manier waarop ons mekaar groet, maar die inhoud behoort dieselfde te bly. Dikwels klink ons groet wêrelds, deurdat ons onmiddelik vra: “Hoe gaan dit?” en dan gewoonlik in die verbygang sonder om eers stil te staan en te luister na die antwoord. Dit is 'n goeie en Skriftuurlike gebruik om ons medegelowiges met die seën van die Here of met 'n bede te groet. Nie net getuig dit van die feit dat ons werklik vir mekaar omgee nie, maar dit getuig ook van die feit dat ons deel van die gemeenskap van die gelowiges is – kinders van God.

LEES DIE BRIEF IN DIE GEMEENTE
Die laaste opdrag wat Paulus hulle gee, lees ons in vers 27: “In die Naam van die Here dring ek by julle daarop aan dat hierdie brief aan al die gelowiges voorgelees moet word.”

Ons moet onthou dat toe Paulus hulle hierdie brief geskryf het, die grootste deel van die Nuwe Testament nog nie op skrif gestel is nie. Ons moet ook onthou dat die apostel nie alles wat die gelowiges moes weet in een brief geskryf het nie. Dikwels was daar meer as een brief geskryf aan 'n gemeente, of was daar sake in ander briewe bespreek wat ook in die gemeente voorgelees moes word. So lees ons byvoorbeeld in Kol. 4:16 hoe Paulus die gemeente beveel om die brief wat aan die Laodisense gerig is, ook in die gemeente van Kolosse te lees, en die brief wat aan hulle geskryf is, weer in Laodisense gelees moet word.

Maar verder moet ons ook raaksien dat hierdie briewe nie net bedoel was vir 'n paar gelowiges in die gemeente nie. Dit was nie net die predikant of die ouderlinge of die diakens wat dit moes lees en bestudeer nie. Dit moes “aan al die gelowiges voorgelees” word. Die Bybel was nooit bedoel vir 'n paar uitgesoekte, geestelike leiers nie. Dit was nog altyd die doel van die Here om Sy Woord vir al Sy kinders beskikbaar te stel. Daarom moet ons as gelowige getrou wees in die eredienste waar die Woord voorgelees en verduidelik word, maar ook getrou wees in ons persoonlike studie van die Woord.

Ons moet besef dat ons 'n groot voorreg het. Ons het die Woord van God volledig in ons eie taal. Tog is daar baie van ons medegelowiges wat nie deel in hierdie voorreg nie. Daarom moet ons bid dat die Here werkers sal stuur om Sy Woord te vertaal in die tale van die wêreld wat nog nie die Woord in hulle eie taal besit nie. Ons moet selfs, waar ons kan, finansieel bydra vir die opleiding van vertaler en die projekte wat hierdie groot werk onderneem.

SLOT
Die apostel Paulus hulle sluit die brief af met 'n seën. Hy skryf in vers 28: “Die genade van ons Here Jesus Christus sal by ons wees.”

Hierdie seën is die hartklop van die gemeenskap van die gelowiges. Elke gelowige wat deel van die huisgesin van God geword het, het dit net geword deur die genade van God wat daar in Jesus Christus is. By Hom het ons niks verdien nie en vir Hom kon ons niks aanbied nie. Nee, uit genade is ons gered en uit genade bly ons ook verloste mense in Jesus Christus.

Maar hierdie seën mag nie net woorde bly nie. Die mense rondom ons moet sien hoe die genade wat daar in Christus is, ook in ons lewe sigbaar word in ons daaglikse omgang met ons medegelowiges. Soos wat ons van God genade ontvang het, behoort ons ook genade aan ander te bewys. Sodoende sal ons in die voetstappe van ons Here en Verlosser volg. Dan sal mense na die gemeenskap van die gelowiges kyk, en ons Vader wat in die hemel is, verheerlik. Amen.

Mag God julle in ooreenstemming met Sy Woord heilig en beskerm

Skriflesing: 1 Thess. 5:12-28
Tema: Mag God julle in ooreenstemming met Sy Woord heilig en beskerm.

INLEIDING
Twee dinge is seker in hierdie lewe:
  • Een: God is getrou.
  • En twee: God se Woord is die waarheid, die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie.

Die getroue God het vir ons Sy Woord gegee as kompas vir ons lewe hier op aarde. Dit is deur Sy Woord en Gees wat God ons lei, ons heilig maak en ons geloof suiwer. Maar in Sy groot genade het God ons nie net gered en vir ons die kompas van Sy Woord gegee en toe alleen die wêreld in gestuur nie. Hy stap elke dag saam met ons. Hy hou oor ons die wag. Hy beskerm ons en lei ons. Daarom kan ons seker wees dat ons by die wederkoms van Christus in heerlikheid voor die Regter van hemel en aarde sal kan staan.

In 1 Thess. 5:19-24 wys dit Here vir ons deur Sy apostel Paulus dat Hy:
  • Ons deur Sy Woord lei,
  • Van ons onderskeidingsvermoë verwag,
  • En ons ook heilig maak en beskerm.

DIE HERE LEI DEUR SY WOORD
Vers 19-22 is sekerlik een van die Skrifgedeeltes in die Nuwe Testament, naas ander gedeeltes soos “ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Fil. 4:13), wat die meeste misbruik word. Mense is vinnig om te sê: “Maar daar staan mos geskryf: ‘Toets alles, behou die goeie’. Dus hoe kan ek die goeie behou as ek nie ook eers die sonde ‘toets’ nie?”

Deur so te redeneer, haal mense natuurlik v. 21 heeltemal buite verband aan. In die Grieks is vers 19-22 een sin en daarom moet ons dit verstaan as 'n eenheid. Ons mag nie die verskillende dele van hierdie verse los van mekaar sien nie, omdat die een voortbou op die ander.

In vers 19-21 handel dit in die besonder oor die gawe van profesie. Waar die gemeente in Korinthe oorgehel het na die gawes meer eer toe te ken as wat hulle gehad het, het die gemeente in Thessalonika na die teenoorgestelde rigting oorgehel en die gawes nie hulle plek gegun nie. Ons moet onthou dat in die tyd die Nuwe Testament nog nie volledig op skrif gestel is nie, en God nog deur die gawe van profesie Sy wil bekend gemaak het. Maar omdat dit gevaar bestaan het dat 'n valse gawe van profesie die gemeente kom binnedring – net soos daar in Korinthe 'n valse gawe van tongespraak was – het hulle besluit om eerder glad nie hierdie gawe te beoefen nie.

Maar die Here wys die gemeente deur Sy apostel daarop dat dit nie die manier is waarop hulle te werk behoort te gaan nie. Inteendeel, wanneer die gawe van profesie gering geskat of self verwerp word, staan die gelowiges die werk van die Heilige Gees teë (v. 19). Hy is immers die Gewer van die gawes!

DIE HERE VERWAG ONDERSKEIDINGSVERMOË
In vers 21-22 wys die Here egter die gemeente op manier waarop hulle te werk behoort te gaan. Om die baba saam met die water by die deur uit te gooi, is nie die oplossing nie. Christus verwag van Sy kinders om onderskeidingsvermoë te hê, sodat hulle kan onderskei tussen reg en verkeerd, waar en vals, goed en sleg – ook wanneer dit by die profesie kom. Daarom skryf Hy in vers 21-22: “maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.”

Hou vas aan dit wat goed is
Die gelowiges moes na die profesie geluister het, en dit beoordeel het in die lig van die Skrif wat hulle reeds gehad het. As hulle bevind het dat hierdie profesie in ooreenstemming met die res van die Skrif was, was hulle nie net verplig om dit te aanvaar nie, maar om daaraan vas te hou. Die Griekse woordjie wat ons hier met “behou” vertaal, beteken om vas te klem aan iets. Om dit met 'n beeld te verduidelik, dit is nie iets wat jy so in die verbygaan optel en in jou rugsak bêre nie. Dis soos goud wat jy vind en styf in jou hande vashou, sodat dit nie verlore kan raak nie.

Vermy alles wat sleg is
Maar die teendeel is ook waar. Soms sou die gelowiges ook profesieë vind wat nie met die Skrif ooreenstem nie. Wat staan hulle dan te doen? Dit is eintlik die gelowiges in Thessanolika se groot probleem gewees. Hierop gee die Here vir hulle die antwoord: “Bly weg van alles wat sleg is”. Letterlik “vermy alles wat sleg is”. Hier is twee sake van belang:
  • Eerstens die opdrag om alles wat sleg is te “vermy”. Ons mense is geneig om in die moerasse van die leuen en op die afgronde van die sonde te loop. Die probleem is dat hulle onwetend die gif van die valse leer en sonde dag na dag in asem soos 'n stille dood. Die newe effekte daarvan is nie dadelik sigbaar nie, maar met die verloop van tyd kom dit na vore. Dit kan gebeur dat wanneer iemand dag na dag met die leuen besig is, sy eie geloof skade kan optel, dat sy stiltetyd van die vreugde beroof kan word, of soos dit al gebeur het die persoon self die pad byster kan raak. Christus het Sy kerk lief – Hy het hulle gekoop met Sy eie bloed. En daarom wil Hy ook nie hê dat hulle moet seerkry nie. Daarom gee Hy aan ons die opdrag: “vermy alles wat sleg is”. Ja, ons moet die profesieë toets, maar daar kom 'n punt waar ons nie meer hoef te luister na wat die valse leraars sê nie en nie meer hulle boeke hoef te lees nie. Daar is immers niks nuuts onder die son nie en die Woord gee vir ons genoegsame wapens om die leuen te weerlê en die sonde te ontmasker.
  • Maar tweedens moet ons ook die strekking van hierdie opdrag raak sien. Dis asof Paulus hulle 'n sprong maak van die profesieë na die alledaagse lewe wanneer hy skryf: “vermy alles wat sleg is.” In leer en lewe het ons die verantwoordelikheid om die sonde en die leuen te vermy. Ongelukkig is daar baie gelowiges wat dink dat “toets alle dinge” beteken dat hulle maar in die pretpark van die duiwel kan gaan speel en die ritte kan geniet, en as hulle nie van een van die ritte hou nie, dan gaan hulle net nie weer daarop nie. Maar dis nie wat vers 22  beteken nie. Vers 22 beveel ons om uit die pretpark van die duiwel te bly.

Wat ons moet raaksien is dat die Here deur Sy Woord ons lei om in ons alledaagse lewe, sowel as in dit wat ons glo volgens Sy wil te lewe. Daarom kan ons nie maar net glo wat ons wil of lewe soos ons goed dink nie. Ons moet alles aan die Woord van die Here toets. Ons het 'n veel groter voorreg as die gelowiges in Thessalonika. Ons het die volle Profesie op skrif. Ons het 66 boeke waarin God Sy wil vir ons lewe uiteengesit het. Daarom moet ons alles wat mense sê en doen – ongeag wie hulle is – in die lig van die Skrif toets, aan die goeie vashou en alles wat sleg is vermy.

DIE HERE HEILIG EN BESKERM
Paulus besef egter dat hierdie nie altyd so maklik is nie, en as die gelowiges aan hulle eie kragte oorgelaat word, hulle sal misluk. Daarom bid hy in vers 23-24 dat die Here hulle sal laat groei op in heiligmaking en hulle sal beskerm.

Mag Hy julle heilig
Paulus begin sy gebed deur te bid dat die Here – die God van vrede – die gelowiges volkome aan Hom toegewyd, lett. “heilig”, sal maak. Waar vers 19-22 die verantwoordelikheid van die mens beklemtoon het, beklemtoon vers 23-24 die werk van God in ons lewe.
As dit van ons afhang, sou ons nooit op die weg van heiligmaking gevorder het nie. In eie krag sou ons keer op keer ingegee het en na die begeertes van ons sondige natuur geluister het. Ons sou gedoen het wat ons sondige natuur wou, en nie wat Christus wil nie.  

Maar wanneer ons ons lewe in die hande van Christus plaas en Sy koningskap oor ons hele lewe aanvaar, dan begin Hy ons deur Sy Gees te heilig. Dag na dag wys Hy vir ons deur die werk van die Gees en deur Sy Woord die sonde wat nog in ons lewe oorgebly het, uit. Maar nie net wys Hy dit uit nie, Hy stel ons ook in staat om daarteen te veg en daaroor die oorwinning te behaal. Daagliks laat Hy ook die lig van Sy Woord op dit wat ons glo val en wys Hy vir ons waar ons geloof nog gesuiwer moet word. Hierdie proses van heiligmaking in leer en lewe is 'n lewenslange proses – 'n proses wat eers tot 'n einde sal kom wanneer ons ons kop aan die kant van die graf neerlê.

Mag Hy julle beskerm
Paulus gaan verder en bid ook dat die Here hulle sal beskerm, sodat hulle sonder blaam voor Christus kan verskyn op die dag van Sy wederkoms.

Daar is sommige mense wat van mening is dat 'n gelowige weer verlore kan gaan. Gewoonlik sal hierdie mense sê dat jy “uit die genade van God kan uitval”. Sommige gaan so ver as om te sê: “Ja, niks kan ons uit God se hand uitruk nie, maar ek kan uit God se hand spring.”

Wat hierdie mense nie verstaan nie, is dat God nie sal toelaat dat enige van Sy kinders verlore sal raak nie. God wat ons geroep het om Sy kinders te wees, sal ons ook getrou beskerm sodat ons die volle verlossing by die wederkoms van Christus sal ontvang. Om hierdie waarheid te beklemtoon skryf Paulus dat God ons “na gee, siel en liggaam, so sal bewaar” dat ons onberispelik sal wees wanneer Christus weer kom (v. 23).
Baie mense gebruik hierdie verse om te bewys dat die mens uit drie dele bestaan: 'n gees, 'n siel en 'n liggaam[1]. Maar Paulus is nie hier besig om die dele van 'n mens te bespreek nie. Hy gebruik hierdie uitdrukking as 'n soort toutologie of hiperbool om te beklemtoon dat God ons innerlike en uiterlike mense sal bewaar – d.w.s. Hy sal ons beskerm in ons geloof, maar ook in ons daaglikse lewe.

Laat ons een saak goed verstaan: 'n gelowige kan nie weer verlore gaan nie. As sy geloofsekerheid op homself berus het, dan het hy 'n probleem gehad. Maar sy geloofsekerheid berus op die Getroue God – die Een wat ons geroep het, die Een wat ons heilig maak en die Een wat ons bewaar vir die dag van die wederkoms van Christus.

SLOT
God het vir ons in Sy genade Sy Woord gegee. In hierdie 66 boeke van die Bybel het Hy alles wat ons nodig het om Hom te ken, om Hom reg te dien en om te weet hoe om verlos te word, laat opteken.

Dit is ook deur hierdie Woord en die werk van die Heilige Gees wat Hy ons geloof suiwer en ons lewe heilig. Hy doen dit uit liefde, sodat ons daagliks al hoe meer die beeld van Christus, ons Verlosser, in ons lewe kan uitstraal.

Maar God gaan nog verder, Hy red ons nie net en laat ons dan soos hulpelose babatjies spartel nie. Hy hou Sy hand van beskerming oor ons. Hy waak oor ons dag en nag sodat niks met ons kan gebeur buite Sy raadsbesluit om nie. Daarom kan ons seker weet dat ons ook by die wederkoms van Christus die volle verlossing sal ontvang, want Hy wat ons geroep het, is ook getrou en Hy sal ons ook bewaar. Amen.


[1] Daar is ander plekke in die Skrif waar daar ander onderskeidings gemaak word:
·   In Mark. 12:30 maak Christus 'n vierledige onderskeid tussen hart, siel, kragte en verstand.
·   In 1 Kor. 7:34 maak Paulus 'n tweeledige onderskeid tussen  liggaam en gees.
·   In Hebr. 4:12 word 'n onderskeid tussen siel en gees gemaak.